1 KOR. 1:10-17 (26/1/20)
# U sal self weet dat daar vandag ’n groot klomp verskillende Christelike kerke en groepe in die wêreld is.
- Ook hier in die Paarl is daar sommer ’n magdom van kerke.
- Dis Gereformeerde kerke en Katolieke kerke en Charismatiese kerke, en noem maar op.
- En so sou dit bv. kon gebeur dat Jan en Piet, wat langs mekaar in Mollstraat hier in die Noorder-Paarl woon ook aan verskillende Christelike groepe behoort.
- En toe hulle op ’n dag met mekaar probeer praat oor hulle geloof en godsdiens, vind hulle uit dat daar sommer ’n klomp verskille tussen hulle is.
# En omdat hierdie Jan en Piet twee denkbeeldige karakters is, het ek gedink om die verskille tussen hulle sommer baie erg te maak.
- Hier is die verskille:
- Jan en Piet verskil oor die doop.
- Die een sê ’n mens kan ook as ’n baba of as ’n kind gedoop kan word.
- Die ander een sê: Nee, net die grootdoop is reg.
- En dan moet jy ook beslis onderdompel word.
- Dan is daar ook tussen Jan en Piet ’n verskil oor hoe die skepping tot stand gekom het.
- Die een sê die Here het van evolusie gebruik gemaak om dit te doen.
- Die ander een sê: Nee, evolusie wil mos nie erken dat God ons Skepper is nie.
- En dan is daar die hele ding oor homoseksualiteit.
- Die een sê: Die Bybel is duidelik daartéén.
- ’n Mens hoef nie eers daaroor te debatteer nie.
- Die ander een sê: Nee, maar dis nie so eenvoudig om te weet presies hoe Christene vandag in die 21ste eeu oor homoseksualiteit moet dink nie.
# En so gaan Jan en Piet dan voort om oor die verskille tussen hulle te stry.
- Die volgende saak waaroor hulle verskil, is lofprysing in die erediens.
- Die een sê: As jy tot eer van die Here wil sing, moet dit stemmig en gewyd gedoen word – nie so raserig met kitare en dromme nie.
- Die ander een sê: Nee man, ’n mens kan tog nie die Here behoorlik loof as jy nie die nodige orkes in jou kerk het nie.
- En dan: die gawes van die Gees.
- Die een sê: Ons moet vandag nog net soos in die Bybelse tyd gereeld in tale kan praat en wondertekens sien plaasvind.
- Al die gawes van die Gees moet presies net so in die kerk gesien kan word soos in daardie tyd.
- Die ander een sê: Nee, vandag moet die klem eerder val op die vrug van die Gees: die liefde en vrede en selfbeheersing, en al die ander mooi dinge wat Paulus in Gal. 5 vir ons noem.
# En so raak dit vir hierdie twee bure, Jan en Piet, van Mollstraat, eintlik heel onaangenaam om met mekaar oor hulle geloof en godsdiens te praat.
- Daar is net te veel verskille.
- En wie is nou reg en wie is verkeerd?
- Wie verstaan die Bybel reg en suiwer en wie is dalk eintlik aan die dwaal?
# Maar nou is daar ’n belangriker vraag, en dis die vraag: Hoe sou die Here wou hê moet hierdie twee bure as medegelowiges saamleef?
- Watter raad sou Hy aan hulle wou gee?
- Dit lyk dan nou of hulle maar liewer nie met mekaar moet praat nie.
- Hulle verskil dan omtrent op elke punt oor hulle geloof en godsdiens.
- Is daar ’n oplossing vir so ’n lastige situasie?
- En u sal weet dat hierdie soort verskille oor geloof en godsdiens deesdae ook binne-in gesinne en families en vriendekringe voorkom.
- En dít maak dit baie keer erg ongemaklik en selfs onaangenaam.
# So, wat sou die Here vir Jan en Piet wou sê?
- As ons in gedagte hou wat ons vanoggend in 1 Kor. 1 gelees het, en wat ons ook in baie ander dele van die Bybel lees, dink ek dat die Here vir Jan en Piet sou wou wegstuur van hulle verskille.
- En dalk sou Hy vir hulle wou sê: Konsentreer op wat julle as medegelowiges met mekaar deel en waaroor julle met mekaar saamstem.
- Konsentreer op dit wat julle saambind en nie op dit wat julle van mekaar laat wegdryf nie.
- En daarom behoort Jan en Piet rustig met ’n koppie koffie te gaan sit en vir mekaar te vra: Maar wat is dit wat ons met mekaar deel en waaroor ons met mekaar saamstem?
- Wat is die fondament waarop ons albei staan – al is daar ook so baie verskille tussen ons?
- En op hierdie punt is daar vir my ’n paar dinge wat baie sterk uitstaan.
- As Jan en Piet werklik gelowiges is, ís daar mos ’n gemeenskaplike fondament waaroor hulle met mekaar moet kan saamstem.
- En ek sou wou sê dat veral drie dinge tog vir alle Christene bo alle twyfel moet vasstaan:
- Nommer 1: Dat ons net uit genade deur die kruisdood van Jesus gered word.
- Ons kan niks doen om onsself te red nie.
- Dis alles die werk van God.
- En ons kan dit maar net gelowig as ’n geskenk uit sy hand ontvang.
- Nommer 2, sou ek sê, is dat Jesus na sy kruisdood ook die dood oorwin het.
- Hy het opgestaan uit die dood.
- Hy het die mag van die dood vir ons verbreek.
- En dít vul ons met hoop en verwagting!
- En dan, nommer 3: Die belangrikheid van die liefde.
- Dat ons Jesus se liefde vir ons moet beantwoord met liefde vir Hom en vir alle mense.
- In 1 Kor. 13:1 en 2 word die belangrikheid van die liefde so duidelik uitgespel.
- Paulus sê daar: “Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek ’n stuk klinkende metaal, ’n galmende simbaal geword. Al het ek die gawe om God se boodskap te verkondig en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.”
- Sonder liefde, is ek niks.
# Waaroor stem alle Christene (of dan die oorgrote meerderheid Christene) saam?
- Ook almal van ons wat vanoggend hier saam is?
- Dit kan tog nie minder wees as om te sê: Ons glo dat Jesus ons Verlosser is; en dat Hy uit die dood opgestaan het; en dat Hy van ons verwag om sy liefde met ander te deel nie.
- En al is dit net hierdie drie dinge wat ek deel met ’n ander gelowige, en ek en die ander persoon konsentreer dáárop, dan kan ons mos met die eensgesindheid leef waarvan Paulus hier in 1 Kor. 1 praat.
- Dan kan ons mos voel en ervaar dat ons saam deel is van die familie van Jesus, mekaar se broers en suster in die geloof.
# Ek het op ’n keer iewers gelees van ’n baie slegte insident wat in ’n sekere boekwinkel plaasgevind het.
- ’n Gelowige bejaarde dame gaan na hierdie boekwinkel toe.
- Sy soek ’n boek oor die kinderdoop en vra die hulp van die bestuurder van die boekwinkel.
- Maar, ten aanhore van ’n ander vrou, jak die bestuurder toe die kliënt af.
- Hy sê vir haar: “Die NG Kerk se leuen word nie hier verkoop nie, ons verkoop net die Woord.”
- Dít het die ander vrou, wat die hele petalje staan en aanhoor het, toe erg ontstel.
- Sy is ook ’n lidmaat van ’n kerk wat kinders doop – nie ’n NG Kerk nie, maar ook ’n gereformeerde kerk.
- En sy het toe eers gedink om maar stil te bly oor wat sy gehoor het, en is daar weg.
- Maar op pad werk toe het sy besluit om om te draai en terug te gaan na die boekwinkel toe.
- Sy sê toe vir die bestuurder dat sy baie ontstig voel oor die manier waarop hy die bejaarde dame behandel het en oor wat hy vir haar gesê het.
- Daarby het sy toe ook gesê dat dit haar self ook nie laat welkom voel het in die boekwinkel nie.
- Hierop het die bestuurder toe gesê dat sy dan net nie weer by hulle winkel hoef te koop nie, want die Here sorg vir hulle en dit gaan nie vir hulle oor geld nie.
# Maar wat het in hierdie situasie gebeur?
- Die bestuurder van die boekwinkel het een verskil tussen hom en die twee kliënte so beklemtoon dat dít wat hulle deel en waaroor hulle saamstem, totaal geïgnoreer is.
- Die een verskil is op daardie oomblik so opgeblaas, dat daar ongelukkig geen plek was vir die liefde van Jesus nie.
- Die liefde van Jesus was heeltemal afwesig.
- En in plaas van eenheid en eensgesindheid tussen gelowiges was daar op daardie dag in daardie boekwinkel net verdeeldheid en onenigheid.
- En ek is seker dat die Here Jesus se hart baie seer moes gewees het oor wat daar gebeur het.
# Die Here wil beslis nie verdeeldheid tussen sy kinders hê nie.
- Hy wil nie hê dit moet tussen ons gaan soos dit blykbaar ook in Paulus se tyd in die gemeente van Korinte gegaan het nie.
- Paulus pryswel dié gemeente in sy brief oor ’n klomp dinge.
- Maar dan blyk dit ook dat die gelowiges in Korinte nie behoorlik met mekaar kon saamwerk nie.
- En dat hulle onderlinge hofsake teen mekaar gehad het.
- En dat daar onenigheid was oor verskillende dinge, soos oor die gawes van die Gees, en oor die Nagmaal, en oor die liggaamlike opstanding van Jesus.
- En dan was daar ook die kwessie van die verskillende leiers wat in die gemeente aangehang is.
- Party lidmate het gesê: Ons is vir Paulus.
- Ander het gesê: Ons is vir Apollos, of vir Sefas, of vir Christus.
- Maar dan sê Paulus so treffend in vers 13 wat ons gelees het: “Is Christus dan in stukke verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig, of is julle in die naam van Paulus gedoop?”
- Dis hartseer, maar ons verdeeldheid onder mekaar as gelowiges verdeel as ‘t ware ook vir Christus in stukke.
- Dit skeur Hom as ‘t ware uitmekaar.
# Vir baie jare was daar ’n muur wat Oos- en Wes-Duitsland van mekaar geskei het, die Berlynse muur.
- En by die Brandenburghek van hierdie muur is daar iewers ’n gebed wat gelowiges baie jare lank gebid het, voordat die Berlynse muur uiteindelik geval het.
- Die gebed gaan so: “O Here, ons planeet is maar ’n klein sterretjie in die ruimte. Dit is ons plig om dit te omskep in ’n planeet waarvan die inwoners nie langer as gevolg van oorlog, honger en vrees, ras, kleur en ideologie sal ly nie. Gee ons die moed en krag om vandag met hierdie taak te begin, sodat ons kinders en kleinkinders eendag die naam ‘mens’ met trots sal dra.”
- ’n Pragtige gebed!
- En iemand stel voor dat ons hierdie gebed, so effens aangepas, ook vir die kerk moet bid.
- En dan klink dit só: “O Here, ons kerk is slegs ’n klein deeltjie van u groter kerk. U weet hoe verdeeld ons is en hoe dikwels hierdie verdeeldheid gebou is op dinge soos ras, klas, agtergrond, geslag en ons verskillende interpretasies van die Bybel. Dit is ons plig en vreugde om van u kerk iets beters te maak, ’n plek en gemeenskap waar daar geen stryd, ongeregtigheid, onversoendheid en verdeeldheid meer sal wees nie. Gee ons die moed en krag om vandag met hierdie taak te begin sodat ons kinders en kleinkinders eendag sal sê: ‘Ons voorouers was Christene en ons dra ook die naam Christen met trots.’”
# Liewe gemeente, kom ons bly soek dan na eenheid en eensgesindheid met mekaar en met alle ander gelowiges.
- Kom ons vermy verdeeldheid en onenigheid.
- Kom ons hou ons oë stip op Jesus self gevestig.
- Hy het gekom sodat ons in liefde een met Hom én met mekaar kan
AMEN
