• HEB. 11:29-12:3 (17/8/25)

    #  Ons geloofslewe is ‘n bietjie soos ’n atletiekwedloop.

    • Dít is waarmee die skrywer van die boek Hebreërs dit vergelyk.
    • Hy sê ons geloofslewe is soos om deel te neem aan ’n atletiekwedloop.
    • En hierdie wedloop is glad nie ’n maklike wedloop nie.
    • Dis ’n wedloop waarin ’n mens kan moeg word en kan uitsak, amper soos in die bekende Comrades-marathon met sy ongeveer 90 km van bulte op en bulte af.
    • So is die wedloop van die geloof ook ’n moeilike wedloop.
    • En die geskiedenis van hierdie wedloop wys dit dan ook vir ons.
    • Die skrywer van Hebreërs vertel bv. vir ons van baie gelowiges uit die geskiedenis wat teen geweldige steil bulte in hulle geloofswedloop moes uitgaan.
    • Hy vertel selfs in vers 35 van gelowiges wat “doodgemartel” is.
    • En in die volgende paar verse sê hy: “Ander weer het bespotting en lyfstraf verduur, selfs boeie en gevangenskap. Gelowiges is met klippe doodgegooi, in stukke gesaag, met die swaard vermoor.  Hulle het rondgeswerf in skaapvelle en in bokvelle.  Hulle het gebrek gely, is verdruk en mishandel.  Die wêreld was hulle nie werd nie; hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge en het in grotte en in gate in die grond gelewe.”
    • Dit alles klink beslis nie na ’n maklike soort geloofswedloop nie.
    • Baie van hierdie vroeë gelowiges moes selfs met hulle lewe betaal.
    • Die geloofswedloop het alles van hulle gevra.

    #  Maar wat nou van ons? 

    • Is ons geloofswedloop vandag ook ’n moeilike een?
    • Ek dink ons is baie bevoorreg om nie op die oomblik aan dieselfde soort vervolging blootgestel te wees as dié waaraan so baie ander gelowiges al blootgestel was nie.
    • Daar is heel moontlik nie een van ons wat al werklik fisies moes ly ter wille van ons geloof nie.
    • Maar ons word tog wel soms bespot of verag omdat ons Christene is.
    • En daar word tog soms op ons neergesien omdat ons in Jesus Christus as ons Verlosser glo.
    • En ek meen dat elkeen van ons tog ook ons eie unieke probleme in ons geloofswedloop het.
    • Daar is mos dinge wat dit vir elkeen v. ons persoonlik moeilik maak om te glo, en moeilik maak om op die pad van die geloof te bly.
    • Dalk is dit dinge waarvan ander mense nie eers altyd weet nie.
    • Maar hierdie dinge is wel daar en hulle maak dit vir ons moeilik om te glo.
    • Ons eie tyd en ons eie samelewing hou bv. ook sy eie versoekings vir ons in, sy eie afdraaipaaie wat ons van die pad van die geloof wil weglei.
    • Dink maar net aan die versoeking van materialisme, dié afdraaipad waarop ons materieel net ryker wil word en net al meer wil besit, maar in die proses dalk geestelik heeltemal verarm en selfs geestelik bankrot raak.
    • En dink aan die versoeking om nie meer te glo nie.
    • Om te sê: Alles wat in die heelal en hier op aarde bestaan, is maar toevallig daar.
    • Daar is nie ‘n Skepper of ‘n God nie.
    • En dink aan die swaarkry en lyding en pyn en hartseer wat daar in die wêreld is.
    • Ook dit maak dit baie dae vir ons moeilik om te glo.

    #  So die skrywer van Hebreërs wys met reg daarop dat die wedloop van die geloof nie ’n maklike wedloop is nie.

    • En juis omdat dit nie maklik is nie, vind hy dit nodig om vir ons te sê dat ons hierdie wedloop met volharding moet hardloop.
    • So sê hy in hoofstuk 12:1.
    • En wat beteken dit om ’n wedloop met volharding te hardloop?
    • Dit beteken mos jy hou aan en aan, sonder om moed op te gee.
    • Jy hardloop, met inspanning, tot by die wenpaal.
    • Jy gee alles tot by die eindpunt van die wedloop, al is daar ook baie moeilike oomblikke langs die pad.

    #  En ek dink dit is hier waar ons groot probleem ook lê.

    • Dit is hier waar ons swakheid so duidelik onderstreep word.
    • Want wanneer die geloofswedloop moeilik word, wanneer die bult steil word, dan sak ons so maklik uit.
    • Dan word dit skielik duidelik dat my geloof eintlik maar so min en so swak is.
    • Dan word dit duidelik dat ek nie bloot in my eie krag kan doen wat die skrywer van Hebreërs vir my sê om te doen nie.
    • Ek kan nie in my eie krag in die geloofswedloop volhard nie.

    #  So wat staan my te doen?

    • En wat anders kan ek doen as om te sê: Ek kan nie self volhard in my geloofswedloop nie?
    • Ek kan dit nie in my eie krag voltooi nie?
    • Ek is net te swak?

    #  Ek dink die skrywer van Hebreërs het wel vir ons raad.

    • Ek dink hy het wel vir ons ’n oplossing vir ons probleem.
    • En wat is die oplossing?
    • Hy sê ons moet wegkyk van onsself, en dan moet ons eintlik in 2 ander rigtings kyk.
    • Ons moet amper soos ‘n verkleurmannetjie wees en gelyktydig in 2 ander rigtings kyk.
    • En wat sien ons wanneer ons in hierdie 2 rigtings kyk?
    • In die 1 rigting, met ons 1 oog, sien ons ’n groot skare mense.
    • Terwyl ons self op die baan van ons geloofswedloop hardloop, is hierdie groot skare mense rondom ons.
    • Hulle sit al die pawiljoene rondom ons vol.
    • En hierdie skare bestaan uit al die gelowiges wat reeds die geloofswedloop voltooi het.
    • Die skrywer van Hebreërs praat van hierdie mense as die “groot skare geloofsgetuies” wat rondom ons is.
    • Hulle is onder andere al daardie mense van wie ons in Heb. 11 lees, mense soos Abraham en Josef en Moses en Ragab en Dawid en nog baie ander.
    • En terwyl ons met ons eie geloofswedloop besig is, moet ons hierdie skare geloofsgetuies rondom ons raaksien.
    • Hulle moedig ons aan om te volhard.
    • Hulle juig ons toe sodat ons nie moet gaan staan of dalk ’n afdraaipad neem nie.

    #  ’n Franse skrywer, wat toevallig ook ’n goeie vlieënier was, vertel in 1 van sy boeke hoe sy vliegtuig bokant ’n woestyn in die moeilikheid geraak het en hoe hy daar ’n noodlanding moes uitvoer.

    • Die probleem met die vliegtuig was van so ’n aard dat hy self niks daaraan kon doen nie.
    • En hy het uiteindelik maar net 1 keuse gehad: hy moes begin loop en maar aanhou loop totdat hy miskien by die 1 of ander nedersetting kon kom waar hy kos en water kon kry.
    • En hierdie man sê dat toe hy begin stap het, het dit nog heel goed en reg en maklik gelyk.
    • Maar dit het gou ’n verskriklike tog vir hom geraak.
    • En na dae van loop oor die warm woestynsand en onder die skroeiende son, was hy totaal uitgeput.
    • Hy kon later omtrent nie meer 1 voet voor die ander sit nie en hy wou net gaan lê om vir ewig aan die slaap te raak.
    • Maar baie belangrik: in dié situasie het hy toe aan sy vrou en sy vriende gedink.
    • As hulle geweet het dat hy nog leef, sou hulle beslis baie van hom verwag het – hulle sou verwag het dat hy nie moed opgee nie.
    • En ter wille van hulle het hy dan telkens weer opgestaan en voort gestrompel … totdat hy uiteindelik mense teëgekom het en gered is.

    #  En so, lyk dit vir my, moet ons ook, terwyl ons besig is met ons geloofswedloop, aan die gelowiges van die verlede dink.

    • Ons moet hulle as’t ware rondom ons sien, en dan moet ons moed skep en volhard in ons geloofswedloop.
    • Soos die Franse vlieënier se familie en vriende sou verwag het dat hy nie sal moed opgee nie, so verwag die skare geloofsgetuies rondom ons ook dat ons nie sal moed opgee nie.
    • So verwag mense soos Abraham en Josef en Moses, en selfs ook gelowiges vir wie ons persoonlik geken het toe hulle nog gelewe het, so verwag hulle almal dat ons sal volhard in ons eie geloofwedloop.

    #  So dít is die 1 rigting waarin ons moet kyk: na die skare geloofsgetuies rondom ons.

    • Ons 1 oog moet op hulle vasgenael bly.
    • Maar wat van ons ander oog?
    • In watter rigting moet ons met hom kyk?
    • Die skrywer van Hebreërs sê: Hou “die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.”
    • So, die ander rigting waarin ons moet kyk, is in die rigting van Jesus.
    • En ons weet dat Hyself die steilste pad wat daar ooit kon wees, moes loop.
    • Hy moes tot by die kruis gaan, daar waar Hy verskriklik gely het en gesterf het om ons almal van ons sonde te kon verlos.
    • Hy moes ’n pad loop wat so steil was dat Hy in die tuin van Getsemane gebid het: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan.”
    • Maar Jesus moes eenvoudig die lydensbeker drink om vir ons verlossing moontlik te maak.
    • En daarom het Hy voortgegaan op sy pad van lyding en het Hy dié pad enduit geloop.
    • En om raak te sien wat Jesus gedoen het, om sy voorbeeld altyd voor ons te sien, dit kan vir ons tot groot versterking in ons eie geloofswedloop wees.
    • Wanneer die pad vir ons moeilik raak, moet ons dink aan die verskriklike pad wat Jesus moes loop.
    • En Hy het dit enduit bly loop.
    • Hy het daarop volhard tot die einde toe.
    • Uit liefde vir elkeen van ons het Hy dit gedoen.

    #  Maar baie belangrik: ons mag Jesus nie net sien as ’n voorbeeld vir ons nie.

    • Hy is soveel meer as net ’n voorbeeld.
    • Die skrywer van Hebreërs sê: Hy is die Begin en Voleinder van die geloof.
    • Dit beteken Hy is die Een wat ons gehelp het om te kan begin glo, maar Hy is ook die Een wat ons help om tot aan die einde van ons lewe te bly glo.
    • Die Lewende Bybel sê op hierdie punt: Jesus “lei ons om op God te vertrou en Hy sal ons leier bly tot die einde toe.”
    • By die wegspring van ons geloofswedloop was Jesus reeds daar – toe ons begin glo het.
    • En by die wenpaal sal Hy ook daar wees, as die Een wat vir ons die hele pad in ons geloof gelei het.
    • En daarom sê ek weer: Jesus is soveel meer as net ’n voorbeeld vir ons.
    • Hy lei ons van die begin af in ons geloof, en Hy doen dit ook tot die einde toe.

    #  So, dit is waar as ons sê: Ons kan nie in ons eie krag ons geloofswedloop voltooi nie.

    • Maar Jesus is ons krag.
    • Soos iemand gesê het: Hy is “ons asem gedurende die wedloop.”
    • Al is dit so dat ons eie asem so maklik opraak en dat ons nooit self hierdie wedloop in ons eie krag kan voltooi nie, Jesus is ons asem.
    • Deur sy Gees stel Hy ons in staat om te kan volhard in ons geloofswedloop.
    • Die Heilige Gees dra ons deur.
    • Hy versterk ons swak geloof.

    #  Kom ons kyk daarom weg van onsself en weg van ons eie gesukkel in die wedloop van die geloof.

    • Kom ons kyk ook weg van hoe moeilik hierdie wedloop dalk vanoggend vir ons persoonlik is en hoe steil die bulte is waarteen ons moet uitgaan.
    • En kom ons fokus aan die eenkant op die groot skare geloofsgetuies rondom ons, al die miljoene gelowiges van die verlede.
    • Maar kom ons fokus veral op Jesus, die Begin en die Voleinder van die geloof.
    • Hy lei ons van die begin af om op God te vertrou, en Hy sal ons leier bly tot die einde toe.
    • Deur sy Gees, wat in ons is, dra Hy ons deur.

    AMEN

    .


 

css.php