Preek - 7 April 2019: In ander se skoene - Lukas 10:25-37

Votum:

Jesus, U dink altyd aan ons, soos ’n ma of pa wanneer hulle kinders nie lekker voel nie. Gee dat ons ook altyd van U sal onthou…

Skriflesing:

Luk 10:25-37

Preek:

Ons is besig met die reeks “Padlangs agter Jesus aan” waar ons ontdek dat om in Jesus se voetspore te stap oefening verg. Daar was dalk al vir baie jare ’n “missing link” in ons dissipelskap pad. Ons het gedink dat inligting en inspirasie genoeg is, maar uit verskillende hoeke ontdek ons die belangrikheid van die vestiging van nuwe ritmes/gewoontes in ons lewe.

The Message se vertaling van Mat 11 van die gedeelte wat sê dat ons Jesus se juk op ons moet neem en van Hom moet leer, help ons hiermee: Walk with me and work with me—watch how I do it. Learn the unforced rhythms of grace. I won’t lay anything heavy or ill-fitting on you. Keep company with me and you’ll learn to live freely and lightly.” Ons is Jesus se vakleerlinge wat eerstehands by Hom leer hoe om ons lewe saam met Hom en sy Naam te leef. En soos ons leer om in sy voetspore te leef, leer ons ook om in ander mense se skoene te staan, want dit is presies wat Hy kom doen het. (En dit is dan ook die 4de prentjie waarby ons stilstaan, die skoen).

Volgens Tom Smith is die uitnodiging van hierdie spesifieke ritme om te leer om die volgende vraag in ons lewe te vra: In wie se skoene word ek genooi om te gaan loop? Die basis hiervan , sê Tom, is die inkarnasie, oftewel Jesus se menswording/vleeswording, die feit dat Hy ingestap het in die werklikheid van ons alledaagse lewe en dit kom heilig het. Daagliks moet die ritmes van ons lewenspatrone ons lei om in te stap in die mense se skoene wat Jesus ook sou kies; en telkens sien ons dat dit juis die randfigure was.

Jesus se gelykenisse het altyd die vermoë om ons te ontstel en ons lewens om te dop as ons bereid is om oop en eerlik daarna te luister. En hoe beter ons die storie ken, hoe moeiliker is dit natuurlik. As Jesus in ons buurt sou intrek, waar sou ons Hom aantref, wie sou Hy aanvat en in wie se skoene sou Hy loop? Of nader aan ons teks: Wie is my naaste en vir wie sluit ek my oë?

Die wetgeleerde in vanoggend se teksgedeelte is een van daardie ouens wat altyd moet reg wees; hy is ’n kenner in die uitleg van die Bybel. Hy is goed daarmee om die uitlegproses so interessant en ingewikkeld te maak dat ’n mens nooit eintlik by die uitoefening deel uitkom nie; baie soos ons ook maar: dikwels experts as dit kom by die uitleg van die Bybel, maar amateurs as dit kom by die uitleef daarvan.

Maar Jesus breek deur sy en ons verdedigingsmeganismes met ’n vraag en ’n storie (soos Hy so dikwels maak). En mag dit wees dat Hy selfs so ver gaan om Homself met sy Samaritaan in die storie te vereenselwig?! Maar voor ons daarby kom, kom ons herinner net weer aan die radikale vyandigheid wat daar was tussen die Jode en die Samaritane. Hulle kon mekaar nie verdra nie, en het alles verteenwoordig wat sleg was. Net in die vorige hoofstuk lees ons boonop nog dat ’n dorp van die Samaritane nie vir Jesus wou ontvang nie, omdat hulle geweet het Hy is op pad Jerusalem toe; hulle weet tog mens gaan vier die Paasfees/aanbid in Samaria! En op grond hiervan wil die dissipels vuur uit die hemel op die dorp afbid!

Jesus vertel ’n storie waarmee sy gehoor kan assosiëer. Hulle kan vereenselwig met die pyn van die onbekende man wat aangeval is, en natuurlik verwag hulle van die priester of die leviet om die helde in die storie te wees, maar beslis nie die Samaritaan nie! Daar is ’n sekere ritme in hierdie gelykenis wat Lukas vir ons oorvertel. Die priester het die man gesien, en ver langs verby gestap. Die Leviet het die man gesien en ver langs verby gestap. Maar toe die Samaritaan die man sien, het hy hom innig jammer gekry en hy het nie ver langs verby gegaan nie, hy het na hom toe gegaan. Die eerste tree om te leer om in ander mense te skoene te loop, is om net eers regtig mense in hulle nood raak te sien en om dan die afstand tussen ons te oorbrug. Ons moet nader gaan…

En dit is die inkarnasie; en dit is Jesus se menswording en ons roeping. Jesus het die kans gevat om nader te gaan. Net drie keer word daar in die evangelie van Lukas die Griekse terme gebruik wat ons vertaal met “innig jammer gekry” (compassion). Die een ander keer is dit Jesus wat dit beleef (oor die weduwee wat haar seun verloor het) en die ander keer is dit die Vader in die gelykenis van die verlore seun (wat God verteenwoordig). Wanner die wetgeleerde dan antwoord op Jesus se vraag oor wie die slagoffer se naaste is, en hy antwoord: “Die man wat aan hom medelye bewys is (“mercy”) is dit ook by verrre ’n houding wat aan Jesus of God toegeskryf word in Lukas. Die wetsgeleerde wil nie eers die Samaritaan ’n Samaritaan noem nie; maar daarmee bewys hy Jesus se punt: die identiteit van ’n naaste is een wat medelye bewys.

So kan dit wees, kan ons weer vra, dat Jesus Homself in hierdie storie met die Samaritaan identifiseer; dat die Samaritaan Hy is? Dit maak sin, want dit is presies wie Hy is en die verrassende gesig wat Hy van God aan ons wys. Dit is presies die beweging van die inkarnasie. Julle het sekere die herrie die afgelope tyd gesien oor die Dominee wat na aanleiding van die skietery in NZ Moslems sy broers en suster genoem het. En ons het nie nou tyd om op die tegniese kante daarvan in te gaan nie; maar kan ons onsself ten minste voorstel dat Jesus dalk in ons tyd en in hierdie omstandighede ’n storie sou vertel waarin Hy ’n Moslem is?!

Jesus daag ons radikaal uit om uit die borreltjie van ons gemaksone te kom en Hom in dié mense te ontdek waar ons dit nie verwag nie en wat ons op natuurlike manier vermy. Ons moet van die snelweë van ons lewe afkom en weer by leer om mense raak te sien en hulle stil te staan sodat die Gees ons oë kan oopmaak. As daar ’n GPS heeltyd op my was wat al my bewegings sou vaslê, waar sou my spore lê? Sou ek net in die veiligheid van my eie huis en eie woonbuurt gesien word, net tussen mense wat soos ek lyk, soos ek praat, soos ek dink, dieselfde sosiale status as ek geniet; sou my spore ook in Paarl-Oos wees, in Mbekweni?

Tom vertel mooi stories van mense in wie se skoene hy ’n paar tree gegee het wat Hom gehelp het tot nuwe, genadige bekerings. Het jy sulke stories, en wat het die Here jou geleer; leef jy in gehoorsaamheid daaruit; beweeg jy nog nader aan daardie mens/mense in wie sy voetspore jy verder moet gaan loop?

Ons het onlangs met die kerkraad van die CPK ontmoet; volgende wil ons graag ’n erediens van hulle bywoon waarheen hulle ons genooi het; miskien is dit een so ’n geleentheid van nader kom wat die Here gee en wat ons moet benut.

Hierdie beweging, hierdie gesindheid is nie onderhandelbaar nie; dit is op die diepste moontlike vlak wat dit beteken om die Naam van Jesus te dra. Hoe dink julle het die dissipels gevoel toe hulle gehoor het hulle sál sy getuies wees in Jerusalem en in Judea, Samaria en tot aan die uithoeke van die wêreld? Praat van grense oorsteek vir ’n paar Jode!! Maar deur die krag van die Gees het dit gebeur, en vandag nog breek die koninkryk van God deur wanneer gewone, sukkelende Christene soos ons leer om klein treëtjies te gee, nuwe patrone van gehoorsaamheid en navolging begin oefen. Amen.

Nadenke:

(Fokus: vra Heilige Gees se leiding).

  • Watter mense weet jy probeer jy vermy? (Swartmense, arm mense, gay mense, Moslems, jou eie kind?)
  • Was daar ’n keer toe jy iemand met nuwe oë gesien het en nader beweeg het? Watter genade was daar op daardie pad?
  • Wie is daar in jou “buurt” (die omgewing waarin jy leef en beweeg) na wie die Here jou nooi om die eerste treë nader te gee?

Doop:

Die sakramente is vir ons gegee om die inkarnasie (menswording) te verstaan. Eenvoudige alledaagse tekens; sodat ons kan leer verstaan wat dit is dat Jesus deurbreek tot in elke aspek van die ritmes van ons alledaagse lewens en dit vul met sy teenwoordigheid. Water is by uitstek die teken vann lewe. Ons weet hoe ’n paar druppels water die woestynbossie oornag nuwe lewe kan gee. Dit is hoekom die digter in Ps 63 uitroep: “Ek dors na U, soos in ’n dor en ’n droë land, ’n land sonder water.” Dit is hoekom Jesus Homself kom bekend stel as die Lewende Water. En daarom weet ons ook dat Jesus self in die doop teenwoordig is. Homself aan ons kom gee; Homself aan ons kom verbind.

As jou dogtertjie gebore word op 27 weke en net 1kg weeg, dan ken jy die daardie spanningsvolle plekke op die randjie van lewe en dood. Jy ken die vrees vir die ergste. Maar jy kom ook weer op nuwe maniere in kontak met genade. Jy kom agter hoe diep ons dors na God is; hoe sterk daardie hunkering na Hom. Jy ontdek hoe groot en voldoende sy liefde is; sy krag in swakheid.

Miané was altesaam 61 dae in NICU, hier in die Paarl en in Blouberg. Een van die grootste vrese in die daardie eerste dae is infeksies; daarvan het Miané deur die genade van die Here nie gekry nie. Sy het wel soms baie vlak asemgehaal en moes gestimuleer word om nie te vergeet nie; Hernus en Adele beskryf daardie tye as angstig en hartseer met baie trane.

Nou is sy hulle vegtertjie, hulle teken van lewe; en hulle sê dankie vir almal se boodskappe en gebede in hierdie moeilike tyd van hulle lewe.
 
Hernus, Adele en Miané, ons kom loop vanoggend saam met julle in julle skoene, soos wat Jesus van altyd af vir elkeen van julle doen. En dit is hoekom ons doop…

 

css.php