Leer lewe sonder soeke na roem
Verwelkoming:
Seisoene… om ons kruis op te neem beteken dat ons ons pyn erken – -ons probeer dit nie vermy en ontsnap nie – dit is ingesluit in God se plan met ons.
Votum en seëngroet:
Karl Barth die volgende skryf (jy kan aan mense se vrug sien in watter God hulle glo):
“Any idea of God, in which He is not yet gracious, or not yet essentially decisively and comprehensively known as gracious, is really, whether it is affirmed or denied, a theology of the gods and idols of this world, not of the living and true God.”
Kom ons neem dit in….
Kom ons raak nou bewus van die God wat by ons teenwoordig is. Hy is in sy diepste wese, die genadige…
Maak jou hart wyd oop en ontvang alles wat God vir jou gee!!
Skriflesing: Mat 6:1-8, 16-18
Preek:
In ons reeks “Elke lewe in pas met God” ondersoek ons Jesus se bergrede om sy wysheid te vind oor hoe ’n lewe in die koninkryk van God lyk. Daar moet by ons bekering (metanoia) plaasvind – ons manier van dink, ons perspektief, moet verander om hierdie alternatiewe visie van God se droom vir ons raak te sien en uit te leef. In Mat 5 het ons gekyk hoe Jesus baie ernstige dinge soos woede, wellus, eerlikheid en selfs liefde vir die vyand aanspreek.
Nou, aan die begin van hoofstuk 6 sê Hy, “Wees op julle hoede…” Want Hy kom nou by ’n meer subtiele sonde/ondeug. Die versoeking van die godsdienstige mens. Die versoeking van die mens wat hom/haarself as “goed” begin te sien. Wat dalk al geleer het van vrede en versoening, eerder as woede en vergelding. Wat selfs nie meer deur wellus oorrompel word nie. Iemand wat ernstig is oor God. Iemand wat gereeld “geregtigheid/godsdienstige pligte” beoefen.
Ek dink ons almal kan sien wat hier aan die gang is. Dit gaan oor mense wat goeie goed doen. Die dinge wat hulle doen, word gedoen, moet gedoen word. Het ’n plek in ons omgang met God en ons lewe in sy koninkryk. Die probleem, soos Jesus elke keer uitwys – gaan oor ons motief as ons hierdie dinge doen – dit gaan oor die gesindheid van ons hart.
Elkeen van die voorbeelde wat Jesus noem het ’n spesfieke ritme en patroon, maar ook verskille wat mens tref en die prentjie vir ons duideliker maak. Die basis is: Deur wie wil jy gesien/beloon word? Deur mense of deur jou Vader. Gaan jy vir die ereplek onder mense – of vir die beloning wat in die verborgene (waar niemand anders sien nie) gebeur. As dit kom by liefdadigheid, is dit die “skynheiliges wat dit uitbasuin”. Mense het geld gegee vir die sinagoge om onder armes te versprei en die grootste donateurs het erkenning gekry. (Klink dit bekend?)
Elke keer word hierdie mense skynheiliges genoem. Mense wat bid in die sinagoges en op straathoeke om gesien te word. Hulle vas en maak ’n hele vertoning daarvan.
James Bryan Smith haal vir Andrew Murray aan wat geskryf het: “There is no pride so dangerous, so subtle and so insidious, as the pride of holiness.” En gaan dan self verder aan: “Vainglory is the most elusive of the vices we have addressed so far. It hides under the guise of virtue. The is the only vice that actually needs a virtue in order to exist.”
Die waarheid oor onsself is dat ons nie sulke selfaangewese mense is soos wat ons dink of graag sou wees nie. Ons is sosiale wesens. Ons wil (en moet!) voel dat ons behoort. En daarom begeer ons n.a.v. die begeertes van ander. Ons word nie net beïnvloed deur die begeertes van ander nie. Ons raak daardie begeertes. Ek wil bevestig word. Ek wil aanvaar word. Ek wil saakmaak en raakgesien word. Want ek wil voel is ek is geliefd en waardig.
Hopelik maak dit die punt baie aktueel: Ons kan nie sonder God nie. Hy is die ander Ander. Hy is die enigste Persoon wat buite hierdie sosiale kontrak staan; hierdie wedersydse gee en neem en beïnvloeding. God se koninkryk is die Bybelse beskrywing van daardie ander werklikheid. En eintlik is dit ons diepste begeerte, maar ons leef in hierdie spanning, tussen God se patroon vir ons begeertes, en die wêreld s’n.
Jesus self het dit so goed verstaan en uitgeleef. Op verskeie plekke word daar vir ons beskryf hoe Hy Homself afgesonder het om te bid; gewoonlik net nadat Hy intensief met ’n skare mense besig was om wonderwerke te verrig. Want die risiko wat enige leier loop, veral een wat ’n redelike mate van sukses geniet, is om geïnfekteer te raak deur die begeertes van sy volgelinge; m.a.w. om oor hulleself te glo wat die volgelinge glo en om dan gevlei te word om hierdie projeksies uit te leef. En so word die leier die marionet van die skare se begeertes. (Staan so bietjie stil en dink aan leiers in ons samelewing en wat dit beteken!)
Soos altyd verstaan Jesus ook ons beter as wat ons onsself verstaan. Hy neem dit as vanselfsprekend dat ons goedkeuring, beloning, nodig het. Die vraag is net: wie se goedkeuring gaan ons beheer? Want die gevaar daarvan om die goedkeuring van ander te soek, is dat ons dit gaan kry. En dan is ons verslaaf daaraan. En dit sal letterlik bepaal wie jy gaan word. Jy gaan die patroon van begeerte uitleef wat “ander” (wie hulle ookal mag wees) aan jou gegee het. Jy gaan so optree dat jy nog goedkeuring kan kry. Dat jy nog sterker gevoelens van “behoort” kan hê.
En hoe kragtig is dit nie dat Jesus dan dieselfde beginsel toepas op gebed as op diensbaarheid nie. Selfs wanneer ons bid of vas, wanneer ons ons Vader se naam op ons lippe neem, loop ons die gevaar om uitverkoop te wees aan die goedkeuring van die ander. Wat Jesus voorleef en voorstel vir ons lewe, ook en veral ons lewe van gebed, is dat ons doelbewus in detox ingaan. Ons moet gestroop word van die identiteit wat ander aan ons wil voorskryf, sodat ons Vader, die enigste Een wat buite die invloed van al dié goed staan, ons ware identiteit in die lewe kan roep.
Ons Vader sien net net in die verborgene nie – Hy is in die verborgene. Ons moet begin leef in sy wêreld. Want sy teenwoordigheid, sy bevestiging van ons waardigheid en ons geliefd-wees – is eintlik wat die leemte in ons hart sal vul – wat ons daardie tuiskoms sal gee wat ons so verlang – die bevestiging dat ons behoort, waarna ons so dors. Die beloning wat mense kan gee, is tydelik, voorwaardelik; dit los ons altyd daar waar ons soek na weer en meer. Dit is ’n arm skaduwee van die beloning wat intimiteit met God bied. Die water wat ons ewige dors les, wat in ons opborrel en aan ons die ewige lewe gee.
Klaarblyklik verwys die woord wat ons gewoonlik net vertaal met “kamer” (wat ons laat dink aan ons slaapkamer) eintlik na ’n vetrek wat in die middel van die ou Midde-Oosterse huise was wat as pakkamer of spens gebruik is. Dit was heeltemal toegebou in die middel van die huis om dit koel te hou; geen vensters na buite. So wat Jesus voorstel is die idee van radikale isolasie.
Maar hier is die probleem van stilte: Geleidelik begin jy te verloor “wie jy is”. Jy beweeg in daardie tussen-in plek in. Die plek waar die ander stemme (wat jy so mooi geïnternaliseer het) begin stil word. En iewers kom jy in kontak met die vergete stemmetjie, diep binne in jou, van jou eie ware en diepste begeertes (wat almal nog in ’n warboel is). En dit is ook die spasie waar jy vir God sal vind. Die maskers, die persona, begin af te kom, en dit is vreesaanjaend aanvanklik; ek wil so graag vasklou aan daardie illusie dat ek iemand is wat my strepe verdien; dat ek iemand is wat “tel”.
Ons Vader nooi ons uit om met Hom eerlik te wees. Dat ons vir Hom moet sê wat ons regtig wil hê; en dat ons alles moet noem; al die dinge wat ons as goed en sleg sal etiketteer. Ek bring my begeertes na my Vader sodat Hy my kan heroriënteer.
En deur tyd saam met Hom deur te bring, soos wat ons leer om ons begeertes onder woorde te bring, so vind ons oor tyd, dat ons meer wil hê as daardie oppervlakkige begeertes; ons kom in kontak met ons heel diepste begeertes, wat ook ons Vader se begeertes vir ons is en ons word vrygemaak om ons eie waarheid te leef. En dit is die geboorte van ware passie. Passie vir vrede versoening, vergifnis, liefde vir die vyand.
Dit is in die tye van afsondering, voor ons Vader wat sien in die verborgene, waar die ware verandering gebore word. Want daar ontvang ons ons ware identiteit en die vervulling van ons diepste begeertes. En so word ons mense wat deelneem aan die koms van God se koninkryk in die regte wêreld.
Amen.
Sieloefening: Diens in die geheim
Kies ’n spesifieke “act of kindness”. Iemand wat jy kan help om ’n las te verlig. Jy kan selfs die Here vra om iemand om nood oor jou pad te stuur. Jy kan ’n kind help met huiswerk of iemand se kar vol petrol maak. Moet egter nie net geld gee nie – jou tyd en energie het groter waarde.
Maar… doen dit in die geheim; onder die radar. Waar jou Vader in die verborgene sien.
En leer so om jou hart te genees van “vainglory” – die soeke na die eer van mense vir die goeie wat ons doen.
