Preek – 29 Des 2019: "Om God se gesig te sien..." – Luk 2:8-12
Verwagting (deur Neels Jackson)
daar is iets wat stilweg gebeur
soos die hemel wat aan die oostekant verkleur
dit kom saggies, dit is moeilik om te sien
maar dit is daar, dit is meer as net miskien
dit is in elke landstreek, elke dorp en elke straat
dis in elke blom en elke vrug en elke saad
dit kom soos ’n rustelose brander
wat jou omkeer en wat alles kom verander
jy hoor dit in baie ou verhale
wat vertel word in alle lande alle tale
dit kom vir die siekes en beseerdes
die verwerptes, veragtes en verkeerdes
dit maak nuut, dit maak beter, dit maak heel
en so mooi as wat jy jou maar kan verbeel
dit waai oor die berge soos die wind
en dis onkeerbaar soos die geboorte van ’n Kind
Stilte en seëngroet:
Ons wag vanoggend op Jesus wat weer op onverwagse maniere na ons toe kom… Ons wag om deur Hom gevul te word, sodat Hy weer deur ons gebore kan word in hierdie wêreld van ons wat verlossing so nodig het…
“Jesus is hier en Hy kom wys weer vanoggend vir jou God se gesig.”
Skriflesing: Lukas 2:8-12
Preek:
Vir die eerste 12 eeue van die Christelike geloof was Paasfees die grootste fees, maar in die 13de eeu het ’n merkwaardige persoon, St Francis van Asissi op die toneel verskyn. Hy het aangevoel dat Jesus se kruisdood en opstanding nie die enigste gebeure was wat van groot belang was nie, maar dat die inkarnasie, die menswording (vleeswording) van God in Jesus net so belangrik was. Hy is dan ook die eerste persoon wat ’n sg. Nativity scene (of kriptoneel) gemaak het om mense in te nooi in hierdie heerlike geheimenis.
Van God wat bevestig het dat sy skepping goed is. God wat die afstand tussen hemel en aarde, tussen Gees en alles wat tasbaar is kom oorbrug het. Wat kom wys het daar is hoop vir die verskeurdheid in ons eie lewe; integrasie, heelheid, volheid is moontlik vir ons as mense; vir God se hele skepping. Dit is goed om mens te wees. God het ons so beplan. Dit is goed om op aarde te wees, dit is goed om deel te wees van hierdie fisiese wêreld. God het dit gemaak en dit is goed.
Die skrywer-teoloog FB skryf van die keer wat hy die Italiaanse film La Dolce Vita in ’n klein studente-dorpie gekyk het. Die openingstoneel van die film is waar ’n helikopter stadig deur die lug vlieg, nie baie hoog van die grond af nie. Onder die helikopter hang die lewensgrootte beeld van ’n man met uitgestrekte arms in ’n kleed wat, as die kamera net daarop fokus, dit lyk asof dit self vlieg. Die helikopter vlieg oor ’n veld waar ’n paar mans aan die werk is en veroorsaak nogal ’n bietjie konsternasie. As een van die mans die beeld herken en en in Italiaans skree. “Hi, dit is Jesus!”, begin van die mans saam met die H hardloop, waai en roep.
Maar die H vlieg aan en waneer dit die buitewyke van Rome bereik vlieg dit oor ’n gebou waar ’n klomp meisies in bikini’s besig is om op die dak te “tan”. Hulle kyk op en begin te waai. Die jong mans wat die helikopter vlieg maak dan eers ’n U-draai om die H te laat hang oor die sonbaaiers, waar hulle, bo die geraas van die helikopter probeer om die meisies se telefoonnommers te kry terwyl hulle verduidelik dat hulle die beeld by die Vatikaan moet gaan aflewer, maar dat hulle vinnig weer ’n draai sal kan kom maak as die takie afgehandel is.
Natuurlik, veral in ag genome dat hierdie ’n studentedorpie is, was die reaksie van die gehoor om te lag vir die misplaastheid van die hele storie. Hier was die heilige beeld swaaiend aan die H aan die een kant, en die stuitige Italianers aan die ander kant besig om te flirt met die mooi meisies in die bikini’s. Die een is van steen, so ver, so uit plek uit (vroom) daar aan die tou in die lug; die ander is vlees en bloed mense, vol van lewe en begeerte.
Maar, soos die H voortgaan op sy weg raak die groot dome van St. Peters sigbaar en vir die eerste keer zoom die kamera in op die gesig van die beeld, totdat die skerm gevul is met net die gesig van Christus – en in daardie oomblik was daar geen gelaggery meer in daardie teater vol studente nie. En dan skryf FB: “Nobody laughed during that moment because there was something about that face, for a few seconds there on the screen, that made them be silent—the face hovering there in the sky and the outspread arms.
For a moment, not very long to be sure, there was no sound, as if the face were their face somehow, their secret face that they had never seen before but that they knew belonged to them, or the face that they had never seen before but that they knew, if only for a moment, they belonged to. I think that is much of what the Christian faith is. It is for a moment, just for a little while, seeing the face and being still, that is all.”
Ek dink dit is Tomas Merton wat gesê het: Dit is ons doel om verlief te raak op God in die gesig van Jesus. In Jesus het God ’n gesig gekry, mens geword. Daar tussen skaapwagters in die oop veld en tussen beesmis en hooi, in doeke doegedraai in die stal, het die heerlikheid van God geskyn. In Jesus leer ons van ’n volwasse geloof wat nie meer in kompartemente werk nie. Ons leer dat ware spiritualiteit is nie om meer geestelik te word nie, maar om meer (ware) mens te word. In Jesus word die hele mensdom ingesluit. Sy gesig is ons almal se gesig. Hy is vir altyd (en weer en weer in verskillende oomblikke en deur verskillende mense en gebeure) vir ons die voorbeeld en die werklikheid van wat die doel van ons menswees is.
Hy wys ons dat ons nie soos die gelowiges van ouds hoef te wag vir een of ander spesiale ingrype nie, maar dat ons hele lewe, ons regte, fisiese lewe, al die bloed en die trane, al die begeertes, vreugdes en teleurstellings, is reeds gevul met sy teenwoordigheid, sy heerlikheid, want God het mens geword en Hy word weer en weer mens in dié se lewens wat bereid is om vir Hom herberg te gee.
Liefde is kwesbaar. En as God liefde is, is dit onvermydelik dat Hy Homself kwesbaar sou maak. Die God van die skepping met net sy Woord, die God van die Rooisee en van berg Sinaï, van die water uit die rots, die God van die beloofde land, het ons kom verras as die Kind in die krip. En dit was sy grootste oomblik: God het neergedaal, een geword, met die diepste nood, die diepste behoeftes van sy mense en sy skepping: die Verlosser is hier, Christus die Here, ’n kind in doeke. In ’n wêreld van kindermoorde, word Hy ’n kind. In ’n wêreld waar die vyande van die Empire aan kruise vasgespyker is, staan Hy op vir die waarheid. Hy neem die risiko dat ons Hom kan verwerp en doodmaak. Want dit is wat liefde doen.
En dit beteken dat ons blootgestel word. FB: “Those who believe in God can never in a way be sure of him again. Once they have seen him in a stable, they can never be sure where he will appear or to what lengths he will go or to what ludicrous depths of self-humiliation he will descend in his wild pursuit of humankind.”
Elke keer as ons Hom wil definiëer volgende die wysheid en die mag van die wêreld, dan herinner Hy ons daaraan dat ons sy heerlikheid, sy wysheid, sy krag die beste sal leer ken in ons eie swakheid, pyn en kwesbaarheid. En as ons Hom begin verwar met ons afgode van sukes, gemak en welvaart, dan herinner Hy ons dat hy steeds gevind kan word tussen die randfigure, die onreines, die armes…
Mag 2020 gekenmerk word deur oomblikke wat jy stilgeruk word deur die gesig van Jesus. Mag jy die kwesbare God vind in jou eie kwesbaarheid en leer van ware liefde en gemeenskap. Mag jy in sy gesig jou eie gesig, God se gesig en die gesig van elke mens sien en mag jy beleef hoe iets in jou en iets in jou wêreld heel word. Amen.
First Coming
By Madeleine L’Engle
He did not wait till the world was ready,
till men and nations were at peace.
He came when the Heavens were unsteady,
and prisoners cried out for release.
He did not wait for the perfect time.
He came when the need was deep and great.
He dined with sinners in all their grime,
turned water into wine.
He did not wait till hearts were pure.
In joy he came to a tarnished world of sin and doubt.
To a world like ours, of anguished shame
he came, and his Light would not go out.
He came to a world which did not mesh,
to heal its tangles, shield its scorn.
In the mystery of the Word made Flesh
the Maker of the stars was born.
We cannot wait till the world is sane
to raise our songs with joyful voice,
for to share our grief, to touch our pain,
He came with Love: Rejoice! Rejoice!
Stilte: (fokus op terugkyk en vorentoe kyk)
Ons leef in ’n wêreld wat soek na superhelde wat met bo-natuurlike krag die wêreld kan regruk…
Jesus was op ’n manier die anti-superheld wat nie met mag en geweld nie, maar met kwesbare liefde die wêreld kom red het, nie gedomineer het nie, maar kom dien het.
Kan ons in navolging van Hom in 2020 sulke “gewone” hero’s wees?
Video: Google in search 2019 (dan stilte)
