Preek – 26 April: Ons aard na ons Vader – 1 Pet 1:10-25

Skriflesing: 1 Pet 1:10-25

Preek:

Ons is in Paastyd; Jesus leef en ons deel in sy opstandingskrag! Die hart van Paasfees, en eintlik die hart van Christelike teologie, is dat ons ook deel in hierdie dubbele identiteit van Jesus as sy volgelinge: Net soos Hy word ons ook gekruisig, ons sterf, en net soos Hy word ons ook opgewek tot nuwe lewe; en dit is die wedergeboorte wat ons kinders van God maak.

Die idee van God as Vader is nie heeltemal afwesig in die OT nie, maar dit is definitief nie naastenby die een wat die meeste voorkom of voorop in mense se gedagtes sou wees nie. Maar Jesus kom en soos ons in engels sou sê, Hy plaas die metafoor van Vader “front and centre”. Hy verwys altyd na God op hierdie manier. En natuurlik sou die skrywers in die NT hierby aansluit as hulle sou dink oor ons geloof en kerkwees. As God in Jesus ons Vader geword het, dan is ons nou sy kinders.

Soos Petrus in v23 skrywe: “Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige Woord van God.” En hierdie woord is die evangelie.

En as ons nou saam God se kinders is, dan word ons as sy kerk sy groot familie, sy huishouding/gesin. Oral in Petrus se brief duik hierdie tipe verwysings op. Deesdae weet ons kinders se vorming in die huishouding is wat ons noem “nature and nurture”; m.a.w. jy ontvang fisiese kernmerke (DNS) van jou ouers, maar jy word ook gevorm deur die sosiale kragte van al die voorbeelde en gewoontes waaraan jy in jou huisgesin en die samelewing blootgestel word. Net so is die met ons as kinders van God wat in sy nuwe familie opgeneem word. Ons word uit God gebore met ’n nuwe natuur, maar ons neem deel aan hierdie proses van vorming wat in hierdie nuwe huisgesin van ons plaasvind.

“As gehoorsame kinders van God” (skryf Petrus), “moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle gehad het toe julle God nie geken het nie.” Ons het deur ons weergeboorte ’n nuwe natuur ontvang, maar ons in ons lywe sit nog die deurmekaar begeertes en gewoontes van die ou mens. “Nee,” gaan Petrus voort, “soos Hy wat julle geroep het heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees.”

Ons word geroep tot heiligheid, want God is heilig. Heiligheid is nogal ’n moeilike woord om te verstaan en te verduidelik. Ons voel iets van afstand daarin. God is heilig en ons is sondig. En as ons heiligheid as hierdie tipe afskeiding verstaan, dan kry ons partykeer ook mense wat ons spottenderwys as “hoogheilig” sou beskryf; daar skemer dalk ’n bietjie arrogansie en veroordelende gesindhede deur. In ons geestelike verbeelding kan daar dalk nog hierdie stukkie wees van die OT- idee van rein en onrein. Want daar moes jy altyd afstand hou; wegbly van onrein dinge en mense, want hulle sou “afsmeer” op jou en jou van jou reinheid beroof.

Maar Jesus self het met sy voorbeeld en woorde deur hierdie voorlopige en oppervlakkige idees gebreek. Hy het die afstand oorbrug en die skeidings weggeneem. Juis hierin het ons die andersoortigheid, die heiligheid, van God gesien: in die gemeenskapsvormende en selfopofferende liefde van die Drie-Enige God. Jesus verwoord hierdie “Heiligheid” op ’n ander manier in die bergrede: Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is. (Mat 5:43-49) Daar gebruik Hy ’n Woord wat eintlik dui op ons einddoel; die teken wat sal wys dat ons transformasie tot volwaardige kinders van God voltooid is: En dit is wanneer ons, soos God, ook ons vyande liefhetgeen onderskeid maak tussen mense in ons liefde nie. En ons weet, in hierdie twee gebooie, het Jesus gesê, is die hele wet en die profete saamgevat: jy moet die Here jou God liefhê bo alles en jou naaste soos jouself.

Nou hoe is dit dan dat selfs liefde soms ’n slegte konnotasie kry? As sommige mense sê dominees preek mos deesdae “net oor liefde”? Ek dink dit is as hulle begin vermoed liefde raak kodetaal vir “everything goes”. En dit is verseker nie die geval nie. Liefde het grense. Dis egter nie die grense wat ons in meerderwaardigheid afskei van ander mense nie. Dit is die grense van liefdevolle verhoudings (met myself, ander, God en die aarde), wat heilig is omdat dit vry is van misbruik, uitbuiting en oorheersing en ander en myself vrymaak deur liefde, respek, diens, deernis ens.  Ons word nie gekenmerk as Christene “waarteen” ons is nie, maar waarvoor ons staan. Ons probeer nie in die eerste plek die magstryd in die openbare domein wen van wat die reëls moet wees nie, ons leef veral ’n alternatiewe voorbeeld.

En dit is waaraan kerkhistorici die eksponensiële groei van die Christelike geloof in die eerste paar eeue toeskryf. Christene het veral in krisistye, o.a. ook pandemies soos nou, mense selfopofferend liefgehad en gedien, selfs ten koste van hulle lewe.

Luister mooi na die klimaks van Petrus se argument in die eerste hoofstuk van hierdie brief. “Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê.” Ons, as kinders van God ons Vader, se heiligheid/reinheid, lê veral in hoe ons mekaar liefhet. Die Griekse woord wat met die effense outydse “ongeveins” vertaal word, beteken letterlik, sonder skynheiligheid. Met ’n rein hart moet ons mekaar innig liefhê (sou ’n letterlike vertaling kon wees).

Suiwer liefde, sonder eiebelang en voorgee, is Goddelik, dit is heilig.

Ek dink nie die Here roep ons om nou alle beperkings oorboord te gooi en rond te hardloop om mense te help nie. Maar in hierdie tye van afsondering, waar ons wêreld maklik so klein kan word, en ons behoeftes al waaraan ons dink, moet ons weer dink oor in hoe mate ons al “heilig” of “volmaak” is soos ons Vader? Is ons geoefen en gevorm in selflose liefde? Lyk ons, as ons Vader se uitverkore kinders, as sy huisgesin, as die alternatiewe gemeenskap van sy liefde, anders? Of klou ons ook maar net aan ons eie gemak en ons eie voorregte? En sal ons toelaat dat daar iets nuuts in ons gebore word as hierdie dinge van ons weggeneem word?

Bid saam met my, dat daar in ons harte, in Jesus se kerk, in ons gemeente, ’n nuwe visie, ’n nuwe roeping, uit God se hart, in ons gebore sal word. Amen.

css.php