Stigting van Paarlberg Gemeente

Die gemeente het in 1973 afgestig van Paarl-Vallei gemeente en die naam was aanvanklik Paarl-Noordeind. ‘n Klompie lidmate het eredienste in die Noord-Eind skoolsaal bygewoon terwyl hulle saam met die eerste leraar, Ds Bert Struwig, hard gewerk het om ‘n pastorale bedieningstruktuur te vestig. Hulle het die kerkgebou opgerig in 1975.

Ds Niekie Marais het in 1979 by ds Struwig aangesluit en ds JC Smit in 1984. Noorder-Paarl het vinnig uitgebrei, met nuwe huise in Groenvlei en later ook noord van Kerkstraat. Ds Hugo Biermann is in 1989 beroep en kort daarna in 1992 ook ds Pieter van der Walt. Toe ds Marais in 2006 aftree, is ds Christo van Staden beroep en met ds Smit se aftrede in 2008, ds Bernard Malherbe. In 2007 is Pierre van Rooyen as voltydse jeugwerker in die predikantespan aangestel en in 2009 is hy opgevolg deur Johan Visser.

Die gemeente het in 1988 ‘n groot skuldlas gehad van R350 000. Dit het menslik onmoontlik gelyk om die kerkgebou af te betaal . Die kerkraad het leiding gegee: “Elkeen gee uit dankbaarheid en na sy vermoë”. Die skuld is binne twee jaar afbetaal. Dit was vir die gemeente ‘n groot oomblik waarna in dankbaarheid terug gekyk word.

Sedertdien het die gemeente gegroei, nie net in getalle nie, maar ook in diensbaarheid en getuienis na buite. Die gemeente strewe daarna om getrou te wees aan die roeping van Christus en om gasvry te wees en ander te ontvang wat saam vir God kan aanbid. Die uitreik-aksies na mense in nood in ons eie buurt en dorp brei steeds uit.

Mense kom weekliks in kleingroepe bymekaar om mekaar te herinner aan wat Christus doen en mekaar te ondersteun om naby aan Hom te leef. Die kleingroepe word in ‘n groot gemeente deur baie mense beleef as die beste plan vir die “versorging” van gelowiges.

Die gemeente se verhouding met die VGK Immanuel is tradisioneel goed en het deur die jare net verstewig. Die huidige leraar van Immanuel, ds Tony Masent, speel hierin ‘n mooi rol. Die belewing van geloofseenheid by gesamentlike byeenkomste in die laaste tyd, bevestig dit.

In 1998 is ‘n grondeis ingedien deur die Anglikaanse gemeente St Stephens teen Paarlberg se “kerksaal”. Hierdie gebou, alom bekend as die “kleinkerkie”, waar die gemeente vir lank kinderdienste en jeugbyeenkomste gehou het, het voor die gedwonge verskuiwing van mense aan die St Stephens gemeente behoort. Die kerkraad het besluit om die eis nie teen te staan nie. Die onderhandelingskommissies het uitstekend saamgewerk en die kerkie is in 2004 by ‘n feestelike geleentheid oorhandig aan die oorspronklike eienaars. Die kerkgeboutjie is nie meer ‘n simbool van verdeeldheid nie, maar ‘n simbool van versoening en vandag is daar baie goeie kontak tussen die NG Kerk en Anglikane in die dorp.

Met ‘n gedeelte van die geld wat vir die St Stephens kerkgebou ontvang is en ruim bydraes van lidmate in ‘n finansieel moeilike tyd, is daar in 2010 ‘n doelmatige sentrum langs die kerk gebou. Nou het die gemeente ‘n gesellige ruimte, ‘n kombuis en twee kantore – een vir ons jeugwerker en een vir Paarl Jeuginisiatief, ‘n uitreik-aksie na behoeftige jongmense.

Paarlberg gemeente sou graag wou sien dat hierdie aanwins sal help om van die gemeente ‘n ruimte te maak waar mense welkom voel en God beter leer ken, en van waar ons uitgaan om ons geloof uit te leef.