Preek - 28 April 2019: "Trappies op of af?" - Fil. 2:5-11

FIL. 2:5-11 (28/4/19)

 

#  Tom Smith sê in sy boek “Raw Spirituality” dat ons kultuur ’n obsessie het met opgradering.

  • Nou, heel waarskynlik is opgradering darem nie by ons almal ’n obsessie nie.
  • En dalk sal ons ook nie so ’n sterk woord soos “obsessie” daarvoor wil gebruik nie.
  • Miskien is dit maar net soos ’n sterk behoefte of ’n gewoonte by ons om te wil opgradeer.
  • Maar ek dink ons weet goed wat Tom Smith met sy stelling bedoel.
  • Want baie keer wil ons graag allerhande dinge in ons lewe opgradeer.
  • Dalk ons huis, of motor, of klere, of vakansies.
  • Dalk ons TV-stel, of rekenaar, of selfoon.
  • En dalk kom dit ook daarop neer dat ons maar altyd graag ons lewenstyl wil opgradeer.
  • Ons soek na ’n beter lewe, en wil opgradeer na ’n hoër lewenstandaard.
  • Ons wil die trappies opklim na iets beter as wat ons op die oomblik het.

 

#  Maar nou het ons vanoggend in Fil. 2 gelees dat Jesus nie hier op aarde trappies kom opklim het nie, maar eerder trappies na onder kom volg het.

  • Want wat sê Paulus in vers 7?
  • Hy sê: Jesus “het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.”
  • Dat Jesus mens geword het, dit was vir Hom trappies na onder.
  • Hy wat die Seun van God is, het ’n gewone mens net soos ons kom word.
  • En daarmee het Hy Homself verneder.
  • Paulus gebruik die woord “slaaf” en sê Jesus het die gestalte van ’n slaaf aangeneem toe Hy ’n mens geword het.
  • Vrywillig doen Jesus afstand van sy Koningskap in die hemel en word soos ’n slaaf hier op aarde.
  • En daarby kom sterf Hy aan ’n kruis.
  • En van sy kruisdood sê Paulus: Jesus “het Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.”

 

#  So, Jesus het hier op aarde trappies na onder kom volg.

  • ’n Mens sien dit ook waar Hy op ’n keer sy dissipels se voete gewas het, die werk van ’n slaaf in daardie tyd.
  • En wat van die keer toe Jesus in Saggeus se huis ingegaan het, Saggeus die tollenaar, ’n man wat baie mense met belastinggeld bedrieg het?
  • Maar Jesus was bereid om in sy huis tuis te gaan.
  • En wat van die keer toe Jesus by die put met ’n Samaritaanse vrou gesels het?
  • ’n Joodse man was nie veronderstel om met ’n Samaritaanse vrou kontak te hê nie, en boonop was hierdie vrou nie eers getroud met die man saam met wie sy in daardie stadium gewoon het nie.
  • So, Jesus het Homself verneder deur sy gesprek met hierdie vrou.
  • Jesus volg dikwels die trappies na onder.
  • Maar so klim Hy dan af tot op elkeen van ons, as gewone mense, se vlak.

 

#  Nou, ongelukkig sukkel ons so dikwels om Jesus se voorbeeld te volg!

  • Ongelukkig volg ons so moeilik trappies na onder.
  • Ons wil liewer hoër klim.
  • Altyd hoër en beter en meer.
  • En waar eindig dit?

 

#  Kom ons aanvaar vanoggend dat Tom Smith tot ’n groot mate reg is as hy sê: Ons kultuur het ’n obsessie met opgradering.

  • Al sal ons dit dalk in effens ander woorde wou sê, kom ons aanvaar dat hy ons oë probeer oopmaak vir ’n baie gevaarlike versoeking.
  • En kom ons vra dan: Wat kan ons verlos van hierdie obsessie?
  • En ek wil graag 3 sleutels vir u noem vanoggend, 3 sleutels wat ons kan help om Jesus se voorbeeld te volg, eerder as ons kultuur of samelewing se voorbeeld.
  • En wat is hierdie 3 sleutels?

 

#  Ek wil begin deur te sê: Sleutel 1 is dat ek moet onthou die lewe gaan nie net oor my nie.

  • Die lewe gaan nie net oor my nie, asof ek die enigste mens in die wêreld is, en asof ek die middelpunt van die heelal is.
  • U sal weet dat toe Jesus se dissipels Hom gevra het om hulle te leer bid, Hy vir hulle die Ons Vader-gebed geleer het.
  • En hoe begin daardie gebed?
  • Dit begin met die woorde “Ons Vader.”
  • Nie “my” Vader nie, maar “ons” Vader.
  • En dit is so belangrik dat ons hierdie heel eerste woord van die Ons Vader-gebed moet onthou.
  • Want dit leer ons om nie selfsugtig te bid nie.
  • Om nie net aan ons eie behoeftes en begeertes te dink wanneer ons bid nie.
  • Die woord “ons” kondig eintlik die hele aard van die Ons Vader-gebed aan.
  • Dit kondig aan dit ’n onselfsugtige gebed sal wees, ’n gebed waarin ek nie myself eerste stel nie, maar waarin ek bid as deel van ’n groter “ons” waarvan ek deel is.
  • Ook daardie deel van die gebed waarin ons bid vir dit wat ons nodig het, vir “daaglikse brood,” ook daardie bede is ’n onselfsugtige bede: Gee ons vandag ons daaglikse brood.

 

#  Hoe kan ons van ons kultuur se obsessie met opgradering verlos word?

  • Die eerste sleutel is om te verstaan dat die lewe nie net oor my gaan nie.
  • Dit gaan oor ’n groter “ons,” waarvan ek deel is en waarvan ek onselfsugtig deel moet wees.
  • Maar dan ’n tweede sleutel.
  • 24:1 sê: “Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here.”
  • Ons tweede sleutel is om te onthou dat alles eintlik aan God behoort.
  • Tom Smith sê: “Die motors waarmee ons ry, die huise waarin ons woon, die opvoeding wat ons gekry het – alles behoort aan God.”
  • En dit beteken ek mag ook nie optree asof dit alles aan my behoort nie.
  • Selfs as ek dalk hard gewerk het vir wat ek besit, en baie opofferings gemaak het om te kan wees waar ek vandag is, dan nog behoort alles eintlik aan die Here.
  • En as ons dít glo, dan dink ons anders oor wat ons besit en dan gebruik ons dit ook anders.

 

#  Ons het al in die verlede meermale in die gemeente gedink en gepraat oor hoe ons bestuurders of rentmeesters moet wees van dit wat die Here vir ons elkeen gegee het.

  • Ons het al heelwat besin oor hoe die Here ons aangestel het om eintlik alles hier op aarde namens Hom te bestuur.
  • En ons moet ook onthou dat die Here nie net vir ons materiële goed gegee het om vir Hom te bestuur nie.
  • Nie net geld en besittings nie.
  • Nee, die Here het ook vir ons elkeen talente gegee wat ons in sy diens moet gebruik.
  • En iets baie kosbaar is natuurlik ook die tyd en die geleenthede wat die Here vir ons gee.
  • Maar hoe gebruik ons dit alles?
  • Hoe bestuur ons dit namens die Here?
  • Maak ek dalk asof dit alles myne is, om daarmee te doen wat ék wil?
  • Of gebruik ek alles wat ek het om die Here se liefde met ander te kan deel?
  • My geld en besittings, my talente, en my tyd?
  • Dien ek die Here met elkeen van hierdie dinge?
  • Of is ek dalk so besig om te kyk na waar ek kan opgradeer dat ek vergeet dat alles aan Hom behoort en dat alles tot sy eer besit en gebruik moet word?

 

#  Ek wil ook graag ’n derde sleutel noem wat ons kan verlos van ’n obsessie met opgradering.

  • En hierdie sleutel is: Onthou wat ons roeping as gelowiges en as kerk is.
  • Dit kan so maklik gebeur dat ons vergeet waarvoor die Here ons as gelowiges en kerk in hierdie wêreld roep.
  • Henri Nouwen waarsku ons iewers baie ernstig hieroor.
  • Ek het dit in Afrikaans probeer vertaal, en wil dit graag vir u lees.
  • Hy sê eintlik geweldig baie in hierdie aanhaling, maar ek sal dit sommer twee keer stadig vir u lees.
  • Nouwen het gesê: ’n Groot versoeking vir ons almal is om toe te laat dat ons behoefte aan sukses, sigbaarheid en invloed ons gedagtes, woorde en dade so oorheers dat ons net die trappies al hoër wil klim en so ons roeping as Christene verloor.
  • Ek wil dit weer stadig lees!
  • ’n Groot versoeking vir ons almal is om toe te laat dat ons behoefte aan sukses, sigbaarheid en invloed ons gedagtes, woorde en dade so oorheers dat ons net die trappies al hoër wil klim en so ons roeping as Christene verloor.
  • ’n Obsessie met opgradering kan maak dat ons ons roeping as Christene verloor.
  • En wat is ons roeping?
  • As ons na Jesus se voorbeeld in die Bybel kyk, soos ons ook vanoggend in Fil. 2 daarvan gelees het, dan is ons roeping om soos Jesus ander te dien, ander lief te hê, ander te help wat in nood verkeer.
  • Ons roeping as Christene is om dikwels trappies na onder te volg om Jesus se liefde met ander te kan deel.
  • Ons hoor bv. ons roeping in woorde soos nederigheid, en diensbaarheid, en barmhartigheid, en omgee.
  • En dit lyk vir my by hierdie dinge kom ons net uit as ons bereid is om trappies na onder te volg, eerder as om altyd net hoër en hoër na bo te wil klim.

 

#  Maar nou is daar ’n paar vrae wat iemand dalk al brand om te vra, vrae soos: Mag ons dan niks geniet van die besittings en inkomste wat die Here vir ons gee nie?

  • En mag ek dan ook nooit iets opgradeer in my lewe of in my lewenstyl nie?
  • Mag ek ook nie probeer om suksesvol te wees en vooruit te gaan in my beroep of my sake-onderneming nie?
  • Wanneer ek suksesvol is, het ek tog ook meer om met ander te kan deel?
  • Nou, op al hierdie vrae kan ons maar net sê dat die Here tog sekerlik nie wil hê dat ons nie die lewe moet geniet nie.
  • Of dat ons nie ons talente moet gebruik en moet probeer vooruitgaan in ons lewe nie.
  • Maar wanneer opgradering en sukses ’n obsessie by ons word, dan kan dit tog nie reg wees in die oë van die Here nie.
  • En wanneer ons ons besittings en talente en tyd net vir onssself wil hê en gebruik, dan kan dit tog nie reg wees in sy oë nie.
  • Op ons pad agter Jesus aan mag dit nie by ons ’n obsessie wees om altyd net die trappies hoër na bo te wil klim nie.
  • Dikwels sal ons juis die trappies na onder moet volg as ons regtig padlangs agter Jesus wil aangaan.

 

#  Miskien kan ek afsluit met ’n praktiese voorbeeld wat Tom Smith vir ons in sy boek gee.

  • En ek dink so ’n voorbeeld is ook ’n uitdaging vir elkeen van ons.
  • Wat sê Tom Smith?
  • Ek wil sy voorbeeld só verduidelik:
  • Wil jy dalk jou TV-stel opgradeer?
  • Dink dan eers of jy nie eerder daardie geld kan gebruik om ’n behoeftige persoon te help om ’n goeie opvoeding te bekom nie.
  • Dalk is jou bestaande TV-stel nog meer as goed genoeg en kan jy die geld wat jy op ’n nuwe stel sou spandeer eerder vir ’n behoeftige se opvoeding gebruik.
  • Baie keer sal ons doodeenvoudig nie iemand in nood kan help as ons nie die trappies wil afklim na hom of na haar toe nie.

 

AMEN

css.php