Preek – 22 Maart: Wat sien jy? – Joh 9:1-17 (41)
Lees Joh 9:1-17
Boodskap:
Inleiding
Genade en vrede vir jou van God ons Vader, Jesus ons Here deur die krag van die Heilige Gees!
Kom ons bid saam:
Here, wat ons daagliks om ons sien afspeel is onwerklik. En ons voel die trekkrag van vrees; ons word gebombardeer met inligting en teorieë.
Wanneer ons nou in die Gees saam is in aanbidding, genees ons geestelike blindheid! Maak ons oë oop vir u teenwoordigheid, u vernuwende krag, in ons lewe en in ons wêreld. Herinner ons aan wie ons behoort.
Boodskap inhoud:
Ek is mal oor die evangelie van Johannes. In sy inleiding en in sy slot gee hy vir ons (meer as die ander 3 evangeliste) ’n leidrade van wat hy probeer bereik in die manier hoe hy gekies het om Jesus se storie te vertel. Hy het definitiewe temas wat hy deurtrek en wat hy wil hê jy moet oral in sy vertelling raaksien.
Net nadat Jesus die ongelowige Tomas aan sy wonde laat raak het, naby aan die einde van Johannes sê Jesus vir Tomas: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”
En dan vat Johannes, die skrywer self as volg saam: “Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.”
En as ’n mens gaan tel, sien jy Joh vertel vir ons 7 sulke tekens/wonderwerke van Jesus. Hierdie een, die genesing van die blinde man, is die 6de van hierdie tekens, en propvol van al hierdie dieper temas wat Joh wil hê ons oral in die storie van Jesus moet raaklees. In sy inleiding weer, verduidelik Joh dat Jesus die ware lig is, wat elke mens verlig. Jesus maak mense se oë oop om God en sy teenwoordigheid op ’n nuwe en lewegewende manier te sien.
Een van die maniere hoe Joh vir ons verduidelik hoekom die wêreld nie vir Jesus wil erken nie, is weens geestelike blindheid. In hierdie storie sien ons dat die Fariseërs se manier van God sien hulle blind maak vir Jesus se ware prentjie van God. Joh speel eintlik ’n bietjie met teenstrydighede soos enige goeie skrywer: Party mense wat dink hulle kan sien is blind en party wat Hom nie eers gesien het nie (blind is) kan sien!
Die Fariseërs kyk so vas in hulle eie prentjie van God dat hulle God nie kan sien nie! Hoe is hierdie prentjie gekleur dat hulle nie God se openbaring in Jesus kan sien nie?
Die eerste hindernis om God in Jesus raak te sien, sien ons al in die vraag van die dissipels: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?” Die gedeelte uit die 10 gebooie wat sê dat God kinders die sondes van hulle voorouers toereken tot in die 4de geslag, het nog sterk gefigureer, ten spyte van ander insigte in die boek Job en Eseg 18:20. Die aanname was (is!), waar daar lyding is, is daar skuld/sonde en daarom straf.
Die tweede hindernis waarvan ons lees, gaan oor die sabbatdag. Volgens die Fariseërs se prentjie van God oortree jy die wet van God as jy werk (klei aanmaak, genees) op ’n sabbat. Dit maak van jou ’n sondaar. Jesus kan nie van God kom nie, want Hy hou nie by hulle idee van die reëls nie. Let op hoe ’n wonderwerk reg onder hulle oë plaasvind, eerstehands en hulle kan dit nie waardeer nie, hulle kan nie opgewonde daaroor wees of saam bly nie. Dink daaroor: ’n man wat blind gebore is kan sien!! Wanneer laas het jy dit gesien?!
God se heiligheid beteken vir hulle ’n streng God wat jou straf met teëspoed as jy die reëls oortree; en as jy tot bekering kom en weer die reëls nakom dan seën Hy jou weer met voorspoed. Maar Jesus weerstaan hierdie reëlgebonde, oorsaak-gevolg prentjie van God en hoe Hy werk.
Johannes sê in een van sy briewe ’n ander mooi ding wat my altyd bybly en asb, dink nou aan ons konteks van die virus!: “En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.” (1 Joh 4:16-19)
Die lig wat Jesus vir ons oor God gebring het, was volgende Joh veral dit (onthou ook Joh 3:16!): Dat die Skepper van hemel en aarde, die begin en einde van alles, ons onvoowaardelik, onweerstaanbaar, persoonlik liefhet en dat niks in sy pad sal staan om dit ons wat eintlik reeds in beginsel aan Hom behoort, terug te kry nie. Hy spreek vry, Hy vergewe, die prys is betaal, die offer is gebring, Hy maak heel, ons lewens, ons verhouding met Hom en ander.
Wat verblind ons vir die wese van God? Vrees, soos Joh ons leer, speel ’n groot rol. As ons bang raak soek ons na maniere om meer in beheer te voel, en dan soek ons oorvereenvoudigde antwoorde. Kom ons kyk na een voorbeeld:
In krisistye hou mense daarvan om te verwys na 2 Kron 7:13-14 en sedert die droogte en nou weer met die virus word dit wyd op sosiale media gedeel: “13 As Ek die hemel gesluit hou sodat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land kaal te vreet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.” En die implikasie van almal wat dit aanstuur is duidelik: ons moet tot bekering kom en dan sal alles weer regkom.
Maar kan ons so met die Bybel werk asof ons enige stukkie kan copy en paste as die Here se ondubbelsinnige woord vir ons vandag? Of word die woorde van die Bybel die Woord van God soos dit met wysheid en toewyding, dwarsdeur ons lewenservaring, gevorm deur die hele getuienis van die Skrif en olv die Heilige Gees geïnterpreteer word vir ons omstandighede vir vandag? Ek kies vir lg opsie, en eintlik om ’n eenvoudige rede: Jesus het dit self so gedoen. En daarsonder kan ek nie uitkom by die prentjie van God wat ek in Hom sien nie.
Mag ons saam genees word van ons geestelike blindheid. Mag Jesus ons oë verlig tot sy visie van God. Mag ons, wanneer ons groot pyne beleef, nie eerste dink aan straf/oordeel en aan eenvoudige oorsaak-gevolg oplossings nie, maar mag ons binne in die swaar nuwe geleenthede ontdek waar die heerlikheid van die werke van God kan skitter daar waar ons bereid is om selfopofferend lief te hê soos Jesus. Mag ons oortuiging toeneem soos dié van die blinde man wat, soos Hy gepols is, al hoe sekerder geraak het van Jesus, totdat Hy neergeval en Hom aanbid het.
En mag ons in lydingstyd onthou, dat Joh ons nog ’n baie spesiale bril gee om God helder te sien, wanneer Hy die kruisging van Jesus uitbeeld as sy troonbestyging, sodat ons altyd sal weet: daar is nie eenvoudige antwoorde vir lyding nie; maar Jesus het dit alles aan sy eie lyf gevoel; en ons behoort aan Hom; ons priester en koning wat vir altyd sy plek ingeneem het aan die regterhand van God ons Vader. Amen.
