# Die Bybel praat sommer op baie plekke met ons oor verandering in ons lewens.
- Oor hoe die Here ons lewens wil verander soos Hy dit graag wil hê.
- Maar as ’n mens nou vanoggend Ef. 5:8 lees, dan besef jy dat die woord “verandering” eintlik nog te sag gestel is.
- Dit gaan hier oor niks minder nie as ’n soort rewolusie wat die Here in ons lewens wil laat plaasvind!
- ’n Geestelike rewolusie, kan ons maar sê, want luister net weer wat sê Ef. 5:8.
- Paulus sê daar: “Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig.”
- Van duisternis na lig!
- Dís nou vir jou ’n radikale verandering.
- Dis ’n totale omwenteling – ’n geestelike rewolusie.
- En die rede waarom hierdie rewolusie ook in ons lewens kan plaasvind, het alles te doen met wat Jesus hier op aarde kom doen het.
- Dit het alles te doen met sy lyding en sy dood ter wille van ons.
- Daardeur het Hy ons kom verlos van die duisternis en ons kom oorplaas in die lig.
- Daardeur het Hy vir ons so ’n groot verandering kom moontlik maak dat Paulus in 2 Kor. 5:17 kan sê: “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.”
# Die Here wil ons lewens so verander dat ons dit selfs ’n rewolusie sou kon noem!
- Hy wil ’n geestelike rewolusie in ons laat plaasvind.
- En dit gaan dan alles oor sy werk in ons lewens.
- Maar nou vind Paulus dit tog nodig om ook aan óns ’n sekere opdrag te kom gee.
- In die tweede deel van Ef. 5:8 sê Paulus: “Leef dan as mense van die lig.”
- Julle is nou lig.
- In die Here is julle nou lig.
- Maar leef dan nou ook as mense van die lig.
- En hoekom sou Paulus dit nodig gevind het om hierdie opdrag aan kinders van die Here te gee?
- Ek dink dis omdat dit tog nie vanselfsprekend is dat ons wel as mense van die lig leef nie.
- Ons doen ook nog so baie keer dinge van die donker.
- Ons tree weg uit die lig en dan struikel en val ons in die donker.
- En daarom is dit nodig dat ons as ‘t ware so ’n bietjie aangepor word.
- Dat ons aangepos word om die lig wat nou hier binne-in ons is ook uit te leef.
- In Paulus se woorde: “Leef dan as mense van die lig.”
# En nou is die belangrike vraag sekerlik: Maar hoe kan ’n mens dit regkry om so te leef?
- Ons val dan so maklik terug in die donker.
- Ons gee dan so maklik toe aan versoekings.
- Hoe kan ons dit regkry om as mense van die lig te leef?
# Nou, hieroor het Paulus verskillende belangrike gedagtes hier in Ef. 5.
- Maar ek dink die groot geheim agter alles wat Paulus hier sê, is dat ons die Heilige Gees moet toelaat om ons te help.
- Dis die Gees van God wat ons in staat stel om as mense van die lig te kan leef.
- En daarom sê Paulus in Ef. 5:18: “Laat die Gees julle vervul.”
- En ons ken hierdie beeld seker almal baie goed.
- Dis ’n beeld wat sê dat ons ons so moet oopstel vir die Heilige Gees dat ons soos ’n leë beker is wat vol word van Hom.
- Hierdie beeld, wat Paulus gebruik, sê dat ons nie vol moet wees van onsself nie, maar vol van die Gees.
- Leeg van onsself en vol van die Gees.
- En so moet ons ons lewens aan die Gees van God oorgee.
- So moet ons heeltemal van Hom afhanklik wees en elke dag vra dat Hy ons sal lei en help om as mense van die lig te kan leef.
- Dis nét as ons vervul is met die Gees dat ons so kan leef.
- Dalk kan ons dit vergelyk met die werking van hierdie flits.
- Dié flits kan net werk as dit gevul is met twee sulke batterye.
- As ek enigiets anders hier insit, sal die flits net eenvoudig nie werk nie.
- Kom ons sê ek gooi die flits vol petrol, of ek gooi dit vol heuning – dis tog ook dinge wat energie kan verskaf.
- Maar nee, ons weet dis net die regte batterye wat die lig van die flits sal laat skyn!
- En so kan ons dan net leef as mense van die lig as ons vervul is met die Heilige Gees – amper soos ’n flits wat gevul is met die regte batterye.
# Vervul met die Gees, só kán ons lewe as mense van die lig.
- Anders sal ons dit nooit regkry nie.
- Ons sal nie kan nie, want dan is dit ons eie poging.
- En dan sal ons maar altyd weer geneig wees om terug te val in die donker.
- Maar vervul met die Gees begin leef ons ’n nuwe lewe wat die lig van die Here elke dag uitstraal.
- Dan het ons die regte “batterye” hier binne-in ons wat die lig sál laat uitstraal, die Gees van God.
- En nou gee Paulus hier in Ef. 5 ook nog vir ons ’n hele paar praktiese riglyne oor hoe ons, vol van die Heilige Gees, nuut moet lewe.
- Hoe ons nuut moet lewe.
- Kom ons kyk so vinnig na ’n paar van hierdie riglyne van Paulus.
- Hy sê bv. in vers 10: Mense van die lig vra hulleself voordurend af of iets vir die Here aanneemlik is.
- Nou, ons weet mos dat ons baie dinge kan doen wat nie vir die Here aanneemlik is nie.
- Dat ons baie dinge kan doen wat nie sy goedkeuring wegdra nie, en wat nie in lyn met sy wil is nie.
- Wat bots met sy opdrag dat ons Hom bo alles moet liefhê en ons medemens soos onsself.
- En daarom moet ons ook nie sommer net altyd blindelings dinge doen in ons lewens nie.
- Nee, ons moet ook “geestelike onderskeiding” kan beoefen, soos baie mense dit noem.
- En geestelike onderskeiding beteken dat ek baie dinge in my lewe net sal doen nadat ek daaroor gebid en by die Here leiding daaroor gesoek het.
- Geestelike onderskeiding beteken ek vra die Here se hulp om te kan onderskei tussen wat reg en verkeerd is, tussen wat lig en wat donker is.
- Ek aanvaar nie maar net dat ek in elke geval sal weet wat ek behoort te doen nie.
- Nee, in afhanklikheid van die Heilige Gees en vol van die Gees soek ek na dít wat vir die Here aanneemlik is.
- En Hy help my om die aanneemlike te kan onderskei van dit wat nie vir Hom aanneemlik is nie.
# ’n Tweede praktiese riglyn wat Paulus hier in Ef. 5 vir ons gee vir ons nuwe lewe, vol van die Heilige Gees, is wanneer hy in vers 11 sê: “… moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie, maar stel dit eerder aan die kaak.”
- So hier is Paulus se raad aan ons dat ons nie moet deel hê aan dinge wat ons weet verkeerd is nie.
- En daar is tog baie dinge wat ons duidelik weet verkeerd is om te doen.
- Ons weet bv. dat dit verkeerd is om ons aan drank te buite te gaan, of om ’n buite-egtelike verhouding aan te knoop, of om op ’n oneerlike manier geld te maak, of om ander mense fisies of verbaal te mishandel, of om rassisties op te tree en te diskrimineer teen iemand van ’n ander bevolkingsgroep as ons eie.
- Ons weet sulke dinge is verkeerd, en ook nog baie ander.
- En Paulus se raad is dan, aan die eenkant, dat ons eenvoudig daarvan moet wegbly.
- Dat ons ’n veilige afstand van al sulke verkeerde dinge af moet handhaaf.
- Maar daarby, sê hy, moet ons dit ook aan die kaak stel.
- Die Nuwe Lewende Vertaling sê ons moet dit “ontmasker.”
- Verkeerde dinge lyk mos nie altyd so verkeerd soos dit wel is nie.
- Sulke dinge, kan ons amper sê, probeer hulleself as ‘t ware kamoefleer, soos ’n inbreker wat ’n masker dra sodat hy nie herken kan word nie.
- Maar ons moet ook die verkeerde dinge in ons wêreld ontmasker.
- En daarom sal ons nie net kan stilbly oor wat verkeerd is nie, veral as ’n verkeerde ding ander mense benadeel of seermaak.
- Ons sal nie kan stilbly nie, want dan kan dit lyk of jy die verkeerde ding goedkeur.
- En dan laat jy dalk ook toe dat dit verder en verder gaan.
- Moenie meedoen nie, sê Paulus, én ontmasker ook daardie verkeerde ding wat hom dalk so onskuldig wil voordoen.
- Wys dit uit.
- Bring dit in die lig, en leef ook self so dat dit wat verkeerd is, ontmasker sal word.
# Ek wil nog ’n laaste praktiese riglyn uit Ef. 5 vir u onderstreep.
- En ook hierdie riglyn hoort by die nuwe lewe van mense van die lig, die nuwe lewe van mense vol van die Heilige Gees.
- Paulus sê in vers 19 en 20 vir ons dat mense van die lig mense is wat die Here loof en dank.
- En hier gaan dit eintlik oor ’n hele nuwe lewenshouding wat die Heilige Gees in ons kom bewerk.
- Dis ’n lewenshouding wat wegwys van onsself en die lof en eer aan die Here toebring.
- Dit laat nie die klem of die kollig op onsself val nie, maar op die Here en sy eer.
- En hier in die kerk het ons op ’n Sondag ’n wonderlike geleentheid om veral met die liedere wat ons sing juis weg te wys van onsself en die Here te loof en te prys.
- Maar natuurlik moet ons Hom ook van Maandag tot Saterdag loof.
- Natuurlik moet ons ook op elke dag van die week ons selfsug agter ons laat en die Here onselfsugtig dien in alles wat ons doen.
- En dan, baie naby aan die lof wat ons aan die Here moet bring, lê die dank wat ons ook aan Hom moet bring.
- Hy gee vir ons so ontsaglik baie.
- Hy gee sy liefde en genade en verlossing en vergifnis.
- En Hy sorg elke dag vir ons.
- Hy is so goed vir ons.
- Hoe kan ons anders as om Hom sonder ophou te dank?
- Mense van die lig, vol van die Heilige Gees, is mense wat die Here loof en dank.
- Hulle kan nie anders nie!
- Ons kan nie anders nie!
# Paulus sê vanoggend vir ons: In die Here is julle lig.
- Die Here het hierdie eintlik rewolusionêre ding gedoen om julle uit die duisternis oor te plaas in die lig.
- En daarom is julle nou lig.
- Maar belangrik: julle moet ook leef as mense van die lig.
- En in Ef. 5:9 gee Paulus vir ons so ’n treffende opsomming van dít wat uit die lig voortkom.
- Hy sê: “Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is.”
- Mag die Here ons dan help dat daar ook uit ons binneste al meer net dít sal kom wat goed en reg en waar is.
- Dít is hoe mense van die lig lewe.
- Dít is hoe ons lewens lyk wanneer ons vervul is met die Heilige Gees.
- En dan sal ander ook kan sien dat die Here werklik ’n geestelike rewolusie in sy kinders se lewens laat plaasvind!
AMEN