Preek – 25 Des 2019: Goeie Nuus? – Luk 2:8-20

TEKS:

Luk 2:8-20 Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het.  (9)  Meteens staan daar ‘n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik.  (10)  Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. (11)  Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! (12) En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê.” (13)  Skielik was daar saam met die engel ‘n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê:  (14) “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!” (15) Nadat die engele van hulle af weggegaan het na die hemel toe, sê die skaapwagters vir mekaar: “Kom ons gaan reguit Betlehem toe om te sien wat gebeur het, soos die Here dit aan ons bekend gemaak het.” (16)  Hulle gaan toe haastig daarheen en kry vir Maria en Josef, en die Kindjie wat in die krip lê. (17) Toe hulle Hom sien, het hulle vertel wat oor hierdie Kindjie aan hulle gesê is.  (18)  Almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat die skaapwagters hulle vertel het.  (19) Maria het alles wat gesê is, onthou en telkens weer by haarself daaroor nagedink. (20) Die skaapwagters het toe teruggegaan terwyl hulle God loof en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Dit was alles net soos dit vir hulle gesê is.

PREEK:

Die gedeelte praat van goeie nuus en groot blydskap, van vrede op aarde. Watter nuus en watter soort vrede en blydskap is dit?

Ek glo hier is nog van julle wat die groep Simon & Garfunkel onthou? Hulle het begin optree in die 60’er jare in die vorige eeu met treffers soos Bridge over troubled waters, Sounds of Silence, The Boxer, Mrs Robinson, Scarborough Fair … lui dit nog ‘n klokkie? Julle jongklomp sal nou nie weet waarvan ons praat nie.

In 1966 sing hulle ‘n effens eienaardige weergawe van Stille Nag. Omdat ek dink dit kan ons help om te verstaan wat die Goeie Nuus was van Jesus se geboorte en watter soort vrede en blydskap Jesus se geboorte gebring het, gaan ons nou luister daarna. Aan die een kant sing hulle die lied, maar in die agtergrond word die nuus gelees. Die woorde van die nuus sal op die skerm verskyn. Onthou: Dis 53 jaar gelede, en in Amerika met hulle vlag en omstandighede maar ek dink dit praat vandag ook met ons. Kom ons luister daarna.

Wat hoor ons? Aan die een kant hoor ons die lied van Jesus se geboorte wat, soos ons gelees het goeie nuus is, maar aan die ander kant is die nuus wat ons in die wêreld hoor, slegte nuus.  Terwyl daar van die heilige nag gesing word, hoor ons van verdeeldheid en die wegneem van mense se basiese regte. Daar word gesing van die lig wat Jesus bring terwyl die nuus vertel van iemand wat dood is aan ‘n oordosis dwelms. Daar word gesing van die engelekoor, maar die nuus gaan oor onrus in die land. Hulle sing van Redder wat daar is, maar ons hoor ook van 9 verpleegsters wat vermoor is. Van oorlog en nog oorlog.

Al is dit 53 jaar gelede, is dit vandag nie veel beter nie. Net ‘n paar berigte uit die week se koerante:

Korrupsie by Eskom en onsekerheid oor kragvoorsiening

‘n Man word in in rooftog in Stutterheim doodgeskiet vir sy horlosie.

Knellendste droogte in ons land in baie jare

Brande in Greyton

Kinders doodgeskiet op die Kaapse vlakte

Bek en klouseer in die Oos-Kaap

Staatsdiensondernemings stort in dui ens.

Eintlik was dit nie eers so vanaf 1966 of vandag nie, maar Jesus was net gebore, toe vermoor Herodes duisende babatjies en Josef en Maria moet vlug na Egipte. Johannes se kop word afgekap en Jesus sterf aan die kruis. Kort na Hy opgevaar het, word die Christene vervolg en word Jesus se eie woorde waar wat hy vroeer aan sy dissipels gesê het: “Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in.” Van al die dissipels, het net Johannes ‘n natuurlike dood gesterf. Die ander het almal gesterf omdat hulle in Jesus gevolg het. En so kan ons aangaan op die swaar wat sommige Christene ook moes deur en vandag nog deurgaan. En nie net Christene nie, maar alle mense.

As die engel vir die skaapwagters sê:

“Ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.”

Wat bedoel hy? Wat beteken die geboorte van Jesus vir ons vandag? Want, jy sien, as die woorde van die engele van goeie nuus van vrede en blydskap nie waar is nie, is die geboorte van Jesus vir ons nie veel anders as ‘n tipe virtuele speletjie waar ons vir ‘n rukkie dalk ‘n ander werklikheid beleef maar dit eintlik nie die werklikheid is nie. Hoe moet ons die Goeie Nuus wat Jesus se geboorte gebring het, vandag verstaan?

Die Goeie Nuus van Jesus se geboorte is nie ‘n paar maniere hoe ons die lewe beter kan maak vir onsself nie. Dis ook nie net ‘n manier hoe om in die hemel te kom nie of om gelukkig te lewe nie. Dis iets baie groter!

Die term Goeie Nuus (waarvan die woord Evangelie kom), is ‘n algemene term wat gebruik is in die Bybelse tye wanneer die oorwinning van ‘n oorlog aangekondig is of ‘n nuwe koning of Ceasar aan bewind gekom het in die Romeinse ryk.

En nou gebruik engele die woord van Goeie Nuus wanneer hulle kom vertel van Jesus wat gebore is. Dit was juis engele wat dit kom vertel het omdat mense dit nog nie gesien en verstaan het nie. So, wat is die goeie nuus waarvan die engele kom vertel het in ‘n deurmekaar wêreld? ‘n Hele ruk later verstaan die dissipels al iets daarvan as Petrus so daaroor praat:

Hand 10:36  Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het. Hierdie Jesus is Here van almal.

Presies net soos die engel dit kom sê het met Jesus se geboorte:

(11)  Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!

Jy sien, die Goeie Nuus is dat nie meer Caesar of die politieke leiers of ekself of toeval of een of ander mag in beheer is nie, maar dat Jesus die Here van alles en almal is!

Dalk dink jy: Maar hoekom sien en beleef ons dan niks daarvan nie? Om dit raak te sien en te beleef vra dat ek die lewe anders moet sien en beleef.

Miskien sal ‘n beeld uit my eie lewe help. Ek het Dorette, my vrou, op universiteit op ‘n werkerskamp een Junie vakansie in die Transkei ontmoet en dadelik op haar verlief geraak. Maar dit het ‘n hele paar kuiers en koffies en sokkies en etes geneem voor sy die een aand in die sitkamer van Nemesia gesê het ons kan uitgaan. Ek onthou baie goed dat ek daardie aand nie terug gestap het koshuis toe nie, maar terug gesweef het. My lewe het verander! Alles was nog net dieselfde; ek het nog in dieselfde kamer in Eendrag gebly, moes nog vir eksamens leer, moes betaal vir my studies… Maar alles het verander! Daar was ‘n liefde in my lewe!

Alles het vir my verander want ek het verander! Dalk is dit ‘n swak voorbeeld, maar Jesus se koms het nie in die eerste plek die wêreld verander nie, maar mense. Jesus het mense se lewens so kom verander.  Kyk nou maar na Petrus, wat vroeër bang was as ‘n diensmeisie vra of hy vir Jesus ken. Na sy bekering vang hulle hom en as hy voor die magtige Joodse Raad staan, vir hulle sê:

Hand 4:19-20  “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God.  (20)  Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.”

Jesus het mense se lewens kom verander. So praat Hebreërs oor mense wat in Jesus glo:

Heb 11:13  Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is.

Dis dan, wanneer daar beproewings oor ‘n mens se lewens kom dat mens hoor:

Fil 4:6-7  Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.  (7)  En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Dis die goeie nuus, wanneer Jesus, wat in ‘n stal in Betlehem gebore is, jou Here is.

Jesus Self het dit kom belowe:

Joh 10:10  …Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Hoe word die Goeie Nuus, die Evangelie, ook ‘n werklikheid in my eie lewe in dié deurmekaar wêreld waarin ons lewe? Hoor wat sê die baba in die krip later Self:

Mat 11:28  Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.

Die Goeie Nuus, die nuwe lewe, kan net ‘n werklikheid vir jou word in jou en my lewens as ons in ‘n persoonlike verhouding begin leef met dieselfde Jesus Wie se geboorte ons vandag vier.

Dalk het die slegte nuus van die wêreld en in jou eie lewe en rondom jou jou dalk al so moeg gemaak, dat jy moed verloor het.

Jesus nooi jou ook vanoggend, dalk vir die eerste keer, dalk by bevestiging om die Goeie Nuus te glo: Jesus is die Here. Hy wil ook jou Here wees. Amen

SLOTLIED: STILLE NAG (348:1,2,3)

Die lied is vir die eerste keer op Oukersaand 1818 opgevoer in die St. Nicholaskerk in Oberndorf, ‘n dorp aan die Salzach-rivier in die huidige Oostenryk. ‘n Jong priester, vader Joseph Mohr, het die vorige jaar in Oberndorf gekom. Hy het die lirieke van die liedjie “Stille Nacht” in 1816 geskryf.  

Die melodie is gekomponeer deur Franz Gruber, skoolmeester en orrelis in die nabygeleë dorp Arnsdorf. Vóór Oukersaand het Mohr die woorde na Gruber gebring en hom gevra om ‘n melodie en kitaarbegeleiding vir die Oukersaand-diens te komponeer, nadat oorstroming die orrel beskadig het. Daarom gaan ons ook begin deur dit met ‘n kitaar te sing.

css.php