Is ons regtig só?!

Verwelkoming:

Pinkster: Kom Skepper Gees! (Gees sweef oor die water – God se asem in ons – God se wind wat waai!)

Votum/seëngroet:

Wees teenwoordig vir God… wat doen God nou?

Skriflesing:

Ef 1:1-14

Preek:

Hoekom het ons as kerk belydenisse nodig naas die Bybel? Die Bybelse getuienis lê wyd, oor verskillende tye, deur verskillende outeurs, in verskillende styke en vir verskillende gehore. Daar was nog altyd verskillende interpretasie daarvan. Maar mense kan ook maklik mislei word. Daarom het die kerk al vroeg besluit om saam te werk aan sekere riglyne om te help om die waarheid van die evangelie, soos deur die apostels verkondig, te beskerm.

Een van die vroegstes, en wat nou nog deur die omtrent alle Christene aanvaar word, is wat ons ken as die geloofsbelydenis – of die twaalf artikels. Hierdie belydenis gee vir ons (S8)wat nou bekend staan as die vier klassieke kenmerke van die kerk. Ons sê: “Ons glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk. (Een, heilig, Katoliek/Universeel, Apostolies – Niceense kernmerke n.a.v. die geloofsbelydenis van Nicea).

Hierdie kenmerke het by ons gebly, om die volgende redes dink ek: dit laat reg geskied aan wat die Bybel oor ons sê; Dit is eenvoudig genoeg om te verstaan en te gebruik, maar ook wyd genoeg om aan die wonder van Jesus se liggaam op aarde te laat reg geskied. Daar is ook ’n gesonde spanning – hieroor gaandeweg meer.

Ons as God se mense, word hier in Ef 1 wonderlike dinge genoem:

Ons is in Christus geseën het met elke geestelike seëning in die hemel…

voor die grondlegging van die wêreld in Hom uitgekies,

sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou wees,

Ons is as sy kinders aangeneem

Ons is bevry deur sy bloed

Alle wysheid en insig is aan ons geskenk

Geheimenis van sy wil is aan ons bekend gemaak

Ons is betrokke by die vereniging van alle dinge in die hemel en op aarde onder een Hoof, Christus

Ons is sy erfgename waarvan die Gees die waarborg is…

Mens kan die goed hoor mate matelose opgewonde óf sinies – dit klink goed, maar is ons regtig só?

Deur die jare het Christelike denkers begin praat oor die onsigbare en die sigbare kerk. Die onsigbare kerk is die “geheim van die kerk”. Die kerk wat selfs bestaan al sien ons dit nie. Dit is die dinge wat ons is, wat ons in geloof aanvaar omdat God dit sê en doen en daarom is dit so, maar wat ons nog nie altyd en oral uitleef nie. Laasgenoemde (sigbare kerk) is die werklikheid van die kerk – die sondige mense, die onvolkome strukture – die mooi en die nare dinge wat die kerk soms was en is in die praktyk.

Maar waar laat dit ons? In kort – Jesus roep ons – beveel ons: raak wat julle is. Word wat julle geroep is om te wees en kan wees. Ontvang dit in geloof en leef dit!

Want die doel kan nie groter wees nie: sodat alle dinge in die hemel en op die aarde onder die heerskappy van Jesus ons Here kan staan.

’n Groep navorsers wou meer leer oor selfmotivering. In hulle studie is ’n groep kleuters gevra om ’n vervelige en herhalende taak te doen – en hulle wou sien hoe lank hulle kon uithou voor hulle opgee. Die kinders is voor die tyd ingelig dat die taak baie vervelig is, en dat hulle ‘n breek kan vat as hulle moeg raak.

Die kinder is in drie groepe verdeel. Vir die eerste groep is gesê dat wanneer hulle moeg word, hulle vir hulleself moet vra: “Is ek besig om hard te werk? Die tweede groep: “Is (gebruik jou naam) besig om hard te werk?”

Aan die derde groep is Batmanpakke gegee, en aan hulle moes hulleself vra: “Is Batman besig om hard te werk?”

Wie die langste uitgehou het, is bepaal deur hulle identiteit wat hulle gekies het. Die eerste groep, wat net aan hulleself as hulself gedink het, het die vinnigste opgegee. Die tweede groep, wat in die derde persoon gedink het, het langer uitgehou. Maar die derde groep, wat hulleself as ’n superhero gedink het, het verreweg die langste uitgehou.

Die Batman effek verduidelik hoekom ons identiteit as Christene so belangrik is – ons gee nie voor nie – ons is regtig in Christus, ons behoort aan Christus, Hy leef deur ons. Ons is die die liggaam van Christus.   

In die 1990’s het daar ’n navorsingsprojek in Amerika ontstaan onder die vaandel van die Gospel and our Culture network om weer nuut te dink oor die kerk se rol in ’n sekulariserende wêreld. Waar die kerk in die Christendom periode in die sentrum van die samelewing was, was dit nou skielik weer omring deur die sendingveld. So het die missionale kerkbeweging ontstaan (Gestuurde Gemeentes) waarvan ons gemeente, maar ook die hele NGK ook deel geword het. Ons kon weer nuut dink oor wie ons is, wat ons moet wees en watter roeping en doel die Here aan ons gee.

Een van ons vorige moderators, Coenie Burger het baie tyd hieraan spandeer – hy som die  belangrikste punte van missionale kerkwees (wat ons help om weer ons essensie te vind), as volg op:

Eerstens, die missionale beweging daag ons uit om die fokus van ons kerklike lewe te skuif na diens en die lewe buite die gemeente. Die wesensaard van die kerk berus daarin om ʼn teken en voorsmaak van die Koninkryk van God en die gemeenskap van die Triniteit in diens en getuienis aan die wêreld te wees.

Tweedens help die missionale beweging die kerk om ons verstaan van sending en bediening meer inklusief te maak. Ons dink nie meer aan evangelisasie net as die verkonding aan mense sodat hulle tot bekering kan kom nie, maar aan die koninkryk in al sy fasette soos sorg aan mense en die werk na ’n beter en meer regverdige wêreld, ook wat die omgewing betref.

Derdens leer die Bybel ons dat die kerk bestaan vir God se sending, sy doel hier op aarde (missio Dei).

So herontdek ons die werklikheid van ʼn lewende en aktiewe God in ons midde. Ons is nie ’n blote organisasie of instelling nie, is ons Jesus se lewende liggaam – ’n beweging!!

Vierdens dwing dit ons om meer aandag te gee aan ons God as die Drie-enige God van Jesus Christus. Meer oor die diepte hiervan later in die week.

Vyfdens besef ons n.a.v. al die bg. dat hierdie net iets mooi op die kant is nie, ons moet ons hele manier van kerkdoen herbedink en herverbeel in die lig van ons geloof in die Drie-enige God en sy sending in hierdie wêreld.

In die sesde plek help die missionale beweging ons om ander kerke te herontdek – die roeping behoort nie net aan ons nie, maar aan alle kerke, en ons moet eenvoudig hande vat as ons regtig Jesus se kerk wil wees.

En laastens help dit ons met onderskeiding: waar moet ons ons energie bestee, en wat is dringend, sentraal, en lewegewend?

En dit bring ons terug by die vier klassieke kernmerke van die kerk. In my studie het ek ’n teoloog met die naam Leo Koffeman se werk gebruik. Hy vra die vraag: hoe kan die vier kenmerke van die Kerk (met ʼn hoofletter) waarin ons glo, operasioneel (prakties) kan word in die kerk (met ʼn kleinletter) waarin ons leef.

Vir elke kenmerk kies hy ’n praktiese waarde wat dit kan laat grondvat en hy noem dit kwaliteitsmerkers – hierdie dinge merk en meet die kwaliteit van die kerk sodat ons kan

bepaal hoe naby ons aan ons roeping leef.

Algemeen/Universeel/Katoliek – Inklusiwiteit

Apostolies – Outentiekheid

Een – Konsiliariteit

Heilig – Integriteit

In my studie het ek hierdie kwaliteitsmerkers van hom laat gesels met van die belangrikste temas in missionale teologie – ek vertrou dat julle saam met my op hierdie reis ’n prentjie van ons as Jesus se kerk wat julle sal uitdaag en inspireer. Amen.

css.php