Preek – 3 Februarie 2019: “Bybelse prente van Jesus” – Joh. 15:9-17
Die Bybel hou ‘n groot klomp “prentjies” van Jesus aan ons voor. Om Hom op die regte manier te volg en te vereer, moet ons voortdurend ons eie prentjie van Jesus deur hierdie Bybelse prente van Hom laat vorm.
Groete
Hugo
Hoe lyk die prentjie van Jesus wat ek in my kop het?
- Wie, sê ek, is Jesus?
- Ons het verlede Sondag begin praat oor hoe belangrik dit is dat ons, kom ons sê maar, ’n suiwer prentjie van Jesus moet hê.
- Dat ons ’n prentjie van Hom sal hê wat gevorm is deur die Heilige Gees en die Woord van God.
- ’n Verkeerde of ’n skeefgetrekte prentjie van Jesus, so het ons verlede
Sondag gesê, kan ons op ’n dwaalspoor laat beland. - Dan volg ons nie vir Jesus soos Hy dit van ons verwag nie, maar dalk
sommer soos ons dit goed dink, want dan het ons ’n verkeerde prentjie van Jesus wat ons lei.
Vandag wil ons dan nog ’n keer stilstaan by prentjies van Jesus, en dan spesifiek by Bybelse prentjies van Hom.
- En wat baie belangrik is, is dat ons ons eie prentjies van Jesus steeds
verder moet laat vorm deur die Bybelse prentjies van Hom. - Ons moet by die Bybel bly leer hoe om oor Jesus te dink en te praat.
- Daarom het ek mos ook verlede Sondag vir u gevra om ’n bietjie huiswerk te doen en een van die 4 evangelies deur te lees, as u sou kon!
- En om, terwyl u lees, te vra: Hoe word Jesus in die Bybel vir ons geteken?
- Maar kom ons kyk dan vanoggend ook hier in die erediens na 3 van die prentjies wat die Bybel vir ons van Jesus teken.
- En heel eerste is daar dan die baie bekende prentjie van Jesus as ons
Verlosser. - In Luk. 2:11 lees ons hoe ’n engel in die nag van Jesus se geboorte sy
goeie nuus aan die skaapwagters oorgedra het. - Sy woorde was: “Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die
Verlosser gebore, Christus die Here!” - Die Verlosser is gebore, het die engel gesê.
- En ons weet natuurlik almal wat verder gebeur het.
- Hoe Jesus hier op aarde geleef en gewerk het.
- En toe later aan ’n kruis vasgespyker is.
- En met sy dood aan die kruis vir ons almal se sonde betaal het.
- Daar aan die kruis het ons Verlosser, Jesus, ons losgekoop van al ons
sonde. - En dit beteken prakties dat ek vandag my sonde kan bely teenoor die
Here, en dat Hy my vergewe, en van my sonde verlos. - En dan? – dan is ek ’n verloste mens!
- En die Een wat dít vir my kom moontlik maak het, is die Verlosser, Jesus Christus.
Maar nou wil ek u op hierdie punt ook graag herinner aan ’n misverstand wat daar by ons kan bestaan.
- En dít is dat ek kan dink verlossing beteken maar net dat ek van my sonde verlos moet word sodat ek die ewige lewe kan ontvang.
- Jesus moet my asb. tog net help om in die hemel te kom!
- Maar dis baie duidelik in die Bybel dat Jesus se verlossing reeds hier op aarde van my ’n nuwe mens wil maak.
- Paulus sê in Ef. 4:22 tot 24: “Hou dan op om te lewe soos julle vroeër
gelewe het; breek met die ou sondige mens in julle wat deur sondige
begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God.” - Dit is baie duidelik: ons Verlosser, Jesus, wil reeds hier op aarde van ons nuwe mense maak.
- En daarom wil Hy ons bv. help om nie ander te haat nie, of ander uit te buit of te bedrieg nie, of om teen mense van ander rasse of ’n ander
geslag as ons te diskrimineer nie. - Ja, Jesus verlos ons wel om die ewige lewe te kan ontvang.
- Maar sy verlossing het ook alles te doen met ons lewe hier en nou, elke dag.
- En daarom rym dit nie as ek sê Jesus is my Verlosser, maar ek leef nie
soos ’n verloste mens nie. - Ek leef nie soos die nuwe mens waarvan Paulus praat nie.
- Nee, ons Verlosser, Jesus, wil nou al, hier op aarde, van ons nuwe mense maak wat al meer volgens die wil van God leef!
- En dan gaan dit oor my hele lewe wat nuut moet word, oor my hele lewe wat deur Jesus se verlossing verander moet word.
- Jesus, ons Verlosser, wil ons hele lewe nuut maak!
Maar kom ons beweeg na ’n volgende prentjie wat die Bybel vir ons van Jesus teken.
- Jesus is nie net ons Verlosser nie, Hy is ook ons Leermeester.
- Op ’n hele klomp plekke in die Nuwe Testament word daar van Jesus as ’n rabbi of ’n leermeester gepraat.
- Sy dissipels noem Hom partykeer so, en selfs die Fariseërs en ook ander van wie ons in die Bybel lees, het by geleentheid van Jesus gepraat as die “leermeester” van sy dissipels.
- En natuurlik is dit vir ons vandag nie moeilik om te verstaan dat Jesus in daardie tyd ’n leermeester genoem is nie.
- Dink maar net aan al die belangrike waarhede en wyshede wat uit Jesus se mond gekom het en vir ons in die Bybel opgeteken is.
- Dink spesifiek aan Jesus se bergpreek en al die aktuele onderwerpe wat Hy daarin bespreek het, van rykdom en armoede, tot bekommernis, en versoening, en vergelding, en liefde vir ons vyande, en gebed, en nog baie ander.
- Ek glo nie daar was een belangrike saak van daardie tyd waaroor Jesus nie met sy dissipels en baie ander mense gepraat het en vir hulle geleer het nie.
- En Hy het dit met groot gesag gedoen, met soveel gesag dat ons vandag
nog steeds by sy voete kan gaan sit en by Hom kan gaan leer. - So, Jesus is nie net ons Verlosser nie, maar ook ons Leermeester.
- En ek moet ook nooit só daaroor dink dat Hy my op ’n dag iewers in die verlede verlos het, en nou is alles in my geloofslewe agter mekaar en afgehandel nie.
- Nee, saam met die verlossing wil Jesus ons ook elke dag leer en onderrig.
- En ons? – ons kan ook nie anders as om elke dag by Hom te wil leer nie.
- Ons kan nie anders as om ons eie onkunde en dwaasheid te erken en
ware wysheid by Jesus te gaan soek nie. - En ons hoef gelukkig nie na ’n kollege of universiteit toe te gaan om
leerlinge in Jesus se klas te wees nie. - Ons hoef ook nie duur klasgeld te betaal of ons klasse te staak omdat ons dit nie verder kan bekostig nie.
- Nee, ons kan sommer net daar waar ons is, stil in ons huise, of saam met ons Omgeegroep, of met ander medegelowiges, of waar ookal, net daar waar ons is, kan ons leerlinge van Jesus wees.
- Ons het eintlik net ’n Bybel en ’n oop en biddende hart nodig.
- En dan is ons reg om by ons groot Leermeester, Jesus, te leer.
- Hy is nie net ons Verlosser nie, maar ook ons Leermeester wat vir ons
dieper en dieper wil inlei in sy waarheid en in die uitleef van sy liefde.
Maar nou ek wil ook graag vir u aan ’n derde prentjie herinner wat die Bybel vir ons van Jesus teken.
- En dít is die prentjie van Jesus as ’n vriend.
- In Joh. 15 het ons vanoggend gelees hoe Jesus vir sy dissipels gesê het
dat Hy hulle nie meer ondergeskiktes noem nie, maar vriende. - Hulle was nou sy vriende en Hy hulle groot Vriend.
- En Jesus se bekende woorde aan sy dissipels in vers 13 was: “Niemand
het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.” - En dít beskryf mos wat Jesus aan die kruis gedoen het – Hy lê daar sy
lewe af vir sy vriende. - Hy doen dit vir die dissipels van daardie tyd, maar ook vir elkeen van ons wat vandag in Hom glo en Hom as sy dissipel wil volg.
- Hy lê sy lewe af vir sy vriende.
Nou, op ’n manier, dink ek, is dit nogal verrassend dat Jesus die dissipels sy vriende genoem het.
- Hy is tog die Seun van God.
- Hy is tog die Woord wat mens geword het – God self wat by ons kom bly het.
- En daarom, dink ek, is dit op ’n manier nogal verrassend dat Jesus die
dissipels sy vriende genoem het. - En dan ook dat ons aan onsself vandag as sy vriende kan dink!
- Maar natuurlik het Jesus baie verrassende dinge gesê en gedoen!
- En dis wonderlik om aan jouself te kán dink as sy vriend.
- Want ’n vriend is tog iemand baie spesiaal in jou lewe.
- Dis iemand met wie jy ’n besondere verhouding het, ’n naby verhouding.
- En die goeie nuus is dan dat ons nou in ’n vriendskapsverhouding met
Jesus kan staan. - Al sien ons Hom nie meer hier by ons nie, Hy noem ook vir ons vandag sy vriende.
- Nie meer sy ondergeskiktes nie, maar sy vriende.
- En as daar een ding is wat uitstaan van ’n mens se vriende, is dit mos dat jy op hulle kan vertrou.
- Dat jy werklik op hulle kan staatmaak.
- En dat hulle altyd daar is vir jou.
- En ek glo dít is ook hoe ons aan Jesus kan dink in ons eie lewens.
- Ek kán op Hom vertrou.
- Ek kán werklik op Hom staatmaak.
- Hy ís altyd daar vir my.
- Hy ís my Vriend op wie ek ten volle kan vertrou.
Ons probleem is maar baie keer dat ons sukkel om ander te vertrou.
- Dalk het mense my al te veel teleurgestel of seergemaak in my lewe.
- En nou sukkel ek sommer om enigiemand te vertrou.
- En dalk sukkel ek ook om op Jesus te vertrou.
- Om werklik in vertroue met Hom saam te leef soos ’n vriend saam met sy grootste Vriend.
- Maar ek glo Jesus kom nooi ons ook elkeen vanoggend nog ’n keer om sy vriende te wees.
- En om daarom ook vir Hom te vertrou met al ons behoeftes, en al ons
vrese, en al ons bekommernisse, en al ons hartseer, en al ons
eensaamheid, of wat ookal. - Ja, ek glo Hy nooi ook vir my, Hugo, om bv. in my werk as predikant op
Hom as my groot Vriend te vertrou. - En ek wil dit graag vir u toelig.
- Ek lees iewers ’n baie treffende aanhaling.
- Dis die woorde van ’n predikant wat pas ’n preek gelewer het.
- En met ’n preek weet jy as predikant mos nie regtig hoe dit die harte van mense geraak het nie.
- En of die Here iets in die preek gaan gebruik in iemand se lewe nie.
- Dít is altyd die stuk onsekerheid van ’n predikant wat preek.
- Maar nou wil ek graag vir u sê wat die predikant wie se woorde ek wil
aanhaal, toe gesê het. - Net nadat hy op ’n keer gepreek het en die diens verby was, het hy
blykbaar rustig iewers geloop en fluit. - En toe iemand vir hom daaroor uitvra, oor hoekom dit lyk of hy so
ontspanne was oor wat pas in die kerk gebeur het, was die predikant se antwoord, in Engels: “I’m learning to trust our active God with the
outcome.” - Ek is besig, sê hy, om God te leer vertrou vir die uitkoms van hierdie
preek. - En hy kon net sowel gesê het: Ek is besig om ons groot Vriend, Jesus, te
leer vertrou vir die uitkoms. - En sal dit nie wonderlik wees as ons almal kan groei, en ook kan aanhou
groei, in ons vertroue op die Here nie! - Dat ons in alles in ons lewe voluit op Hom kan leer vertrou vir die uitkoms!
Die Bybel teken vir ons baie prentjies van Jesus.
- Vanoggend kon ons maar net so vinnig by 3 van hierdie prentjies stilstaan.
- Maar elkeen van hulle is só belangrik.
- Want hulle sê vir ons dat Jesus ons Verlosser is.
- En ons Leermeester.
- En ons grootste Vriend.
- En as ons Hom só voor ons geteken kan sien, soos die Bybel Hom vir ons teken, dan sál dit ons help om Hom op die regte manier te kan volg.
- Dan sal dit ons help om elke dag padlangs agter Jesus te kan aanloop en sy getroue volgelinge te kan wees.
AMEN
