Leer lewe sonder leuens
Lydingstyd kort inleiding…
Wat simboliseer die woestyn? ’n Plek waar jy in gestrooptheid, isolasie, stilte en deur swaarkry vir God op nuwe maniere ontdek en hoor…
Afsterwe van die ou mens; dit voel soos dood! – die opstanding van die nuwe mens…
Votum/seëngroet (Job 42):
1Daarna het Job vir die Here gesê:
2“Nou weet ek dat U tot alles in staat is
en dat U kan uitvoer wat U besluit.
3Wie is dit wat u bedoelinge wou dwarsboom
sonder dat hy die insig gehad het?
Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie:
u wonderdade was te groot vir my,
ek het dit nie verstaan nie.
4U het mos gesê: Luister terwyl Ek praat,
Ek sal vra, antwoord jy My.
5Tot nou toe het ek net gehoor
wat mense van U sê,
maar nou het ek U self gesien,
6en nou verag ek myself,
nou sit ek vol berou, in sak en as.”
Skriflesing: Mat 5:33-37
Preek:
In Mat 4 kry ons Jesus se eerste kort preek: “Bekeer julle want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” Verander julle gedagtes en perspektief – sien die alternatiewe werklikheid van hoe dit lyk as God se heerskappy en wil realiseer.
Die patroon van Matteus se evangelie wys dit duidelik. As Jesus die berg betree dan word Hy die nuwe Moses wat God se wet/wil/woorde aan hulle deurgee. Hy noem ook die wet op die naam. Hy het nie gekom om die wet af te skaf nie, maar om dit te vervul – om die wet se volle en ware betekenis duidelik te maak.
En dan volg hierdie gedeeltes waarby ons nou die laaste paar Sondae stil gestaan het om by Jesus te leer hoe lyk lewens wat in pas is met God. Die visie is die shalom van die koninkryk van God – die harmonie en vrede en lewe wat heers daar waar God se wil geskied. Daarom word al hierdie dinge wat onderliggend is aan die dinamika van ons harte en ons saamleef met mekaar, deur Jesus aangespreek. Ons het al geleer oor ’n lewe vry van woede – oor hoe die behoefte om ander te verkleineer of seer te maak in die kiem gesmoor moet word. Ons het geleer oor die skade wat ongesonde en skeefgetrekte seksuele begeertes kan aanrig.
En as Jesus nou kom by die aflê van ’n eed, dan sien ons iets van al die maniere hoe ’n eed in Jesus se wêreld afgelê is. Ons het vandag nog daardie behoefte om seker te maak iemand lei ons nie om die bos nie. “Belowe? Pinky promise?” In ’n tyd waar min mense kon skryf en skryfmateriaal duur was, moes transaksies sonder papierwerk voltrek word. “Ek sweer by die hemel die koei is gesond en lewer 20 liter melk per dag.”
Weereens as Jesus in hiperbool praat moet ons nie ’n absolute verbod op die aflê van ’n eed hierin lees nie. As jy in die hof moet gaan getuig kan jy maar jou hand op die Bybel sit – by wyse van spreke – belowe om die waarheid te vertel. (Nog ’n uitdrukking!) Die ware betekenis van Jesus se woorde gaan weereens oor die karakter van die een wat hulleself verbind aan die koninkryk van God – die een wat sy lewe op die rots wil bou – wat Jesus se woorde hoor en dit ter harte neem.
God is volkome waarheid, volkome lig. Niks verskuilde agendas en motiewe nie. Hy kan nie lieg nie. Daarom is Hy volkome betroubaar. Daarom vertrou ons op sy beloftes en is ons veilig by Hom. En natuurlik is God se visie ook so ’n wêreld – ook so ’n werklikheid vir sy kinders. Een waar jy nie konstant daardie vrees het dat iemand jou gaan mislei of indoen nie. Een waar jy ander mense kan vertrou omdat hulle woord hulle eer is en hulle dit gestand doen – een waar mense die waarheid praat.
As ons hierdie woorde van Jesus regtig beliggaam, sal ons uitstaan as ’n werklike en welkom alternatief in hierdie wêreld van ons – nie waar nie? Ons word van ’n kant af belieg en verneuk. En kom ons wees maar eerlik – ons is geensins onskuldig nie – ons het al almal op ’n manier gelieg of verneuk. Dit gebeur in eksamens, tussen mans en vrouens (terloops ook die band met voorafgaande gedeelte oor begeerte), op CV’s, as bedrog en korrupsie in die sakewêreld, deur diensverskaffers (mnr. jou dak sal nooit weer lek nie), as vals beloftes, leuens en misinformasie deur politici…
En o wee, die waarheid het in ons tyd seker sy grootste vyand in die geskiedenis van die mensdom gekry in die vorm van sosiale media en AI. Alle media is toenemend in die handjie van ’n klein groepie biljoenêrs wat baie spesifiek ’n wêreld in stand wil hou waarin hulle nog ryker en magtiger kan word. Ons is die slagoffers van algoritmes wat ons aan ons neuse lei en wat bepaal wat ons sien, voel en dink – woede en verontwaardiging lei tot groter inkomste – maar die misleiding het werklike gevolge in die regte wêreld. Dit was onlangs nogal groot nuus toe Twitter dit moontlik gemaak het dat die geografiese ligging van die rekening aangedui word – en dit het uitgekom dat van die mees invloedryke Amerikaanse politieke rekeninge met 100000’e volgeling in lande soos Indië, Nigerië en Oos-Europa bedryf word.
Hoe reageer ’n volgeling van Jesus in ’n wêreld soos hierdie? Jy onthou wie jy is. Jy is geroep om sout en om lig te wees. Jy word geroep om te glo dat as jy ’n lewe van integriteit en waarheid leef, jy die suurdeeg kan wees wat die kultuur in jou huwelik, in jou gesin, in jou verhoudinge, in jou organisasies/skool, in jou werksplek verander sodat waarheid weer geëer word.
Om die paadjie terug te vind na waarheid, sal ons eers ’n bietjie dieper moet nadink. Ons almal jok – in verskillende situasies, om verskillende redes, sommige meer as ander, sommige leuens met groter implikasies as ander – en ons het almal goeie verduidelikings aan onsself hoekom dit nodig was. Basies vertel ons leuens om twee redes:
In die eerste plek omdat ons bang is oor dit wat kan gebeur as ons die waarheid vertel. Ons vermy negatiewe gevolge. Alle kinders probeer dit en kom soms daarmee weg. Maar hoeveel getuies onder eed het nie ook al dit gedoen nie?
In die tweede plek word dit deur begeerte gedryf. Ons jok om iets te kry wat ons graag wil hê. Soos op ’n CV. Navorsing bewys dat mense jok oor hulle ouderdom, hulle huwelikstatus, en hulle opleiding, net om die werk te kry. Die mense bedoel nie noodwendig om iemand seer te maak nie, maar jy wil die werk hê, of jy wil bloot hê mense moet jou aanvaar of van jou hou.
En dit is natuurlik hoekom Jesus ons altyd terugneem na die hart toe – na ons hart, na die hart van dinge en ons oortuigings en begeertes. Want wat verklap hierdie motivering vir leuens van ons? Ons vertrou nie – ons glo nie die stem wat sê jy is Geliefd nie – jy het inherente waarde as God se kind – jy hoef nie ander se aanvaarding met voorgee te wen nie. Jy hoef ook nie te jok om voor te kom nie – Hy sal sorg.
Wat baat dit jou jy wen die wêreld en jy verloor jou siel?
Waarheid en integriteit is een van die belangrikste vlakke waarop ons wêreld ’n korreksie nodig het. As ons onsself uitvang dat ons jok (selfs ’n wit leuentjie wat mos ter wille van ander is) moet ons dit as ’n wekroep sien – nadink oor hoekom ek dit doen. Die Gees se leiding vra en oefen om beter te doen. Waarheid lei tot groter vrede en vertroue en geregtigheid – ons as Christene staan in diens van hierdie dinge. As ons die waarheid praat en leef sal dit beter wees vir die mense om ons – maar ook, so vertrou ons, vir onsself – dat waarheid sal seëvier – dat ingegriteit uiteindelik respek afdwing en regtig ’n beter opsie is.
Is daar perke aan eerlikheid? Ja. Ons word geroep om die waarheid in liefde te praat. Om altyd wat gepas en opbouend is te sê. Ons word geroep om die waarheid te praat, maar ons kan ook kies wat ons sien en bevestig – ons is ook die mense wat seën en bemoedig. Ons gebruik nie eerlikheid as ’n rookskerm om seer te maak nie. In die praktyk is dit baie keer moeilik. Ons vertrou die Gees se leiding.
Laat die woord ‘ja’ by julle werklik ‘ja’ wees, en julle ‘nee’ ‘nee’. Meer as dit is uit die bose. Amen.
Sieloefening: Stilte
Ons leer ken onsself in stilte. Ons eie waarheid. Ons hoor God in stilte. Sy stem wat die grootste waarheid konstant vir ons fluister: Jy is Geliefd. Ek is jou Vader. Ek is getrou. Ek voorsien.
Geen voorgee, geen misleiding is nodig nie.
So wat kan ons doen?
Oefen meer gereeld jouself in stilte voor die Here. Iets soos Woensdag-Kapel is ’n lekker hulpmiddel hiervoor.
Kies om minder te praat en meer te luister. Moenie eerste praat nie. Wag dat mense klaarpraat – moenie in die rede val nie.
Ons het laasweek al gesels oor die waarde van ‘n mediavas. Dit is weer hier ter sprake. Sosiale media word letterlik so opgestel om ons verslaaf te maak en om ons emosies en gedagtes te manipuleer. Onttrek soms vir tye – reset weer jou gedagtes. Leer onderskei. Waak oor jou emosies. Toets eers die waarheid voor jy reageer of share!
Stilwordoefening: Waar het jy jouself onlangs uitgevang dat jy nie die waarheid praat nie… hoekom?
