Preek: 30 Mei 2021 - Wedergeboorte - Joh 3:1-17
TEKS: Johannes 3:1-17 Daar was ‘n man met die naam Nikodemus. Hy het aan die party van die Fariseërs behoort en was ‘n lid van die Joodse Raad. (2) Een nag het hy na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u ‘n leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie.” (3) Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” (4) Nikodemus vra Hom toe: “Hoe kan ‘n mens gebore word as hy al ‘n ou man is? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?” (5) Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. (6) Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. (7) Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. (8) Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.” (9) Nikodemus vra Hom toe: “Maar hoe is dit moontlik?” (10) En Jesus antwoord hom: “Jy is die bekende leermeester van Israel en jy verstaan dit nie? (11) Dit verseker Ek jou: Ons praat oor wat ons weet, en ons getuig oor wat ons gesien het, en tog aanvaar julle nie ons getuienis nie. (12) Ek het julle van die aardse dinge vertel en julle glo dit nie, hoe sal julle glo as Ek vir julle van die hemelse vertel? (13) Niemand op die aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik die Seun van die mens. (14) Moses het die slang in die woestyn hoog op ‘n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, (15) sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê. (16) God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. (17) God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.
PREEK:
In ‘n plek met die naam van Everton in Engeland, is daar ‘n begrafplaas met ‘n graf waarop die volgende grafskrif is en ek vermoed dat die oorledene dit self geskryf het voor sy dood: (Ek het gelukkig ‘n broer wat goed kan vertaal).
Hier lê die stoflike oorskot van John Berridge, voormalige predikant van Everton, en ‘n rondreisende dienskneg van Jesus Christus wat sy Here en sy werk liefgehad het en nadat hy sy opdragte uitgevoer het vir baie jare, opgeroep is om Hom te dien daar bo.
Leser, Is jy weer gebore?
Geen verlossing sonder ‘n nuwe geboorte nie.
Ek is in sonde gebore in 1716
Het onbewus gebly van my sondige toestand tot 1730
Het trots gelewe om deur geloof en werke gered te word tot 1734
Toegelaat tot die Everton-pastorie in 1755
Vlug na Jesus alleen as my Redder 1756
Aan die slaap geraak in Christus op 22 Januarie 1793
Amen!
Eintlik wil ek net sê: “Kom ons bid saam”, want wat kan mens meer sê? Maar ons het ‘n paar minute so kom ons kyk ‘n bietjie na wat dit beteken as Jesus sê dat mens die Koninkryk van God nie sal sien as jy nie weer of nuut of van Bo gebore word nie.
Tim Keller, ‘n afgetrede Presbiteriaanse predikant, bekende teoloog en skrywer van baie boeke, praat onder andere ook oor dié teks en ek deel graag ook van sy gedagtes met julle omdat dit my ook weer opnuut aangegryp en versterk het.
Ek wil graag vanoggend ‘n paar vrae aan die teks vra wat dalk ook by julle kan opkom.
Die eerste vraag wat ons kan vra, is:
VIR WIE IS DIE WEDERGEBOORTE BEDOEL?
Sommige mense dink dat wedergeboorte net bedoel is vir ‘n sekere tipe mens. Mense wat dalk baie emosioneel of charismaties is, of miskien iemand wat baie sondig gelewe het en dan skielik tot inkeer kom of iemand wie se lewe stukkend was en dan op ‘n wonderlike manier tot bekering gekom het. Maar dit is nie wat ons hier lees nie.
Nikodemus was ‘n man van hoë aansien, ‘n gerekende man wat lid was van die Sanhedrin, die Joodse Raad. Hy was ryk en gee mens nie die idee dat hy juis ‘n tipe emosionele mens was nie. Ons het ‘n slegte assosiasie met ‘n Fariseër, maar eintlik was hulle mense met ‘n goeie agtergrond (Paulus was ook een) wat baie teologiese kennis gehad het en “uitgesorteer” was in hul lewe. Die feit dat hy na Jesus kom (terwyl die meeste Fariseërs en Saduseërs glad nie met Jesus geassosieer wou wees nie) wys dat hy ook iemand was met ‘n oop gemoed – ontvanklik vir nuwe gedagtes.
Om wedergebore te word beteken nie om van ‘n slegte mens ‘n beter mens te word of meer godsdienstig te word nie. Die wedergeboote is juis ook bedoel ook vir goeie en godsdienstige mense. Dit beteken nie om net ‘n paar regstellinkies in jou lewe te maak of seker te maak dat jy nie te veel sonde doen nie. Dit maak nie saak hoe goed jou lewe is of was of hoe sleg en deurmekaar dit is of was nie of watter status jy in die gemeenskap of kerk het nie. Nee, wedergeboorte is vir almal bedoel en dit beteken ‘n nuwe lewe – jy moet weer gebore word, van Bo!
Om die waarheid te sê niemand kan die Koninkryk van God sien as hy of sy nie wedergebore word nie – ook ek en jy! So staan dit ook in die Good News Bible:
(Joh 3:3) “ I’m telling you the truth: No one can see the Kingdom of God without being born again.”
Of soos dit op die grafskrif staan:
Leser: Is jy wedergebore? Geen verlossing sonder die nuwe geboorte nie.
Ek en jy kan Jesus nie volg as ook ons nie wedergebore is nie.
‘n Tweede vraag wat by ons opkom is: WAAR KOM DIE WEDERGEBOORTE VANDAAN?
Dis interessant dat, waar die term Koninkryk van God/hemele in die 4 Evangelies en Handelinge heelwat meer as ‘n 100 keer gebruik word, dit in Johannes net 3x gebruik word – in vers 3 en ook in hoofstuk 18. Jesus weet dat Nikodemus ‘n Fariseër en hulle glo in die opstanding uit die dood – anders as die Saduseërs. Hulle glo aan ‘n komende ryk. Jesus weet dat Nikodemus sal verstaan dat die koninkryk sal verwys na hoe dit sal wees na die opstanding wanneer die Messias aan die regterhand van die Vader sal regeer oor alles en almal en die nuwe wêreld ten volle vir ewig sal aanbreek. Dit is nog nie nou so ten volle nie, maar dit is waarheen ons oppad is. Daarom gebruik Jesus die term om vir Nikodemus te verduidelik wat die wedergeboorte is. As ‘n mens wedergebore word, dan sien jy al die koninkryk! Jy is nog nie daar ten volle nie, maar jy sien dit al!
Ek dink so aan die tyd toe ek nog op laerskool was en ons elke jaar dié tyd van die jaar reggemaak het vir ons jaarlikse vakansie op Hermanus waar my Pa vir ons ‘n huis gehuur het. Dit was vir my die hoogtepunt van die jaar! Selfs beter as Kersfees! En hoe nader ons aan die vakansie gekom het, hoe meer opgewonde het ek geraak en was dit amper al waaraan ek gedink het. Ons was nog nie daar nie, maar ek het die slapies afgetel, my klere was al ingepak, visstokke was reg, Pa het sinkers gesmelt van ou loodpype, Ma het Oatskoekies en beskuit gebak en die kar is gediens. Ons hele lewe het verander want ons het as’t ware al die vakansie gesien!
Natuurlik is die koms van die Koninkryk baie, baie groter en wonderliker as om Hermanus toe te gaan, maar wanneer ‘n mens die Koninkryk sien kom, raak dit jou hele lewe en rigting en denke en waardes en prioriteite. Maar, hoor hoe verduidelik Jesus dit vir Nikodemus:
Johannes 3:3 Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”
Jy sal dit nie sien nie, nie beleef nie, dit sal jou lewe nie raak en verander as jy nie wedergebore is nie. Die wedergeboorte kom dus asof van vooraf/ Bo-af na ons en verander ons lewens nou. Jou lewe raak ‘n nuwe werklikheid. Ons moenie die impak onderskat wat dit op ‘n mens se lewe het as jy wedergebore word nie. Petrus verander van ‘n impulsiewe selfsugtige mens na ‘n standvastige leier in die kerk. Paulus verander van ‘n vervolger van die kerk na ‘n verspreider van die kerk. En so sou ons baie name kan noem: Augustinus, CS Lewis, Danny Arendtse, Koos, Susan, Pieter, Marie…Almal mense wat ‘n ommgeswaai in hul lewens beleef het omdat hul weergebore is. Ja, dit gebeur nie alles eenklaps nie, ook nie by alle mense op dieselfde manier nie, dikwels stukkie-vir-stukkie en eintlik ons hele lewe lank, maar dit gebeur omdat ek ‘n nuwe mens is wat reeds nou die Koninkryk sien!
Derdens kan ons vra: WAT DOEN DIE WEDERGEBOORTE? WAT IS DIT?
Nikodemus (die geleerde) verstaan nog nie hoe dit moontlik is dat ‘n mens weer gebore kan word nie. Dan sê Jesus:
(5) “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. (6) Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. (7) Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie.
Vers 6 verduidelik vers 5 wat beteken dat mens gewoon gebore moet word (uit water) maar ook deur die Gees weer gebore moet word. Net soos wat die geboorte van ‘n baba die begin is van ‘n nuwe lewe, so is die wedergeboorte ook die begin van ‘n nuwe lewe in elke mens. Hoe so? Dit beteken veral 2 dinge:
Eerstens het jy, net soos as wat jy gebore word, ‘n ID – identiteit. As jy weer gebore word, is jou eerste identiteit kind van God. Jy behoort aan die Here en is deel van sy gesin en familie op aarde.
Mense loop dikwels hulle hele lewe lank op aarde en vra vir hulself: “Wie is ek? Waar en aan wie behoort ek?” En as jy dan nie ‘n goeie stamboek agter jou het nie, begin jy minderwaardig voel. Of mense voel goed oor hulself oor hul grade of werk of status of voorkoms of geld of kar waarmee hulle ry. Maar deur die wedergeboorte besef jy ten diepste: “ Die Skepper van hemel en aarde is my Vader en ek behoort aan Hom!” Dis dan wat jy ook vrede kan maak met jouself en God se vrede begin beleef. Daarom is dit so belangrik dat ons die ou waardes van ons ou lewe sal prysgee sodat ek myself kan vind in die Here! En dit gebeur met die wedergeboorte en groei soos wat enige baba ook groei. Dan word ons al hoe meer wie ons eintlik is.
Maar omdat dit ook so is, verander jou lewe ook. Ek sê weer: Dit gebeur op verskillende maniere by elke mens maar almal sien en verstaan en leef hul lewens anders as iemand wat nie weer gebore is nie. Jy “sien” (vers 3 sê) die Koninkryk al en dit maak jou lewe anders. Om sommer ‘n paar praktiese implikasies te noem:
- Die weet dat in alles in God se hand is.
- Jy voel getroos deur die Vader se teenwoordigheid in donker tye.
- Jy weet dat die dood nie die einde is nie en dat daar ‘n nuwe volmaakte lewe wag na die dood.
- Dat jy nie toevallig op aarde is nie maar iemand is met wie die Here ‘n plan het – iemand met ‘n roeping.
- Wanneer slegte dinge op jou pad kom, weet jy dat dit ook ten goed sal uitdraai op jou pad met die Here.
- Jy beleef ‘n nuwe verstaan van liefde.
- Jou besittings lê nie meer vir jou so na aan die hart nie.
- Jou liggaam is ook nou in diens van God.
- Jy sien die aarde as ‘n skepping van God en nie as iets om te gebruik alleen nie…. En so kan ek aangaan.
Soos Augustinus, die ou kerkvader, gesê het dat die liefdes in ons lewens herrangskik word. Dinge wat vroeër so belangrik was, is nou nie meer so belangrik nie en ook andersom. ‘n Mens sien dit veral duidelik in mense wat dramaties tot bekering kom maar dit is waar van alle mense wat wedergebore word. Jy begin al hoe duideliker die Koninkryk sien en daarvolgens lewe.
As God nie die liefde van my lewe is nie, sal ook al die ander liefdes in my lewe nie die regte plek hê in my lewe nie en sal my hele lewe deurmekaar wees. As God nie die Bron van my liefde is nie, sal my huwelik daaronder ly, sal ek my kinders nie op die regte manier liefhê nie, ook nie hoe ek my kollega’s sien en met hulle saamwerk nie, hoe ek die skepping sien…. My hele lewe verander as ek wedergebore word.
‘n Vraag wat ook by ‘n mens opkom is:
NOU, HOE GEBEUR DIE WEDERGEBOORTE?
Is wedergeboorte nie maar dieselfde as om tot bekering te kom nie en indien nie, wat is die verskil?
Kyk, as ek tot bekering kom (of dit nou oor ‘n lang tyd in jou lewe of skielik gebeur) voel dit mos asof dit ek is wat dit gedoen het. Daarom sê ons ook:
“Ek het my hart vir die Here gegee.” Maar as ons mooi terugkyk op ons lewens, dan besef ons dat dit eintlik maar die Here was wat my hart so gedraai het dat ek in Hom glo. Omdat bekering nie ‘n menslike uitvindsel is nie, sal ons dit ook nie ten volle kan verstaan nie, hoewel dit ‘n werklikheid is. Ek dink die naaste wat ek aan ‘n verstaan daarvan kan kom, is wat prof Willie Jonker gesê het:
“Bekering is 100% God se werk maar dit is ook 100% my verantwoordelikheid.”
Bekering het dus ook ‘n menslike deel. Dis is iets waarin ek as mens iets doen. My sonde bely, Jesus aanneem, in Hom glo, my hand na Hom uitsteek.
Maar by die wedergeboorte is dit anders. Net so min as wat ‘n baba iets kan doen om gebore te word, net so min kan ek en jy iets doen om weer gebore te word deur die Gees. Die wedergeboorte in my en jou lewens is iets wat God doen. Maar die vraag bly: “Wat kan ek doen?” Wel, tegnies kan ek en jy niks doen nie! So lees ons:
(8) Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”
Die wedergeboorte is die voortgaande werk wat God in my doen as ek tot bekering kom. Maar dan moet ons ook reg verstaan wat bekering beteken. Is dit net dat jy jou sonde moet bely en glo dat Jesus vir jou sondes aan die kruis gesterf het? Natuurlik is dit waar, maar ons kan bekering maklik verkeerd verstaan as my bydrae. Ek dink vers 14 help ons:
(14) Moses het die slang in die woestyn hoog op ‘n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, (15) sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.
Jesus verwys hier na Num 21 waar die Here giftige slange onder die Israeliete stuur omdat hulle so hardkoppig en ongehoorsaam was en hulle sterf as die slange hulle pik. Moses bid vir uitkoms en dan antwoord die Here dat Moses ‘n koperslang moet maak, dit op ‘n paal moet sit. As die Israeliete dan daarna kyk, sal hulle gered word. Nie as hulle eers iets doen of verander nie – hulle moes net kyk na die slang. Dan word hulle genees. Ek glo dat Jesus hierdie beeld juis gebruik om vir Nikodemus (en ons) te help verstaan wat dit is om tot bekering te kom.
‘n Goeie voorbeeld van hoe bekering in ons lewens werk, is die bekeringsverhaal van Charles Spurgeon , ‘n bekende Engelse prediker in die 19de eeu. Hy vertel dat hy van sy tienerjare graag ‘n goeie Christen wou wees. Hy het gereeld kerk toe gegaan en gedoen wat hy gedink het nodig was om ‘n Christen te wees. Een Sondagaaand was hy op pad na ‘n aanddiens toe daar ‘n vreeslike sneeustorm uitbreek. Hy het dit net gemaak tot by ‘n klein Metodistekerkie op die hoek en het toe ingegaan. Daar was net ‘n paar mense en selfs die dominee kon dit nie maak nie. Toe staan een van die kerkraadslede op en preek. Hy sê later: “Dit was nie eintlik ‘n goeie preek nie. Eintlik het hy net Jes 45:22 gelees en so het Spurgeon dit gehoor uit die King James vertaling:
Jesaja 45:22 Look unto me, and be ye saved, all the ends of the earth: for I am God, and there is none else.
Die prediker sê toe: “Jy hoef nie ‘n vinger te verroer nie. Jy moet net kyk! Jy hoef nie ryk te wees nie. Jy hoef nie eers goed te lyk of te wees nie. MAAR moenie na jouself kyk nie! Daar is geen hoop daar nie!
En toe sit hy sommer Jesus se woorde in Jesaja se mond en sê:
“Kyk na My! Ek sweet druppels bloed! Kyk na My! Ek’t opgestaan! En opgevaar en sit aan God se regterhand! Kyk na My!” En toe kyk hy na Spurgeon en sê: “Jongman, jy lyk misrabel! En die lewe en die dood gaan vir jou sleg wees as jy nie doen wat die Bybel sê nie!”
Spurgeon self vertel dat hy op daardie stadium bereid was om 50 dinge vir die Here te doen om gered te word. Hy wou iets doen! Dis toe dat hy besef hy moet net kyk na Jesus weg van homself! Hy het besef hy het die hele tyd na homself gekyk vir verlossing. Toe sê hy: “En ek HET gekyk en gekyk en gekyk tot my oë amper deurgekyk was! Dis toe dat die wolke vir my weg was, die donkerte het padgegee en op daardie oomblik het ek die son sien skyn toe ek opstaan en uit my hart uit sing: Die kosbare bloed van Christus!
Om tot bekering te kom beteken veral om te bely dat ek myself eintlik wil red. Belydenis is nie net om te vra dat Jesus my sondes sal vergewe nie – dit het Hy reeds lankal gedoen – maar om te bely dat EK nog my lewe wou lei en oorgee en glo dat net die bloed van Jesus my skoon was. As ek wil hê dat Jesus in my hart moet kom woon, moet ek my hart leeg maak van myself en ander dinge sodat Hy kan intrek. Om rus te vind, nie in my eie gevoel en besluit of lewe nie, maar in Jesus alleen en weet dit is al – dit is genoeg.
Die laaste vraag wat by ons kan opkom dalk
HOE WEET EK DAN OF EK WEDERGEBORE IS?
Is daar ‘n teken? Die NT is vol van bewyse van hoe mense lyk wat wedergebore is. Die bewys? ‘n Veranderde lewe. Ja, ons bly nog sondaars en is vir seker nog nie in die hemel nie, maar as ek wedergebore word, kan ek nie meer dieselfe bly as wat ek was nie.
Martin Luther het dit al gesê:
“Ons word gered deur geloof alleen, maar die geloof wat red, is nooit alleen nie.”
En voor hom het Jakobus dit ook gesê:
Jakobus 2:17 So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.
Ons lees dit ook in die gedeelte uit Joh 3:
Johannes 3:21 Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.”
Wanneer ek wedergebore word, volg die dade. Kyk maar net na die verandering wat plaasgevind het in die lewe van Jesus se dissipels. Ons weet nie of Nikodemus uiteindelik tot bekering gekom het nie, maar ek sal nie verbaas wees as dit wel so was nie. Ons lees dat, na Jesus se dood, hy saam met Josef van Arimatea vra vir die liggaam van die Here, dit behandel met baie duur geurolie en in doeke toedraai. Iets het met Nikodemus gebeur.
Net soos wat elke baba wat gebore word op sy/haar unieke manier groei en grootword – so is dit ook met die ander geboorte – die wedergeboorte, maar dit gebeur!
Ek kan myself nie verander nie. Maar as ek in Jesus glo, kom woon die Gees van Jesus in my lewe en Hy kan my verander. Daarom kan ek tog iets doen: Vra die Gees om my elke dag te vul en moenie die werk van die Gees in jou lewe weerstaan nie. Wees gehoorsaam!
As ‘n dieselfde wurm op ‘n wonderlike manier kan verander in die mooiste skoenlapper, kan ek en jy as kinders van God nie ook meer en meer word wat ons is in Christus nie? Natuurlik! Dit moet ons glo en daarvolgens leef.
Amen