Preek – 5 Jan 2020: "Staan op, word verlig!" – Jes 60:1-10

Verwelkoming:

Epifanie is die Fees van Lig wat gekom het na ons donker wêreld! Epifanie: Verskyning van God…(Die Wyse manne is sentraal; verskillende nasies wat aangetrek word na God se verskyning.)

Stilte:

Wat is vir jou donker? Verlies, depressie, skuld, skaamte, sonde?

Bring dit na God se lig…

“In ons verbondenheid met Jesus en deur ons geloof in Hom kan ons met vrymoedigheid en vertroue na God gaan.” (Ef 3:12)

Seëngroet:

“Vir jou het die Lig gekom! Die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring!”

Skriflesing:

Jes 60:1-10

Preek:

Wat maak ons in 2020 in SA met so ’n wonderlike profesie soos hierdie wat ’n nuwe dagbreek aankondig. Dit laat ’n mens ’n bietjie dink aan Cyril Ramaphosa se beloftes en ons het al geleer om nie te veel te verwag nie. Ons is deesdae maar bra sinies. Sommige mense wyer om enige iets positiefs te glo en vind eintlik ’n bietjie patologiese vreugde daarin om slegte stories te gaan uitgrawe (en dikwels nie eers feitlik nie) en dit so groot as moontlik op te blaas op sosiale media. As mens hulle vra hoekom hulle so negatief is, sal hulle antwoord hulle is bloot realisties. Die poging is natuurlik om jouself teen teleurstelling te probeer beskerm deur altyd voorbereid te wees op die slegste.

Die meeste van ons weet dat dit nie ’n manier is om te lewe nie. Ons het al dinge gehoor oor die krag van positiwiteit en ons probeer hard. Ons soek ook na goeie nuus en vertel mekaar daarvan (soos op #I’mstaying). Ons probeer vriendelikheid en liefde deel waar ons kan (sonder om darem ons gemaksone te veel te versteur). Verder fokus ons maar om ons wêreld so veel as moontlik te beskerm en in die algemeen te soek na dinge wat ons gelukkig maak. Ons sit ons kinders in goeie skole, spaar vir lekker vakansies, sorg vir vinnige Wi-Fi by die huis en belê in goeie sekuriteitstelsels. Ons hoop maar dat dit wat Jan Smuts glo al gesê het waar is: Dat SA nooit so goed of so sleg sal wees soos sommige mense sê nie.

Mens sou kon sê, as jy dink aan die nuwe daeraad, dat ons in die halflig lewe. Darem nie volslae desperaat nie, maar ook selde werklik opgewonde, hoopvol, passievol. Wat Jesaja basies aan die terugkerende ballinge belowe is ’n nuwe Eksodus. ’n Herhaling van die grootste geloofshoofstuk in die lewe van God se mense. Daar sal weer ’n bevryding wees. Daar sal weer ’n heerlike intog wees in die beloofde land. Die volk sal herenig word. Die kinders sal terugkeer; die heerlikheid teenwoordigheid van God sal om hulle skyn. Hulle sal rykdom en eer onder die nasies geniet.

Vir die eerste ballinge wat teruggekeer het sou dit ook maar bitter moeilik gewees het om hierdie asemrowende visie in die werklikheid raak te sien. Die terugkeer was maar drupsgewys. Nie almal was oortuig dit is die moeite werd om na die beloofde land terug te keer nie; hulle het nou al ’n nuwe lewe gebou in die vreemde. Dinge in Jerusalem was moeilik; die tempel en die stadsmure was platgeslaan. Daar was teenstand, armoede, vyande.

Hoe word ons mense wat God se beloftes leef en dra in hierdie wêreld? Het ons dalk maar heimlik besluit ons sal maar net probeer uithou tot die einde. Jesaja begin hierdie gedeelte met die woorde: “Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig!” Meer letterlik staan daar: Staan op, Jerusalem, word verlig!” Eintlik is dit ’n vreede bevel. Die Hebreeuse werkwoord word nêrens anders so in ’n bevelvorm gebruik nie (Word verlig = passiewe aktiwiteit). Om ligmense te word, moes God se mense uit die duisternis opstaan. Hulle moes kies om deel te word van wat Hy doen, eienaarskap neem om in sy lig en heerlik te leef.

God se heerlikheid kom ook na ons in verskillende gebeure, maar dit kom veral in mense wat deur Hom verlig is. Die nasies kom na God se lig toe omdat dit in die mense weerspieël word. En so het die NT skrywers ons gehelp om te sien hoe die woorde van Jesaja veral waar geword het in die lewe en werk van Jesus. Hulle help ons om te verstaan dat God se Woorde weer en weer waar kan word in verskillende tye en omstandighede op maniere wat ons dit nie verwag nie.

Hoor hoe eggo Johannes Jesaja se woord en gee hy nuwe betekenis daaraan:

“In Hom was daar lewe, en die lewe was die Lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis en die duisternis kon dit nie uitdoof nie.” (Joh 1:4-5)

“Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.” (Joh 1:14)

God se lig, God se heerlikheid, het ’n nuwe persoonlike, menslike karakter: onder ons tussen ons. Jesus is by ons, in ons: God het mens geword. Of soos Kol 1:27 sê:

“God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe seënryk en heerlik hierdie geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid.”

Ons is verlig. Dit is tyd vir ons om op te staan!

Mag ons in hierdie nuwe dekade begin droom oor en begin werk na ’n kerk wat weer God se oorspronklike doel vir ons ontgin: om verlig deur Hom en dan sy heerlikheid op ander te laat skyn (en Jesus het vir ons gewys hoe dit lyk).

Die kerk het op ’n konstante basis bekering en vernuwing nodig. Baie mense is ontugter met die kerk en om goeie redes. Ons is dikwels vasgevang in ons selfopgelegde reëls. Ons baklei eerder met mekaar oor huishoudlike sake of etiese kwessies, eerder as om die verlossing na ’n wêreld in nood te neem.

Diep in die kern van die evangelie lê hierdie kosbare waarheid: elke liewe persoon, maak nie saak wie hulle is nie, wat deur geloof in Jesus ’n Kind van God raak, word op gelyke manier verlig deur sy heerlikheid. Almal het ’n plek. Almal het ’n unieke bydrae. Op Pinksterdag het Petrus vir Joël aangehaal: Julle jongmense sal gesigte sien, julle oumense sal drome droom. Paulus maak dit duidelik, Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou, ons is almal een in Christus. Een maar nie dieselfde nie. Ons is ryker as ons plek maak vir diversiteit. Elkeen het ’n unieke gawe en bediening (1 Kor 12).

Luister wat sê een van die ander tekste vir vandag, Ef 3:10-11:
“Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim, soos Hy Hom van ewigheid af al voorgeneem het om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring.”

Ons moet nooit op onsself vertrou nie, maar ook nooit te min van ons as Christus se kerk verwag nie!! God het sy koninkryk aan ons toevertrou en sy gesag aan ons gegee!

Elke liewe kind van God moet opstaan om verlig te word, moet eienaarskap neem van die lig wat hulle het om te laat skyn. Die wêreld wag. Daar is so baie om te doen. Die mense, die hulpbronne, die gawes wat nodig is om die uitdagendste kwessies van ons tyd aan te spreek, het God aan sy kerk gegee. Jesus het die meeste van sy tyd spandeer om mense gesond te maak. Die koninkryk van God gaan oor en kom in hierdie regte wêreld.

Wat gee God vir jou? Jy kan nie alles doen nie, maar wat is die volgende, regte ding vir jou om te doen, soos die Heilige Gees jou lei? Wat kan jy doen aan die ekologiese krisis? Onderwys? Armoede en ongelykheid? Geweld teen veral vroue en kinders? Die ekonomie? Behuising?

(Video) “Do the next right thing…” (Frozen 2)

Anna glo dat haar suster dood is; so ook haar beste vriend, die sneeuman wat in die eerste fliek lewendig geword het. In hierdie lied onthou sy wat die wyse trolle haar geleer het; as jy nie meer wat om te doen nie…

(Hoop die kinders geniet dit; en dit is ook iets vir die mense wat nog in die donker van verlies is en leer om na die lig te beweeg…)

Stilte en gebed:

As Bethlehem net nader was,

dalk iewers in dié land …

dan sou ons vir die Kindjie as geskenke vat

offers uit ons seerkryland, want, nêrens anders ruik die reën so soet nie …

kom lê die herfs as roes nie …

En as die son ons oor die blou see groet,

dan breek die sonneblom sy goudpot oop

en laat my land sy goud as offer

tot by die Lam se voetjies loop.

Dan kniel ons hier in Afrika

soos herders lank gelede

by doringvure wat die nag verlig.

En vir die kindjie in die krip word daar pasellas uitgehaal: ‘n heuningkoek, laventelbos,

‘n sonneblom,

‘n velkaros.

Die wyses onder ons sou vir die kind ‘n kaartjie los,

‘n dankie vir ons reënboogland,

vir roesbruin Kalahari-sand,

pers vygies teen ‘n duin se kant

en God se Kerskind vlam wat brand in elke hart in hierdie land.

Rien Joubert

Belydenis van Nicea:

(Ontstaan in 325nC as antwoord op die leringe van Arius wat gesê het dat Jesus wel goddelik was, maar nie gelyk aan die Vader nie.)

Kom ons hoor en bevestig die eggo’s ons geloof…

Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van die hemel en aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge;

en in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore:

Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God,

gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het.

Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal

en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword: Hy het mens geword;

onder Pontius Pilatus is Hy vir ons gekruisig;

Hy het gely en is begrawe.

Op die derde dag het Hy volgens die Skrifte opgestaan, en Hy het na die hemel opgevaar.

Hy sit aan die regterhand van die Vader, en Hy sal met heerlikheid terugkom

om die lewendes en die dooies te oordeel.

Aan Sy koningskap sal daar geen einde wees nie.

Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak.

Hy gaan van die Vader en die Seun uit, en Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik.

Hy het deur die profete gespreek.

Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk.

Ons bely een doop tot vergifnis van sondes.

Ons verwag die opstanding van die dooies en die lewe vandie toekomstige bedeling.

Amen.

Seën:

“Staan op Jerusalem, word verlig! Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring. Daar is donkerte oor die aarde, duisternis oor die nasies, maar oor jou gee die Here lig, oor jou verkyn sy magtige teenwoordigheid! Nasies kom na die lig van die nuwe dag wat vir jou aangebreek het…”

css.php