Wat is die mens?
Votum/seëngroet:
(S2)Ps 8
2 Here, ons Heer,
hoe magtig is u Naam
oor die hele aarde,
U wat u luister
bo die hemelruim vestig.
3Deur die mond van kleuters en suigelinge
het U mag gevestig, vanweë u teenstanders,
om vyande en wraakgieriges stil te maak.
4Wanneer ek na u hemelruim kyk,
die werk van u vingers,
die maan en die sterre
wat U gevestig het –
5 wat is ‘n mens dan dat U aan hom dink,
‘n mensekind dat U aan hom aandag skenk?
6U het hom net minder
as ‘n hemelse wese gemaak;
U het hom met eer en majesteit gekroon.
7U laat hom heers oor die werk
van u hande;
U het alles onder sy voete gestel:
8al die kleinvee en beeste,
ja, selfs die diere van die veld,
9die voëls van die hemel,
en die visse van die see wat verbytrek
op hulle roetes deur die oseane.
10 Here, ons Heer,
hoe magtig is u Naam
oor die hele aarde!
Skriflesing:
Gen 11:1-9
Preek:
’n Pouslike ensikliek (encyclical letter) word as nogal ’n gebeurtenis gesien. Dit gebeur nie baie nie en word net gedoen as daar geoordeel word dat daar ’n groot en belangrik genoeg samelewingskwessie is wat aangespreek moet word vanuit die evangelie. Op die 15de Mei het daar so ’n brief verskyn van Pous Leo die XIV met die titel “Magnifica Humanitas – On safegaurding the Human Person in the Time of Artificial Intelligence”. Een van die mede-stigters van Anthropic (Claude) was by die bekendstelling en het erkenning gegee aan die gevare van AI en die behoefte aan etiese leiding. En dit geniet nogal baie aandag en lok gesprek uit – soos ’n mens seker kan dink. Die hoof van die Rooms Katolieke Kerk en AI – ’n interessante kombinasie!
Ek dink die Pous se woorde is tydig. Met hierdie geweldige belowende en skrikwekkende tegnologie wat nou ontwikkel word, en waar die grense tussen mens en masjien vervaag, moet ons weer vra: Wat is die mens? Wat is ons lewe werd? En in watter tipe wêreld wil ons leef?
Pous Leo gebruik die storie van die toring van Babel as waarskuwing. Dit kom voor in daardie eerste deel van Genesis wat ons vertel van die oorsprong van alles en van die basiese boustene van God se verhouding met sy skepping. Ons lees vinnig daaroor maar let op waar dit begin – by die ontdekking van ’n nuwe tegnologie, ’n nuwe boumetode. Hierdie ontdekking van hulle eie vernuf maak ’n nuwe visie in hulle wakker van wat hulle kan bereik – en van hulle eie belangrikheid: toring se bopunt in die hemel sodat hulle vir hulself naam kan maak. Die ooglopende probleem en gevaar is natuurlik dat God op geen manier in hierdie beplanning erken word nie. Hulle streef na eenvormigheid, konsolidering van mag en prestasie, eerder as die wonderlike diverse gemeenskap wat God se plan van die begin van sy skepping af was.
Maar ons sien wat die effek van Babel (verwarring) is in ons eie tyd. As hierdie eenvormige plan (ons weet wat vir julle goed is) op mense afgeforseer word, dan kom daar juis verwarring, polarisasie en vyandigheid.
Hy gebruik ’n ander boustorie, die een van Nehemia, om ons te rig na ’n beter visie oor hoe om vorm aan ons wêreld te gee. Dit is ’n baie kwesbare tyd in die geskienis van Israel – na die ballingskap in Babilon keer ’n paar mense terug na Jerusalem, maar die mure is afbreek en die poorte verbrand. Nehemia is ’n Jood in diens van die Persiese Koning Artasasta en ontvang nuus van die haaglike toestand van sy stad van herkoms. Voordat hy enige aksie neem, vas en bid hy en tree vir sy mense in. Die koning gee hom toestemming om terug te keer na Jerusalem waar hy eers die vernietigde areas gaan inspekteer in stilte. Maar dan dwing hy nie enige oplossings van bo af af nie. Hy roep al die families bymekaar en gee aan hulle elkeen ’n deel van die muur om te herbou – hy luister na hulle bekommernisse, koördineer hulle werk en hanteer al die opposisie wat teen die werk van vyande kom. (Die hele Neh 3 verduidelik net wie verantwoordelikheid vir watter deel van die herstelwerk aan die muur geneem het).
Jerusalem, die heilige stad, verreis nie uit die as deur die inisiatief van een man nie, maar deur die gedeelde verantwoordelikheid van al haar inwoners – die familiehoofde, die priesters, vakmanne, mans, vrouens en kinders. Die Pous skryf mooi hieroor: “So ontdek antieke Jerusalem weer ’n gedeelde taal – nie een van eenvormigheid nie, maar van gemeenskap, naamklik die harmonie wat ’n werklikheid word wanneer alle mense hulle besonderse funksie vervul en raaksien dat hulle krag van die Here af kom.”
As jy van die Pinskterboodskappe iewers kon luister sal jy onthou dat ons in hierdie taal ook oor die kerk gepraat het. Die kerk wat met haar lewe van selfopofferende liefde tussen diverse mense met hulle eenheid en gemeenskap ’n teken, voorsmaak en instrument van God se voorkeurtoekoms word. Hierdie visie word ook die koninkryk van God genoem, en dit is gebaseer op konsepte uit die Ou Testament soos die sabbat, shalom, die Jubilee en die dag van die Here. ’n Gemeenskap wat die hart en wese van God beliggaam.
Ons verhouding met tegnologie was nog altyd belangrik, en daar was al baie groot omwentelinge (boekdrukkuns, industriële revolusie, tv, sosiale media) maar in die lig van die nuutste ontwikkeling van AI, soveel te meer, moet ons reflekteer en as gelowiges verantwoordelikheid neem – ons kan nie maar net saam met die stroom gaan nie. Die Here gee wetenskap en tegnologie aan ons as gawes. Dit is ons verantwoordelikheid om dit vir die regte en goeie te gebruik. Dit kan baie wonderlike dinge doen, maar ook verskriklike dinge. Tegnologie as sulks is nie ’n oplossing vir al die wêreld se probleme nie, net soos dit ook nie inherent boos is nie. Maar, ons moet onthou dat in die praktyk neem dit vir karakertrekke aan van die mense wat dit ontwerp en bou, wat dit finansier, reguleer en gebruik.
Ek bid dat die onverwagse gawe van AI ook sal wees dat ons weer diep sal nadink oor wat dit beteken om ’n mens te wees en in watter wêreld ons en ons kinders wil lewe.
Wat is die mens dan?
Ons is gemaak deur God, na sy beeld – vir Hom. Deur Christus aangeneem as sy kinders. Ontvangers van sy Gees en sy beloftes. Ons waardigheid se waarheid lê in God self.
Ons kwesbaarheid is nie ’n fout om reggestel te word nie. (Sam Altman van OpenAI/Chat sê prontuit dat hy ’n wêreld sien waar tegnologie gebruik word om die mens se liggaam so te modifiseer dat ons vir ewige lewe!)
Ons leer en groei en verdiep in die dinge wat ’n mens regtig mens maak, deur ons tekortkoming, ons foute, ons lyding. Ons moenie verlei word deur drome van utopia waar alle siekte of foute of selfs die dood nie meer bestaan nie – op die pad gaan ons meer verloor as wat ons wen.
Ons het liggame, ons het sintuie, ons het gevoelens, ’n bewussyn en ’n gevoel van ’n plek in hierdie wêreld. Daar is stemme wat ons wil oortuig dat AI-modelle ook hierdie tekens toon. Ons moet ons nie laat mislei nie. Dit het nie ’n siel nie. Dit kan nie die son op sy vel voel of die troos van ’n drukkie of die wonder van ’n nuwe lewe deel nie.
Ons is vir mekaar gemaak. Vir gemeenskap met God en met mekaar, op grond van die gemeenskap met Hom. Nie vir geld nie. Nie vir beheer of mag of dominering van mekaar of ons omgewing nie. Die wêreld werk net beter (ook ekonomies!!) as ons mekaar erken en eerbiedig, saamwerk, gelykheid en regverdigheid soek, sinergie, deelname, harmonie – en volhoubaarheid van die aarde as ons huis.
Gaan sit met God en sy Woord. Herontdek weer die waarheid, jou waarheid. Die wonder van lewe en menswees en skoonheid en liefde. Ontdek weer vir God – die Een wat jou gemaak het en vir Wie jy gemaak is. Ontdek weer jou roeping, ons roeping, hoe bring ons die Goeie Nuus, die koninkryk van God na ons wêreld? Amen.
