1 TIM. 6:6-10 (12/9/21)
# Ons tema vanoggend is “Rykdom in eenvoud.”
- So, kom ons begin by die rykdom-deel van die tema, en dan beweeg ons geleidelik ook oor na die eenvoud-deel .
- Die vraag is: Wanneer is ’n mens ryk, materieel en finansieel ryk?
- En ek weet hierdie is eintlik ’n baie moeilike vraag om te beantwoord.
- En elkeen van ons sal seker ’n ander antwoord daarop gee.
- Maar ek wil dit waag om te sê: Ek is materieel en finansieel ryk wanneer ek genoeg het om van te lewe, en dan nog geld oor het om op luukshede en nie-noodsaaklike dinge te spandeer.
- En natuurlik kan ’n mens nou weer baie van mekaar verskil oor wat luukshede en nie-noodsaaklike dinge is en wat nie.
- Maar kom ons aanvaar vir die oomblik dat ek min of meer reg is wanneer ek sê: Ek is materieel en finansieel ryk wanneer ek genoeg het om van te lewe, en dan nog geld oor het om op luukshede en nie-noodsaaklike dinge te spandeer.
- Dit beteken: Ek oorleef nie maar net finansieel nie.
- Ek het genoeg om van te lewe, en nog meer.
- As dít die situasie in my lewe is, is ek materieel ryk.
# Nou is die volgende, baie belangrike vraag: Hoe moet ons as Christene dink oor materiële en finansiële rykdom?
- En hieroor het die Bybel baie te sê!
- Soos bv. in die gedeelte wat ons vanoggend saam gelees het.
- Paulus praat hier met Timoteus oor hoe ’n Christen na materiële en finansiële rykdom moet kyk.
- En die een sleutelwoord in wat Paulus hier sê, is die woord “geldgierigheid.”
- Christene mag nie geldgierig wees nie.
- Christene mag nie “geld najaag,” soos Paulus in vers 10 wat ons gelees het, sê nie.
- Paulus se advies aan Christene is om tevrede te wees met wat jy het.
- En hoor net weer hoe sterk stel hy dit in vers 6: “As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees.”
- Sjoe, is dit moontlik?
# Maar ek dink wat Paulus hier in 1 Tim. 6 wil sê, is dat Christene ’n soort eenvoud moet nastreef as dit by materiële dinge kom en dat ons regtig met min tevrede moet wees.
- Ons het natuurlik almal materiële dinge nodig, dinge soos ’n woonplek en kos en klere.
- Maar as Christene moet ons dit vir onsself so eenvoudig as moontlik probeer maak, en materiële eenvoud nastreef.
- En in ons samelewing is dít ’n uiters moeilike ding om te doen.
- Uiters moeilik, want ons hele ekonomie werk eintlik andersom.
- Die ekonomie wil hê ons moet meer spandeer.
- Die advertensies van hierdie ekonomie skreeu gedurig in ons ore en flits voor ons oë.
- En so word ons die hele tyd aangemoedig om meer te koop en meer te besit.
- Daar is altyd maar weer iets nuuts en iets beters om te besit.
- En dis hoe ons ekonomie werk.
- Daar sal altyd nuwe dinge gemaak en verkoop word.
- En ons sal ook altyd sommige van hierdie dinge nodig hê.
- En daarom is dit so uiters moeilik vir ons om materiële eenvoud na te streef, m.a.w. om met min tevrede te wees.
- Om selfs net met kos en klere tevrede te wees, soos Paulus dit stel.
# Maar nou: ons soort ekonomie, met al die voordele wat dit vir ons inhou, ons soort ekonomie is baie nadelig vir die natuur en die omgewing.
- Iemand het dit só gestel: “Ons materialistiese en tegnologiese lewensbeskouing laat ons die aarde sien as bloot die roustof wat mense na willekeur kan gebruik om hul materiële goedere te vermeerder. Ongebreidelde materialisme skend die aarde. Die goedkoopste plastiek is meestal nie biologies afbreekbaar nie. Dit is ook die goedkoopste om fabriekafval net so in riviere te stort.”
- Ons ekonomie wil wins maak en groei.
- Daarom wil hy dinge op die goedkoopste manier vervaardig en wil hy ons al meer en meer laat koop, sodat die wins en die groei nog meer kan word.
- Dis seker baie oorvereenvoudig soos ek dit nou stel.
- Maar ek glo ons almal weet teen hierdie tyd dat ons leefstyl, binne ons bestaande soort ekonomie, die aarde ernstig bedreig.
- Ons, wat as mense deur die Here aangestel is om die aarde te bewerk en te versorg, ons het eintlik die aarde se grootste bedreiging geword.
# So, wat staan ons te doen?
- Ek dink hier kan ons nou maar net teruggaan na die “eenvoud”-deel van ons tema van vanoggend.
- Ons sal as mense moet leer om eenvoudiger te lewe.
- As ons bereid is om eenvoudiger te lewe, dan help dit die omgewing.
- Dan plaas dit minder druk op die natuur en op die aarde en haar hulpbronne.
- En weer eens is dit baie moeilik om hieraan uitvoering te gee.
- Dink bv. aan al die brandstof wat gebruik word deur die motors waarmee ons ry en deur die vliegtuie waarin ons vlieg en deur die vragmotors wat alles aanry wat ons nodig het en ook nie nodig het nie.
- Hoe maak ’n mens hierdie brandstofgebruik minder sodat ons aardverwarming kan help bekamp?
- U sal dalk weet wat die bekende jong omgewingsaktivis, Greta Thunberg van Swede, in 2019 gedoen het.
- Sy moes ’n klimaatskonferensie gaan bywoon in Amerika.
- En in plaas daarvan om van Europa na Amerika toe te vlieg, het sy met ’n seilboot gereis.
- Daarmee wou sy klem lê op die nadelige invloed wat al die vlugte met vliegtuie op die temperatuur van die aarde het.
- Maar wat mos nou moeilik is, is dat ’n mens nie oral met ’n seilboot en sy windkrag kan reis nie.
- Jy kan ook nie oral loop of fietsry waar jy moet wees nie.
- So, wat staan ons te doen?
- En hoe drasties moet ons as Christene ons maniere van reis en ons aantal reise aanpas om wel die aarde te kan help?
- En moet ons dalk nou al begin spaar om eendag ’n elektriese motor te kan bekostig?
# Daar is soveel moeilike vrae wanneer dit kom by hoe ons die natuur en die aarde moet help bewaar.
- En dis belangrik dat ons nie wetties of voorskriftelik met mekaar moet wees as ons in hierdie tyd oor ons negatiewe effek op die omgewing praat nie.
- Omdat ons elkeen se omstandighede uniek is, sal die Here ons sekerlik ook nie almal op dieselfde manier hieroor aanspreek nie.
- Maar ek dink dis baie belangrik dat ons ons oë moet oophou vir geleenthede om eenvoudiger te leef.
- Dalk moet ons eintlik elkeen ’n soort plan ontwikkel vir ons eie omstandighede.
- En ek wil tog nou ook graag vir u net enkele dinge noem wat ek ook maar by ander mense gehoor en gelees het oor hoe ons met ’n eenvoudiger leefstyl die omgewing kan help.
- En ’n eerste gedagte hier is dat ons moet ontdek dat dit eintlik vir ons rustiger en beter is om eenvoudiger te lewe.
- Wanneer ’n mens wel leer om met minder materiële dinge tevrede te wees, help dit dat dinge binne-in jouself ook rustiger en minder ingewikkeld is.
- En dit lyk vir my of ons in elk geval meestal te veel goed besit.
- Daarom dat daar eintlik maar altyd iets in ons huis of motorhuis of klerekas is wat na die Wit Olifante-verkoping toe kan gaan.
- Ons het gewoonlik iets wat ons maar kan weggee.
# Maar wat kan ons nog doen om ’n eenvoudiger leefstyl te handhaaf?
- Die volgende gedagte is sekerlik ’n baie sensitiewe saak vir ons almal – en beslis ook vir my!
- Maar dit sal baie kan help as ons goed kan onderskei tussen luukshede en noodsaaklikhede, en dat ons dan minder luukshede sal aanskaf.
- En weer eens het ons hier met iets te doen wat baie moeilik kan wees.
- Sekere dinge wat dalk net ’n paar dekades gelede as luuks beskou is, is dalk vandag noodsaaklik.
- En wat vir een persoon luuks is, is dalk vir ’n ander een noodsaaklik.
- As daar bv. nie goeie openbare vervoer is waarmee ’n mens by jou werk kan uitkom nie, dan is ’n motor seker nie meer ’n luukse nie, maar ’n noodsaaklikheid?
- Maar watter soort motor jy koop, en hoeveel skuld jy dalk moet aangaan om dit wel te kan koop? – dit is natuurlik weer ’n ander saak.
- Maar die probleem is dat daar vandag ’n groot grys area tussen luuks en noodsaaklik is.
- En ons sal die Here moet vra om ons te help met hierdie moeilike onderskeiding.
- En om vir ons te wys wat sy wil vir ons is wanneer dit kom by ons eie aardse besittings.
# Dan nog iets, en dis seker ook baie sensitief, want dit gaan oor klere.
- Ons het almal klere nodig.
- Maar ek verstaan dat die produksie van klere geweldig baie van die aarde se hulpbronne vra.
- En daarom het iemand gesê dat ons as Christene versigtig moet wees om nie slawe van die modes te wees nie.
- Dat ons, wanneer dit by klere kom vir onsself moet vra: Koop ek dalk my klere veral om ’n indruk te probeer maak?
- En wat die hoeveelheid klere in my kas betref, moet ek seker ook vra: Hoeveel klere het ek werklik nodig?
- Ek weet daar is mense wat dit nogal regkry om klere wat hulle dalk ’n sekere tyd lank nie gedra het nie, weg te maak.
# En nou, baie belangrik: As ons eenvoudiger kan lewe en met minder kan regkom, skep dit ook nuwe moontlikhede vir wat ons met ons geld en besittings kan doen.
- Iemand het bv. gesê: Ons moet as Christene met minder regkom sodat ons meer het om te kan weggee.
- ’n Eenvoudiger leefstyl kan ons almal help om meer te kan doen en meer te kan gee om die nood van armes te help verlig, en ook hulle opheffing en hulle ontwikkeling aan te help.
- As Christene leef ons mos nie net vir onsself nie.
- Ons word geroep om ons medemens (ook ons medemens in sy of haar materiële nood) so lief te hê soos onsself.
- En ons weet die nood is so ontsaglik groot in ons land.
- Daar is net soveel armoede, en die werkloosheidskoers is so skrikwekkend hoog.
- En ek kan mos nie as Christen my oë en my beursie daarvoor sluit nie.
- Ek moet mos help waar ek kan.
- Op ’n verantwoordelike manier, ja, maar ek moet mos help.
# Ek wil afsluit en maar net sê: Dis baie duidelik dat die Here ons in sy Woord waarsku teen die gevare van materiële en finansiële rykdom.
- Paulus het vanoggend gesê dat gelowiges nie geld moet najaag nie.
- ’n Mens dink ook aan Jesus self wat gesê het ons kan nie God én die geldgod Mammon dien nie.
- Daarom kan ons ook vanoggend maar net ons sonde hieroor bely en bid dat die Here vir ons oorwinning oor Mammon sal gee.
- Maar dis verder belangrik dat ons daardie soort rykdom sal ontdek wat daar in ’n eenvoudiger leefstyl opgesluit is.
- En natuurlik ook, dat ons, soos Jesus dit in Luk. 12 stel, ryk sal wees by God.
- Dis tog die heel belangrikste: dat ons ryk sal wees by God.
- Mag Hy ons dan help om nie materieel en finansieel ryker en ryker te wil wees en meer en meer te wil besit, maar dat ons daardeur die aarde help vernietig nie.
- Mag Hy ons help om tevrede te wees met wat ons het, soos Paulus sê.
- En om ook met ons gesindheid van tevredenheid ’n getuienis te kan lewer teenoor mense wat nooit genoeg kan kry en nooit tevredenheid kan ervaar nie.
AMEN