Preek – 9 Junie 2019: "Jou stukkie in God se legkaart" – Hand 2:1-11
Verwelkoming:
’n Belangrike tema by Pinkster is vreugde/blydskap: die ontdekking dat ek deel is van iets groter as myself. Dat God my liefhet, gekies het en in my leef!
Kinders: julle bly op hierdie spesiale dag by ons om Pinkster en nagmaal te vier…
Votum:
So sal dit dan in die laaste dae wees, sê God: Ek sal my Gees uitstort op alle mense: julle seuns en dogters sal as profete optree; julle jongmense sal gesigte sien, julle oumense sal drome droom.
Gebed:
Skriflesing:
Hand 2
1 Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2 Skielik was daar ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. 3 Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. 4 Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen. 5 Daar het godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon. 6 Toe die mense die geluid hoor, het ‘n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie. 7 Verras en verbaas sê hulle toe: “Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs. 8 Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal? ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het.”
12 Hulle was almal verbaas en uit die veld geslaan. Party het vir mekaar gevra: “Wat kan dit tog beteken?” 13 Maar party het gespot en gesê: “Hulle is dronk.” 14 Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê: 15 Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar nege-uur in die môre. 16 Nee, hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het: 17 “Só sal dit in die laaste dae wees, sê God: Ek sal my Gees uitstort op alle mense: julle seuns en julle dogters sal as profete optree; julle jongmense sal gesigte sien; julle oumense sal drome droom. 18 Ja, op my dienaars en my dienaresse sal Ek in daardie dae my Gees uitstort, en hulle sal as profete optree.
21 So sal dit dan wees: elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.
Rom 8
14 Want as die Heilige Gees mense se lewens regeer, dan is hulle kinders van God. 15 God het vir julle die Heilige Gees gegee. Daarom is julle nie soos slawe nie, julle moenie bang wees vir God nie. Nee, God het julle aangeneem, julle is nou sy kinders, en die Heilige Gees help ons om vir God te sê “Vader.” 16 Ja, die Heilige Gees help ons om baie seker te weet dat ons God se kinders is. 17 Ons is God se kinders, en daarom sal God ook vir ons gee wat Hy vir ons belowe het. Ja, ons sal saam met Christus alles kry wat God gee.
Preek:
Julle almal het seker al ’n legkaart/puzzle gebou, net om aan die einde te ontdek dat van die stukke weg is! Selfs net een stukkie laat ’n mens nogal voel dat die legkaart nog net nie reg is nie; iets kom kort, die prentjie is nie klaar nie! Al wat jy kan sien is die gat!
Ons is besig met ’n reeks wat ons noem Padlangs agter Jesus aan. En in Pinkstertyd staan ons stil by die prentjie/simbool van die legkaartstukkie. Eerstens herinner dit ons as kinders van die Here dat ons nie die hele prentjie is nie. Die prentjie wat saakmaak is die kunswerk wat God maak deur Jesus en die Heilige Gees. En met die prentjie bedoel ons God se groot plan met ons wêreld. Sy groot doelwit wat Hy het met alles wat Hy gemaak het, en natuurlik ons sy kinders. En ons moet eers begin by die groot prentjie, die prentjie op die legkaart se boks; julle weet mos, sonder die prentjie op die boks kan ’n mens nie die legkaart bou nie!
Nou die Bybel teken vir ons hierdie prentjie op verskillende maniere. Jesus self, wie Hy is en wat Hy gedoen het, is natuurlik die belangrikste prentjie as ons God en sy plan wil verstaan (In hierdie prentjie op die skerm sien ons Jesus se gesig wat opgemaak is uit baie gesigte: my en jou gesig is ook deel van die gesig/kunswerk wat die wêreld sien!) In Jesus sien ons God wil die wêreld nuutmaak, beter maak; Hy wil mense heel maak, en vry maak; deur hulle lief te hê, deur hulle te vergewe, deur hulle aan te raak, deur by hulle te kuier en saam met hulle te eet, deur hulle te vertel van sy Vader.
Nog so weergawe van die prentjie/kunswerk van God se groot plan kry ons in die Pinksterstorie. (Mens kan mos dieselfde ding van verskillende kante af teken en dan verskillende goed raaksien.) En hierdie prentjie is die regstelling van iets wat al lank terug verkeerd geloop het. So kom ons onthou eers gou van die “lelike” prentjie.
In Gen 11 kry ons die storie van die toring van Babel. Die Bybel vertel vir ons dat die mense op daardie stadium almal nog net een taal gepraat het. Ons sien hoe die mens op daardie stadium gedink het hulle is die hele prentjie; sonder God. Hulle wou ’n toring bou wat tot in die hemel strek; hulle wou net soos God wees; vir hulleself “naam maak”. En toe het God hulle projek onderbreek deur vir hulle verskillende tale te gee, sodat hulle mekaar nie kan verstaan nie; en mense het toe oor die aarde versprei en die verskille het gemaak dat hulle nie oor die weg kon kom nie en met mekaar baklei het.
Fast foward nou weer tot by Pinksterdag. Daar is mense uit al die nasies (al die volke met hulle verskillende tale) van die wêreld in Jerusalem bymekaar wat deel raak van God se prentjie/kunswerk. En hulle hoor elkeen hulle eie taal!! Let op, God maak nie almal dieselfde nie, ons almal bly verskillend, maar ons word almal saamgebring in sy plan. Wat ons gebreek het maak God weer heel. Die lelike prentjie word weer mooi. Ons word almal deel van sy kunswerk, ’n stukkie in sy legkaart.
En dit bring ons by die heel belangrikste punt van Pinkster. Almal wat in Jesus glo is God se kind en ontvang die Heilige Gees. Niemand word oorgeslaan of uitgelaat nie. En dit beteken ook, maak nie saak hoe jou legkaartstukkie lyk nie, niemand is belangriker as iemand anders nie. Almal moet daar wees om die legkaart te voltooi! Seuns en dogters, jongmense en oumense….
Daar is nog een prentjie wat van hoe God werk en van sy plan wat ek gou met julle wil deel; oom Gielie het ook in die week daarvan vertel. In Joh 6 kry ons die storie van Jesus wat vir die skare kos gegee het. Op ’n stadium vertel Andreas vir Jesus van die seuntjie met die vyf brode en die twee vissies; en dan sê hy: “Maar wat is dit vir so baie mense?” Maar wat is dit? So dink ons ook baie keer oor dit wat ons het om te gee, of ander mense sê dit vir ons: wat is dit nou? Of “wie is ek nou?” “Wie is jy nou?!” Jy is maar net ’n kind. Wie is jou nou? Jy is oud, of gestremd of arm, of nie cool nie, of watter naam ons mekaar ookal noem. Wat is dit nou wat jy het om te bring?!
Maar dit is as ons vergeet wie Jesus is en wat Hy kan doen. En die Heilige Gees se werk is om ons vas te maak aan Jesus sodat ons kan voortgaan om sy werk te doen deur sy krag. Hy vat dit was ons kan gee (soos die seuntjie se vissies en broodjies) en gebruik dit om ’n verskil te maak, groter as wat ons kan dink.
Niemand het die reg om vir jou te sê jy maak nie saak nie of jy het niks om te gee nie. Rom 8 sê “almal wat hulle deur die Gees van God laat lei is kinders van God.” En dit is almal wat in Jesus glo. En omdat dit vir ons so onwerklik is om te glo dat ons regtig kinders van God is, stuur God sy Gees tot in ons hart om dit aan ons binnekant te fluister sodat ons dit kan ervaar. In ons roep Hy uit: Abba! Ons is nie God se slawe nie. Wat beteken dit? God is nie ons baas wat ons net wil gebruik om vir Hom te werk nie. Hy is ons goeie, hemelse Pa wat ons liefhet. Ons hoef nie vir Hom bang te wees nie.
Ons deel in al die voorregte wat die kind van ’n Koning het. Ons verteenwoordig nou vir Hom in die wêreld. (Soos jy wat jou skool verteenwoordig op die sportveld). Jy raak deel van sy plan; van sy prentjie/kunswerk. Elke legkaartstukkie is belangrik! Elke liewe een moet daar wees, anders is die prentjie onvoltooid.
Daarom moet ons leer om mooi te luister na ons Vader se stem wat deur die Heilige Gees in ons harte praat. Want daardie stemme (en partykeer is dit ons eie stem in ons gedagtes) wat sê: “wat is dit nou wat jy bring?” “Wie is jy nou om iets te kan beteken?” hou aan. Maar hulle praat nie die waarheid nie, maar God praat altyd die waarheid. En as jy mooi luister en mooi kyk, sal jy sien hoe die Here jou wys: op jou unieke persoonlikheid, wat jy voel en dink, jou talente en gawes, waarin jy goed is en waarvan jou hou, die lesse wat jy leer, die mense wat jy ken, die dinge wat jy het; sommer alles wat jou die unieke mens maak wat jy is.
En jy sal raaksien dat jy ’n unieke geskenk van God aan hierdie wêreld is. Dat Hy jou bedoel het en dat jy hier is vir ’n rede. En dat jy ’n legkaartstukkie is in sy groot kunswerk, in sy groot en wonderlike plan om hierdie wêreld nuut te maak.
Jy moet jou legkaartstukkie bring. En dit sal op baie verskillende maniere kan gebeur. Jy sal soos die seuntjie met die broodjie en die vissies moet wees en die kans vat. Jy sal moet opstaan, en wat jy het moet gee. Sonder hom op daardie dag sou ’n skare van meer as 15 000 mense honger gebly het. As jy nie jouself bring nie, as jou legkaartstukkie wegraak, is daar ’n gat in God se kunswerk. Jy het nog geen idee hoe baie Jesus met jou kan doen nie. Amen.
Nagmaal:
Nog ’n manier hoe Jesus kom en deur sy Gees in ons hart fluister: ons herinner dat Hy in ons leef. Dat ons regtig sy kinders is. Dat Hy ons help om soos Hy te wees omdat ons deel raak van Hom. Ons neem sy liggaam in en ons word sy liggaam: ons gaan verteenwoordig Hom in die wêreld.
Hy is hier; so seker as wat ons die brood en wyn sien en ruik en voel en proe. Gee al jou sintuie. Dink daaraan dat Hy hier is. Hoor sy Gees diep in jou hart wat fluister: Jy is my liefste kind wat ek deelmaal van my mooiste kunswerk.
