LUK. 18:9-14 (26/4/26)
# Die Fariseër van wie ons so pas gelees het, was ’n baie godsdienstige en vroom mens.
- En dis tog nie verkeerd om godsdienstig en vroom te wees nie.
- Daar is sekerlik baie mense, deur die eeue, wat met hierdie 2 woorde beskryf kan word: godsdienstig en vroom.
- Dink maar aan mense soos moeder Teresa en Fransiskus van Assisi en Andrew Murray en nog talle ander gelowiges van die verlede.
- Of dink aan ’n toegewyde Christen wat u vandag persoonlik ken.
- En dink aan die oproepe in die Bybel dat ons heilig moet leef, omdat God heilig is.
- So ek dink ons kan tog sê: Dis nie verkeerd om godsdienstig en vroom te wees nie.
# Maar die Fariseër in Jesus se gelykenis kom aan die einde van die gelykenis baie sleg daarvan af.
- Hy kom sleg daarvan af, want Jesus sê van hom dat sy saak met God nie reg was nie.
- Ten spyte van sy godsdienstigheid en vroomheid was sy saak met God nie reg nie.
- En hoekom nie?
- Hierdie man se gebed help ons om te verstaan hoekom nie, want in sy gebed kom ons agter dat dit eintlik nie oor God gaan nie maar oor homself.
- Sy gebed klink soos ’n verslag oor homself.
- Dit klink soos ’n baie goeie en positiewe getuigskrif, maar vir homself!
- En die probleem is eintlik ook dat hy in sy gebed die genade van die Here as ‘t ware ook net vir homself wil toe-eien.
- Hy sê mos in sy gebed: “Ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie.”
- Die Fariseër dink blykbaar dis net mense soos hy wat aanvaarbaar is vir die Here.
- Dis net mense soos hy wat kwalifiseer vir die genade van die Here.
- Mense wat so godsdienstig en vroom en heilig soos hy is.
# Maar hier lê daar nou ’n groot knoop!
- Die Fariseër se gesindheid was ’n soort heiliger-as-jy-gesindheid.
- “Holier-than-thou” sê die Engelse mos.
- En in goeie Afrikaans kan ons seker sê dat die Fariseër self-geregtig (x2)
- Die ander mense, soos die tollenaar, het in sy oë nie vir die genade van die Here gekwalifiseer nie.
- Daarvoor was hulle darem net te sondig en ongeregtig.
- Maar ekself? – ek maak dit.
- So kon die Fariseër by homself gedink het.
- Maar dis duidelik dat hy tog heeltemal op die verkeerde pad was, die pad van self-geregtigheid.
- Dié pad waarop jy jouself probeer regverdig voor God en jouself probeer red, en dalk nie eers weet dat jy dit probeer doen nie.
# En die tollenaar?
- Jesus beskryf hom so treffend vir ons.
- Hy sê die tollenaar bly daar ver staan.
- Hy beskou homself nie as waardig genoeg om naby die tempel of in die tempel te gaan staan nie, daar waar die Fariseër so gemaklik sou wees nie.
- Nee, die tollenaar bly daar ver staan.
- En hy wil ook nie opkyk na die hemel nie.
- Dis asof hy God nie in die oë kan kyk nie.
- Hy kyk maar liewer af, grond toe.
- En hy slaan bedroef op sy bors.
- ’n Teken van hartseer oor sy verkeerde lewe.
- ‘n Teken dat hy sy eie sonde erken.
- En sy gebed?
- Dit is net ’n baie kort sinnetjie: “O God, wees my, sondaar, genadig.”
- So, hierdie man kom nie met ’n verslag oor sy eie vroomheid en heiligheid soos die Fariseër nie.
- Hy kon seker ook nie.
- Waarskynlik het hy as tollenaar baie mense ingeloop en ekstra tolgeld van hulle geëis, geld wat hy dan in sy eie sak gesteek het.
- En daarom kan hy nou eintlik net een ding doen, wanneer hy saam met die Fariseër by die tempel is, en dit is om die Here om genade te smeek: “O God, wees my, sondaar, genadig.”
- Maar van hierdie man sê Jesus dan: Hy, en nie die Fariseër nie, “het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is.”
# So, wat het gemaak dat die Here anders na die tollenaar as na die Fariseër gekyk het?
- Dit sou mos nie kon wees dat Hy die een meer lief gehad het as die ander nie?
- Wat was dan die verskil?
- Ek dink dit gaan veral oor die verskillende verwagtinge wat die Fariseër en die tollenaar gehad het.
- Die tollenaar se verwagting was dat net God hom kon help.
- Dat net God se genade hom kon red.
- Hierdie tollenaar sou, as hy in ons tyd geleef het, net sowel die woorde van die lied kon bid wat in ons liedboek is en wat sê: “En ekself, wat kan ek doen, om my sonde te versoen? Sou my hart met ywer gloei? Sou my trane ewig vloei? Nog gebede, nog geween, kan my red Heer, U alleen!”
- Teenoor die self-geregtigheid van die Fariseër staan die nederigheid van die tollenaar.
- ’n Nederigheid wat maar net kan smeek om die Here se genade.
- ’n Nederigheid wat weet net God kan my help en red.
- Waar die verwagting van die Fariseër was dat God hom sou beloon vir sy godsdienstigheid en vroomheid, was die verwagting van die tollenaar maar net dat die Here hom genadig moes wees.
# Dit lyk vir my die een baie belangrike ding wat Jesus vir ons met hierdie gelykenis wil leer, is dat niks wat óns kan doen vir ons kan red nie.
- Ons kan onsself nie red nie.
- Dít is iets wat net die Here vir ons kan doen.
- Die bekende Engelse predikant uit die negentiende eeu, Charles Spurgeon, het dit baie sterk gestel, en iets van wat hy sê, klink amper verkeerd.
- Maar Spurgeon het gesê: “Onthou sondaar: dit is nie jou vashou aan Christus wat jou red nie. Dit is Christus. Dit is nie jou vreugde in Christus wat jou red nie. Dit is Christus. Dit is nie eens jou geloof in Christus wat jou red nie. Dit is Christus. Daarom, moenie na jou vashou, en hoop, en geloof kyk nie. Kyk na Christus!”
- En so is dit net Jesus self, met sy liefde vir ons, en deur sy dood aan die kruis, en sy opstanding uit die dood, wat ons saak met God vir ons kan regmaak.
- Ons kan maar sê: God maak uit genade self ons saak met Hom reg.
- En ons kan maar net met die nederigheid van die tollenaar oopstaan vir hierdie wonderlike werk van die Here!
- Ons kan maar net met nederigheid en dankbaarheid ontvang wat die Here reeds vir ons gedoen het!
# So, is dit dan ons nederigheid wat van ons kinders van God maak?
- Is nederigheid dan die noodsaaklike voorwaarde om ’n kind van God te kan wees?
- Dít kan ons ook nie sê nie.
- Want dan kan ons mos weer spog met ons eie nederigheid.
- Soos iemand gewaarsku het: “Maar nou moet ons ook op ons hoede wees vir tollenaarshoogmoed. Om hoogmoedig te wees oor jou nederigheid. Dan is jou ingesteldheid: Ek dank U, o God, dat ek nie so hoogmoedig is soos die Fariseër nie.”
- Maar so ’n soort tollenaarshoogmoed sal ook nie deug nie.
- Dink maar net weer aan hoe kort en eerlik en gestroop die gebed van die tollenaar was: “O God wees my, sondaar, genadig.”
# Maar nou, baie belangrik: geestelike hoogmoed, soos dié van die Fariseër in Jesus se gelykenis, kan ook in ons eie tyd die kerk en ’n gemeente baie skade berokken.
- Ons eie hoogmoed kan dit doen.
- Ons kan bv. vir ander mense die gevoel gee dat ons al geestelik gearriveer het en hulle nog nie.
- Ons kan ook vir mense laat dink daar is sekere vereistes nodig voor jy welkom is in die kerk van die Here.
- Jy moet bv. eers presies reg glo.
- Of jy moet eers presies reg lewe: eerlik en rein en vroom.
- Of jy moet kan getuig van sekere geestelike ervaringe wat jy al gehad het.
- Anders is jy nog nie welkom om deel te wees van die kerk van die Here nie.
- Maar die punt is: ons het almal maar ons foute, en dalk selfs geraamtes in die kas.
- Ons is almal maar net op ‘n manier sondaars, wat gered is.
- Ons is almal maar net soos bedelaars wat genadiglik gehoor het waar ons die brood van die lewe kan kry.
- En daarom moet ons nie vir ons heilig hou en mense laat voel hulle is self nie goed genoeg nie.
- Hulle moet nog so ‘n bietjie bykom nie.
# Ek dink enige gemeente kan maklik sukkel om mense wat anders is as (kom ons sê maar) die deursnee-lidmaat van daardie gemeente, tuis te laat voel by hulle.
- En ons moet ook in ons gemeente vrae vra, soos: Voel besoekers bv. tuis by ons?
- En mense van alle ouderdomme?
- En nuwe intrekkers?
- En mense wat deur verskillende soorte krisisse gaan?
# Ek dink ons weet dalk ook nie altyd hoe om ander tuis te laat voel by ons nie.
- Dis vir ons ‘n uitdaging.
- Maar die een ding wat ons sekerlik nie moet doen nie, is om ander te laat voel dat ons beter is as hulle nie.
- Dat óns op ‘n geestelike vlak is waarby hulle nog moet uitkom nie.
- Nee, ons mag nooit vergeet dat dit God is wat ons net uit genade geregverdig en gered het nie.
- Ons mag nooit vergeet dat ons niks het om op te roem nie.
- Want voor God staan ons almal met leë hande.
- Voor Hom kan ons almal maar net soos die tollenaar pleit om genade.
- Maar hier is die goeie nuus: God ís genadig!
- Dít sien ons die heel duidelikste op Golgota waar Jesus gely het en gesterf het om ons Verlosser te word.
- God ís genadig.
- En deur sy genade te ontvang, kan ons self ook genadige mense word.
- Kan ons self ook leer om met genade teenoor ander op te tree.
- En daarby word ons deur God se genade vrygemaak daarvan om self-geregtig te probeer wees.
- As ek self geregverdig voor God wil wees, bly ek vasgevang in my eie pogings om dit reg te kry.
- En dit maak my onvry.
- Dit plaas ‘n las op my.
- As ek self geregverdig voor God wil wees, is dit dan ook vir my moeilik om lig en onbekommerd te kan lewe.
- Dan stoei ek die hele tyd met die vraag of ek goed genoeg lewe om vir God tevrede te stel.
- Maar God se genade is vir ons almal genoeg.
- Dis die goeie nuus van die Bybel!
- God se reddende genade is vir ons almal genoeg.
- En soos iemand gesê het: Deur God se genade kan ons vrye en vrolike mense word.
- Sonder die las daarvan om onsself te probeer red of onsself te probeer regverdig.
# Ek wil afsluit en sê: Ons kan gerus almal saam met ’n gelowige van lank gelede bid dat Paarlberg-gemeente ook altyd ’n plek van genade sal wees.
- ‘n Plek waar mense God se genade sal ervaar.
- Thomas Ken het omtrent 300 jaar gelede min of meer só gebid:
- “O Here, maak die deur van hierdie gemeente wyd genoeg om almal te ontvang wat menslike liefde en gemeenskap nodig het; maar nou genoeg om afguns, hoogmoed en onmin uit te sluit. Maak die drumpel van die gemeente glad genoeg om nie ’n struikelblok vir kinders te wees of vir afgedwaaldes se voete nie, maar ook stewig en sterk genoeg om die krag van die versoeker te weerstaan. Here, maak die deur van hierdie gemeente die poort na die ewige lewe.”
- So, mag Paarlberg-gemeente altyd mense bly help om die genade van ons God beter te leer ken.
- En om ook elke dag uit hierdie genade te kan lewe.
AMEN
