Preek – 3 Mei 2020: In Jesus se Voetspore – 1 Petrus 2:19-25

Votum:

3 “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. 4 Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word. 5 Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang. 6 Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word. 7 Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. 8 Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien. 9 Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. 10 Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. 11 “Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. 12 Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.” Matt 5:3-11

Seëngroet:

“Vrede vir julle.”

Skriflesing:

1 Petrus 2:19-25

Preek:

Ons reis nou al `n paar weke na mekaar deur die brief 1 Petrus en hierdie week maak ons weer so. Indien jy nog nie die skriflesing gedoen het nie, neem nou `n oomblik om eers hierdie gedeelte deur te lees.

Die briewe in die Nuwe Testament werk natuurlik bietjie anders as die res van die materiaal wat ons daarin lees – dit is dikwels baie meer prakties van aard en gee spesifieke opdragte aan mense en gemeentes en van die grootste dele daarvan bevat ook van die diepste teologiese waardes waarvolgens ons geloof en tradisie gevorm is.

Hierdie briewe is egter nie net vriendelike verwisselinge tussen penmaats nie. Dit is belangrike inligting en leer wat deur die apostels aan mense oorgedra is – hulle het daardie tyd al iets verstaan van “afstand onderrig”! Die belangrikste punt is egter dat die dinge wat hulle geskryf het nie sommer opgemaak is nie. Hierdie briewe is almal gebaseer op wat die apostels self by Jesus geleer het. Die waardes en gedrag wat die briewe oordra, is gebaseer op die voorbeeld wat Jesus self op aarde gestel het en dit is wat  Petrus ook probeer leer.

Vandag se gedeelte fokus spesifiek daarop dat ons Jesus se voorbeeld moet volg in `n hele paar dinge, maar die res van die brief help ons om iets dieper te verstaan van wat die skrywer bedoel.

In die vorige deel van die brief probeer die skrywer iets oordra van die nuwe identiteit wat Christene het – ons is vrygekoop deur Jesus Christus, maar ons is steeds mense wat in die wêreld moet leef tot en met die voleinding van tyd. Die skrywer waarsku, dus, dat ons nie hierdie nuwe vryheid moet misbruik nie, maar dat ons lewens moet getuig van dit wat nog kom.

Om vrygekoop te wees beteken dat ons onderdanig en gehoorsaam is aan God, maar om mens te wees beteken dat ons leef in aardse omstandighede waarmee ons daagliks te make kry. Hoe hanteer vrygemaakte mense hierdie aardse lewe?

Hierdie brief is natuurlik geskryf in `n totaal ander tyd as waarin ons vandag leef en daarom kan ons nie bloot die slawerny en die mishandeling van mense in die Romeinse Ryk presies so toepas op ons lewens nie. Wanneer dit egter by lyding en swaarkry of die owerheid kom, kan ons tog hierdie brief vir onsself neem en daardeur geleer word.

Dit bring ons by ons gedeelte van vandag: hierdie paar verse raak mens persoonlik, veral in `n tyd soos hierdie waarin ons nou leef. Hoe hanteer ons lyding en swaarkry, veral wanneer ons dit nie verdien nie? Ons wêreld is nou onderdompel in lyding wat geen ras, klas of geslag ken nie en, hoewel daar sommige is wat ander oortuigings mag hê, verdien niemand sterfte of siekte as gevolg van hierdie virus nie.

Sou ons kon sê ons is dankbaar en verheug ons oor hierdie lyding? En wat beteken dit om getrou te wees aan God in hierdie tyd? Die gelowiges aan wie hierdie brief geskryf is, is wreed vervolg omdat hulle Christus (getrou) verkondig het, omdat hulle gehoorsaam was aan God se wil, en dit is hoekom die skrywer hulle probeer aanmoedig om ook in hul (fisiese) lyding die voorbeeld van Jesus te volg. Ons kan hoegenaamd nie bely dat hierdie virus `n tipe eksklusiewe vervolging van moderne Christene is nie, maar dit daag beslis ons getrouheid en gehoorsaamheid uit.

Die belangrike voorbeeld wat ons hieruit moet verstaan is die manier waarop Jesus `n menslike lewe in die middel van lyding geleef het. Jesus se gehoorsaamheid en getrouheid aan sy Vader het uitgeloop op fisiese lyding en sterfte onder die menslike owerhede van sy tyd. Hierdie brief lê klem op Jesus se omgang met mense – Hy het nooit `n leuen vertel nie, Hy het nooit terug beledig nie, Hy het nooit gedreig nie, Hy het alles oorgelaat aan God.

In `n wêreld waar mense in verskeie magsposisies gefunksioneer het, het Jesus gekies om die minste te word en ter wille van ons te ly. Wanneer ons ly, doen ons dus niks anders as om in Jesus se voetspore te volg nie, aangesien Hy ook die tol van menswees aan sy eie liggaam gevoel het.

Die belangriker kwessie hier is egter die waardes waarmee Jesus gely het. Ons wil so graag volg in Sy voetspore, ons word van kleins af geleer om “soos Jesus te wees”, maar ons wil tog ook sekere lyne daarvoor trek. Ons sal bid soos Jesus, eet soos Jesus en dalk selfs praat soos Jesus, maar om te ly soos Jesus en om gehoorsaam te wees aan die owerhede, soos Jesus, is soms vir ons `n stappie te ver.

In hierdie tyd van onverdiende lyding is dit ons uitdaging om nie leuens te vertel om uit die huis uit te kom nie. Om nie te diskrimineer of stigmas rondom siek mense te glo of versprei nie. Om die regulasies wat ons owerhede aan ons deurgee met oorgawe te gehoorsaam. Ons is vrygemaakte mense wat, terwyl ons uitsien na die Nuwe Hemel en die Nuwe Aarde, die opdrag het om te getuig van Jesus Christus en ons doen dit deur lewens te lei wat lyk soos Syne.

Die troos wat ons het in Jesus is dit: Hy is die Lam wat uit al die skape gekies is om te ly, maar Hy is ook die Goeie Herder wat aan die ander kant van swaarkry met ope arms wag. Mag Sy voorbeeld ons in hierdie tyd help om lyding anders te verstaan: mag ons glo dat lyding deel is van hierdie wêreld waarin ons is, maar waarvan ons nie is.

Amen

Seën

“Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees.”  1 Petrus 1:2

css.php