NUM. 11:25-30 (5/6/22)
# Voordat ons vanoggend uit die Bybel gaan saam lees, wil ek graag eers so ’n Kaapse draai maak en daarmee so ’n bietjie agtergrond gee oor die paar verse wat ons gaan lees.
- En hierdie Kaapse draai het dan te doen met Israel se reis deur die woestyn.
- Ons weet mos vandag dat Israel, nadat hulle weggetrek het uit Egipte, 40 jaar lank in die woestyn rondgeswerf het.
- En hulle het in een stadium daar in die woestyn net manna gekry om te eet.
- Manna – dit was iets wat hulle kon fyn maal om roosterkoeke daarvan te maak.
- Maar toe kom daar ’n tyd dat ’n onweerstaanbare vleislus hulle beetpak, soos Num. 11:4 dit stel.
- Hulle verlang na die vleispotte van Egipte, soos die spreekwoord mos ook sê.
- En as iemand wie se wortels self in die Karoo lê, het ek nogal ’n bietjie simpatie met hulle (veral omdat die rooivleis so duur is!).
- Maar ’n vleislus pak die Israeliete beet en hulle begin kla oor die manna.
- Hulle sê hulle wurg aan die manna, en hulle kla iets vreesliks!
- So erg dat die Here kwaad word daaroor, en hulle leier Moses ook.
# Maar toe neem Moses sommer ook sy kans waar en begin self ook kla teenoor die Here.
- En nie oor die manna nie.
- Maar oor sy gesukkel met die volk wat hy moet lei.
- Oor die swaar verantwoordelikheid vir die volk wat op hom gedruk het.
- En waar moet hy in elk geval hier in die woestyn soveel vleis kry vir so baie mense?
- Ek sien nie langer kans om hierdie volk alleen te dra nie, sê Moses vir die Here, want dis te swaar vir my.
- As U so wil maak met my, Here, sê Moses, kan U my gerus maar om die lewe bring.
# En so vertel die eerste gedeelte van Num. 11 van al die gekla – eers die volk oor die manna en toe hulle leier Moses omdat hy voel hy moet alleen die verantwoordelikheid vir die hele volk dra.
- Maar dan is die wonderlike ding dat die Here reageer op al hierdie gekla.
- En Hy gee vir Moses opdrag om 70 van die leiers van Israel na die tent van ontmoeting te neem.
- Nou, die tent van ontmoeting was ’n draagbare heiligdom (soos dit genoem is), ’n tent waar God teenwoordig was en waarin die bepalings van sy verbond of ooreenkoms met Israel gehou is.
- Met ander woorde die Here se opdragte vir hoe sy volk moes leef, is in hierdie tent bewaar, onder andere die tien gebooie.
- En die Here sê toe vir Moses: Laat die 70 leiers daar by die tent van ontmoeting by jou staan.
- En dan sal Ek afkom en met jou praat, en Ek sal van die Gees wat op jou is, op hulle ook laat kom.
- En hulle sal dan saam met jou die verantwoordelikheid vir die volk dra, sodat jy dit nie alleen hoef te dra nie.
- So antwoord die Here dan op Moses se gekla.
- Hy gee vir hom 70 leiers wat hom kan help.
# En in antwoord op die volk se gekla oor die manna, gee die Here toe ook ’n antwoord.
- Moses moes vir die volk sê: Die Here sal vir julle vleis gee en julle sal eet.
- En nie net ’n dag of twee nie, maar ’n hele maand lank – totdat julle daarvan sal naar word.
- En aan die einde van Num. 11 lees ’n mens dan ook hoe die Here vir Israel kwartels gestuur het.
- Hulle kry hulle vleis – en baie meer daarvan as wat hulle kon behartig en verteer.
# Maar goed, op hierdie punt wil ek nou ook graag ’n paar verse uit Num. 11 voorlees.
- En ek wil begin waar Moses toe die leiers van die volk bymekaar het en hulle almal rondom die tent van ontmoeting staan.
- EK LEES NUM. 11:25-30 ……………………………………..
# So, wat het hier in Num. 11 gebeur?
- Die Here het kom ingryp om vir Moses te help.
- Tot by hierdie punt het Moses maar baie alleen gestaan en ’n eensame stryd as leier van die Israeliete gestry.
- En die mense vir wie hy moes lei, was so ’n moeilike klomp.
- Ons weet mos hoe hulle op ’n dag besluit het om ’n goue kalf te maak en dié te aanbid.
- Hulle wás die Here se volk, maar tog besluit hulle om vir hulle ’n afgod te maak, die goue kalf.
- En dan, in Num. 11, hoor ons hulle klaery oor die kos.
- Hulle verlang na die vleispotte van Egipte en kla daaroor dat hulle net manna kry om te eet.
- En verder moes Moses ook allerhande probleme onder hulle help uitsorteer.
- Hy moes selfs hofsake verhoor, soos Eks. 18 vertel.
- Die Israeliete was regtig ’n moeilike klomp.
- En daarom, toe die volk oor die manna kla, begin Moses ook kla oor die moeilike taak wat die Here vir hom gegee het.
- Hy kon eenvoudig nie alles alleen behartig nie.
- Maar die Here gryp in.
- En Hy gee 70 leiers om vir Moses te help.
- En, baie belangrik, Hy gee ook toerusting vir hierdie leiers.
- Net soos Hy vroeër sy Gees op Moses laat kom het, laat kom Hy ook nou sy Gees op die 70 leiers.
- Hy rus hulle toe met sy Gees en deur sy Gees.
- En Hy rus hulle toe vir die werk wat hulle vorentoe moet doen.
# En hierdie is natuurlik vir ons ook ’n baie belangrike saak vandag.
- Baie belangrik, want ook vandag is daar mense wat leiding moet neem in die Here se kerk.
- In ons eie geval in Paarlberg is daar bv. kerkraadslede nodig, en leiers vir verskillende bedieninge en projekte, en (seker ook) predikante.
- Maar ’n hele aantal leiers is nodig in Paarlberg.
- En die leiding wat al hierdie mense in die gemeente moet gee, kan hulle net behoorlik gee as hulle ook toegerus is met die Heilige Gees.
- God self, deur sy Gees, moet ook vandag in elke leier leef en werk.
- Anders kan ons nie op die regte manier leiding gee nie.
# Maar terug na Num. 11.
- Moses ervaar toe nóg ’n probleem!
- Want op die dag waarop die Here vir hom 70 helpers gee, is daar ’n sekere haakplek.
- En wat was dit?
- Twee van die 70 leiers was toe nie by toe al die ander buite die kamp by die tent van ontmoeting was nie.
- Net 68 was daar teenwoordig.
- Die ander twee, Eldad en Medad, was nog binne-in die kamp toe die Gees op die leiers daar buite by die tent gekom het.
- Maar nou is die interessante ding dat die Gees blykbaar ook op hierdie twee gekom het, al was hulle nie op daardie oomblik saam met die ander nie.
- Die Gees het ook op hulle gekom.
- En net soos die ander 68 het hulle toe ook in daardie tyd as profete opgetree.
- Maar nou was die vraag: Is dit dan nou reg dat hulle twee ook as profete optree?
- Hulle was dan nie buite die kamp by die tent, soos die Here dit eintlik wou gehad het nie.
- Dit lyk dan of hulle eintlik ongehoorsaam was?
- En Josua, Moses se assistent, en later ook sy opvolger, maak beswaar.
- “Laat hulle tog ophou, Meneer!”, sê hy vir Moses.
- Skors vir Eldad en Medad sommer dadelik uit die kerkraad!
- Hulle kan tog nie optree asof hulle ook saam met die ander 68 by die tent was nie.
- Hulle was mos ongehoorsaam.
# So wat gebeur hier?
- Josua staan negatief teenoor Eldad en Medad se optrede.
- Hulle optrede, sê Josua, kan nie geduld word nie.
- Dis asof hy wil sê: God se Gees werk net op ’n geordende en gestruktureerde manier.
- Hy werk net waar die kerkraad dit goedgekeur het en toesig hou.
- Dít is hoe Josua blykbaar die saak gesien het, as ons dit dan ook so ’n bietjie eietyds mag stel.
# Maar wat van Moses?
- Hy het heeltemal ’n ander siening.
- Hy dink nie dat Eldad en Medad se optrede ’n probleem is en ’n bedreiging inhou nie.
- Wat hom betref, hou dit eerder belofte in, nuwe moontlikhede.
- En Moses wens selfs dat al die ander Israeliete wat nie by die tent was nie ook die Gees moes ontvang!
- Hy sê vir Josua in vers 29: “Ek sou wens dat die hele volk van die Here profete was, en dat Hy sy Gees op almal mag lê.”
- Dít was Moses se siening, en ook sy wens.
# En nou wil ek hê dat ons sommer ’n groot sprong van Num. 11 tot by die gebeure op Pinksterdag moet maak, dít waarvan ons in Hand. 2 lees.
- Want is dit nie so dat Moses se wens op Pinksterdag waar geword het nie?
- Moses wou graag wou hê dat die Gees op elke lid van God se volk moes rus.
- Nie net op homself as leier nie, en ook nie net op die 70 hulpleiers wat hom moes help nie, maar op almal.
- En op Pinksterdag het Moses se wens toe waar geword!
- 2 vertel hoe al Jesus se volgelinge op Pinksterdag op een plek bymekaar was.
- En skielik was daar ’n geluid uit die hemel soos ’n geweldige stormwind.
- En saam met die wind was daar iets soos vuur wat in tonge verdeel en op elkeen van die mense gekom het.
- En dan sê Hand. 2:4: “Almal is met die Heilige Gees vervul.”
- Nie net die leiers daar nie, maar almal.
- En vandag is die Heilige Gees daar om elke gelowige toe te rus en te lei.
- Elke gelowige kan vandag vervul word met die Gees van God, en leef en werk onder sy leiding.
- En dít is die goeie nuus van Pinksterdag: die Heilige Gees het gekom om in ons almal te kom woon en om ons almal te kom bystaan!
- Wonderlike goeie nuus!
# Nou, ons het al dikwels in die gemeente saam nagedink oor wat dit beteken om in diens van die Here te staan, om sy medewerkers te wees.
- En dit is die Heilige Gees wat ons help om op die regte manier diensbaar te kan wees.
- Dit is Hy wat ons toerus en lei om in God se koninkryk te kan werk.
- En hierdie werk wat Hy in en deur ons doen, strek baie wyer as net die amptelike aktiwiteite van die gemeente.
- Die Heilige Gees werk nie net daar waar die kerkraad vir ’n vergadering bymekaar is nie.
- Of hier in die erediens van die gemeente op ’n Sondag nie.
- Of waar die predikante besig is met hulle werk nie.
- Nee, die Heilige Gees werk ook buite al hierdie kerklike strukture.
- Ook bv. daar waar ’n man en vrou mekaar liefhet in hulle huwelik wanneer dit dalk moeilik gaan in hulle verhouding.
- Of daar waar iemand besluit om nie terug te slaan waar hy of sy benadeel is nie.
- Of daar waar iemand die nood van ander raaksien en iets daaraan doen, dalk aan die nood van ’n behoeftige of ’n bejaarde of ’n weeskind.
- Of daar waar mense in hierdie mooi land van ons werk vir versoening en harmonie tussen al die mense van die land en nie haat en verdeeldheid aanblaas nie.
- Die Heilige Gees werk oral in ons wêreld, en Hy help ons om God se liefde oral prakties uit te leef, dié liefde wat God juis deur die Gees in ons harte uitgestort het, soos Paulus dit in Rom. 5:5 stel.
# Moses se wens dat die Here sy Gees op al sy kinders sal lê, het op Pinksterdag waar geword.
- En dit beteken dat elkeen van ons as gelowiges die Gees van God ontvang het.
- En nou het ons elkeen die voorreg om deur Hom toegerus en gelei te word.
- Ons hoef nie langer in ons eie krag te probeer leef en werk, en op ons eie wysheid staat te maak nie.
- Ons kan nou leef en werk as mense wat vervul is met die Gees van God.
- Kom ons dank die Here dan vanoggend vir hierdie wonderlike voorreg!
- En kom ons bly bid soos ons in een van die liedere in ons liedboek sing:
- “Gees van God wat lewend maak, vul my meer en meer. Gees van God wat lewend maak, vorm my tot U eer. Troos my, sterk my, leer my, lei my. Gees van God, vul my al meer – vorm my tot u eer.”
AMEN
