Preek – 3 November 2019: "Wat is 'n Christen regtig?" – Jes 1:10-18

 

Verwelkoming: 

Kan julle glo ons het dit gedoen?! Mens kan maklik sinies raak en sê die gevoel van eenheid sal nie lank hou nie. Maar miskien is daar tog ’n dieper rede hoekom ons so aangegryp word, omdat ons ’n voorsmakie kry van God se koninkryksdroom van versoening. Kom ons bid dat die momentum ook af van die rugbyveld af deur God se kinders in SA opgetel sal word!

Verjaarsdae en huwelike: Mag julle ook weer vandag die verbondskarakter van julle huwelik vier: julle is ’n kerk in die kleine (deur sy Woord en Gees…)

Votum en seëngroet:

“Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.”

Vandag is Jesus hier teenwoordig en word dit weer vervul!!

Kindertyd:

Jona is die ou in die Bybel wat bekend is daarvoor dat ’n groot vis hom ingesluk het! (En hy was drie dae en drie nagte in die vis se maag; kon nie baie lekker gewees het nie!!). Maar eintlik is die punt van die strorie die verrassende liefde en genade van God, ook vir mense wat ons nie so baie van hou nie!

Die storie begin waar Jona deur die Here gestuur word om vir die mense van die groot stad Nineve te gaan vertel dat hulle hul lewens moet verander. Maar, Jona klim toe op die skip om te probeer wegkom van die opdrag van die Here waarvoor hy nie lus is nie. Ongelukkig werk dinge nie so lekker uit as mens nie vir die Here luister nie; ’n storm dreig om die boot te laat sink, en Jona bely teenoor die mense op die boot dat dit sy skuld is en dat hulle hom eerder in die see moet gooi.

En (anders as wat ’n mens dalk van ongelowige matrose sou verwag) wil hulle dit nie doen nie, maar uiteindelik het hulle nie ’n keuse nie.

En so moet Jona maar luister; en hy gaan vertel vir die groot stad Nineve dat al die verkeerde dinge gaan maak dat God hulle gaan straf.

En wonder bo wonder, al is hulle nie gelowige nie, glo hulle Hom. Hulle maak hulle lewens reg. Hulle kies om ons God, die enigste ware God, te aanbid. Om te wys hoe jammer hulle is, het almal, selfs die koning, rouklere aangetrek en niks geëet nie.

Toe die Here dit sien, het Hy hulle vergewe en afgesien van die straf wat Jona aangekondig het. En wraggies, Jona raak kwaad oor God se genade (onverdiende goedheid). Hy wou sien dat God hierdie mense van wie hy nie hou nie bykom. En die storie het ’n interessante einde.

Toe Jona nog so buite die stad op ’n heuwel sit en top, laat God oornag ’n komkommerplant groei om vir hom skadu te gee. En net die volgende dag, vreet ’n wurm dit op en ’n skerp sonnetjie brand Jona op sy kop (hy was seker bles!).

En nou is Jona eers vies! En toe sê die Here vir hom: ““Jy is besorg oor die komkommerplant waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie versorg het nie. Dit het oornag opgekom en oornag is dit dood. Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, ‘n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?”

God is lief vir alles mense!!

Doop:

Vir die Fariseërs wat gewonder het hoekom Jesus tyd spandeer saam met die “verkeerde mense”, het Hy gesê: “Gaan leer wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.’

Kan ons God se hart vol skoonheid, egtheid en onvoorwaardelik liefde verstaan? Net as ons nuutgemaak word in sy liefde; anders is ons die heeltyd geneig om God te maak na ons beeld

God het alle mense regtig lief; selfs die van wie ons nie so baie hou nie. En die wat dit nie verdien nie. En die wat nog niks vir hullself kan doen nie, soos kinders…

Ons geloofsreis is om telken weer in te groei in die wete: ek is ’n geliefde kind van God!

Dit is die doop.

Jy as ouers moet dit besef.

Jy moet dit elke keer weer vir jou kind bevestig!!

Skriflesing: Jes 1:10-18

Preek:

Waaroor gaan die Christelike geloof regtig? Wat beteken dit om jouself ’n Christen te noem? Gedeeltes soos hierdie herinner ons dat godsdiens lelik kan skeefloop. Dat mense nog steeds voluit godsdienstig kan wees en baie ernstig daaroor wees, maar dat hulle die punt baie ver mis. Wat ons in hierdie gedeelte baie duidelik sien, is dat God nie beïndruk word deur uiterlike dinge nie; ons as mense val baie keer daarvoor, maar nie Hy nie. Vir Hom gaan dit oor wat in jou hart aangaan.

En ja, party mense sê deesdae dit kan nie net oor liefde gaan nie, maar ek dink nie Jesus stem met hulle saam nie. Hy het gesê jy kan die boodskap van die hele Bybel so saamvat: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, verstand en krag en jou naaste soos jouself. Liefde het dalk verskillende gesigte, verskillende maniere om dit uit te druk, maar “wie liefhet is ’n kind van God en ken God en wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde!”

Alle sonde is dus ’n vorm van liefdeloosheid; en dit is wanneer godsdiens skeep loop; as ons ’n ywer het vir iets anders as liefde; as ons ons eie idees van hoe dinge moet wees vereenselwig met God se wil, en ons dan voluit daarvoor gaan omdat ons regtig glo dat ons op hierdie manier gehoorsaam is aan God, of sy eer beskerm. En in die geskiedenis is daar baie voorbeelde. In die Bybel kry ons die voorbeeld van Saulus/Paulus. Hy het Christene vervolg en in die tronk gegooi in sy passie vir sy godsdiens. In die middeleeue is oorloë gemaak in die naam Jesus. Gelowige mense het op ’n stadium geglo dat die vrylating van slawe teen die wil van God was (net 150 jaar terug het die gety gedraai). Gelowiges was op ’n stadium heftig gekant vroue wat mag predikante word. Want dit “staan in die Bybel”. Net 29 jaar terug het die gety gedraai en mag vroue ook dominees word in die NGK. Die onreg wat in die naam van geloof (ook ons geloof!!) teen mense gedoen is, skrei ten hemele.

Hoekom loop mense weg van die kerk en van die Christelike geloof? As jy navorsing hieroor gaan lees, is die lyn wat deurloop duidelik: hulle beleef Christene as onopreg, oneerlik en veroordelend; hulle vind nie liefde en opregte gemeenskap tussen hulle nie. Hulle sien ’n fiksasie op sekere morele kwessies, soos aborsie en gay mense, terwyl sistemiese onreg soos rassisme, die vernietiging van die ekologie, ongelykheid, en geweld en onderdrukking teenoor kwesbare mense voortduur.

Stephan Joubert skryf onlangs oor hierdie ding wat mense graag sê wanneer hulle voel die Christelike geloof word aangeval: ander godsdienste sou dít nie gevat het nie!  Hy vertel van ’n gesprek met iemand wat een of ander militante aksie wou van stapel stuur omdat ons moet “opstaan vir die Here”. Ja, het Stephan gesê, maar dan soos die NT ons leer. En toe wys hy hom op 1 Petrus 2:15: “Dit is die wil van God dat julle deur goed te doen ’n einde sal maak aan al die kwaad wat mense sonder begrip uit onkunde praat.” Toe voeg hy by dat Petrus ons boonop in vers 18-21 oproep om in moeilike omstandighede lyding te verduur vir Christus. Vers 20: “Om lyding te verdra wanneer julle goed doen, dit is genade van God. Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ’n voorbeeld gestel het sodat julle in sy voetspore kan volg.”  Dit beteken ons handel altyd in liefde, ook as ons protesteer. Ons voorbeeld is Jesus, nie ander godsdienste nie. Ons doen wat 1 Petrus 2:23 sê: ‘Toe Hy beledig is, het Hy nie terug beledig nie. Toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie, maar alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel.’”

Want, mense, ons dien ’n God wat die wêreld so liefgehad het dat Hy sy enigste Seun na die wêreld toe gestuur het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Ons God is nie so kleinlik, so gou op sy perdjie, of so selfsugtig of subjektief soos ons nie. Hy voel nie so gou verontreg of seergemaak nie. Hy het nie veel erg aan godsdiens as sulks nie. Ons geloofsaksies, ons bybelstudie en aanbidding is ’n middel tot ’n doel en nie ’n doel opsigself nie. Hy het ’n hart vir mense!

Hy gee aan ons die ware lewe. Een lewe. Nie ’n lewe in silos of kompartemente nie. Nie ’n ander lewe by die kerk as in my gesin, by die werk of by die skool nie. Jesus het nie gekom om vir ons ’n nuwe godsdiens te gee nie, maar om ons te wys hoe om waarlik mens te wees. Hy het nie ’n boek geskryf of ’n nuwe wet gebring nie, maar ’n gemeenskap agter gelaat.

’n Groep mense wat moet oefen om soos Hy te wees en sy werk, die werk van die koms van God se koninkryk voort te sit onder mense.

Want Hy het jou lief, meer as wat jy ooit kan weet, en Hy gee, uit sy genade aan jou die lewe in oorvloed. En as jy dit ten volle ontvang en verstaan, dan kan jy nie anders as om gedring te word deur sy liefde nie; jy kan nie anders as om ook te ontdek dat Hy nie net vir jou liefhet nie, maar alle mense, ewe veel. Dat daar by Hom geen onderskeid is nie, en dat sy droom ’n gemeenskap is waar mense nie net aan hulle belange dink nie, maar ook aan die van ander; waar mense verstaan dat dit net met my kan goedgaan as dit met ons almal goedgaan.

En dit gebeur wanneer ons reg laat geskied. Wanneer ons mense help om vry te kom van alle magte wat die lewe uit hulle wurg of hulle verdruk: armoede, gebrek aan goeie onderwys, gesondheidsorg, veroordeling vir wie hulle is ens.

Jesus het ook uit Jesaja aangehaal toe Hy sy bediening aangekondig het; mag ons bediening, ons lewe as Christene ook so wees!

“Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, 19 om die genadejaar van die Here aan te kondig.”

Belydenis van geloof:

Geloof is nie om alles te weet nie. Geloof is nie om perfek te wees nie. Dit is nie om nooit te twyfel nie, maar dit is om te besluit, jy kan nie jou lewe in jou hande hou niel jy wil dit oorgee aan God. En jy ken God deur sy Seun Jesus. En jy het die ander mense nodig wat saam met jou op hierdie geloofsreis is…

css.php