PREEK:

Ek wonder wie van julle onthou nog vir Hägar, die Verskriklike? Ek het sy humor altyd baie geniet, soos dié ene van sy vrou, Helga en dogter, Honi. …. Hier gaan dit oor keuses en om die regte keuses te maak in die lewe.  As dissipels van Jesus, is dit belangrik hoe ons dink oor dinge, hoe ons kyk na mense en dinge, wat ons leer op die pad agter Jesus aan, maar seker die heel belangrikste op die pad, is die keuses wat ons elke dag maak. En ons maak almal elke dag keuses – of ons nou wil of nie. Saam met die regte keuses, is dit natuurlik belangrik om ook die regte prioriteite te hê om die regte besluite te kan neem. Dis waaroor ons vanoggend by die Here lig wil opsteek.

Vir die Israeliete, wat deur ‘n baie moeilike tyd gaan agv hul eie swak besluite, wil die Here steeds lei in hul keuses. Ons het gelees:

(21)  Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ‘n stem hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs.” 

Jesus Self wys ook vir ons die pad aan as Hy in Matt 6 sê:

Mat 6:31-33  Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie.  (32)  Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. (33)  Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

Ook Paulus wys ons op die belangrikheid van ons denke sodat ons die regte besluite in ons lewens kan neem.

Rom 12:2  Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

Want, jy sien, as ons die verkeerde keuses in ons lewens maak (en wie van ons het nog nie?), kan dit soms baie slegte gevolge in ons lewens hê. Verkeerde keuses maak dikwels ook dat ek die lewe wat ons Here aan ons belowe het op aarde, nie beleef en leef nie. Wat dit nog moeiliker maak, is dat ons dikwels weet wat die regte keuses is, maar dit nie wil maak nie. Ek wil dat ons vanoggend veral sal dink aan die prioriteit van ons keuses. Wat die belangrikste is en wat minder belangrik is. Dis gewoonlik nie so moeilik om tussen wat is reg en wat is verkeerd te kies nie, maar om te onderskei tussen ook goeie dinge in ons lewens.

Ek vra eenkeer met ‘n kinderdiens vir die kinders: “Wat is vir jou die wonderlikste ding om te doen?” Skuins voor my steek ‘n seuntjie sy hand verwoed op. Ek sê vir hom: “Ja?” “Oom, om my Bybel te lees!” Ek was op die punt om vir hom te sê hy lieg maar het toe maar liewers gesê: “Mmmmm… interessant…”

Hy het geweet dit moet seker vir hom die belangrikste ding in sy lewe wees (as hy na die dominee se preke luister), maar ek kan jou ‘n brief met ‘n polisiestempel op gee dat dit nie vir hom die wonderlikste ding is om sy Bybel te lees nie!

Maar dis nie net die seuntjie wat in daardie slaggat trap nie…

Kom ons maak gou <n proefneming: Dink gou aan die drie dinge in jou lewe wat jy weet die belangrikste in jou lewe is en nommer hulle van die heel belangrikste tot die minder belangrike. En hier dink ons nou aan dinge soos jou huwelik, jou gesin, jou verhouding met die Here, jou ontspanning, jou werk, troeteldiere, eet, kuier, slaap ens. Kyk gou (en wees baie eerlik met jouself), aan watter een spandeer jy die meeste tyd van die drie. Ek dink in die meeste gevalle spandeer ons die meeste tyd aan die minder belangrike dinge in ons lewens en die meeste tyd aan die minder belangrike dinge. Ek is self baie skuldig daaraan.

Hoekom is dit so dat ons so sukkel daarmee om die dinge wat die belangrikste in ons lewens is of behoort te wees die beste en meeste tyd te gee? Hoekom kom die eerste dinge in ons lewens dikwels nie eerste nie en baie maal laaste? Daar is <n paar redes voor: (1) Gewoonlik is dit maklik om te besluit tussen <n goeie ding en <n verkeerde ding. Om bv. te besluit om liewer werk toe te gaan/skool toe of liewer laat te lê die oggend: daarmee sukkel ons nie so baie nie. Maar die probleem kom wanneer daar baie regte dinge is om te doen en ons het net tyd vir een of twee. Wat moet ons dan kies? Iemand het geskryf:

Die vyand van die beste is die goeie.

En dis so waar. Ons dagprogram en ons lewens is baie maal nie oorlaai met slegte goed nie, maar juis soveel goeie verdienstelike dinge. Met ons tyd is dit dikwels soos kombuiskaste vir <n vrou. Daar is nooit genoeg nie! Ons maak die kombuiskaste van ons lewens net voller en voller selfs met goeie dinge maar binne raak ons al leër en leër. Wat moet ons doen?

Wat is dan die belangrikste dinge van die lewe?

Paulus sê dit kort en kragtig:

“…maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is”.

Of in Jesus se eie woorde:

Mat 6:33  Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

Ons sukkel elke dag om te bepaal wat die belangrikste dinge is, ons stel skedules op, ons maak en kanselleer afsprake, maar Jesus sê: Die eerste dinge wat julle moet doen is om te doen wat belangrik is vir die Here se Koninkryk en wat sy wil is. En nou moet ons asb nie dink dat dit net vir Sondae en ons sg geestelike lewe bedoel is nie. As Jesus dit sê, dan bedoel Hy die dinge waarmee ons elke dag besig is: Ons werk, ontspanning, boerdery, kuier, skoolwerk en praatjies ens. En die manier om die regte keuses te maak, is juis om reg te dink oor dinge en my lewe.

Die bekende Stephen Covey (skrywer van die boek The 7 Habits of Highly Effective People gebruik die beeld van ‘n kompas en ‘n horlosie: Albei belangrike dinge in ons lewens. Wanneer <n skip op die oop see is en hy moet by <n plek uitkom, wat is die heel belangrikste? Dat hy betyds by die regte plek sal aankom of dat hy by die regte plek aankom? Natuurlik dat hy by die regte plek aankom! Dis beter dat hy laat by die regte plek aankom as dat hy betyds by die verkeerde plek aankom. En dit is <n baie belangrike saak in ons lewens. Die Here wil ons (soos vir die Israeliete van jare terug) lei op die ware Noord – die regte pad. Dan is sy Woord en Gees die kompas in ons lewens. Maar as ons nie sy kompaslesing volg nie, dan  is die horlosie al instrument wat jy het op jou lewenspad. Dan jaag jy heen en weer om betyds te wees vir alles en doen jy die dinge waarvoor jy lus het en wat jy dink dringend is, maar waar gaan jy uitkom? As jy egter die Here Jesus Christus liefhet en volg, dan loop jy met <n kompas in die hand. Dan kan jy elke dag en in alles vra: Is dit die wil van die Here en soek ek sy koninkryk? Doen ek die regte dinge?

Nog ‘n bekende skrywer oor leierskap en prioriteite, Gordon McDonald, gebruik die beeld van ‘n seiljag. Ek weet dat ‘n seiljag baie mooi dinge op kan hê: Lekker kajuite, ‘n “state of the art” navigasiestelsel, seile wat nie geklop kan word nie, ‘n wonderlike klankstelsel en alles wat kan oop- en toemaak. En dis alles dinge wat mens kan sien en mooi is. Maar die heel belangrikste van ‘n seiljag, is wat onder die waterlyn aangaan. Dat die jag se kiel reg en stewig is, sy stuur, die nate reg gesweis is. As daar ‘n gat in die romp bokant die waterlyn kom, kan die jag nog sy bestemming bereik, maar as dit onder die waterlyn is, sal hy sink.

Die belangrikste besluite in jou en my lewe is gewoonlik ook die besluite wat onder die waterlyn is. Wat nie “flashy” of deur baie mense gesien kan word nie, maar wat bepalend is of ek die lewe gaan leef wat Jesus bedoel het ek moet of nie.

Die Here roep my en jou om ook weer na ons eie prioriteite te kyk. Wat is vir jou die belangrikste dinge in jou lewe? Hoe dink ons oor die lewe? Waarop fokus ek? Is dit dinge bo of onder die waterlyn? As ek en jy nie daagliks in ‘n verhouding met Jesus Christus lewe nie, dan sal die horlosie baas wees in jou lewe en sal daar geen rigting in jou lewe wees nie en sal jy uiteindelik <n leë lewe hê. Jy sien, dis nie vir die Here so belangrik dat ons baie dinge sal doen nie. Ons het gelees:

“Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Nie ons besigwees en “image” is wat vir die Here eerste staan nie, maar dat ons die regte dinge, die eerste dinge eerste sal doen. En daarvoor moet ons op die regte koers wees. Is jy op die regte koers? Leef jy in <n lewende verhouding met die Here, of is Hy ook maar <n klein deeltjie van jou besige lewe? Dan sal ek en jy nie kan onderskei wat God se wil, wat die belangrike dinge in ons lewens is nie.

Daar kom tye in elkeen van ons lewens wat ons soms teruggeruk word om weer <n kompaslesing te neem. Jou man, vrou of kind of ouers sterf en jy verwyt jouself soms: As ek maar meer tyd aan ons verhouding gegee het, as ek maar meer aandag aan my kind gegee het en nie so besig was nie, as ek maar nie so besig was om die leer van sukses te klim nie en eerder op koers gebly het. Jy kom agter jou kind is besig om van die pad af te gaan, jy vind uit dat jou seun verdowingsmiddels gebruik, of jou huwelik is besig om te verbrokkel en egskeiding loer voor die deur, jy speel bankrot….. dis in tye soos die dat die kompas van die Here weer lewensgroot voor ons kom staan want dan kom ons agter dat ons baie besig was maar dat die eerste dinge nie eerste gestaan het in my lewe nie. Ja, jy was besig van vanmore tot vanaand, maar was jy op koers? Het jy die koninkryk van God gesoek en sy wil? Ek lees dat iemand gesê het dat min mense op hul sterfbed sal sê: “Ag, het ek tog maar meer tyd op kantoor deurgebring en minder tyd by my vrou/man en kinders deurgebring”. Maar baie wat hulself verwyt dat hulle nie meer tyd aan hul familie gegee het nie.

Nou staan ons voor die Here met ons hande in ons hare en sê: “Here, hoe nou? Hoe kan ek uit hierdie koerslose malle gejaag van die lewe kom en <n lewe van oorvloed beleef wat u ons belowe.” Die Here het vir ons die antwoord gegee. Die belangrikste dinge is wat sy wil is en sy koninkryk soek. Wat is dit?

Mat 6:33 begin met ‘n ANEE@. Eers wil Hy vir ons wys wat nie die belangrikste dinge is nie. Dan noem Hy die dinge soos wat ons eet en drink en aantrek – dus die materiële dinge. Dit, sê Jesus, is NIE die belangrikste dinge in die lewe nie. Wanneer ons dus die eerste dinge eerste gaan doen in ons lewens, moet ons begin deur op te hou met iets. Op te hou om ons daagliks te bekommer oor ons geld in die bank, of ons tekort daaraan, ons besittings, ons kar, ons klere, ons beleggings, daaglikse behoeftes, die toekoms van ons land en ons kinders, die politiek. Maar hoor nou mooi: Jesus sê nie dat die dinge onbelangrik is nie. Hy sê ons moet die dinge nie eerste stel in ons lewens nie. Ons kan God nie dien en ook vir Mammon nie. So eers moet ons <n paar dinge en bekommernisse los. En dan? Dan moet ons strewe en soek na wat God se wil vir ons lewens is. Wat is die dinge?

Dit is om in my koop en verkoop en wasgoed was en kuier en werk en dink en uitgee telkens te vra: Is dit die wil van die Here? Maar dit is ook dinge waarby ons baie maal nooit uitkom nie.

Ongelukkig is dit dikwels dinge wat (in sakemanstaal) Abad news for business@ is. Dinge wat die Here hoog ag in ons lewens op aarde is bv.: <n gelukkige en groeiende huwelik, sinvolle gesinsverhoudings, tyd met jou man en vrou en kinders, diep vriendskappe, om ander te dien met wat jy is en het, egte kultuurbelewing, natuurgenot, om te getuig van sy liefde in ons lewens, om andere te dien, <n daaglikse stiltetyd en huisgodsdiens. Die dingetjies wat in ons oë klein is, is baie maal die groot dinge in God se oë. Sien jy nog die voëls in die struike voor jou kamervenster raak, hoor jy nog die kiewiete teen skemer, is bome nog vir jou kunswerke van God, sien jy nog iets van God se kuns in die wolke, is die berge nog vir jou <n wonder van God’s skepping, lees jy nog goeie boeke, gaan sit jy soms net lekker agteroor en raak verlore in mooi musiek, geniet jy nog die vuur van die braaivleis net soveel as vleis, praat jy nog met jou hond, raak jy nog aan die plante in jou tuin, gaan stap jy soms – rustig, doen jy nog dinge vir mense wat niks vir jou kan beteken nie, geniet jy nog soms <n lawwe paar woorde met jou kinders of kleinkinders, lag jy so af en toe vir jou eie stupidgeid. As jy vir die dinge nie tyd het nie, het jy nie tyd vir die belangrike dinge in die lewe nie. Koos du Plessis sing in die liedjie: Skadu’s teen die muur so: “Eenvoud is die vreugde van die lewe, dis gee en neem net wat daar is. Dis dankbaar eet van elke skewe snytjie brood wat liefde is@.

Dalk jaag ons so omdat ons te veel het en te veel moet doen om dit te hou. Dalk moet ons eenvoudiger leef  om die ware rykdom in ons lewens te ontdek en die stem van God se Gees helderder te hoor sodat ons tyd kan hê en die wil sal hê om sy wil te doen en sy vrede en vreugde in <n gejaagde wêreld kan beleef.

Natuurlik vra die Here nie vir ons om op te hou met my werk of lui te raak of <n bedelaar te word nie, maar Hy vra dat die belangrike dinge vir Hom ook die belangrike dinge vir my sal wees. Hy vra dat ons met <n kompas sal loop ipv <n horlosie.

En weet u, dan gee die Here vir ons nog ‘n wonderlike belofte ook daarby.

Wanneer ons God se eerstes ook ons eerstes maak, wanneer  God se belangrikstes ook my belangrikstes word, dan maak God my vol met die liefde van Christus sodat ek daarvan oorloop. En dit, lyk dit vir my, loop saam met <n lewe van eenvoud en klein dingetjies. Dingetjies wat vir God die belangrike dinge is.

Landrover het ‘n waar leuse “One life. Live it.” Ek dink hulle het ‘n punt beet.

Amen.

 

 

 

 

 

 

css.php