Preek – 7 Junie 2020: Drie-eenheidsondag - 2 Korintiërs 13:11-13

Votum

Psalm 8:4-9

Seën

Ek groet julle in die naam van die Vader, die Seun en van die Heilige Gees.

Boodskap

In Koninkrykstyd fokus ons meer op die werk wat die apostels gedoen het, nadat die Heilige Gees uitgestort is en Christene regoor die wêreld begin versprei het. Ons herdenk in hierdie tyd dat Christus spesifieke mense geroep en gestuur het, sodat ander van daardie tyd af reeds by hulle kon leer oor die wonderbaarlike dinge wat God deur Jesus gedoen het.

In Koninkrykstyd begin die werk van Christene, nadat Jesus Sy eie bediening op aarde voltooi het. Deur die krag van die Heilige Gees, laat Jesus nou die werk van Sy Koninkryk in die hande van mense oor en kry hulle opnuut die opdrag om Hom te verteenwoordig.

Hierdie opdrag is egter baie ouer as die vroeë kerk, ons het dit reeds van die heel begin af, toe die heelal geskep is: “Kom ons maak die mens na ons beeld” hoor ons. En “kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger”. Dit was God se hart, reeds by die skepping van mense – ons opdrag, ons doel, is om God te verteenwoordig.

Hierdie opdrag skrik mens dikwels af: hoe verteenwoordig ek die Skepper van die Hemel en die Aarde? Hoe weet ek waar om te begin?

Op hierdie eerste Sondag van Koninkrykstyd vier ons ook spesiaal die Drie-eenheid – God se wese as Vader, Seun en Gees. Dit is hierdie Drie-enige God wat ons gemaak is om te verteenwoordig. Dit is hierdie wese van God wat ons leer hoe om mens te wees.

Ons Skriflesing vir vandag kom uit 2 Korintiërs 13 en ons fokus spesifiek op die woorde waarmee Paulus ten einde sy brief aflsuit – die woorde wat ons byna weekliks hoor, kom ons luister lees hierdie gedeelte saam:

Skriflesing: 2 Kor 1311-13

Paulus se groetwoorde is vir ons bekend: die genade van Jesus Christus, die liefde van God en die gemeenkap van die Gees – dit is die woorde waarmee ons mekaar seën in die kerk.

Hierdie bekende woorde is egter ook dalk die sleutel tot die vraag “hoe verteenwoordig ek vir God?”, want om God te verteenwoordig, het ek eers nodig om God te ken en dit vra weer dat ek moet verstaan hoe die verhouding tussen Vader, Seun en Gees werk.

Hierdie verhouding word gekenmerk deur liefde, genade en gemeenskap en die Drie-eenheid is self die plan vir hoe ons lewens behoort te lyk. Ons opdrag as mense is om te leef binne-in en vanuit die liefde, genade en gemeenskap wat God self is.

In die Drie-eenheid sien ons wat liefde is – ’n Vader wat Sy seun stuur om ter wille van ander te sterf. Ons sien wat genade is – ’n Seun wat sonder enige voorwaardes, vrylik hierdie opdrag aanvaar en Sy lewe en bloed as geskenk vir mense gee. Ons sien wat gemeenskap is – ’n God wat mense nie alleen, as weeskinders wil agterlaat nie, maar wat eerder binne-in elkeen van ons kom woon.

Om hierdie tipe God te verteenwoordig is nie ’n angswekkende taak nie – dit is miskien hoekom Paulus aan die einde van sy brief die Korintiërs aanmoedig en sê: “Wees bly!”

Wees bly oor die voorreg wat julle het om deel te hê aan die verhouding wat binne God self is.

Hy weet egter ook dat hierdie proses nie oornag gebeur nie, dat dit iets is waaraan mens moet werk – vir enige opdrag moet mens tog bietjie moeite insit. Daarom moedig hy die gemeente aan om te “streef na die geestelike volwassenheid”. Dit is ’n aanmoediging om te bly groei, om te bly toelaat dat die Gees in mens werk en jou gedagtes en optrede verander. Die Vrug van die Gees word immers mos nie oornag ryp nie…

Paulus leer ook in hierdie gedeelte iets oor hoe die gemeenskap van die Gees onder mense behoort te lyk:

“wees eensgesind” – deel dieselfde waardes en doel.

“Leef in vrede” – dit beteken nie net dat mens konflik vermy nie, maar dat God se vrede “wat verstand te bowe gaan”, wat veg vir geregtigheid en gelykheid, wat opstaan vir die swakkes, dat hierdie tipe vrede sal heers, in plaas van apatie en hande-in-die-lug-terugstaan.

“Groet mekaar soos broers” – dit sê iets oor die intieme verhouding wat daar tussen alle mense behoort te wees, aangesien ons familie, bloedverwante, gemaak word deur Christus en deur die gemeenskap van die Heilige Gees.

Om dus God te verteenwoordig beteken meer as net ’n na-aap, speel-speel met liefde, genade en gemeenskap:

Om God te verteenwoordig beteken my liefde lyk soos die Vader s’n: dit is onvoorwaardelik, dit is totaal onselfsugtig.

My genade lyk soos Christus s’n: dit nooi mense in, in plaas daarvan om mense op grond van enigiets te verstoot of weg te jaag.

My gemeenskap lyk soos die Gees s’n: dit ken geen velkleur of die inkomsteklas of geleerdheid nie. My gemeenskap word immers lankal nie meer bepaal deur mense nie, maar deur dit wat ek sien in Vader, Seun en Gees.

Ons het van die begin af die opdrag om God te verteenwoordig en in ’n tyd soos hierdie is dit miskien meer noodsaaklik as ooit om my lewe en optrede te evalueer:

Die liefde van God sou ’n masker dra om iemand anders se lewe te beskerm.

Die genade van Jesus Christus sou medelye toon teenoor die mense in ons samelewing wat nie die opsie het om te self-isoleer nie.

Die gemeenskap van die Gees sou nie ’n oop kerkgebou kies bo die lewens van brose mense nie.

Mag ons in hierdie unieke Koninkrykstyd ons opdrag baie ernstig opneem. Mag ons God verteenwoordig en nie onsself nie.

Seën

Mag die liefde van God, die genade van Jesus Christus en die gemeenskap van die Heilige Gees in jou optrede gesien word.

css.php