Alles is anders!
Verwelkoming:
Vandag is ons grootste dag – die herdenking van die eerste van alle Sondae – sonder Paassondag was daar geen Christelike geloof nie – was ons nie vandag hier bymekaar nie…
Jesus: Ps 22 – o God my God waarom het U my verlaat…
Hy begin sing – Hy aanbid…
26U is die rede vir my lofprysing
in ‘n groot byeenkoms;
my geloftes sal ek nakom
in die teenwoordigheid
van dié wat vir Hom ontsag het.
27Die verdruktes kan dan eet
en versadig word;
wie Hom raadpleeg,
kan die Here loof.
Mag julle harte vir altyd leef!
28Almal tot aan die uithoeke
van die aarde
moet daaraan dink
en hulle tot die Here bekeer.
Al die familiegroepe van die nasies
moet voor U in aanbidding buig;
29 want aan die Here
behoort die koningskap,
en Hy heers oor die nasies.
30Ja, voor Hom sal almal
wat oordadig leef,
in aanbidding neerbuig;
voor Hom sal alle sterflinge kniel,
elkeen wat nie die lewe kan behou nie.
31’n Nageslag sal Hom dien;
hulle sal van my Heer vertel
aan die volgende geslag.
32Hulle sal kom en sy geregtigheid
bekend maak aan mense
wat nog gebore moet word:
Hy het dit gedoen (volbring)
Paasroep:
Die Heer het opgestaan.
Die Heer het waarlik opgestaan!
Moenie skrik nie, julle soek Jesus van Nasaret. Waarom soek julle die lewende by die dooies?
Die Heer het opgestaan!
Dood, waar is jou angel, doderyk waar jou oorwinning?
Die Heer het opgestaan!
Hy wat op die troon sit, sê: “Kyk, ek maak alles nuut! Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, die eerste en die laaste.”
Die Heer het opgestaan!
Skriflesing:
Matteus 28:1-10, 16-20
Preek
In vergelyking met die ander evangelies beweeg Matteus se weergawe van die opstanding van Jesus vinniger met minder details, maar sy beskrywing is ook die kragdadigste. Net hy noem van die aardbewing wat gepaardgegaan met die koms van die engel – en net hy beskryf die detail dat die engel se voorkoms soos weerlig was en sy klere so wit soos sneeu. Die wagte kan nie die grootsheid van die oomblik hanteer nie en van vrees het hulle “gebewe en soos dooies geword”! Hierdie groot steen wat Jesus in die graf moes hou word sommer maklik weggerol en die engel gebruik dit vir sy sitplek.
Hierdie is duidelik ’n “aardskuddende gebeurtenis” – iets wat ons in Engels ’n seismic event sou noem — iets wat alles verander; iets wat groot en onomkeerbare veranderinge teweeg bring. Matteus gebruik die Griekse woord seismos – hier letterlik die aardbewing. Maar so was Jesus se nederige intog in Jerusalem – op ’n donkie en nie ’n perd soos militêre leiers nie – ook vir Matteus seismos – en so ook sy vernederende sterwe aan ’n Romeinse kruis – die afskrikmiddel en lot van rebelle en misdadigers. Ook hierdie gebeure van heeltemal ander karakter was seismic events, aarsdkuddende gebeurtenisse.
Ons kan beswaarlik te veel maak van die opstanding van Jesus. Selfs in Matteus se kort en kragdadige beskrywing van die opstanding is die verwysings met simboliese betekenis ryk en sterk.
Die Sabbat het sy ontstaan by God wat gerus het na sy skepping. Hierdie gebeure gebeur na die rus – na die Sabbat, op die eerste dag van die week. Duideliker kan ’n mens nie sê dat Jesus se opstanding God se nuwe skepping inlui nie. Dit is dagbreek. Die son kom op – dit word lig – nie net oor ’n nuwe dag nie, maar oor ’n nuwe begin. Ons hoef nie meer bang te wees nie, Jesus die gekruisigde is opgewek. “Haas jullle…”, sê die engel – en hulle is “haastig” daar weg en het “gehardloop” om hierdie nuus aan die dissipels te vertel. Hierdie nuus is te groot om vir jouself te hou – hierdie nuus is te groot om tyd te verspil.
Maar loop ons dalk die gevaar om “op hol” te gaan met die boodskap van Jesus se opstanding – om oorhaarstig en oppervlakkig daarmee te wees? Triomfantalisties te wees? Te dink dit hef dit kruis op of maak dit ongedaan? Ek dink wel ons sien dit in geskiedenis en ook vandag dat baie Christene onder hierdie versoeking swig. In tye van bedreiging, verwarring, onsekerheid en vrees, soek ons as’t ware die opstanding sonder die kruis – ons wil Jesus se sg. “onderstebo” koninkryk (wat eintlik die “regte kant bo” koninkryk is!) weer omdraai.
In ons reeks waarmee ons besig is Elke lewe in pas met God, werk ons deur Jesus se bergrede. As Hy op die berg gaan staan, dan is Hy die nuwe Moses wat nou vervulling en die ware betekenis gee aan die Wet. En Hy begin deur te sê dat ons onsself moet bekeer – metanoia – wat veral gaan oor ons gedagtes wat moet verander – dat ons ’n nuwe perspektief moet kry op hoe die wêreld moet lyk en wat die “goeie lewe” is. Want dit is nie vanselfsprekend vir ons perspektief wat deur “die koninkryk van die wêreld” bepaal word nie.
Dit is ’n koninkryk waarin die armes van gees, die sagmoediges, die barmhartiges, die vredemakers die gelukkiges en die geseëndes is. Dit is ’n koninkryk sonder woede en vergelding, waar jy die ander wang draai en die ekstra myl loop – waar jy selfs jou vyande liefhet en bid vir dié wat jou vervolg – soos Jesus so mooi aan die kruis geïllustreer het: “Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Want juis dit wys vir ons die hart en die gesindheid van die Vader – Hy wat genadig is deur sy son te laat skyn en sy reën laat val oor goeie en slegte mense – Hy is meer as ons wat partydig en groepsgebonde is – wat mense verdeel in vriende en vyande.
“God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” (Rom 5:8)
Na Jesus se opstanding is alles anders. Dit is die eerste dag van die nuwe skepping. Die eerste tree en oorwinning op pad na die nuwe hemel en die nuwe aarde. God, mens en skepping is weer versoen – die wonde is geheel en die verhouding heerstel. God is egter nie anders nie. Jesus is nie anders nie. God is steeds die Een wat sy lewe vir ons gee – wat sy selfopofferende liefde vir ons wys toe Jesus van Nasaret aan ’n Romeinse kruis sterf na sy eie mense Hom verwerp het.
Die opstanding was die finale bevestiging: Jesus was werklik van God. Net God kan die dood oorwin – iemand uit die dood laat opstaan. Ons God is werklik soos Jesus. Ons het dit nie altyd geweet nie, maar nou weet ons dit. Alles wat Jesus gesê het, alles wat Jesus geleef en gedoen het, is bevestig as die waarheid – die ware werklikheid – hoe dinge regtig is.
En juis daarom is alles anders. Sy opstanding bevestig, dat dit regtig só is: dat die eerstes laaste sal wees en die laastes eerste – dat elkeen wat groot wil wees die ander se dienaar moet wees. Dat ons dit kan waag om dieselfde gesindheid (gedagtes, logika – Fil 2) as Jesus te hê – wat nie aan vasgeklou het aan sy statusposisie as God se Seun nie, maar Homself verneder het deur ’n mens te word en selfs verder tot die dood aan die kruis – en dit is op grond hiervan dat God Hom tot die hoogste eer verhef het aan Hom die naam gegee wat bo elke Naam is en waarvoor elke knie sal buig en tong sal herken dat Jesus Christus die Here is.
Die opstanding bevestig die kruis. Liefde oorwin die bose, die sonde, die dood en geweld.
Jesus is deur sy opstanding bevestig as ons koning en ons Here. Maar sy koninkryk is nie van hierdie wêreld nie — dit is nie soos hierdie wêreld nie. As dit was, sou sy Vader 12 legioen engele gestuur het om Hom te red. Dit is in sy Naam en onder sy gesag dat ons na al die nasies toe gaan om hulle van Hom te vertel en sy dissipels te maak – om alles te onderhou wat Hy beveel het.
Maar ons kan nie koninkryk inlei deur die styl en die gesindheid van die koninkryk van die wêreld nie. Dit is die grootste en werklike misbruik van sy Naam – om onder die vaandel daarvan ons eie doelwitte en agendas na te streef.
Ek sien dit in ons geneigdheid om altyd te wil beter wees, altyd te wil wen, in ons behoefte om te vergeld, om te beheer, om te onderdruk.
Ek sien dit as Amerika se Secretary of War (voorheen defense) Pete Hegseth oorlog maak in die naam van Jesus – as hy die oordeel van ons God oor die Iranese afbid en homself verlekker in dood en geweld – as hy en ander verkondig dat hulle Jesus se koms nader bring deur te gaan oorlog maak – en ek sien dit in die toksiese macho manlikheid wat hiermee gepaard gaan wat niks met Jesus te doen het nie –
en in die nuwe ondersteuning vir Christelike nasionalisme wêreldwyd – wat weer die fout maak om te dink dat God se koninkryk volledig kan oorvleuel met enige politieke/menslike agenda/projek – en sg. Westerse beskawing is nie dieselfde as die evangelie van Jesus Christus wat vir almal is nie.
Alles ís anders. Jesus se opstanding bevestig dit. God se koninkryk sal seëvier. Nie die Empire (Babilon, Rome, Amerika, China, Rusland, die ANC) nie. Nie mensgemaakte godsdiens wat mense bedwelm met vals beloftes van voorspoed en aardse sukses nie.
Ons moet dit glo. Ons moet dit vertrou. Ons moet dit leef. Soms beteken die haas dat ons moet wag daarvoor – dat ons nooit God se koninkryk in ons eie hande kan neem nie. Hy sal na ons kom en ons sal Hom sien. Hy, die opgestane gekruisigde, is met ons al die dae tot aan die einde van die wêreld, die voleinding van tyd. Amen.
Doopritueel:
In die vroeë kerk, sou Opstandingsondag ontwikkel tot die groot doopdag van nuwe bekeerlinge – dan moes hulle hierdie belydenis doen. Kom ons doen dit nou saam…
Bely jy jou sonde met berou?
Ons bely ons sonde met berou.
Draai jy om na Christus toe?
Ek draai om na Christus toe.
Het jy saam met Hom gesterf?
Ek het saam met Hom gesterf.
Het jy saam met Hom opgestaan?
Ek het saam met Hom opgestaan!
Bely dan jou geloof in die Drie-Enige God:
Ek glo in God die Vader wat alles geskep het.
Ek vertrou sy Seun wat die mensdom kom verlos het.
Ek glo in die Heilige Gees wat my daagliks vernuwe en lei.
Amen.
