Preek – Datum: Tema – Teksvers
Teks: : Eseg 37:1-14 & Rom 8:9-11
Tema : Lewe uit die dood?
1. TEKS:
Eseg 37:1-14 Die mag van die Here het my in besit geneem en my deur die Gees van die Here uitgebring en neergesit binne-in ‘n laagte. Die laagte was vol bene. (2) Die Here het my om die bene laat loop, en ek het gesien daar is baie bene in die laagte en hulle is baie droog. (3) Toe vra Hy vir my: “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?” Ek het geantwoord: “Nee, dit weet net U, Here my God.” (4) Hy sê toe vir my: “Tree op as profeet vir hierdie bene en sê vir hulle: Hoor die woord van die Here, droë bene! (5) So sê die Here my God vir hierdie bene: Ek gaan gees in julle laat kom sodat julle kan lewe: (6) Ek sal vir julle senings en vleis aansit en julle oortrek met vel en dan sal Ek gees in julle gee sodat julle kan lewe. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.” (7) Ek het toe as profeet opgetree soos ek beveel is, en terwyl ek dit doen, hoor ek ‘n gedreun: die bene het na mekaar toe beweeg, elkeen na die been toe wat by hom pas. (8) Terwyl ek kyk, kom daar senings en vleis aan hulle en word daar vel bo-oor getrek. Maar daar was nog nie gees in hulle nie. (9) Toe sê die Here vir my: “Praat nou as profeet met die gees, tree op as profeet, mens, sê vir die gees: So sê die Here my God: Kom uit die vier windstreke, gees, blaas in hierdie dooies in dat hulle kan lewe.” (10) Ek het as profeet opgetree soos die Here my beveel het, en toe kom die gees in hulle, en hulle lewe en gaan staan regop. Dit was ‘n baie groot menigte. (11) Die Here het vir my gesê: “Mens, al hierdie bene stel die hele Israel voor. Hulle sê: ‘Ons bene is uitgedroog, ons het geen hoop meer nie, dit is klaar met ons.’ (12) Tree op as profeet, sê vir hulle: So sê die Here my God: Ek sal julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, en Ek sal julle terugbring na die land Israel toe. (13) Wanneer Ek julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, sal julle besef dat Ek die Here is. (14) Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe en Ek sal julle in julle land laat woon. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. Ek het dit gesê en Ek sal dit doen,” sê die Here.
Rom 8:9-11 (9) Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie. (10) Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde. (11) Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.
2. INLEIDING:
Goeie môre en baie welkom by Paarlberg Gemeente se oggenddiens op hierdie eerste Sondag van April.
Ek groet jou graag met Paulus se woorde aan Timoteus:
Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Here! – 1 Tim 1:2
3. GEBED:
Here Jesus,
Die wêreld en ons gemoedere is deurmekaar. Ons is bekommerd en ontsteld. Kom asb vanoggend en kom raak aan ons deur U Woord en Gees wat in ons woon.
Hoor ons as ons dit bid in die Naam van Jesus, ons Here. Amen.
4. PREEK:
Ek wil vra dat jy nou eers die video sal stop en ons teksgedeeltes sal lees. Dit kom uit Eseg 37:1-14 en ook Romeine 8:9-11.
My een kleinseun van 7 jaar oud sê nou die dag: “Die virus maak alles deurmekaar!” En ek dink ons stem saam met hom. Wat wil die Here vir ons in die tyd kom gee en ook kom vra?
Vir die Israeliete voel dit alles binne-in hulle het doodgegaan. Hulle is vêr van hul eie land, onder ‘n ander koning, weg van hul eie grond en goed. En ons lees tussen die lyne dat hulle eintlik voel dat God ook dood is!
En dan gebeur die wonderwerk in Esegiël se gesig dat die bene bymekaarkom en lewendig word. Hy profeteer dan dat Israel weer sal terugkeer na Israel en weer deur die Gees van God sal leef in die beloofde land, wat dan toe ook gebeur het, ‘n hele klompie jare later.
Wat wil die Here deur Esegiël vir jou en my kom gee vanoggend en in besonder in die tyd waarin ons nou leef?
1. Ek hoor dat die Here ons kom bemoedig.
Esegiël sien die beeld van ‘n vallei vol doodsbeendere. Ons sien dit byna letterlik ook vandag. Mense sterf by die honderde daagliks, armoede, werkloosheid, onseker toekoms … ons sien die doodsbeendere.
So, hoe help Esegiël ons in dié tyd? Baie van die Jode aan wie Esegiël die boodskap gebring het, het nooit hulle eie land weer gesien nie en is dood in ballingskap. Maar God het deur Esegiël vir die Israeliete in ballingskap weer hoop kom gee. Wat hulle moed gegee het, is dat God nie dood is en hulle vergeet het nie, maar dat Hy uit die mees hopelose situasie weer lewe kan bring, al is dit nie in hulle eie leeftyd nie. Die vraag wat die Here aan Esegiël vra, het my aangegryp:
“Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?”
Jy sien, die belangrikste ding wat ons kan verloor, is nie ons gesondheid of geld of land of selfs ons lewe nie, maar ons geloof, want dan is ons sonder hoop. En dis juis van hierdie hoop wat Paulus onder die moeilikste omstandighede getuig as hy in Romeine 8 sê dat niks ons van die Here se liefde kan skei nie – ook nie die Corona virus nie.
Bly vashou daaraan dat God dat Hy vir jou en my liewer het as wat enige pa of ma hulle kinders ooit lief kan hê. As jy ‘n bewys daarvoor wil hê, gaan soek dit veral in die lydenstyd op Golgota.
2. Ek hoor ook dat die Here ons oproep tot geloof
Die droë doodsbeendere in Esegiël se tyd het ook gewys na die doodsheid van Israel in hul liefde vir God. Natuurlik kan ons nie reguit lyne trek van Esegiël se tyd tot by ons hier vandag nie. Maar kom die Here nie ook juis in die krisistyd ons weer herinner aan sy liefde en sy begeerte om in ‘n lewende verhouding met ons te leef nie? Is dit toevallig dat die krisis van die Corona-virus juis saamval met Lydenstyd en Paastyd? Ek moet ook bely dat daar soms in my lewe tye kom wat ek sonder verwagting bid, wonder of die Here my nog hoor en of dit nog help om in God te glo. Ons doen ‘n reeks oor evangelisasie die kwartaal, hoe om mense by die Here uit te bring en week na week is ek teleurgesteld in myself dat ek nie bewustelik die dag ingaan en vra dat die Here mense vandag op my pad sal bring wat ek met sy liefde kan bedien nie. Dat ek nie eers leef met so ‘n ingesteldheid nie. Dis asof God se liefde ons baie maal nie eers meer raak nie, asof God ons nie eers meer raak nie en die lewe maar gaan oor my behoeftes en standpunte. Is dit nie ook so dat in baie gevalle die kerk van die Here (en dis ek en jy) soos ‘n laagte vol droë bene is nie? Mense kom soms nog kerk toe, maar dit raak baie maal nie ons lewens nie. Christene baklei met mekaar oor hulle standpunte en wie reg is. Kerke maak mekaar verdag ipv om mekaar lief te hê, dankoffers daal jaar na jaar en waar daar vroeër stoele ingedra moes word, is daar leë banke. Droë bene. En ons soms wonder of die kerk nie ook op pad uit is nie.
Ook vir ons kom vra die Here wat Hy vir Esegiël gevra het:
“Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?”
Dink ek en jy dinge kan anders word? Of is ons ook naby handdoen ingooi wat ons geloof betref?
Kan die kerk, kan ek en jy weer op ‘n nuwe pad met die Here begin stap? Kom ons blaai so so 160 jaar terug in die geskiedenis van die kerk.
Dis die jaar 1856. So skryf prof Attie Barnard oor daardie tyd:
In Amerika en Europa is daar al vir jare ‘n diep geestelike insinking en doodsheid in die kerk en agteruitgang op verskillende terreine van die godsdienstige lewe. Hierop het ‘n tydperk van groot finansiële teenspoed gevolg (klink dit bekend?). Veral ‘n ongekende finansiële ineenstorting aan die einde van die 1850’s in die VSA het mense laat gryp “na dié God vir wie hulle in ‘n tyd van voorspoed opsy geskuif het…”
Dit is juis in dié tyd dat die Here ‘n herlewing laat groei in Europa en Amerika.
Die herlewing waai oor na Suid-Afrika en daar het ‘n verlange ontstaan na geestelike verdieping. Ook in SA was dit ‘n tyd van dorheid op geestelike gebied. Reeds in 1838 het daar al ‘n behoefte ontstaan aan nuwe lewe. So vra Andrew Murray se pa, ook ds Andrew Murray van Graaf-Reinet, dat daar gebid word vir die uitstorting van die Heilige Gees. Sy kinders vertel hoe hy elke Vrydaand in sy studeerkamer ernstig daarvoor gebid het.
In 1846 verwys ds G.W.A. van der Lingen van die Paarl na die toestand van die kerk wat in ‘n “jammerlike toestand is en tot die diepste ellende sal verval tensy God sy Heilige Gees stuur om die kerk op te wek tot lewe”.
En dan word daar ‘n konferensie op Worcester gereël in 1860 op 18 April. 300 lidmate van 20 gemeentes woon dit by. Hulle vertel mekaar van die groot herlewing in Amerika, Ierland, Skotland en Wallis en ander dele van die wêreld. En hulle begin almal bid vir herlewing.
Toe stuur die Here ‘n herlewing in ons land! In Mei 1860 begin dit in Montagu en dan Worcester, Wellington, Calvinia, Robertson en Ceres en in 1861 ook na die Paarl. Dis juis hier waar die gebruik om jaarliks Pinksterbidure te hou, ontstaan het.
In die tyd vertel ds J.C. de Vries van ‘n byeenkoms in ‘n klein saaltjie wat hy in Worcester in daardie tyd gelei het. Daar was omtrent 60 jongmense bymekaar. Toe staan daar ‘n 15-jarige bruin meisie, wat vir ‘n boer van Hexrivier gewerk het, op en vra of sy ook ‘n lied mag gee om te sing. Na sy gebid het, hoor hulle ‘n geluid wat eers uit die verte gekom het maar later die hele saaltjie geskud het. En toe begin almal bid. Ds Andrew Murray, wat daar naby gewoon het, het dit gehoor en gekom en geroep dat daar orde moet wees. Dit was vir hom vreemd en nie reg op daardie stadium nie. Maar die herlewing het uitgebrei.
So lees ek verder: “Daar was ‘n groter lus na gebed en ‘n groter belangstelling na die Woord van God”. Die byeenkomste was so goed bygewoon dat daar nie plek was vir almal nie. Mense het tot ‘n besef van hul sonde gekom en mense het ‘n nuwe pad met die Here begin stap.
Toe vra Hy vir my: “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?”
Kan daar herlewing, vernuwing, lewe kom? Dalk gaan die herlewing heeltemal anders lyk en anders werk, maar sal ons nie ook in hierdie lydenstyd en krisistyd in die wêreld begin bid dat Here ons eie lewens, ons gemeente en kerk weer opnuut sal optel en sal laat lewe agter Jesus aan nie?
Dalk verras die Here ons deur vernuwing en herlewing op ‘n onverwagse manier en van ‘n onverwagse kant te stuur. Dalk sal ons kinders ons moet leer om na die Gees te luister en te leef. Is dit nie juis die Gees wat lewe kom gee hat aan droë bene nie? Is dit nie juis die Gees van Christus wat ook met die naderende Pinkster vir ons nuwe lewe wil kom gee nie?
Ons jongste seun gee skool by Lochnerhof in die Strand. Een van die vakke wat hulle het, is Persoonlike Sosiale Welsyn (PSW). En die vak gaan nie oor godsdiens of die Bybel nie. Hy wys my die antwoord van ‘n graad 5 (standerd 3) dogtertjie op ‘n vraag:
Vraag:
Beskryf ‘n goeie en veilige verhouding waarin jy is. Verduidelik hoekom dit ‘n veilige verhouding is.
Dink ‘n bietjie wat jy sou geskryf het? Nou, hier is die dogtertjie se antwoord:
Ek is in ‘n goeie verhouding met Jesus. Hy is altyd daar vir my wanneer ek Hom nodig het. Hy was saam met my toe my oupa oorlede was, toe een van ons hondjies doodgegaan het en toe ek nie so goed in my geskiedenis gedoen het nie. Hy bewaar my elke aand en dag. Hy hou my hand heeltyd vas. Die punt is dat Hy altyd daar vir my is. Ons is in ‘n goeie verhouding want ek voel gelukkig rondom Hom. Ek voel veilig, en ek voel gemaklik. Ek vertrou die Here met my hele hart!
Die God wat ek en jy aanbid en dien, kan aan dooie bene weer lewe gee deur Sy Gees. Dit moet ons glo. Sal ons nie ook bid vir vernuwing in ons en andere se lewens nie en ons lewens oopstel vir vernuwing deur die Gees nie? Amen
5. SEËNBEDE:
Num 6:24-26 Die Here sal julle seën en julle beskerm; (25) die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; (26) die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee! Amen