Preek – 8 Desember 2019: Verlosser – Lukas 2:8 -14
TEKS:
Luk 2:8-14 Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. (9) Meteens staan daar ‘n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik. (10) Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. (11) Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! (12) En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê.” (13) Skielik was daar saam met die engel ‘n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê: (14) “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!”
PREEK:
Ek wil veral vanoggend fokus op die een vers:
(11) Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!
Ek onthou nog hoe my oorlede skoonma jare terug vertel het van ‘n ryk vriend van hulle wat graag sy vriende bederf het met geskenke maar self nie geskenke kon ontvang nie. Elke keer as hulle vir hom net ‘n persentjie gegee het, het hy gewoonlik 2x soveel teruggegee in geskenke. Nou weet ek: dit klink baie mooi as iemand weer ‘n persent teruggee, maar dit het my skoonouers altyd moedeloos laat voel. Hulle het later nie meer geweet wat om te doen net om iets te gee sodat hy nie weer iets groters terugee nie. Die oom is nou ook al oorlede, maar hulle het elke keer die gevoel gehad hy wil elke keer vergoed of betaal vir wat hulle gee. So asof hy wou verdien wat hulle vir hom gee. Hy het dit nie so bedoel nie, maar eintlik het hy my skoonouers in die gesig gevat as hy elke keer wou teruggee as hulle goed wou wees vir hom.
Maar ons het ook al in dieselfde strik getrap. Dit het al met ons gebeur dat familie voor kersfees by ons ‘n draai kom maak en dan ‘n kersgeskenk saambring. Dan is ons baie verleë as ons nie een vir hulle het nie want ons het nie verwag hulle gaan iets gee nie. Dan lieg ons gewoonlik met iets soos: “Ons het iets vir julle ook, maar dis nog nie opgemaak nie” of “Ai, dis lê nog by die huis op die kombuistafel.” En dan is jy volgende oggend vroeg by die winkel om ‘n persentjie te koop om terug te gee.
As ‘n vriend sommer uit die bloute vir jou ‘n horlosie gee, sal jy baie vriendelik wees en dit dalk neem, maar in die stilligheid wonder: “Wat wil hy nou van my hê? Wat is agter die persent?” Die Engelse het ‘n spreekwoord wat sê:
“There is nou such thing as a free meal.”
Ons wil graag goed hê, maar ons wil darem ook voel ons het ietsie bygedra daartoe of behoort ten minste iets by te dra, al is dit ook hoe klein.
Dit is ook soms waar wanneer dit kom by ons verlossing en ons verhouding met die Here. Ons besef dikwels dat Hy eintlik alles gedoen het aan die kruis en ons sing dat alles genade, onverdiende guns alleen is, maar diep in ons binneste wil ons ook ‘n klein bydrae maak tot ons verlossing. Dis dan wanneer mens sulke dinge sê soos:
“Ja, ons word gered uit genade, maar jy moet darem ook jou deel doen.”
“God help hulle wat hulself help.” (Sê dit nou vir iemand wat in ‘n koma lê of verstandelik gestremd is)
“God sal jou red, maar ……”
Ons het dalk die ding in ons agterkop dat my redding so min og meer 90% God se deel is, maar darem ook 10% my deeel is.
Dalk bedoel ons dit goed as ons so dink, maar op ‘n manier mis ons eintlik die vreugde van Kersfees. Ons mis dit omdat ons dan nie verstaan wat dit beteken as Lukas sê dat dié kind, “…die Verlosser, Christus die Here!” is nie. Daar staan nie, “Hy help ons om verlos te word nie.” Nee, Hy is die Verlosser!
Verstaan ons nog wat dit beteken om in ‘n verhouding met Christus as my Verlosser te staan? Jy sien, dis baie meer as om in ‘n verhouding met jou ouers te staan of met jou kinders of ‘n vriendin of ‘n werkgewer of werknemer. Om in ‘n verhouding te leef met Jesus as my Verlosser, beteken iets baie meer. Miskien dink jy: “Wat is nou so anders? Ons het dit mos al baie gehoor en weet mos hoe werk dit.” Ekself het net weer besef dat ek dit nog nie ten volle verstaan as ek nie verstaan hoe nodig elkeen van ons ‘n Verlosser nodig het nie. Ons vriende en familie se gawes en persente is wonderlik, maar ons kan eintlik daarsonder lewe. Om die waarheid te sê: Ons verdien dit op ‘n manier want ons is ten minste hulle familie of vriend en ons het al goeie dinge vir hulle ook gedoen.
Iemand vertel my dat ‘n lewensredder, wat ‘n drenkeling uit die see moet red, soms die drenkeling eers katswink moet slaan sodat hy/sy gered kan word. As die drenkeling probeer om ook sy deel te doen, verongeluk hy net self sy eie redding!
Miskien verduidelik dit nie regtig wat dit beteken dat Jesus ons Verlosser is nie, maar as ons net besef dat ek en jy niks, niks kan doen om onsself te verlos nie – ons kan, met respek gesê, nie eers die “tip” betaal vir ons redding nie. Al wat ons kan doen, is om dit te ontvang met oop hande en harte.
En dit is waar vir ons ewige redding:
Efes 2:8 Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God.
Hoe meer ons nog dink dat ons ‘n paar persent bydrae kan bydra, hoe minder verstaan en beleef ons die redding wat van God kom. As ons die groot persent van God ontvang, gee Hy dit onvoorwaardelik.
Maar dit is nie net waar dat Jesus ons Verlosser is vir die ewige lewe na ons dood nie. Hoor hoe mooi sê Rick Warren (Purpose Driven Live) dit:
“ You don’t need a Saviour only because you might die tonight. You need a Saviour because you have to live tomorrow!”
Ons lewens loop dikwels nie soos ons dit beplan nie. Sommige van ons sukkel met ons humeure of met ‘n gevoel van minderwaardigheid of met dinge soos ontrouheid of woede. Dalk verslawing van een of ander aard. Dit kan ook die tronk van bitterheid wees of iemand vir wie ek nie kan vergewe nie. Jy dra dalk nog swaar aan ‘n egskeiding. Ons maak soms droog en kan nie altyd weer die skade regmaak wat ons aangerig het nie. Ons het van al daardie dinge ook verlossing nodig. Dis dan wat ons weer met Kersfees moet hoor as daardie selfde kind wat in doeke toedraai was, later vir jou en my kom sê:
Mat 11:28 Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.
Daar staan nie “Ek sal jou help met rus in jou lewe” nie. Daar staan: “Ek (ons Verlosser) sal vir jou rus gee.”
Dis tog snaaks dat, wanneer ek nog dink dat ek ook ‘n deeltjie moet doen vir my verlossing, ek die hele tyd nog skuldig voel want nooit, ooit voel dit of ek genoeg gedoen het nie. Ek dit wek dan weer skuldgevoelens by my op omdat ek besef dat ek dikwels nie paal nie haal nie.
Dalk het jy al baie hard geprobeer om verlos te word van aardse tronke maar ook van die ewige verdoemenis en elke keer weer geval in twyfel en ou gewoontes en ‘n donker lewe.
Vanoggend het ons by die doop weer gesien hoedat God sy liefde kom gee aan ‘n babatjie wat niks, niks kan teruggee daarvoor nie.
(11) Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!
As ek kom by die punt dat Jesus my Verlosser is en dit genoeg is, dan gebeur daar iets met ons. Dan word iets wakker in ons wat daardie nag gebeur het by die skaapwagters:
(13) Skielik was daar saam met die engel ‘n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê: (14) “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!”
As ek en jy verstaan en besef dat ons deur Jesus heeltemal van alles verlos is, dan kom daar net ‘n groot dankbaarheid oor ons lewens wat God net wil dank en eer. Dis dan wanneer ek dinge vir die Here doen en gee en my lewe wil verander. Nie om verlos te word nie, maar juis OMDAT ek verlos is. Dan wil ek met my lewe sê:
(14) “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!”
Amen.
