1 TESS. 3:1-13 (8/10/23)

 

#  Die gemeente van die kerk van Jesus waaraan ons behoort, is ’n gemeente wat al sedert 1973 hier in die Noorder-Paarl bestaan.

  • En ons vier dan ook hierdie jaar die gemeente se vyftigste verjaarsdag!
  • Maar Paarlberg, weet ons, is natuurlik nie die enigste gemeente wat daar in die wêreld is nie.
  • Daar is vandag derduisende gemeentes reg oor die wêreld.
  • En elke gemeente sal ook effens anders wees as die volgende een.
  • Elke gemeente sal ’n eie karakter en eie identiteit hê.
  • Elke gemeente sal sekere dinge meer beklemtoon en ander weer minder.

#  Waarop stuur ek af?

  • Ek wil vanoggend die vraag vra: Hoe dink ons oor wat ’n gemeente van die kerk van Jesus is?
  • Hoekom is daar iets soos ’n gemeente?
  • Wat moet in ’n gemeente gebeur?
  • Wat is belangrik as dit kom by ’n gemeente en wat is minder belangrik?
  • Waarop moet daar gefokus word in ’n gemeente en waarop nie?

#  Oor hierdie vrae sou ons vanoggend ’n interessante bespreking hier in die kerk kon hou.

  • En ek is seker ons sou ’n klomp goeie antwoorde gekry het.
  • Ons sou waardevolle bydraes van ons gemeentelede gekry het.
  • Maar kom ons doen dit effens anders en ons kyk na wat Paulus vir die jong gemeente in Tessalonika geskryf het, en ons kom daardeur agter wat vir Paulus belangrik was in ’n gemeente.
  • Nou, die een ding wat ons duidelik in vanoggend se Bybelgedeelte sien, is dat Paulus goeie nuus gekry het omtrent die gemeente in Tessalonika.
  • Hy het vroeër sy medewerker Timoteus na hierdie gemeente toe gestuur.
  • En die rede waarom Paulus dit gedoen het, was dat hy bekommerd was oor die jong gemeente.
  • Hy was bang dat die vervolging van die Christene in daardie tyd sou maak dat die gelowiges van Tessalonika ook begin wankel.
  • Maar Paulus kry baie goeie nuus oor die gemeente!
  • Hy sê in vers 6: “Nou is Timoteus van julle af terug by ons, en hy het ons die goeie nuus gebring van julle geloof en liefde.”
  • En die twee dinge wat Paulus hier noem, geloof en liefde, dít, lyk dit vir my, is die twee heel belangrikste dinge waaroor dit in enige gemeente moet gaan: oor geloof en liefde.
  • En as ons dalk nie seker is dat Paulus dit só verstaan het nie, dat geloof en liefde die twee heel belangrikste dinge in ’n gemeente is nie, dan het ons ook nog sy gebed vir die gemeente van die Tessalonisense om dit te bevestig.
  • Hoor net weer hoe sê Paulus dit in vers 10 wat ons saam gelees het.
  • Hy sê: “Dag en nag bid ons met ons hele hart om julle weer persoonlik te mag sien en om aan te vul wat nog aan julle geloof ontbreek.”
  • So, hier gaan dit oor een van die hoekstene van ’n gemeente: die lidmate se geloof.
  • Maar luister ook weer na hoe Paulus in vers 12 vir die gemeente gebid het.
  • Hy sê: “En mag die Here julle liefde vir mekaar en vir alle mense laat groei en oorvloedig maak, net soos ons liefde vir julle.”
  • Liefde vir mekaar en liefde vir alle mense – dít is die ander hoeksteen van ’n gemeente.
  • So, dit lyk vir my vir Paulus was geloof en liefde die twee heel belangrikste dinge in ’n gemeente.
  • En natuurlik gaan dit in ’n gemeente oor ’n hele klomp verskillende dinge.
  • Ons kom bv. op ’n Sondag hier bymekaar vir die erediens.
  • En die kinders word gevorm in die Jeugbediening.
  • En Omgeegroepe en Bybelstudiegroepe kom bymekaar.
  • En die kerkraad hou vergaderings om die gemeente te kan lei.
  • En daar is uitreikaksies en –projekte om minder bevoorregte mense te help.
  • Al hierdie dinge is baie belangrik.
  • En dit alles gebeur ook in Paarlberg-gemeente.
  • Maar as ons ’n fokus en ’n spitspunt daaraan moet gee, dan lyk dit vir my sou Paulus dalk sê: Fokus op geloof en liefde!
  • Terwyl julle ook al die ander dinge in die gemeente doen, fokus op geloof en liefde!

#  En kom ons sê nou iets oor geloof.

  • Die Here het al aan die deur van ons almal se harte kom klop.
  • Hy het al vir ons almal kom sê: Glo in My en vertrou op My.
  • En ons ken ook die Here se beloftes in die Bybel wat sê dat elkeen wat in Jesus Christus glo, gered sal word.
  • Maar die Here het al aan die deur van ons almal se harte kom klop.
  • En op hierdie geklop kon ons antwoord.
  • En ons kon die deur oopmaak.
  • En ons kon die verlossing aanvaar wat Jesus vir ons deur sy dood aan die kruis gebring het.
  • So kon ons almal al tot geloof kom.

#  Maar nou is geloof mos ook iets vir ons lewe van elke dag.

  • Geloof is om op die Here te vertrou terwyl ek elke dag my pad deur hierdie wêreld loop: in my werk, in my huwelik, in my gesin, in my vriendekring.
  • Oral waar ek kom of gaan, moet ek met vertroue op die Here leef.
  • En natuurlik is dit nie altyd maklik nie.
  • Dis nie altyd maklik nie, want ons leef in ’n onvolmaakte wêreld – ’n wêreld waarin daar baie probleme en nood voorkom.
  • Ons word dalk ernstig siek, of iemand naby aan ons gaan dood.
  • Ons verloor dalk ons werk, of ’n belangrike verhouding waarin ons staan, gaan tot niet.
  • Ons kyk dalk na die wêreld soos ons dit elke dag in die koerante sien en ons verstaan nie hoekom daar soveel oorloë en terreur en geweld en bedrog en korrupsie en siektes en natuurrampe moet wees nie.
  • En dan is dit dalk vir ons moeilik om te glo.
  • Maar geloof is om elke dag my pad met vertroue op die Here te bly loop.
  • En dis juis op hierdie punt dat die gemeente waaraan ons behoort so belangrik is!
  • Baie belangrik, want die gemeente is ’n plek waar ons mekaar kan ondersteun op ons geloofspad.
  • Waar ons mekaar kan aanmoedig om nie moed en geloof en hoop te verloor nie.
  • Waar ons ook vir mekaar ’n voorbeeld kan stel van hoe om selfs in moeilike omstandighede te bly glo.
  • Die gemeente is ’n plek waar ons in die erediens of in ’n kleingroep of by ’n mede-lidmaat spesiale versterking vir ons geloof kan kry.
  • Dalk word daar net iets in die erediens of deur ’n mede-gelowige gesê of gedoen wat ons geloof net weer daardie bietjie sterker maak.
  • En eintlik moet ons vir mekaar sê: Moenie die pad van die geloof alleen probeer loop nie!
  • Die Here het die gemeente en mede-gelowiges in die gemeente gegee om die pad saam met jou te loop.
  • Moenie die pad van die geloof alleen probeer loop nie!

#  Ons vra vanoggend: Waarop behoort ’n gemeente van Jesus te fokus?

  • Waarop behoort Paarlberg-gemeente te fokus?
  • En die een ding wat Paulus duidelik vir ons uitwys in sy brief aan die Tessalonisense, is geloof.
  • Dit kan nie anders nie: ons as gemeente moet fokus op geloof.
  • Maar die ander saak wat Paulus vir ons uitwys, is liefde.
  • En wanneer Paulus in vers 12 vir die gemeente van Tessalonika bid, noem hy twee kante van die liefde wat ons ook in Paarlberg behoort te hê.
  • En die een kant is ons liefde vir mekaar.
  • As gelowiges behoort ons mekaar opreg lief te hê en regtig vir mekaar om te gee.
  • Ons behoort ook nie te huiwer om mekaar te help waar ons kan nie, veral waar mede-lidmate in nood verkeer en ons iets daaraan kan doen.
  • En as ons ons kosbare tyd vir mekaar moet gee, of een of ander opoffering moet maak vir mekaar, moet ons dít ook sonder huiwering doen.
  • So, dit gaan aan die een kant oor ons liefde vir mekaar.
  • Oor ons goeie verhoudinge met mekaar, iets wat vir die Here so uiters belangrik is.
  • En Paulus bid dan ook vir die gelowiges in Tessalonika se liefde vir mekaar.
  • Maar daarby bid Paulus ook oor hulle liefde “vir alle mense.”
  • Christene kan mos ook ’n kliek vorm.
  • Christene kan mos ook so optree dat mense wat anders as hulle is, uitgesluit voel, nie welkom voel nie, selfs voel dat hulle veroordeel word deur Christene.
  • Kom ons neem maar die voorbeeld van straatmense.
  • En ek weet dis ’n moeilik voorbeeld, want straatmense bedel dikwels by ons.
  • En die algemene reël is dat ’n mens nie geld moet gee nie.
  • Maar die vraag is: Ervaar straatmense, wat dalk self Christene is, dat ander Christene hulle regtig aanvaar en liefhet?
  • Ervaar hulle dit dat Christene werklik Jesus se liefde met hulle deel?
  • Of ervaar hulle dalk veroordeling en verwerping – en dít van mense wat sê dat hulle volgelinge van Jesus is?
  • Wat die Here van ons almal verwag, is liefde vir alle mense.
  • Of dit nou straatmense of misdadigers of ongelowiges is, dit maak nie saak nie.
  • Deur ons wil die Here in liefde sy hand na alle mense toe uitsteek.
  • Deur ons wil Hy alle mense in sy liefde insluit.

#  Nou, Paulus bid in vers 12 en vra: “Mag die Here julle liefde vir mekaar en vir alle mense laat groei en oorvloedig maak …”

  • So Paulus vra dat die gemeente van Tessalonika se liefde selfs meer sal word as wat dit op daardie oomblik was.
  • Dat dit groter en sterker sal groei.
  • Ja, hy vra sommer dat die Here hulle liefde oorvloedig sal maak.
  • En die beeld wat die woord “oorvloedig” by my laat opkom, is dié van ’n beker wat vol vloeistof gemaak word.
  • Maar dan hou jy nog aan met skink, en die beker loop oor.
  • Die vloeistof vloei oor die rante van die beker, want dis meer as wat die beker kan hou.
  • En so bid Paulus dat die gemeente van Tessalonika se liefde sal groei en sal oorloop.
  • En dit voel vir my dít is ook waarop ons in Paarlberg moet fokus.
  • Om ons liefde vir mekaar en vir alle mense te laat groei en te laat oorloop.
  • En die gemeente is juis ’n plek waar ons kan oefen om lief te hê!
  • In die gemeente kan ons leer om mekaar lief te hê al verskil ons van mekaar.
  • In die gemeente kan ons leer om mense wat anders as ons is, en anders as ons dink, werklik te aanvaar en lief te hê.

#  Daar is seker maar altyd die gevaar dat ons nie genoeg omgee vir ander mense nie.

  • Dat ander se probleme en nood ons nie genoeg raak nie.
  • En omdat daar so baie probleme en nood in die wêreld is, kan ons natuurlik ook afgestomp raak daarvoor.
  • Maar in ’n gemeente, waar ons die pad saam met mekaar stap, in ’n gemeente kan ons saam groei in ons liefde vir mekaar en vir alle mense.
  • En hier in die gemeente word ons mos ook bewus gemaak van hoe nodig ander mense baie keer ons liefde en ondersteuning het.
  • Hier word ons gereeld herinner aan die nood en swaarkry van ander mense, en hier hoor ons dan ook van geleenthede wat ons kry om ander te kan help.
  • Ons moet dit net aangryp!

#  Maar kom ons sluit af.

  • Paulus was baie bly oor die goeie nuus wat hy oor die gemeente van Tessalonika gekry het.
  • Hy was baie bly oor hulle geloof en liefde!
  • Dat hierdie twee kernsake gesond was in hulle gemeente.
  • Kom ons fokus dan self ook op geloof en liefde hier in Paarlberg.
  • En kom ons help ook mekaar daarmee!

AMEN

css.php