TEKS:
Psalm 81Vir die •musiekleier. ‘n Psalm. Van Dawid.
2Here, ons Heer, hoe magtig is u Naam oor die hele aarde, U wat u luister bo die hemelruim vestig.
3Deur die mond van kleuters en suigelinge het U mag gevestig, vanweë u teenstanders, om vyande en wraakgieriges stil te maak. 4Wanneer ek na u hemelruim kyk, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U gevestig het – 5wat is ‘n mens dan dat U aan hom dink, ‘n mensekind dat U aan hom aandag skenk? 6U het hom net minder as ‘n hemelse wese gemaak; U het hom met eer en majesteit gekroon.
7U laat hom heers oor die werk van u hande;
U het alles onder sy voete gestel: 8al die kleinvee en beeste, ja, selfs die diere van die veld, 9die voëls van die hemel, en die visse van die see wat verbytrek
op hulle roetes deur die oseane.10Here, ons Heer,
hoe magtig is u Naam oor die hele aarde!
PREEK:
Ons is tans besig met ‘n reeks van 4 preke oor die Christen en Ekologie.
Soms hoor ‘n mens van mense wat van ander mense sê dat hulle ‘n gesplete persoonlikheid het. Wat dan gewoonlik daarmee bedoel word, is dat hulle dalk tussen hulle vriende ‘n baie aangename en vriendelike mens kan wees, maar by die werk of by die gesin is so ‘n persoon dan dikwels ‘n monster. Weet julle, ons kan maklik geestelik ook aan ‘n gesplete persoonlikheid ly. Ons kan bely dat ons ‘n volgeling van Jesus is en hom baie liefhet en dien en selfs ‘n getroue kerkganger wees, maar ter selfdertyd kan ons vere voel vir die aarde waarop ons lewe. Om Jesus lief te hê, beteken ook om God as Skepper lief te hê en daarom ook sy skepping! Hoe kan ‘n kleinkind sê dat hy sy oupa baie liefhet maar die speelgoed wat sy oupa vir hom gemaak het, stukkend breek?
Dis eers hier van 1960 rond wat ons begin besef het dat ons besig is om die geskenk van die aarde te vernietig en eintlik daarmee saam ons en ons nageslag se enigste woonplek. As Christene het ons ook begin besef dat ons ‘n baie groot getuienistaak het in die manier hoe ons op hierdie aarde leef en hoe groot ons koolstofspoor is. Hoe kan ons sê dat ons die Vader liefhet, maar ons voel niks vir sy skepping nie?
Gewoonlik is daar 2 tipes van reaksies wat mense (en ook Christene) het as hulle hoor dat die aarde besig is om te vergaan – dat ons besig is om dit te vernietig. Die eerste reaksie is:
“Aaaaag wat, dis sommer ‘n klomp bangmaakstories op Sosiale Media. Dis nie waar nie. Kyk hoe koud was dit die winter gewees! Wat se nonsens is dit dat die aarde besig is om warmer te word?” Dan is die gevaar dat ons niks gaan doen nie en dink alles sal regkom.
Daarom is dit goed dat ons net in ‘n paar penstrepe weer kyk na hoe gaan dit met die aarde?
Of ons dink dat as ons net bietjie herwin en plastiek verminder en LED-ligte gebruik en so bietjie minder gif gebruik, sal alles weer regkom. Ons besef dikwels nie dat God se skepping interafhanklik is nie. Dat die natuur soos ‘n sirkel werk nie. Alles is van mekaar afhanklik en as daar ‘n krakie in die sirkel kom, hoe klein dit ook al is, het dit ‘n invloed op byna alles op aarde. En as jy my nie wil glo nie, gaan kyk asb na David Attenborough se dokumentêre films, veral A life on our planet.
Letterlik alles, alles is afhanlik van mekaar. Om net ‘n eenvoudige voorbeeld te noem: Dit neem die oerang oetang wat in die reënwoude woon, 10 jaar om hul kleintjies te leer watter vrugte om te eet en watter nie. Op hulle beurt versprei hulle die sade van bome dan en word ou bome met nuwes vervang. Waar daar bome is, word suurstof gemaak deur die opname van koolsuurgas in die blare. Maar as daar nie bome is nie, is daar nie vrugte vir die oerang oetangs nie en is daar nie nuwe bome nie, verstik ons al hoe meer in die koolsuurgas en raak ons asem letterlik op. Daarom is daar baie bosse en natuurlike areas nodig sodat al die kleiner sirkels binne die groter sirkel van lewe heel kan bly. Intussen word al hoe meer mense gebore en en word al hoe meer natuurlike areas beplant met oliepalms en aangewend vir diere wat ons aan die lewe kan hou.
Die syfers maak mens bang.
In 1937 het die statistiek so gelyk:
Aantal mense: 2.3 Biljoen
Koolsuurgas in atmosfeer: 280 d.p.m (dele per miljoen)
Natuurlike spasies: 66% van die aarde
In 2020 het die statistiek so gelyk:
Aantal mense: 7.8 Biljoen
Koolsuurgas in atmosfeer: 415 d.p.m (dele per miljoen)
Natuurlike spasies: 35% van die aarde
Die ys by die pole is besig om te smelt omdat die see nie meer die ekstra hitte wat vrygestel word verder kan absorbeer nie. Ter selfdertyd word die aarde al hoe vinniger warm omdat die ys, wat baie van die hitte van die son weerkaats het, al hoe minder word. Is ons dan verbaas dat die aarde se temperature al hoe hoër word en brande massiewe woude vernietig terwyl ander plekke weer oorstroom word. Ons is besig om die aarde op te gebruik vir onsself en die lewenssirkel op al hoe meer plekke te breek en daarom verdwyn al hoe meer spesies en habitatte en die gate in die sirkel word al hoe groter. In 1950 het Borneo, die eiland in Maleisië waar ons kinders woon, 75% bestaan uit reënwoude. Intussen het mense meer as die helfte daarvan uitgekap en vervang met oliepalms wat geld maak. Dit terwyl meer as die helfte van alle spesies wat op aarde lewe, afhanklik is van die bestaan van reënwoude. Huidiglik word 15 biljoen bome elke jaar afgekap en die helfte van alle reënwoude bestaan nie meer nie. Ook in die oseane is dieselfde aan die gebeur deur onbeheerde visstropery en deur die oseane te gebruik as ons avalhoop. Koraalriwwe (wat net so deel is vandie sirkel van die lewe) sterf op groot maat.
As ons op dié trant aangaan, sal ons nasate niks meer hê om van te lewe nie en is ‘n totale uitwissing van alle lewe op aarde ‘n al hoe groter wordende moontlikheid. En daar was al 5 sulke uitwissings.
Ek noem al die feite, nie om mekaar bang te praat nie, maar om ons almal te laat besef dat ons eintlik nie meer baie tyd op aarde aarde oor het om dit lewend te hou as ons nie NOU iets drasties doen nie. Dit vir die mense wat dalk dink: Dis nie so erg nie.
Maar daar is ‘n 2de gevaar:
Ons kan dit alles glo en totaal moedeloos word en sommer boedel oorgee. Ons kan dalk dink: Dis klaar te laat! Ons is gedoem! En dan ook niks doen nie.
Maar daar is hoop vir ons! As ons NOU beslis optree (nie net herwin en ligte afsit nie), kan dinge weer verander. Daar is nog geleentheid om die gate in die sirkel te begin toemaak, maar daar is nie meer baie tyd om dit te doen nie. Ek vertel julle graag van David Attenborough se verhale van hoop.
- Die aarde kan net soveel mense aardves. Ons is eintlik al by daardie put verby. Ons is te veel mense op hierdie bolletjie grond. Teen dié tempo sal ons in die jaar 2100 (oor minder as 80 jaar) 11 Biljoen mense wees! Die aarde kan nie soveel mense onderhou nie. Ons sal beslis minder mense moet word wat die aarde bewoon. Daarom sal ons almal baie aandag moet gee aan beter opvoeding, die aanspreek van armoede en groter beskikbaarheid van gesondheidsorg – alles dinge waaroor die Bybel al lankal gepraat het. Hiervan is Japan vir ons ‘n voorbeeld. Hulle geboortesyfer het reeds sy piek bereik en is besig om te daal.
- Ons sal baie minder van die aarde se bronne soos fosielbrandstowwe (petrol, diesel en steenkool en gas) gebruik moet maak. Eintlik is daar meer as genoeg energie vir almal beskikbaar maar dit sal reg bestuur moet word. Al die plante op aarde gebruik 3 triljoen KW-ure per dag van die son en daarvan het ons as mense net 5% nodig om van te lewe. Ons sal nie net moet kyk wat is die goedkoopste nie, maar wat is volhoubaar. Ons dink aan sulke dinge soos songeysers, sonplase, gebruik van windkrag en hidro-elektrisiteit terwyl steenkool en diesel en petrol al hoe minder gebruik sal moet word. Hiervan is Marokko vir ons ‘n voorbeeld. Aan die begin van die eeu was die land totaal afhanklik van ingevoerde olie en gas vir al hul behoeftes. Vandag word reeds 40% van hul energiebehoeftes voorsien deur sonlig! Binnekort sal hulle selfs geld kan verdien deur die uitvoer van krag na die aanliggende Europa. Dit is moontlik dat hernubare energie ons hoofbron kan wees binne 20 jaar. Dit kan selfs ons enigste bron wees!. Dis op die ou einde baie goedkoper, skoner, stiller en sal nooit opraak nie!
- En die see? As die seelewe doodgaan, is ‘n baie groot skakel ook stukkend en sal die aarde uiteindelik ook sterf. As die see gesond is, neem dit meer koolstof op uit die atmosfeer en asem ons en alle dierelewe gesonder lug in en koel die aarde af. ‘n Voorbeeld hiervan is die Palau eilande – Noord van Australië en reg Oos van die Filipynse eilande. Hulle hoofbron van inkomste is vis en toerisme. Maar met die tyd het die visvoorrade begin opraak. Hulle het toe begin om geen-visvang-areas in te stel. Die gevolg was dat die visgetalle drasties vermeerder het en die koraalriwwe besig is om te herstel! David Attenborough sê, as slegs ‘n derde van al die seë afgeperk word as geen visvang-areas, sal daar genoeg vis wees vir die hele wêreld. Hieraan gee die VV reeds aandag.
- Verder sal ons radikaal minder grond moet bewerk sodat die natuurlike sirkel kan herstel. Wat kan ons daaraan doen? Dis ‘n moeilike een vir ons Suid-Afrikaners! Ons sal ons dieët moet verander. Ons sal ongelukkig minder vleis moet eet want elke kg vleis vra grond en water en energie. Dit sal ook ‘n ander uitkyk moet wees op boerdery. Meer vrugte en groente. Daar word bereken dat ons heeltemal goed en selfs gesonder kan lewe met net die helfte van die land wat tans gebruik word as ons minder rooivleis eet. Nederland is vir ons ‘n voorbeeld van hoe opbrengste dramaties verhoog word van vrugte en groente op klein stukkies grond selfs deur minder gifstowwe en kunsmmis te gebruik sodat minder koolstof vrygestel kan word.
- Ons sal dramaties meer natuurlike bosse moet terugkry vir koolstofvermindering en vir meer suurstof. Ons houtbronne sal hoofsaaklik moet kom van aangeplante bome. Hiervan is Costs Rica vir ons ‘n goeie voorbeeld. 100 jaar terug was 75% van die land inheemse woude. Teen 1980 was dit net 25% agv onbeperkte ontbossing. Toe besluit die regering om lenings te gee om weer inheemse bosse aan te plant. In net 25 jaar het die inheemse woude weer toegeneem tot 50% van Costa Rica.
As ons God se skepping met eerbied behandel, sal die sirkel weer stadig heel en sal ons en ons kleinkinders en agterkleinkinders kan lewe! En ons kan dit nog doen!
Laat ons daarom as gelowiges bid dat regerings en mense se harte sal verander oor die skepping en laat onsself, hoe gring dit ook almag wees, die voorbeeld stel.
Mag die Here ons help. Amen.
