KOL. 1:21-23 (11/7/21)
# Wanneer ’n mens hoop verloor, is jy in die moeilikheid.
- Sonder hoop, is die bult wat vandag en môre voor jou lê net eenvoudig te steil.
- En sonder hoop, kan jy dalk moed opgee nog voordat dit werklik nodig is.
- En in hierdie tyd van die COVID-virus, met al die verwoesting wat hy met hom saambring, is dit nodig dat ons as Christene met mekaar moet praat oor hoop.
- Vers 23 wat ons gelees het, praat van die “hoop wat in julle gewek is deur die evangelie wat julle gehoor het…”
- En baie belangrik, Paulus praat hier spesifiek dan van ons Christelike hoop, want dis ’n hoop wat ons het omdat ons die goeie nuus oor Jesus se verlossingswerk gehoor het en aanvaar het.
- Hierdie hoop is nie sommer enige soort hoop nie.
- Soos wanneer ons sal sê: Ek hoop vir die beste, maar eintlik vrees ek maar die ergste …
- Nee, ons Christelike hoop is nie so ’n onseker en vreesagtige soort hoop nie.
- Ons Christelike hoop is iets wat vas staan.
- Dis die vaste oortuiging in ons dat God ons oneindig liefhet en dat Hy sy beloftes aan ons sal waar maak.
- Dis die vaste oortuiging in ons dat God getrou is en daarom sal doen wat Hy in sy Woord beloof: nou en ook in die toekoms.
# En om met so ’n hoop te kan leef, maak so ’n groot verskil aan ons lewens!
- Dit gee vir ons moed, en dit gee vir ons krag, en dit gee vir ons deursettingsvermoë.
- Maar daarsonder is ons in die moeilikheid.
# Ek het op ’n keer by ’n konferensie iemand baie treffend oor ons Christelike hoop hoor praat.
- Hierdie spreker het 4 dinge oor ons hoop gesê wat ek dink baie belangrik is.
- Ook vir ons wat voor allerhande uitdagings staan, in ons eie lewens, en ook in ons land.
- En dan natuurlik ook nou in hierdie moeilike tyd van die virus.
# So, wat het hierdie spreker alles oor ons Christelike hoop gesê?
- Die eerste ding wat hy gesê het, was: Ons Christelike hoop sê: dinge kan en sal anders wees.
- Dit beteken bv. dat hierdie sekere probleem in my lewe, of in my kinders se lewe, of in ons land – hierdie probleem wat op die oomblik so onoplosbaar lyk, kan en sal vorentoe anders wees.
- Die werklikheid soos hy nou vir ons lyk, sal nie die laaste sê hê nie.
- Nee, die Here het die laaste sê.
- En op sy tyd sal Hy ook ’n oplossing gee.
- En aan die einde van die tyd sal Hy ook alles nuut maak.
- Ja, ons hoop het uiteindelik ook te doen met die nuwe hemel en nuwe aarde wat die Here aan ons belowe.
- Maar dít kan ons weet: dinge kan en sal anders wees.
- Al lyk dit dalk nie nou so nie, dit kan en sal anders wees.
- En dit is die eerste ding wat die hoop hier binne-in ons vir ons sê.
# Die tweede ding wat die spreker by die konferensie gesê het, is: Ons Christelike hoop sê: die toekoms is vol moontlikhede.
- Die toekoms is nie soos ’n klaar voltooide film waarin ek net ’n akteur is en nie my eie unieke bedrae kan lewer nie.
- Nee, die Here wil elkeen van ons en die bydrae wat ons kan maak, elke dag gebruik.
- Hy wil hê ons moet sy medewerkers in hierdie wêreld wees.
- Ons eie gemeente het dan ook voorheen die leuse gehad van: Gestuurde medewerkers in God se wingerd.
- Die Here wil ons vandag, maar ook in die toekoms as sy medewerkers gebruik.
- Daarom moet ons ook nie bang wees vir die toekoms nie, en moet ons die moontlikhede daarvan voluit benut.
- Ons moet die toekoms sien as die tyd wat die Here vir ons gee om met Hom saam te werk sodat sy koninkryk al meer en meer kan kom.
- En so is die toekoms vir elkeen van ons ’n tyd vol moontlikhede.
- Dis nie net ’n klaar voltooide film waarin ek nie meer ’n eie unieke bydrae kan lewer nie.
# En dit bring ons by die derde ding wat die spreker by die konferensie gesê het.
- Hy het gesê: Ons Christelike hoop is nie ’n leë belofte nie, maar is vervulbaar.
- En daarom moet ons as Christene ook nou reeds vir die wêreld help wys dat hierdie hoop vervulbaar is.
- En as ons vra: Maar hoe moet ons dit vir die wêreld help wys?, dan is die basiese antwoord: Deur die evangelie (die goeie nuus oor Jesus) uit te dra en prakties uit te leef.
- As ons bv. honger mense kan help om kos in die maag te kry / verlore mense help om by die Here uit te kom / help dat ons as verskillende bevolkingsgroepe in ons land in harmonie kan saamleef, dan is ons besig om sigbare tekens van hoop op te rig.
- Tekens wat wys dat die Christelike hoop vervulbaar is.
- Dat dit nie net by ’n droom sal bly nie, maar dat dit ook ’n werklikheid sal word.
- Die tekens is reeds daar.
- Ons hoop is nie net ’n leë belofte nie, maar dit word elke dag meer en meer ’n werklikheid.
# Die vierde en laaste ding wat die spreker gesê het, is: Ons Christelike hoop ontsluit kreatiwiteit.
- Dit beteken dat hierdie hoop ons kan help om skeppend en vernuwend te kan dink en werk.
- Om nuwe oplossings vir probleme te vind.
- Om nuwe planne te maak waar ons op die oomblik vashaak.
- Die bekende sakeman Anton Rupert het gesê: “Vrees vir die toekoms en pessimisme dam skeppende energie op.”
- Maar ons Christelike hoop laat breek hierdie damwal van vrees en pessimisme!
- En dit maak ons kreatief, sodat ons nuwe oplossings kan vind en nuwe planne kan beraam.
- Ons gooi nie tou op nie – nee, ons maak hoopvol nuwe planne.
# Miskien moet ek net weer die 4 punte van die spreker by die konferensie herhaal:
Hy het gesê:
- Ons Christelike hoop sê dinge kan en sal anders wees.
- Die toekoms is vol moontlikhede.
- Ons Christelike hoop is nie net ’n leë belofte nie, maar is vervulbaar.
- Dit ontsluit kreatiwiteit.
# En nou wil ek afsluit met ’n storietjie wat wys watter groot verskil ons Christelike hoop kan maak.
- Die storie gaan oor ’n Franse meisie, Marié Durand.
- Sy was maar 15 jaar oud toe sy oor haar Protestantse geloof in ’n toring toegesluit is deur die Rooms-Katolieke owerheid.
- Dit was kort na die herroeping van die Edik van Nantes, waarna die Protestante mos kwaai vervolg is.
- En Marié Durand is toe 38 jaar lank in ’n toring toegesluit.
- En sy kon in daardie tyd blykbaar net ’n paar skrefies lig sien en die gesigte van haar bewaarders.
- Maar sy het haar nie deur haar omstandighede laat oorweldig nie.
- Sy het ten spyte van alles staande gebly.
- En sy kon dit doen omdat sy haar Christelike geloof en hoop behou het.
- Een bewys daarvan was dat sy op ’n klip in haar sel ’n woord in Frans uitgekrap het wat beteken: “Weerstaan” of “Hou aan en hou uit.”
- In Afrikaans sou ons dit dalk kon vertaal met die woorde “Byt vas.”
- Of ons sou dit ook in Paulus se taal van Kol. 1:23 kon sê: Moet jou nie laat losruk van die hoop wat deur die evangelie in jou gewek is nie.
- Moet jou nie laat losruk van hierdie hoop nie!
- Mag die Here ons dan elkeen help om met die hulp van ons kosbare Christelike hoop die toekoms sonder vrees in te gaan!
AMEN
