Blog: Het ons geloof antwoorde?

 

In ’n tyd soos hierdie soek ons na troos; na ’n mate van sekerheid. Na ’n verduideliking, na antwoorde!

Na aanleiding van die wêreldwye Covid-19 krisis skryf een van die bekendste teoloë van ons tyd, NT (Tom) Wright, ’n artikel in Time met die opskrif wat jou nogal tot stilstand bring: “Christianity offers no answers to the Corona-virus – It’s not supposed to.”

Maar hoe kan ’n teoloog, iemand wat veronderstel is om die Bybel te ken, dan tot so ’n gevolgtrekking kom? As ons die Ou Testament lees dan gee die Bybel gewoonlik vir ons ’n rede vir die groot gebeurtenisse: die siekte, droogte of ballingskap is God se straf vir die volk se sondes.

Soos ek reeds in my preek van die 22 Maart genoem het, het 2 Kron 7:13-14 die afgelope tyd weer op sosiale media die rondte gedoen: “13 As Ek die hemel gesluit hou sodat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land kaal te vreet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel. En die implikasie van almal wat dit aanstuur is duidelik: ons moet tot bekering kom en dan sal alles weer regkom.

Maar is dit verantwoordelik om ’n teks uit die Ou Testament te neem, en dit net so op vandag se omstandighede van toepassing te maak? En indien nie, hoekom nie? Reeds in die Ou Testament is daar baie duidelike tekens dat dit nie so maklik is nie. Jeremia (o.a. hoofstuk 23) het ’n stryd gehad met die vals profete: wanneer hy die volk waarsku oor die dreigende ballingskap, bring húlle ’n boodskap van vrede en voorspoed. Later bring Jeremia en Jesaja egter sélf ook boodskappe met beloftes van herstel, vrede en voorspoed vir die Here se volk. Tyd en konteks maak dus saak wanneer ons in die Bybel die Woord van God vir ons vir vandag wil hoor!

Ook in Job word ons eenvoudige oorsaak-gevolg denke vir alle teëspoed so ’n bietjie uitgedaag. Ons ken die storie: Job het niks verkeerd gedoen nie, tog ervaar hy oorweldigende lyding. Dit is net ons wat agter die skerm sien. Self kry hy nooit ’n antwoord nie; As God met hom praat (vanaf hoofstuk 38) gaan dit oor God wat so groot is dat ons as mense sy weë nie kan verstaan nie.

Jesus self sluit ook aan by hierdie manier van dink wat ons reeds in Job kry. Jesus skryf nie in Joh 9:3 die man se blindheid aan sy (of sy voorouers) se sonde toe nie, maar sien dit as ’n geleentheid vir God om te werk. En natuurlik is Jesus self altyd ons vertrekpunt as ons oor God dink (Heb 1:1-3, Joh 1:18 en Kol 1:15-19). Hy is die finale, ondubbelsinnige openbaring van wie God is, in lewende lywe!

’n Kollega skryf ook in hierdie tyd op hulle gemeenteblad oor ’n ander teksgedeelte wat die rondte doen: Die volgende Bybelteks word rondgestuur deur Christene: Jes 26:20: Gaan in julle slaapkamers in, my volk, sluit die deure agter julle toe. Kruip ‘n rukkie weg totdat God klaar is met straf.

Die ongeveer 2800 jare oue woorde van die profeet word van toepassing gemaak op hierdie tyd wat ons onsself moet isoleer om die Convid-19 virus se verspreiding te beperk.

Maar besef ek wat my getuienis is? Ek verkondig doom & gloom. Gaan kruip weg vir God. Hy het gekom om te straf. In die proses ignoreer ek die goeie nuus dat Jesus Christus gekom het. Ek trek eintlik ‘n streep deur sy kruiswoord “DIT IS VOLBRING.Dit klink my dit is toe nie volbring nie. God se volle oordeel het toe nie volledig op Hom afgekom nie. Nee, Hy het halwe werk aan die kruis gedoen. Daar is nóg sonde waarvoor ek en jy en mense moet ly.

Ek stry nie dat dié pandemie dalk ‘n Openbaringtrompet is nie, maar dit is nie ‘n oorlogskreet van God sodat ons moet weghardloop omdat Hy oorlog verklaar het teen die mensdom nie. Het die engele nie by sy geboorte gesing en aangekondig “Vrede op aarde” nie?! Hy jaag ons nie met Corona nie. Hy roep ons met Corona!

Ons moet mooi dink oor die implikasies van ons interpretasie (of gebrek daaraan!) van die Bybel. Wat verwag ons van die Vader wat ons in Jesus sien? Straf of liefde? (Gaan lees gerus wees 1 Joh 4:16-19). Watter mag het sonde, dood en bose magte nog oor die kinders van God? (Lees Kol 2:13-15!)

Het ons antwoorde so nodig as wat ons dink? Ons het die voorreg om God, ons Vader, te vertrou al weet ons nie hoekom iets gebeur nie! Miskien moet ons net in hierdie gebroke en sondige wêreld aanvaar dat sulke dinge sal gebeur. Jesus moet nog weer kom!

Ongelukkig beteken dit dus nie dat ons gevrywaar is nie. In die Bybel, van die begin tot einde, Ou en Nuwe Testament, deel God se kinders ook in die lyding van hierdie wêreld. Wat dit vir hulle anders maak is hoop: dat God by hulle is, dat sy genade genoeg is, dat Hy ook dit kan laat meewerk tot die goeie en dat ons uitsien na ’n heerlike einde saam met Hom!. Daarom is vertroue in godsdienstige rituele (blaas van die ramshoring bv.) om ons te probeer vrywaar van die siekte sinneloos. Ons vertroue is in God self. (L.W. simbole wat ons help om ’n groter werklikheid te sien, selfs soos die blaas van die shofar, is kragtig. Om egter te dink te het bo-natuurlike krag om enige vorm van kwaad af te weer krag is by-gelowig eerder as ge-lowig!)

NT Wright skryf (in die artikel waarna ons vroeër verwys het) dat dit in sulke omstandighede is waar die Bybelse tradisie van Klag (“Lament”) weer ons aandag verdien. Ons sien dit oral in die Psalms. (Een van die bekendste is Ps 22 waaruit Jesus ook se kruisroep ook kom: My God, my God waarom het U my verlaat…).

In die Bybel sien ons ook ’n prentjie van God wat treur. God treur in Genesis oor die boosheid van die mense wat Hy gemaak het. Hy treur as sy volk Israel telkens wegdraai van Hom. Jesus treur by die graf van sy vriend Lasarus. En die Heilige Gees pleit vir ons en die skepping met versugtinge (Rom 8:26).

En so sluit NT Wright dan af (en ons ook, Vrede!):

It is no part of the Christian vocation, then, to be able to explain what’s happening and why. In fact, it is part of the Christian vocation not to be able to explain—and to lament instead. As the Spirit laments within us, so we become, even in our self-isolation, small shrines where the presence and healing love of God can dwell. And out of that there can emerge new possibilities, new acts of kindness, new scientific understanding, new hope.”

Amen!