1 JOH. 3:11-24 (26/4/15)

 

#  Op papier lyk dit dalk heel maklik om ’n Christen te wees!

  • Heel maklik, want daar is eintlik maar net ’n paar basiese dinge wat in die Bybel van ons as Christene gevra word.
  • Volgens vers 23 wat ons so pas gelees het, word daar bv. net twee dinge van ons gevra.
  • Dié vers sê: “En dit is sy gebod: Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo en ons moet mekaar liefhê ooreenkomstig die gebod wat Hy ons gegee het.”
  • So, om ’n Christen te wees, volgens hierdie vers, moet ons net glo in Jesus en mekaar liefhê.
  • En op papier lyk dit dalk heel maklik.

 

#  Maar nou leef ons mos nie op papier nie!

  • Nee, ons leef in ’n klipharde werklikheid en wêreld!
  • Ons leef in ’n wêreld waarin dit baie keer glad nie maklik is om te glo of lief te hê nie.
  • Ons leef in ’n wêreld waarin twyfel baie keer ons geloof wil versmoor en waarin haat maklik ons liefde kan laat verdwyn.
  • Johannes skryf juis in die gedeelte wat ons gelees het oor ’n paar groot eise wat liefde aan ons stel.
  • Oor ’n paar besondere uitdagings waarmee ons te doen kry wanneer ons probeer om ander werklik lief te hê.
  • So, kom ons vra vanoggend: Watter eise of uitdagings stel liefde aan ons, dié liefde wat die Here van ons as sy kinders verwag?
  • Watter eise stel dit aan ons?
  • En ek wil graag twee dinge vanoggend onderstreep, wat albei deur Johannes hier in 1 Joh. 3 aangeraak word.
  • En ek wil begin deur te sê:

 

#  Een voorbeeld van liefde is om te sê: Liefde is om haat te oorwin.

  • In vers 15 wat ons gelees het, staan daar: “Elkeen wat sy broer haat, is ’n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie.”
  • En met hierdie woorde word ons baie ernstig gewaarsku om nie ander te haat nie.
  • Word ons gewaarsku dat haat eintlik niks minder is as om iemand in jou gedagtes te vermoor nie.
  • Haat is gedagtemoord.
  • En wanneer ek iemand haat, beteken dit eintlik ook ek wens die ander persoon was nie daar nie.
  • Ek wens die persoon weg, of selfs dood.
  • Dirkie Smit skryf iewers baie treffend hieroor as hy dit met ’n paar praktiese voorbeelde verduidelik en sê:
  • “Haat is om te sê: Ek wens ek was nooit met hierdie man getroud nie. Haat is om te sê: Ek wens daardie vrou by die werk bly uit my pad uit, want sy krap my om elke keer as ek haar sien.  Haat is om te sê: Dié en dié groep mense in die samelewing moet tog net nie naby my kom nie; ek wil met hulle niks te doen hê nie.”
  • So, haat kan beteken: ek wens die ander persoon, of groep mense, was nie daar nie.
  • Was nie deel van my lewe nie.
  • En dit beteken vir seker dat ek daardie persoon, of groep mense, nie liefhet nie.
  • Maar vir ons as Christene is haat iets wat oorwin moet word.
  • Dis nie iets wat ons maar net kan aanvaar in onsself nie.
  • Dit moet oorwin word, sodat ons kan liefhê soos die Here dit van ons verwag.

 

#  Nou weet ons dat daar verskillende redes kan wees waarom daar dalk haat in ons harte is.

  • Dit kan bv. wees dat iemand ons iets slegs aangedoen het – ’n onreg aan ons gedoen het.
  • En dat die persoon dalk nie berou toon, of verskoning of vergifnis by ons gevra het nie.
  • Maar nou sê hulle mos as jy iemand haat of nie wil vergewe nie, dan is dit asof jy gif drink en hoop dat die ander persoon daarvan sal doodgaan.
  • Maar dis in werklikheid jyself wat vergiftig word.
  • En dis jyself wat moet bid dat die Here vir jou ’n oplossing en oorwinning oor die haat sal gee.
  • Ook al moet jy deur ’n hele proses gaan om by oorwinning oor die haat uit te kom.
  • En al moet jy dalk gehelp word om dit te kan doen.

 

#  So, haat kan die gevolg wees van iets slegs wat ’n ander my aangedoen het.

  • Maar haat kan ook begin by ’n negatiewe gevoel wat ek teenoor iemand anders het.
  • Ek hou net nie van die persoon of van die groep mense nie.
  • En dit kan bv. wees dat ek nie hou van mense van ’n ander ras of geslag of nasionaliteit as my eie nie.
  • Maar die ongeluk is dat so ’n negatiewe gevoel maklik ’n gevoel van haat kan word.
  • En dat ek dan kan begin wens die persoon of groep mense was nie daar nie.
  • En met hierdie gedagtes is ons nou ook binne-in ’n klomp probleme in ons land wat maar net nie wil weggaan nie.
  • En dis veral die probleme van rassisme en van seksisme en van vreemdelinge-haat.
  • Dit is waar ons nie bereid is om mense van ’n ander velkleur of ’n ander geslag of ander nasionaliteit as ons net so lief te hê soos onsself nie.
  • Jesus het mos gesê, toe Hy die wet opgesom het, dat ons God bo alles moet liefhê en ons medemens soos onsself.
  • Maar doen ons dit as ons dink mense van ’n ander ras is minderwaardig, of waar ’n man dink vroue moet ondergeskik aan mans wees, of waar ons mense van ’n ander nasionaliteit wegwens of wil wegjaag uit ons land?
  • Het ons werklik lief soos die Here dit van ons verwag as ons neersien op mense wat anders as ons is?
  • Ek glo die Here verwag van ons om selfs die geringste stukkie meerderwaardigheid in ons, of die geringste negatiewe gevoel teenoor ’n ander mens of groep mense te erken, en te bely, en om te bid dat Hy ons daaroor oorwinning sal gee.
  • Liefde is om haat te oorwin.
  • Dit is een voorbeeld van liefde: om haat te oorwin.
  • En dis nie maklik nie.
  • Dis ’n eis wat aan ons gestel word.
  • En dis iets wat ons nooit sal kan regkry as die Here ons nie daarmee help nie.

 

#  Maar dit bring ons by ’n tweede eis wat liefde aan ons stel en waaroor Johannes hier in 1 Joh. 3 ook skryf.

  • En hierdie eis is die eis van opoffering.
  • Liefde is baie keer om op te offer, in belang van ander.
  • In vers 16 wat ons gelees het, staan daar: “Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê.”
  • So die voorbeeld wat ons voor ons het, is die voorbeeld van Jesus.
  • Toe Hy mens geword het, en gely het, en aan ’n kruis gesterf het, was dit alles om Homself te offer vir ons.
  • Hy het sy lewe kom weggee en opoffer om daardeur vir óns van ons sonde te verlos.
  • En nou het ons vandag hierdie wonderlike voorbeeld van liefde voor ons, die voorbeeld van Jesus!
  • Maar natuurlik is dit ook ’n problematiese voorbeeld vir ons, as ons dit so mag noem.
  • Problematies, want ons natuurlike geneigdheid is in die teenoorgestelde rigting.
  • Ons wil nie onsself of ons lewe verloor, soos Jesus dit gedoen het nie.
  • En ons vind dit gewoonlik maar moeilik om te offer of op te offer.
  • So, hierdie eis van die liefde is vir ons ’n moeilike eis.
  • Die eis van opoffering.
  • Iemand het gesê: “Christelike liefde is die bereidheid om dit wat waarde het vir my eie lewe prys te gee – sodat dit die lewe van ander kan verryk.”
  • En wat het waarde vir my eie lewe?
  • Ek dink dit is dinge soos my tyd en my talente en my besittings.
  • En om lief te hê, beteken dat ek hierdie dinge nie selfsugtig teen my eie bors vashou nie, maar dat ek dit met ’n oop hand met ander deel.
  • Ek gee bv. my tyd om te luister na ander wat ’n behoefte het om te praat.
  • En ek gee my tyd om ander te help waar my hulp nodig is.
  • Ek gee ook my talente om te help in die gemeente en in die gemeenskap.
  • Dalk kan ek goed organiseer, of met kinders werk, of met bejaardes of siekes, maar ek gee my talente om ander te help.
  • En dan, my besittings.
  • Ook as dit by my besittings kom, beteken liefde dat ek sal offer en dat ek sal deel met hulle wat minder bevoorreg is.
  • In vers 17 het ons vanoggend gelees: “Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?”
  • En soveel mense in ons land ly gebrek.
  • Soveel is vasgevang in armoede.
  • En liefde beteken dat ek wat genoeg het en in oorvloed het, sal deel met hulle wat gebrek ly.
  • En hierdie saak is baie keer ’n ingewikkelde saak, want ons weet die oplossing is nie om net links en regs uit te deel vir almal wat by ons bedel nie.
  • Ons moet behoeftiges met die nodige verantwoordelikheid help.
  • En daarom is dit goed om bv. hulp te verleen deur betroubare projekte of organisasies wat armes op ’n verantwoordelike manier help.
  • Dis ook goed om ’n vriendskap met ’n behoeftige te kan opbou, sodat jy die persoon kan leer ken en kan agterkom of jy die regte soort hulp verleen of nie.
  • Maar liefde beteken ek kyk met deernis na almal wat minder bevoorreg is en ek help waar ek kan en soos ek kan.
  • Ek is bereid om te offer en op te offer, want Jesus het dit gedoen.
  • Hy het sy lewe vir ons opgeoffer in die grootste daad van liefde ooit.

 

#  So, volgens Johannes, hier in 1 Joh. 3, is liefde om haat te oorwin.

  • En ook om op te offer in belang van ander.
  • Hierdie twee eise van liefde word albei baie sterk onderstreep in die gedeelte wat ons vanoggend saam gelees het.
  • Maar hierdie eise mag ons nou ook laat vra: Maar kan ons regtig so liefhê?
  • Hoe is dit moontlik om dit te kan regkry?
  • En daarby is dit mos ook so dat ons gewete ons so maklik aankla oor hoe ons misluk as dit by liefde kom.
  • In vers 20 wat ons gelees het, gaan dit juis oor ons gewete wat ons veroordeel.
  • Ons gewete wat ons so dikwels skuldig laat voel.
  • Wat ons dalk laat voel ons oorwin nie regtig ons haat en negatiewe gevoelens teenoor ander nie, en ons offer nooit genoeg op in belang van ander nie.
  • Maar oor hierdie saak van ons gewete moet ons met die Here self praat.
  • Vers 20 sê God is groter as ons gewete, en Hy weet alles.
  • Hy weet hoe ons liefhet, of nie liefhet nie.
  • Hy weet ook of ons onnodig skuldig voel oor hoe ons liefhet, of nie.
  • Hy weet alles.

 

#  En dít bring ons by nog ’n baie belangrike saak.

  • Om te kan liefhê soos die Here dit van ons verwag, moet ons in die regte verhouding met Hom leef.
  • Liefde word vir ons moontlik in die regte verhouding met Hom.
  • Dan dra die Heilige Gees sy vrug in ons.
  • Dan word dit God wat deur ons liefhet.
  • Wat deur ons die haat in ons oorwin en deur ons opoffer in belang van ander.
  • So, liefde is moontlik as ons in die regte verhouding met God leef.
  • As ons in Hom bly en Hy in ons bly, soos vers 24 dit stel.
  • Maar om te kan liefhê soos die Here dit van ons verwag, moet ons in die regte verhouding met Hom leef.

 

#  Ek het aan die begin van die boodskap gesê: Op papier lyk dit dalk heel maklik om ’n Christen te wees!

  • Maar nou moet ons almal weer uit hierdie kerkgebou uitstap vanoggend en as Christene gaan leef waar dit dalk vir ons baie moeilik is om dit te doen.
  • Ons moet dalk teruggaan na plekke en situasies en verhoudings waar ons in die versoeking sal wees om te haat eerder as om lief te hê en waar ons dalk nie lus sal wees om op te offer in belang van ander nie maar om eerder net na onsself om te sien.
  • Kom ons raak daarom almal vir ’n oomblik baie stil voor die Here en vra elkeen dat Hyself vir ons sal help om te kan liefhê soos Hy dit van ons verwag.
  • En kom ons sing dan daarna die woorde van Franciscus van Assisi se bekende gebed.
  • Dit is liedboek 284:1-3 (“Laat, Heer, u vrede deur my vloei”).
  • Maar kom ons raak net eers baie stil en vra die Here se hulp en krag vir wanneer ons weer hier moet uitgaan en gaan liefhê soos Hy dit van ons verwag.
  • …………………………………………

 

:

 

css.php