1. Ef. 3:1-13 (15/1/23)

 

 

#  Ek wil graag vanoggend my verbeelding so ’n bietjie gebruik.

  • En dan wil ek my voorstel dat Paulus (die skrywer van Ef. 3) ’n Joodse vriend kon gehad het wat dalk op ’n dag vir hom ’n baie belangrike vraag gevra het.
  • Kom ons sê hierdie Joodse vriend van Paulus het geweet van Jesus wat gebore is, en later gekruisig is.
  • Hy het ook geweet dat daar ’n hele aantal Jode was wat Jesus se volgelinge geword het, net soos sy vriend Paulus ook ’n volgeling van Jesus geword het.
  • En nou het hierdie man begin wonder wat aan die gang is.
  • Wat is dan nou anders nadat Jesus hier op aarde was?
  • En dis die belangrike vraag, so stel ek my voor, wat hy dan ook vir Paulus vra.
  • Paulus, wat is dan nou anders nadat Jesus hier op aarde was?
  • Kan jy vir my verduidelik: Wat is dan nou anders?

 

#  En dan stel ek my verder voor dat Paulus toe baie gretig was om sy vriend te antwoord.

  • En as ’n mens kyk na wat Paulus hier in Ef. 3 geskryf het, kon hy dalk sy vriend se vraag só beantwoord het:
  • My vriend, ek wil vir jou graag 3 dinge noem wat jou sal help om te verstaan wat anders is nadat Jesus hier op aarde was.
  • Ja, daar is 3 baie belangrike dinge waarmee ek wil verduidelik wat anders is nadat Jesus hier was.
  • En die eerste ding is dít: God se groot geheim is nou uit!
  • Jesus se koms na die aarde toe was volgens die Bybel deel van ’n “geheimenis.”
  • Dis hoe Paulus dit op ’n hele paar plekke hier in Ef. 3 noem: ’n “geheimenis.”
  • In vers 9 noem hy dit ook God se “verborge plan.”
  • En as ’n mens nou in ’n neutedop moet sê wat hierdie verborge plan van God behels het, is dit dat Hy ’n Verlosser vir die wêreld gestuur het.
  • Dat Hy sy Seun Jesus gestuur het om ons almal van ons sonde te kom verlos.
  • Maar baie belangrik: Jesus se verlossing was vir die hele wêreld bedoel.
  • Nie net vir die Joodse volk waaraan Jesus ook self behoort het nie.
  • Nie net vir die Jode as “volk van God” soos Paulus se Joodse vriend dit dalk sou verstaan het nie.
  • Nee, Jesus het gekom om Jode én nie-Jode te verlos.
  • En vir baie lank was hierdie plan ’n geheim.
  • In die Ou Testament se tyd het die profete soms so iets daarvan laat val dat God ook die ander volke wou red.
  • En daar is voorspellings gemaak dat ’n Verlosser vir Israel gestuur sou word.
  • Maar eintlik was alles nog ’n “geheimenis.”
  • Totdat Jesus gekom het om Verlosser van almal te wees, van Jode en nie-Jode.
  • Van mense van elke denkbare volk en ras en taal en kleur.
  • En so het Paulus dan moontlik vir sy vriend, in antwoord op sy vraag, gesê: God se groot geheim is nou uit!
  • Daar het ’n Verlosser gekom vir hierdie hele wêreld en al sy mense.
  • En dít is wat anders is na Jesus se koms: die hele wêreld het ’n Verlosser gekry, ook jy!

 

#  Maar dan, stel ek my verder voor, sou Paulus waarskynlik ’n volgende saak vir sy vriend onderstreep het.

  • My vriend, sou hy moontlik gesê het, na Jesus se koms is daar ook nou ’n nuwe volk van God!
  • Daar is nie net ’n nuwe Verlosser nie, maar ook ’n nuwe volk van God.
  • En hierdie nuwe volk van God bestaan nie meer net uit Jode nie.
  • Dit sluit ook nie-Jode in.
  • Dit sluit almal in wat Jesus as hulle Verlosser aanvaar.
  • En Paulus se vriend sou heel moontlik geskok gewees het oor wat Paulus hier sê.
  • Die Jode het mos in daardie tyd die nie-Jode as onrein mense beskou.
  • Hulle is “heidene” genoem en hulle was beslis nie as deel van die volk van God gesien nie.
  • En nou kom Paulus en hy sê: Alle gelowiges vorm nou saam die een nuwe volk van God!
  • Alle gelowiges vorm nou saam die kerk van Jesus op aarde, want sy kerk is nou die een nuwe volk van God.
  • Hoor net weer hoe sê Paulus dit in Ef. 3:6.
  • Hy sê “ook mense wat nie Jode is nie, word saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en hulle kry ook saam met ons deel aan wat God belowe het.”
  • Daar is vandag maar net een nuwe volk van God, net een liggaam van Christus!
  • En as Paulus se vriend vir hom sou vra: Wat is dan nou anders nadat Jesus hier op aarde was?, dan sou Paulus kon sê: Daar is nou ’n nuwe volk van God!
  • ’n Nuwe volk van God wat letterlik alle gelowiges insluit.
  • En dalk het Paulus toe sommer ook vir sy vriend gevra: En wil jy nie deel word van hierdie nuwe volk van God nie?
  • Wil jy nie deel word van die kerk van Jesus nie?
  • Wil jy nie vir Jesus begin volg nie?

 

 

#  Maar daar is nog iets hier in Ef. 3 wat, ek dink, Paulus vir sy vriend sou wou verduidelik.

  • En dit is die saak wat in vers 12 aangeroer word.
  • In vers 12 sê Paulus: “In ons verbondenheid met Jesus en deur ons geloof in Hom kan ons met vrymoedigheid en vertroue na God gaan.”
  • En moontlik sou Paulus hierdie vers vir sy vriend eenvoudig wou saamvat deur te sê: Ons het nou, na Jesus se koms, ’n oop deur na ons hemelse Vader toe!
  • In die tyd van die Ou Testament was dit mos nie so nie.
  • Mense het nie vrye toegang tot God gehad nie.
  • Ons lees in die Ou Testament hoe ’n priester altyd ’n tussenganger tussen God en die mense moes wees.
  • ’n Priester moes namens die mense die offers bring wat aan die Here gebring moes word.
  • En hy moes namens die mense vir hulle bid tot die Here.
  • Maar dít het alles verander toe Jesus gekom het en Homself aan die kruis kom offer het.
  • So het Hy die pad en die deur na die Vader vir ons kom oopmaak.
  • En soos Paulus hier in Ef. 3:12 sê, kan ons nou “met vrymoedigheid en vertroue na God gaan.”
  • Of as ons dit effens anders kan stel: Ons kan nou ’n persoonlike verhouding met die Here hê.
  • Ons hoef nie deur ’n aardse priester of deur ’n predikant of ’n pastoor te werk nie.
  • Ons kan self in gebed met die Here praat.
  • Ons kan self naby aan Hom kom, want ons het nou ’n oop deur na Hom toe.
  • En dis Jesus wat die deur vir ons kom oopmaak het.

 

 

#  So, nadat Jesus hier op aarde was, is soveel dinge nou anders!

  • God se groot geheim is nou uit.
  • En daar is ’n nuwe volk van God.
  • En ons het nou ’n oop deur na ons hemelse Vader toe.
  • Ja, dit is so wonderlik dat God se “geheimenis,” sy plan van verlossing, nie langer ’n geheim is nie!
  • En dat hierdie plan ook klaar deur Jesus uitgevoer is.
  • En dat elkeen van ons nou deur geloof deel kan kry daaraan.
  • Deur geloof kan elkeen van ons nou ’n verloste mens word.
  • En kan ons die blydskap ervaar van mense wat nie meer die las van sonde op hulle skouers het nie.

 

#  Maar kom ons dink ook vir ’n oomblik oor wat dit beteken dat daar na Jesus se koms ’n nuwe volk van God is.

  • Dit beteken o.a. dat ons hande moet vat met alle gelowiges.
  • Ook met hulle wat anders lyk of dink of praat as ons, of hulle nou wit of bruin of swart is, dit maak nie saak nie.
  • Ons mag nie in die kerk of gemeente klieks vorm wat sekere mense insluit en ander uitsluit nie.
  • En ook Paarlberg-gemeente mag nie soos ’n eksklusiewe klub wees wat vreemdelinge of nuwe mense onwelkom laat voel nie.
  • Johan Botha het iewers geskryf oor hoe sleg dit is as ons in die kerk groepe of klieks vorm.
  • Hy het gesê: “Mense wat groepe vorm en ander afstoot omdat hulle verskil, ontwikkel maklik kwaaivriendskap, vorm maklik partyskappe, organiseer graag hulle eie aparte verenigings, wil hulle eie ding doen, stig maklik af – ook van hulle eie kerkgenootskap. Dit is presies wat dit sê, hulle kerkgenootskap – beslis nie dié van Christus nie.  Sy liggaam ken, verdra en bevorder nie verdeeldheid nie.”
  • Na Jesus se koms is daar ’n nuwe volk van God.
  • En ons moet so met mekaar en met ander gelowiges saamleef dat die wêreld kan sien ons is saam God se volk.
  • Veral in ons land is dit so belangrik dat ongelowiges moet kan sien die Christene vat regtig oor grense heen mekaar se hande.
  • En ons moet elke geleentheid om met gelowiges van ander groepe en kerke te kan saamkom en saamwerk met albei hande aangryp.
  • Ook hier in 2023!

 

 

#  Maar kom ons dink ook nog so ’n klein bietjie oor wat dit beteken dat ons nou, na Jesus se koms, ’n oop deur na ons hemelse Vader toe het.

  • Dit beteken mos ons kan alles in ons lewe met Hom deel.
  • Die dinge wat ons blymaak, maar ook die dinge wat ons hartseer of bekommerd maak.
  • Ons kan dit alles met die Here deel.
  • En wat van die dinge wat ons nie verstaan nie?
  • Ek het in my eie lewe agtergekom dat dié dinge wat ek nie verstaan nie, my eintlik baie kan
  • Soos dat daar soveel swaarkry in die wêreld is.
  • Of dat daar soveel verskillende godsdienste is, en selfs soveel verskillende Christelike kerke en groepe.
  • En daar is ook dinge in my eie persoon, en my eie lewe, en my eie verlede, wat ek nie verstaan nie.
  • Maar dan is dit so goed om met die Here daaroor te kan
  • Al is dit net om vir Hom te kan sê: Maar Here ek verstaan nie hoekom hierdie ding so moet wees nie of so moes gebeur het nie.
  • Dis so ’n wonderlike voorreg om ’n oop deur na ons hemelse Vader te mag hê.
  • En mag ons ook elkeen in die nuwe jaar nie huiwer om hierdie oop deur te gebruik nie.

 

#  Nadat Jesus op aarde was, is soveel dinge vandag anders!

  • En daar is soveel seëninge, m.a.w. soveel goeie dinge, wat deur sy koms op ons uitgestort is!
  • En as ek ’n laaste ding vanoggend mag sê, dan wil ek sê: Mag die Vader ons elkeen gebruik om die seën wat Jesus vir ons gebring het na ander toe uit te dra.
  • Paulus was deur die Here geroep om die goeie nuus aan nie-Jode te gaan oordra.
  • En in Ef. 3:11 noem hy dit ’n “voorreg” wat God aan hom gegee het.
  • Maar net so behoort ons dit ook as ’n groot voorreg te beskou om vir mense te kan sê: Kyk net wat het Jesus alles kom verander!
  • Hoor die goeie nuus!
  • En aanvaar dit, sodat dit ook jóú lewe kan
  • Mag die Vader ons dan elkeen in 2023 gebruik, elkeen op ons eie manier, om die seën wat Jesus vir ons gebring het ook na ander toe uit te dra en met hulle te deel!

 

 

AMEN

rwelkoming:

Teks hier

Votum:

Teks hier

Seëngroet:

Teks hier

Skriflesing:

Teks hier

Preek:

Teks hier

Gebed:

Teks hier

1R. 15:1-11 (6/2/22) # Vars gebakte brood ruik mos baie lekker! - Veral as dit so pas uit die oond gekom het. - Maar as hierdie selfde brood ’n bietjie te lank in die broodblik bly lê, raak dit nie net droog en hard nie, maar smaak dit ook nie meer so lekker nie. - Dit verloor sy varsheid en dit raak selfs muf. - En dan wil ’n mens natuurlik nie meer die brood hê of eet nie. - En uiteindelik gooi jy dit dan ook weg. # Nou, die boodskap van die evangelie, m.a.w. God se goeie nuus aan ons, kan ongelukkig ook vir ons sy varsheid verloor en, met respek gesê, muf raak. - Dit lyk of iets van dié aard juis in die gemeente van Korinte gebeur het, en dat Paulus dit daarom nodig gevind het om daaroor aan die gemeente te skryf in sy brief aan hulle. - Die probleem in Korinte was blykbaar dat sommige gemeentelede nie meer geglo het dat die dooies eendag uit die dood sal opstaan nie. - Hulle het nie meer uitgesien na ’n ewige lewe, ná hierdie lewe, nie. - En so het die evangelie vir hulle sy varsheid verloor en as ‘t ware muf geraak. # En dit laat ’n mens nogal wonder: Wat kan dalk veroorsaak dat die evangelie ook vir ons vandag muf raak? - Wat kan maak dat die evangelie ook vir ons sy varsheid verloor? - Een gevaar vir ons, glo ek, is dat ons bloot afgestomp kan raak vir God se goeie nuus aan ons. - Ons hoor die boodskap van die Bybel so baie dat dit ons dalk nie meer so diep raak soos vroeër nie. - Ons raak mettertyd afgestomp. - En dan is daar natuurlik ook maar die twyfel wat soms by ons opkom. - Slegte dinge gebeur in die wêreld rondom ons, of in ons eie lewe, dinge wat ons laat twyfel – dalk ’n natuurramp, of ’n uitmergelende siekte, of die dood van iemand naby aan ons. - En dink ook maar aan die dinge wat mense soms in die koerante oor ons geloof skryf – dinge wat ons verwar, of uitsprake van geleerdes wat ons laat twyfel aan die manier waarop ons nog altyd geglo het. - En skielik is die evangelie dalk besig om ook vir ons muf te word. # Maar nou, baie belangrik: Wat doen Paulus om die mufheid in die gemeente van Korinte teen te werk? - Wat doen hy om hulle weer die varsheid van die evangelie te laat ervaar? - Hoe maak hy hulle weer opgewonde oor God se goeie nuus aan ons? - Wat Paulus doen, is om die lesers van sy brief eenvoudig terug te neem na die ABC van die evangelie, na die grondbeginsels daarvan – of soos die mense in Engels sal sê: “back to basics.” - Ons lees mos in vers 1 dat Paulus vir die Korintiërs sê: “Ek herinner julle …. aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan.” - Ek herinner julle, sê Paulus. - So dit gaan oor dinge wat hy al reeds voorheen aan hulle gesê het. - Julle weet dit eintlik reeds, Korintiërs, sê Paulus. - Maar ek herinner julle daaraan. - Ek neem julle terug na die ABC van die evangelie. - En Paulus se herinnering aan hulle is soos die geur van vars brood. - Dit neem die mufheid weg, sodat die Korintiërs die evangelie weer kan sien vir wat dit werklik is: God se heerlike vars nuus aan ons! # Maar wat is die ABC van die evangelie? - Wat is die grondbeginsels daarvan? - Kom ons kyk so ’n bietjie daarna, soos Paulus dit vir ons in 1 Kor. 15 verduidelik, en ruik daarin die vars geur van die evangelie. # En nou kry ons die eerste grondbeginsel wat Paulus vir ons gee, in vers 3 wat ons saam gelees het. - Hy sê daar: “Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte.” - Die eerste en belangrikste grondbeginsel van die evangelie is Jesus se dood aan die kruis. - En ons weet Jesus is onskuldig doodgemaak. - Hy het self nooit ander mense te na gekom of seer gemaak in sy lewe nie, maar Hy is dood gemaak. - En waarvoor? - Volgens die aanklag van die Jode was dit vir Godslastering – omdat Hy gesê het dat Hy die Seun van God is. - En boonop het Hy volgens hulle ’n bedreiging vir vrede ingehou. - Maar waarvoor het Jesus regtig gesterf? - Vir ons sondes. - Ons kan sê: Jesus het as ‘t ware in die hofsaal tussen ons en God die Vader kom staan, onskuldig, maar gewillig om al ons sonde op Hom te neem, en om sodoende deur die verskriklike straf vir ons sonde getref te word. # En dit was iets verskriklik: Jesus se dood in ons plek – sy lyding en dood. - Maar dit is waar die ABC van die evangelie begin. - Dit begin by Jesus se liefde vir ons wat so groot was dat Hy sy lewe vir ons afgelê het. - In Joh. 15:13 sê Jesus mos self: “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.” - En dít is wat Jesus gedoen het. - Dít is hoe groot sy liefde vir ons werklik is. - Hy lê sy lewe af vir sy vriende. - Ruik daarin die varsheid van die evangelie! - Waardeer daarin die varsheid van die evangelie! # Maar kom ons kyk ook na ’n tweede grondbeginsel van die evangelie wat Paulus vir ons gee. - Hy sê in vers 4 wat ons gelees het: Jesus is na sy dood “begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.” - Jesus het nie in die graf bly lê nie. - Hy het losgeruk uit die boeie van die dood en opgestaan daaruit. - En so het Jesus die dood ook vir ons oorwin. - ’n Bietjie later in 1 Kor. 15, by vers 20, noem Paulus daarom vir Jesus die “eersteling” wat uit die dood opgewek is. - Hy was die eerste een – die eersteling, maar ons sal Hom daarin volg. - En kan daar ’n meer ingrypende boodskap in die wêreld versprei word as dit: dat Iemand wat dood was weer lewendig geword het, en dat ons as gelowiges ook na óns dood weer sal lewe? - Hierdie boodskap is so ingrypend en so vars dat geen mufheid ooit daaraan sal kan vat kry nie. # Maar ons moet tog seker ook vra: Wat nou van die twyfel wat ons dalk tog ervaar as ons dink oor Jesus se opstanding uit die dood? - Sê nou Hy is toe nooit opgewek nie, soos party mense mos beweer? - Paulus gee ’n baie duidelike antwoord hierop aan die Korintiërs. - Hy sê vir hulle: Daar was ’n hele klomp getuies van Jesus se opstanding. - Jesus het aan Sefas (m.a.w. Petrus) verskyn, daarna aan die twaalf dissipels, daarna aan meer as 500 mense tegelyk, en toe ook nog aan Jakobus, aan al die apostels en ook aan Paulus self. - Jesus hét opgestaan. - Hy het waarlik opgestaan. - En Paulus bevestig dit met ’n hele lys van getuies wat hy vir die Korintiërs opnoem. - Ja, Jesus het sonder twyfel opgestaan en die dood ook vir ons oorwin. - Ruik ook daarin die varsheid van die evangelie! - Waardeer daarin die varsheid van die evangelie! # Maar kom ons praat ook nog oor ’n derde grondbeginsel van die evangelie waarna Paulus hier in 1 Kor. 15 verwys. - En dit is die feit dat die evangelie ’n boodskap van genade is! - En wat beteken genade? - Dit beteken dat God ons verlos sonder dat ons dit verdien. - Genade kan nie verdien word nie. - Dit kan net aanvaar word. - Dit kan net as ’n geskenk ontvang word. - En dat Jesus in ons plek aan die kruis gesterf het – dis genade! - Ons het dit mos glad nie verdien nie, en ons kan dit ook nooit verdien nie. - Maar nogtans het die Vader besluit om deur Jesus se dood vir ons verlossing van sonde te bewerk. # Die evangelie is ’n boodskap van genade. - En wat Paulus hier in 1 Kor. 15 beklemtoon van God se genade, is dat hierdie genade mense se lewens verander. - En Paulus kon natuurlik uit eie ondervinding praat. - Hy erken in vers 9 dat hy die kerk van die Here vervolg het. - Daarom beskou hy homself ook as die geringste van die apostels. - En eintlik, sê hy, is hy nie eers werd om ’n apostel genoem te word nie. - Kan u hoor? - Hy sê: Ek is dit nie werd nie. - Dit beteken: Ek verdien dit nie. - Maar juis daarom verstaan Paulus so goed dat dit net God se genade was wat sy lewe so verander het. - “Deur die genade van God is ek wat ek is,” sê Paulus in vers 10. - Eers was ek ’n vervolger van die kerk, sê hy. - Maar God se genade het van my ’n apostel gemaak, m.a.w. ’n gestuurde. - Dis wat die woord apostel beteken: ’n gestuurde, iemand wat ook aan ander die evangelie moet gaan oordra. - Eers, sê Paulus, was ek eintlik ’n vyand van die kerk. - Maar God se genade het my heeltemal omgedop, só omgedop dat ek nou ’n gestuurde werker in diens van die Here kan wees, een van sy handlangers. # “Deur die genade van God is ek wat ek is,” sê Paulus. - En ons wat vanoggend hier saam is, sal almal met Hom kan saamstem. - Ook in ons lewens het die Here ons al kom verander. - Dalk nie so dramaties en ingrypend soos wat Hy vir Paulus verander het nie. - Maar deur sy genade verander Hy elke kind van Hom se lewe. - Hy verlos en bevry jou van al jou sonde. - En Hy verander jou denke. - Hy verander dit só dat jy nuwe waardes en prioriteite in jou lewe kry. - En dan help Hy jou ook om elke dag volgens hierdie nuwe prioriteite te kan leef. - Om Hom eerste te stel en om in liefde met jou medemens saam te leef. - Die genade van God – wat kan so vars wees soos God se genade? - En wat kan so vars en nuut maak soos God se genade? - Ruik ook daarin die varsheid van die evangelie! # Dit hoef nie so te wees dat ons afgestomp raak vir die boodskap van die evangelie nie. - Dit hoef nie so te wees dat die evangelie vir ons nie meer vars en nuut is nie, maar muf is. - Paulus neem ons terug na die ABC van die evangelie. - En as ’n mens weer ’n slag werklik ernstig oor hierdie basiese dinge nadink: oor Jesus se dood, en sy opstanding, en oor God se genade wat lewens verander, dan breek die vars geur van die brood van die lewe weer vir jou deur. - En Jesus het mos self ook in Joh. 6:35 gesê: “Ek is die brood wat lewe gee.” - Kom ons bly hou dan aan Hom vas. - Kom ons bly leef naby Hom. - Dan sal die evangelie vir ons elke dag nuut bly. - Nuut en vars. - So vars soos varsgebakte brood! AMEN

css.php