Ps. 71:1-20 (27/10/19)

#  As ’n mens vir een oomblik sou dink dat bejaarde mense, of senior burgers, nie ook baie belangrike mense is nie, dan maak jy ’n baie groot fout.

  • Jy maak ’n baie groot fout, want vir die samelewing en ook vir die kerk is ons bejaardes van onskatbare waarde.
  • En hoekom?
  • Veral omdat hulle die mense is met die ondervinding.
  • Hulle het die lewenservaring wat niemand van hulle kan wegneem nie en wat niemand met al die geld in die wêreld by hulle kan koop nie.
  • En hierdie lewenservaring is iets waarby elke jonger mens, en selfs ook kinders, geweldig baie kan leer.
  • Vir my is dit gewoonlik baie lekker om maar net by ’n bejaarde persoon te kan sit en luister as hy of sy van die verlede vertel, of van die beroep wat hulle beoefen het, of van die kinders en kleinkinders wat vir hulle so na aan die hart lê.
  • Dis ook so lekker om te hoor watter pad ’n bejaarde al saam met die Here gestap het.
  • En as jy so na ’n bejaarde persoon luister, dan weet jy: hier is nou lewenservaring aan die woord!
  • En hier moet ek nou mooi luister, want heel moontlik kan ek ook iets belangriks by hierdie persoon leer.
  • En ek dink dít is ook die gevoel wat ’n mens kry wanneer jy Ps. 71 lees: hier is nou lewenservaring aan die woord!
  • Die digter van hierdie psalm sê mos self dat hy al “oud en grys geword het.” (vers 18)
  • Hy sê ook dat sy “kragte ingegee het.” (vers 9)
  • Maar al was hy nou al oud en grys en sonder veel krag het hy tog vir ons hierdie pragtige psalm vol wysheid geskryf.
  • En uit sy lewenservaring is daar ook vir ons vanoggend soveel te leer dat ons eintlik nie in een preek genoeg daaroor sal kan sê nie.
  • Maar ek wil dan tog graag in hierdie een preek vir u op drie belangrike dinge in Ps. 71 wys.

#  En die eerste ding waarop ek wil wys, is dat die digter van hierdie psalm dit in sy lang lewe nie altyd maklik gehad het nie.

  • In vers 20 sê hy vir die Here: “U het talle benoude ervaringe oor my gebring …”
  • En, hoewel ons nie weet watter benoude ervaringe dit was wat hierdie man beleef het nie, kan ons dalk ’n paar goeie raaiskote waag.
  • Dalk moes die digter ook in sy lewe as ’n soldaat diensplig doen en teen die vyande van Israel veg.
  • As dít die geval was, sou hy beslis kon vertel van benoude oomblikke op die slagveld.
  • Maar dalk dink die digter aan tye toe daar ernstige siekte in sy huis was, of toe daar hongersnood in die land was en dit baie moeilik was om te oorleef.
  • Ons weet nie vanoggend presies watter “benoude ervaringe” die digter beleef het nie.
  • Maar wat ons wel weet, is dat “benoude ervaringe” beslis ook deel van ons elkeen se lewe hier op aarde is.
  • Die lewe loop nie maar net altyd glad, soos ’n goedgeöliede masjien nie.
  • Krisisse of probleme kom oor ons almal se pad.
  • En dinge gebeur wat vir ons benoud en bekommerd kan laat voel.
  • En so het die digter van Ps. 71 ook die lewe geken: as iets wat nie altyd maklik is nie.
  • In die tyd toe hy hierdie psalm geskryf het, was daar juis weer ’n krisis in sy lewe.
  • Sy vyande het blykbaar saamgesweer en hom probeer doodmaak.
  • En dit is dan ook seker nie snaaks dat ’n mens ’n soort vrees by hierdie man bespeur nie.
  • En dat hy in sy vrees in vers 9 vir die Here vra: “Moet my tog nie verwerp nou dat ek oud geword het nie.”
  • Hy is bang dat die Here hom nie meer sal help nie.
  • Dat die Here hom as ’n ou man nou aan sy eie lot sal oorlaat en dat hy dus alleen sal staan in sy krisis.

#  Die lewe is nie altyd maklik nie!

  • U en ek was mos ook al almal in ’n krisis.
  • En ons was mos ook al bang dat ons deur ons krisis sal ondergaan en dat die Here ons dalk nie sal help nie.
  • En hoe ouer ons is, hoe meer van hierdie “benoude ervaringe” het ons dalk ook al beleef.
  • Ja, die lewe is beslis nie altyd maklik nie.

#  Maar dit bring ons by die tweede ding in Ps. 71 waarop ek u graag vanoggend wil wys.

  • En dit is dat die digter van die psalm in sy moeilike omstandighede in die Here bly glo het en by die Here gaan skuil het.
  • Sy geloof is reeds in die heel eerste woorde van die psalm duidelik.
  • Hy sê: “By U, Here, skuil ek …”
  • En dan is daar ook sommer net in die eerste paar verse van die psalm al ’n hele klomp woorde van geloof waarmee die digter oor die Here praat.
  • Hy sê die Here is sy rots, en sy vesting, en sy hoop, en sy hulp, en sy veilige toevlug.
  • En met elkeen van hierdie woorde bely hy eintlik sy geloof in die Here.
  • As die grond onder sy voete wil wegsak, glo die digter dat die Here die rots is waaraan hy kan vashou.
  • As sy vyande hom agtervolg en hy vir sy lewe vrees, dan glo hy dat die Here self sy vesting en sy veilige toevlug is.
  • As alles hopeloos lyk en mense hom ook nie kan help nie, dan glo hy dat die Here self sy hoop en sy hulp is.
  • En so het die digter van Ps. 71 in sy lang lewe geleer om op die Here te vertrou.
  • So het hy geleer dat ’n probleem of ’n krisis wat opduik, nie sommer ook die einde van die wêreld beteken nie.
  • Nee, die Here, op wie hy vertrou het, het altyd weer gekom en hom uit elke “benoude ervaring” kom red.

#  So, in sy moeilike omstandighede het die digter van Ps. 71 in die Here bly glo en by Hom gaan skuil.

  • En sy geloof is dan ook vanoggend vir ons almal ’n voorbeeld.
  • Miskien beleef ons ook op die oomblik ’n krisis in ons lewe, of miskien bevind ons ons in moeilike omstandighede.
  • En daarmee saam het ons dalk die vrees dat dit wat verkeerd is in ons lewe nie weer sal regkom nie.
  • Maar juis in ons omstandighede, en in ons vreesagtigheid, moet ons die voorbeeld van die digter van Ps. 71 navolg.
  • Soos hy moet ons ook vir die Here sê: “By U, Here, skuil ek …”
  • En, soos hy, moet ons ook vir die Here sê: U is my rots, en my vesting, en my hoop, en my hulp, en my veilige toevlug.
  • En as ons dan so in geloof aan die Here vashou, sal ons vind dat ons vrees begin verdwyn.
  • En sal ons vind dat ons probleme of krisisse nie meer net “benoude ervaringe” is nie, maar dat hierdie dinge ook vir ons geloofservaringe word, ervaringe waardeur ons nader en nader aan die Here kan groei.

#  Die lewe is nie altyd maklik nie.

  • Saam met die mooi en aangename dinge daarin is daar eenvoudig ook nog ’n ander kant aan die lewe, en dít is daardie ervaringe of dinge wat ons dalk sou wou wegwens uit ons lewens.
  • En nou mag dit wees dat sulke slegte ervaringe ’n mens verbitterd kan laat word.
  • Dit mag ook wees dat dit jou laat wanhoop of laat vrees.
  • Maar om verbitterd te wees, of om te wanhoop en te vrees, is nie die pad waarop ons as kinders van die Here moet gaan nie.
  • Die pad wat ons moet volg, is die pad waarop die “ou man” van Ps. 71 ook was.
  • En dis die pad van geloof.
  • Dis die pad wat na die enigste werklike veilige vesting lei.
  • Die pad wat ons na die Here toe lei.

#  Maar ek wil ook nog op ’n derde belangrike saak hier uit Ps. 71 wys.

  • En dit is dat die digter van hierdie psalm ons leer dat ons nie anders kan as om die Here te loof in ons lewens nie.
  • As ons maar net ’n slag by ons probleme of moeilike omstandighede wil verbykyk en dié dinge raaksien wat die Here al in die wêreld gedoen het en ook steeds doen, dan kan ons nie anders as om Hom te loof nie.
  • In vers 19 van die psalm sê die digter: “U verlossingswerk, o God, is oneindig groot; groot is die dinge wat U gedoen het! Wie is soos U, o God?”
  • En hierdie woorde wys vir ons dat die digter op daardie oomblik verby sy eie krisis kon kyk en iets van die Here se grootheid kon raaksien.
  • Dat hy ver genoeg anderkant sy eie probleme kon kyk om daar van die groot dade wat die Here al in die verlede gedoen het, te kon raaksien.
  • En hy kan nie anders nie: hy moet die Here loof.
  • Hy moet sê: Hoe “groot is die dinge wat U gedoen het!”
  • En hy moet vra: “Wie is soos U, o God?” want dis tog duidelik: Daar is niemand soos God nie!
  • En niemand kan doen wat Hy doen nie.
  • En as gelowiges kan ons Hom maar net aanbid, en loof, en prys!

#  As ek reg getel het, word die woord “verlossingswerk” vier keer hier in Ps. 71 gebruik.

  • En net so lees ons ook op feitlik elke ander bladsy van die Bybel van die verlossingswerk van die Here.
  • Dink maar aan hoe Hy vir Israel uit Egipte verlos het.
  • En hoe Hy hulle ook dikwels teen hulle baie vyande beskerm het.
  • Maar die hoogtepunt van God se verlossingswerk, waarvan die Bybel ons vertel, is natuurlik Jesus se verlossingswerk.
  • Hy sterf aan ’n kruis om vir ons sonde te betaal.
  • En Hy word uit die dood opgewek sodat die mag van die dood daardeur verbreek kon word.
  • Dít is die hoogtepunt van al God se verlossingswerk!
  • En as ons dan ook deur geloof die verlossing ontvang het wat Jesus vir ons gebring het, kan ons ook nie anders as om God te loof nie.
  • Selfs al staan ons in die middel van ’n krisis, soos die digter van Ps. 71 destyds, ook dan kan ons nie anders nie: ons moet eenvoudig die Here loof vir sy verlossingswerk!
  • Ons moet saam met hierdie digter sê: “U verlossingswerk, o God, is oneindig groot; groot is die dinge wat U gedoen het! Wie is soos U, o God?”

#  Deur Ps. 71, glo ek, kan ons almal vanoggend iets leer uit die lewenservaring van ’n bejaarde gelowige.

  • In sy krisis het hy in die Here bly glo en by die Here gaan skuil.
  • En in sy krisis het hy aangehou om die Here te loof vir sy verlossingswerk.
  • Kom ons dank die Here dan vir die digter van Ps. 71 en volg sy voorbeeld.
  • In sy eie woorde was hy oud en grys en sonder veel krag, maar hy was iemand wie se getuienis vir altyd sal voortleef in die kerk van die Here.
  • Dank die Here vir so ’n gelowige bejaarde!

AMEN

css.php