ROM. 8:12-17 (+ Ps. 131)(26/5/24)
# Die Here het elkeen van ons só gemaak dat ons ’n hele klomp verskillende emosies kan ervaar.
- En deesdae is daar sommer baie gesiggies op die Internet wat allerhande emosies voorstel.
- Dalk pas een van hierdie klomp by hoe jyself vanoggend voel.
- Maar so ervaar ons mos by tye positiewe emosies, emosies soos vreugde of vrede of tevredenheid.
- En ander kere weer ervaar ons negatiewe emosies, soos vrees of woede of hartseer.
- Ons elkeen ken ’n hele klomp verskillende emosies.
- En in die Bybel lees ons ook dikwels van mense se emosies.
- 131 praat byvoorbeeld van “rus en kalmte,” en ook van “tevredenheid.”
- 8 weer praat van “vrees.”
- En ons lees ook in die Bybel van woede en jaloesie en hartseer.
# Maar kom ons staan dan vir ’n oomblik stil by die vrees waarvan Paulus in Rom. 8 praat.
- En ons weet dat vrees, of om bang te wees, die lewe vir ’n mens baie moeilik kan maak.
- Dit is iets wat jou kan lamlê en jou van jou vreugde beroof.
- En daar is baie dinge waarvoor ons dalk vanoggend bang is.
- Dalk is ek bang vir die toekoms, of bang dat ek my werk gaan verloor, of bang vir siek word, of vir die ouderdom.
- Hier in 8:15 praat Paulus egter van ’n ander vrees.
- En dit is ’n vrees vir God se straf.
- En wanneer is ‘n mens bang vir God se straf?
- Ek dink dit is veral wanneer jy dink jy moet Hom soos ‘n slaaf dien, en dat Hy jou soos ‘n slawe-eienaar sal straf as jy verkeerd doen.
- Dan is jy bang vir God se straf.
# In Paulus se tyd het mense mos nog slawe gehad wat eintlik as deel van hulle besittings gereken is.
- Jy kon ’n slaaf koop en besit, net soos jy ’n donkie of ’n bees of ’n stuk klere kon koop en besit.
- En ’n slaaf moes maar altyd probeer om sy eienaar tevrede te stel.
- En indien hy dit nie kon regkry nie, kon hy baie swaar gestraf word.
- Dan kon hy hom maar regmaak vir sy eienaar se sweep.
- En só, sê Paulus, kan óns ook leef met ’n vrees vir God se straf op ons sonde.
- Asof ons die slawe is en God ons kwaai Eienaar.
- En ons weet mos hoe maklik ons weer en weer sonde doen in ons lewe.
- Ons weet hoe diep die geneigdheid om sonde te doen sy wortels in ons het.
- Martin Luther het gesê: Ons sondigheid is soos die baard van ’n man.
- Vandag skeer jy hom af, maar môre is die stoppels maar weer daar.
- En hierdie hardnekkigheid van die sonde kan maak dat ons altyd bang bly vir God se straf.
- Iemand het op ’n digterlike manier só daaroor geskryf: “In nagtelike ure kan vir ’n oomblik my soms oorval die waansinnige skrik dat God my nie meer duld nie, dat God Hom onherroeplik van my afwend, want hoeveel keer het ek U verraai, en laat ek my nie leer of deur U vermaan nie. U het reg om U van my af te keer. Ek val. Ek val. My hart verstok. Doodsweet oordek my. O God, my God, moenie van my af weggaan nie!”
- Hierdie woorde is die woorde van ’n mens wat bang is vir God se straf, soos ’n slaaf bang was vir sy eienaar se sweep.
# En dit bring ons by die vraag: Wat maak ons met so ’n vrees in ons lewe?
- Wat kan ons doen as ons dalk voel ons staan soos bang slawe voor God?
- Ek dink Paulus help ons as hy in Rom. 8:15 sê: “Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: ‘Abba!’ Dit beteken Vader.”
- Om los te kom van ons vrees vir God se straf, is ’n geskenk van die Heilige Gees.
- Om bevry te word van hierdie vrees, is ’n geskenk van die Heilige Gees.
- Van jóú kant kan jy alles probeer om daarvan los te kom.
- Maar net die Heilige Gees kan jou werklik bevry van die vrees vir God se straf.
- Net Hy kan jou laat sê soos Dawid in Ps. 131: “Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.”
- En hoe gee die Heilige Gees vir ons hierdie rus en kalmte en tevredenheid?
- Hy doen dit deur in ons as God se kinders te kom woon.
- Paulus sê in Rom. 8:9: “Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle.”
- Die Gees van God woon in ons as gelowiges.
- En wanneer Hy in my woon, vervang Hy my vrees vir God se straf met vertroue op God.
- Hy verander my om nie soos ’n slaaf bang te wees nie, maar om soos ’n kind te vertrou.
- Hy verander my om nie vol vrees vir God te sê: Asseblief tog Meneer nie, maar om met vertroue vir Hom te kan sê “Abba.”
- En “Abba” was die woord wat Joodse kindertjies gebruik het vir hulle pappas.
- Dit was ’n troetelnaam, Pappie of Pappa.
- En dis ’n naam wat sê: Ek vertrou hierdie persoon.
- Ek is nie bang vir hom nie.
- Hy is my pappa vir wie ek regtig kan
- En so kan ons, vervul met die Heilige Gees, ook vir ons hemelse Vader sê: Abba, Pappa!
# Johan Cilliers vertel iewers die verhaal van ’n klomp kinders wat gereeld in ‘n sekere straat gespeel het.
- Een gesin se kinders het egter elke middag teen latenstyd onrustig begin word.
- En wanneer hulle dan van bo uit die straat die boodskap kry dat hulle pa op pad is, het hulle baie vinnig huis toe gegaan.
- En hoekom?
- Omdat hulle so verskriklik bang was vir hulle pa.
- Hulle was bang vir hom soos ’n slaaf bang was vir sy eienaar.
# Maar kinders is mos nie normaalweg bang vir hulle pa of ma nie.
- Kinders ervaar gewoonlik nie vrees of paniek as hulle hulle ouers sien nie.
- Hulle leef met die ervaring dat pa en ma lief is vir hulle.
- so is gelowiges ook mense wat weet: Ons het ’n liefdevolle hemelse Vader.
- En hierdie Vader het in sy liefde so ver gegaan het Hy sy Seun gestuur het om in ons plek aan ’n kruis te kom sterf.
- En daardeur het Hy gesorg dat ons nie meer soos vreesbevange slawe hoef te leef nie, maar dat ons kan leef as sy kinders.
# Niemand hoef bang te wees vir God se straf nie.
- Ons kan ook sê: Daar is raad vir die vrees wat baie mense het dat God hulle sal straf.
- Daar is raad, want God het sy Seun as ons Verlosser gestuur.
- En daarna het Hy sy Gees op sy kerk uitgestort.
- En die Heilige Gees wil’n totale verandering in ons lewens bring, wanneer Hy in ons kom woon.
- Paulus vergelyk dit met ’n land wat ’n heeltemal nuwe regering kry.
- Hy praat mos in die gedeelte wat ons gelees het van hoe ons “sondige natuur” ons lewe wil beheers.
- Ons sondige natuur wil m.a.w. in ons optree soos die regerende party van ’n land.
- Ons sondige natuur wil die wette maak en die regulasies opstel vir ons lewe.
- Hy wil my gehoorsaamheid en lojaliteit hê.
- Maar onder so ’n regering (my sondige natuur)kan ek nie die Here dien nie.
- Dan regeer ‘n verkeerde regeerder in my lewe.
- En dan kan ek maar net in vrees bly lewe, vrees vir straf.
# Maar daar is ’n ander moontlikheid!
- Ek kan die sondige natuur uitstem as die regering van my lewe.
- Ek kan vir hom sê: Ek kies nou ’n ander regering.
- Ek kies die Heilige Gees.
- En dan is dit soos Paulus in Rom. 8:14 sê: “Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.”
- As ek my deur die Gees laat lei – as ek vra: O Gees van God, regeer asseblief in my lewe en vul asseblief my lewe, dan breek ’n nuwe bedeling vir my aan.
- Dan kan ek sonder vrees as ’n kind van God leef.
- Dan kan ek God my Vader noem: “Abba”!
- En dan kan ek elke dag ervaar hoe liefdevol hierdie Vader van my werklik is.
# Paulus skryf sommer baie in sy briewe oor hoe ’n mens se lewe anders kan wees.
- Oor hoe jou lewe nuut en anders kan wees as dit oor die regte regering hier binne beskik.
- En dít gebeur wanneer ons die Heilige Gees toelaat om ons te vervul en te lei.
- Paulus sê byvoorbeeld in Rom. 12:2 dat ons denke nuut kan
- Onder leiding van die Heilige Gees kan ons bv. al daardie negatiewe gedagtes oorwin wat ons so moedeloos en swaarmoedig kan
- Kan ons al daardie gedagtes oorwin wat maak dat ons dalk in vrees lewe.
- En dan kan ons ons verstand positief in God se diens gebruik en kan ons met ons verstand ook onderskei wat God se wil vir ons is.
- Kan ons weet wat vir Hom goed en aanneemlik is.
- So sê Paulus in Rom. 12.
# Ons lewe kan heeltemal nuut en anders wees as dit oor die regte regering hier binne beskik.
- Dink ook maar aan ’n ander vers waarin Paulus dit vir ons verduidelik.
- En dit is die bekende Gal. 5:22.
- In daardie vers sê Paulus dat ons lewe ’n wonderlike vrug oplewer as ons onder leiding van die Heilige Gees leef.
- Die “vrug van die Gees” noem hy dit.
- En hoe lyk hierdie vrug?
- Paulus beskryf dit as: “liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.”
- Dít is hoe ons lewe kan lyk as dit onder die regte regering staan – die regering van die Gees van God.
# So die vraag is nou: Wat kies ons in ons lewe?
- Kies ons ons eie sondige natuur as die regering van ons lewe?
- Stem ons vir ons sondige natuur?
- Wat beteken dat ons altyd bang sal moet wees vir God se straf?
- Of kies ons die Heilige Gees as die Regeerder en regering van ons lewe?
- En as ek lees wat die Bybel alles sê oor ’n lewe onder leiding van die Heilige Gees, dan is dit nie vir my moeilik om hierdie besluit te neem nie.
- Dan is dit nie moeilik om te weet waar om my kruisie te trek nie.
- Want dan wil ek ook graag kan sê: Ek is iemand wat my deur die Heilige Gees laat lei.
- Ek is iemand wat vol is van die Gees van God.
- Ek is iemand in wie se lewe die vrug van die Gees duidelik gesien kan
- En natuurlik kan ons tog nie werklik die Here se medewerkers hier op aarde wees as ons nog slawe van die sonde is nie.
- Dis net Geesvervulde mense wat met God se liefde kan uitreik na ander.
- Dis net Geesvervulde mense wat in ons wêreld van ongeloof en armoede en geweld en hartseer ’n verskil in ander se lewens kan gaan maak.
# Ek wil nou vra dat ons vir ’n paar oomblikke net baie stil sal wees en die gebed teen die muur sal bid.
- Ek sal dit ‘n keer hardop lees, en dan kan u dit ook stil by uself bid.
- In hierdie gebed vra ons:
- Here, laat u Gees werklik beheer oorneem in my lewe.
- Laat u Gees asseblief die Regeerder en regering van my lewe wees en my heeltemal vervul.
- Laat u Gees die vrees vir straf in my oorwin en my help om met vertroue as u kind te leef.
- Laat u Gees sy vrug in my lewe dra sodat ek ook ’n verskil in ander se lewens kan
- U kan hierdie gebed nou ook in stilte bid …