MATT. 26:31-35 (29/3/26)

 

#  Ek wil vanoggend se boodskap met ’n soort raaisel begin!

  • Maar ek glo dit sal gou vir u duidelik word wat die antwoord op hierdie raaisel is.
  • Die raaisel gaan so: Dit wat vir my die grootste aardse vreugde kan verskaf, kan ook vir my die grootste hartseer veroorsaak.
  • Raai, raai, wat is dit?

#  Nou, om u te help, wil ek begin by wat ons vanoggend in Matt. 26 gelees het.

  • Ons het in dié gedeelte gelees van ’n gesprek tussen Jesus en sy dissipels.
  • En hierdie groepie mense het op daardie tydstip al ’n lang pad saam gekom.
  • Jesus het mos elkeen van sy dissipels spesiaal uitgekies.
  • Ons lees in die Bybel hoe Hy vir Petrus en sy broer Andreas geroep het waar hulle besig was om werpnette in die see uit te gooi.
  • En net daarna het Jesus ook die twee broers Jakobus en Johannes geroep waar hulle in ’n skuit saam met hulle pa besig was om nette reg te maak.
  • Vir Matteus, die tollenaar, of belastinggaarder, het Jesus weer by sy tolhuis gekry en ook vir hom gesê: “Volg My.”
  • En so het hierdie eerste vyf dissipels, saam met nog sewe ander, deel geword van Jesus se dissipelspan.
  • En hulle was die hele tyd by Hom sodat hulle dan ook as ‘t ware opgelei kon word om sy volgelinge te wees en om beter te verstaan waaroor die koninkryk van God eintlik gaan.
  • En in die proses het hulle sekerlik ook baie naby aan Jesus en aan mekaar gekom en mekaar baie goed leer ken.
  • Hulle moes tog in ’n baie spesiale verhouding met mekaar saam geleef het, Jesus en sy twaalf dissipels.

#  So, die een kant van hierdie storie is sekerlik dat die dissipels vir Jesus baie beteken het en Hom daarom ook baie vreugde verskaf het.

  • Terwyl Hy met sy aardse bediening besig was, het Hy altyd hierdie groep van twaalf by Hom gehad.
  • Hy kon dus sy blydskap, maar ook sy teleurstellings, met hulle deel.
  • Hy kon sy boodskap, dat God se koninkryk naby gekom het, goed aan hulle verduidelik.
  • En Hy kon hulle in sy vertroue neem en sê dat Hy gekom het om te ly en te sterf vir die sonde van hierdie wêreld.
  • Hy kon hulle soos vriende in sy vertroue neem.
  • En in Joh. 15 lees ons dan ook dat Jesus vir sy dissipels gesê het: “Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want ’n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van die Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.”
  • Jesus se “vriende.”
  • Dit is die benaming wat Hy self gebruik vir sy dissipels.
  • En ek glo dit sê dan ook vir ons hoeveel hulle vir Hom beteken het en dat hulle Hom o.a. baie vreugde moes verskaf het.

#  Maar dit wat ek nou gesê het, is ongelukkig net die een kant van die storie: dat sy dissipels vir Jesus baie beteken het.

  • Die ander kant van die storie is dat hulle Hom by tye ook diep teleur gestel het. 
  • Een van hulle het bv. besluit om vir Jesus te verraai.
  • Ter wille van ’n handvol geldstukke het Judas mos besluit om Jesus te verraai.
  • En dan was daar die kere toe die dissipels vir Jesus verkeerd verstaan het.
  • Die beste voorbeeld hiervan is seker toe die twee broers Jakobus en Johannes na Jesus toe gekom het en gevra het: “Wanneer U as koning heers, laat ons dan langs U sit, die een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.”
  • Maar met hierdie versoek het die twee broers gewys dat hulle Jesus iewers heeltemal verkeerd verstaan het.
  • Hy het dan juis vir hulle kom wys en kom leer dat Hy self nie gekom het om gedien te word nie, maar om ander te dien.
  • En nou dink hierdie twee broers net aan heers en aan mag en aan belangrike posisies vir hulleself.
  • En Jesus moes daaroor ontsettend teleurgesteld gewees het.

#  Maar nou het ons nog nie eers behoorlik gepraat oor die gedeelte wat ons vanoggend gelees het nie.

  • In die eerste vers daar sê Jesus vir die dissipels: “Julle almal sal My vannag nog in die steek laat.” 
  • En daarmee het Jesus gedink aan hoe sy dissipels sou weghardloop wanneer die Jode Hom daardie nag in Getsemané gevange sou kom neem.
  • 26:56 beskryf daardie oomblik en sê: “Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop.”
  • En Petrus, wat vooraf so seker was dat hy dit nie sou doen nie, was ook maar een van dié wat Jesus in die steek gelaat en weggehardloop het.
  • En die Bybel vertel vir ons in groot besonderhede hoe Petrus ’n klein bietjie later ook vir Jesus verloën het.
  • Toe ’n diensmeisie by die hoëpriester se huis vir Petrus herken as een van Jesus se dissipels, het Petrus dit heftig ontken en gesê: “Ek ken die man nie!”

#  En so lyk die ander kant van die storie dan: dat Jesus se dissipels Hom by tye diep teleur gestel het.

  • Sy verhouding met hulle, wat aan die een kant sekerlik vir Hom geweldig baie werd was, het aan die ander kant ook vir Hom groot teleurstelling en hartseer ingehou.
  • En nou weet u teen hierdie tyd seker almal al wat die antwoord op my raaisel van vroeër is.
  • Die antwoord is dat dit ons verhoudinge met ander mense is wat vir ons die grootste aardse vreugde kan verskaf, maar ook die grootste hartseer kan veroorsaak.
  • Ons verhoudinge met ander het die wonderlike potensiaal om ons baie gelukkig te maak.
  • Maar terselfdertyd het dit ook die potensiaal om ons diep ongelukkig te maak.
  • En op Jesus se Lydenspad, veral toe die pad baie steil geword het, moes sy dissipels se optrede Hom baie seer gemaak het.
  • Want skielik het Hy heeltemal alleen gestaan.
  • Skielik, met die pad op sy steilste, was daar niemand naby om op te kon leun nie.
  • Toe was daar vir Jesus net die kruis waaraan Hy alleen moes gaan hang om vir ons sonde te betaal.
  • Maar ons dank die Vader vandag dat Jesus nie weggeskram het van die kruis nie!
  • Ons dank Hom dat Jesus enduit gehoorsaam was en so ook ons almal se Verlosser geword het.

#  Ons verhoudinge met ander mense, dit wat vir ons die grootste aardse vreugde kan verskaf, kan ook vir ons die grootste hartseer veroorsaak.

  • Jesus het dit so beleef met sy dissipels.
  • Maar mense beleef dit ook so in ons eie tyd.
  • Daar is bv. vanoggend mense hier wat in hulle werkplekke baie gelukkig is omdat hulle met ander mense saamwerk wat dit vir hulle ’n vreugde maak om elke dag werk toe te gaan.
  • Hulle verhouding met hulle hoof of met hulle kollegas of met die mense wat aan hulle ondergeskik is, is van so ’n aard dat dit vir hulle aangenaam is om te gaan werk.
  • Maar dan is daar ook die ander kant.
  • In ons eie Omgeegroep was daar bv. al dikwels in die verlede mense wat omtrent elke week by ons groepsbyeenkoms moes kom kla oor hoe sleg hulle baas hulle behandel het.
  • En ek sal nooit vergeet hoe ongelukkig dit hierdie mense gemaak het om ’n onredelike en onsmaaklike baas te hê nie.

#  Maar nog ’n voorbeeld van hoe belangrik die verhoudinge met ander in ons lewens is, is die gesinne of huwelike of families waarin ons dalk vanoggend staan.

  • En hopelik kan almal van ons wat hier is, wel sê dat dit vir ons ’n vreugde is om met mekaar saam te leef.
  • Hopelik kan almal van ons sê dat die verhoudinge in ons gesinne en huwelike en families so is dat ons mekaar help en bystaan en opbou.
  • Nie dat alles altyd perfek loop in hierdie verhoudinge nie, natuurlik nie.
  • Maar hopelik kan ons wel almal sê dat dit vir ons oorwegend ’n positiewe ervaring is om saam te wees.
  • Dat dit vir ons oorwegend goed is om saam te wees in ons gesin of in ons huwelik of familie.
  • Maar dan is daar ook weer eens die ander kant: Gesinne of huwelike of families waarin verhoudinge so skeef loop dat dit mense uiters ongelukkig maak.
  • En dan kan verhoudinge natuurlik hel op aarde wees.
  • Dan kan dít wat vir ons die grootste geluk hier op aarde kan gee, juis die saak word wat vir ons die langste trane kan laat huil.

#  En kom ons dink tog ook vir ’n oomblik oor wat dit is wat verhoudinge tussen mense kan laat skeefloop.

  • Ons sou natuurlik elkeen verskillende redes kon opnoem waarom dit gebeur.
  • Maar hier is ’n paar waarmee u seker sou saamstem:
  • Selfsug en eiebelang is iets wat verhoudinge kan laat skeefloop (soos wanneer ek bv. nie werklik my huweliksmaat se belange voorop stel nie).
  • Onvolwassenheid (soos wanneer ek dit nie wil erken wanneer ek ook ’n slag ‘n fout maak nie).
  • Swak kommunikasie (wat maklik tot misverstande kan lei).
  • Te min tyd saam (’n groot probleem in ons gejaagde lewens van vandag).
  • Geweld (fisiese maar ook verbale of woordgeweld, waar ons mekaar fisies of met woorde seermaak en afbreek).
  • Al hierdie dinge, en nog ‘n hele aantal ander, kan ons verhoudinge met ander mense laat skipbreuk ly en daarom groot hartseer en lyding veroorsaak.
  • En ons kan vanoggend maar net bid dat die Here self vir ons sal help om reg op te tree in elke verhouding waarin ons ookal mag staan.

#  Maar nou is die vraag seker: Hoe sal ons weet hoe om reg op te tree in ons verhoudinge?

  • Ons voel juis dikwels so dom as dit kom by moeilike en ingewikkelde verhoudinge met ander mense.
  • Hoe sal ons weet hoe om reg op te tree in sulke verhoudinge?
  • En natuurlik is daar nie ‘n maklike antwoord of ‘n gewaarborgde resep nie.
  • Maar ons kan wel sê: Jesus se groot riglyn vir ons is dat ons ander mense net so lief moet hê soos onsself.
  • Dis wanneer ons dit nie regkry om ander lief te hê nie dat daar maklik fout kom in ons verhoudinge met mekaar.
  • Dis wanneer ander mense en hulle belange nie vir ons belangrik genoeg is nie dat ons verhoudinge met hulle ook maklik kan skeefloop.

#  So, wat moet ons doen?

  • Paulus sê in Fil. 2:5 dat “dieselfde gesindheid” in ons moet wees wat daar ook in Jesus was, “dieselfde gesindheid” as in Jesus.
  • En dan gaan Paulus verder en verduidelik hoe Jesus Homself verneder het.
  • Eers het Hy Homself verneder deur ’n mens te word.
  • Die Seun van God word ‘n mens, net soos ons.
  • Maar toe het Jesus Homself verder verneder en aan ’n vervloekte kruishout gesterf om vir ons sonde te betaal.
  • Maar so het Hy dit ook vir ons moontlik kom maak om vandag self met ’n nuwe gesindheid teenoor mekaar te kan leef.
  • Met die nederigheid van Jesus.
  • En met sy liefde wat Hy deur die Heilige Gees in ons harte uitstort.
  • “Dieselfde gesindheid” moet in ons wees, sê Paulus, wat daar ook in Jesus was.

#  Ons verhoudinge met mekaar: Dit kan ons vreugde wees, maar soms ook ons verdriet.

  • En daarom moet ons al ons verhoudinge met mekaar baie hoog op ons lys van prioriteite plaas.
  • En moet ons regtig moeite doen met ons verhoudinge.
  • In ons huwelike, en gesinne, en families, en ook in ons vriendekringe en werkplekke.
  • En natuurlik ook in ons onderlinge verhoudinge hier in die gemeente.
  • Ons moet moeite doen met al hierdie verhoudinge.
  • En met Jesus se nederigheid en sy liefde in ons harte kan ons verhoudinge hê wat vir ons groot vreugde verskaf!
  • Kan ons verhoudinge hê waarin ons mekaar help en bystaan en opbou.
  • Jesus het dit self vir ons kom moontlik maak.
  • Deur sy liefde en verskriklike lyding het Hy dit vir ons kom moontlik maak om self ook werklik te kan liefhê.
  • Ons prys sy Naam!

AMEN

 

css.php