Preek – 24 Maart 2019: “Die Bybel is 'n boek vol uitnodigings” – Jes. 55:1-5

Skriflesing:

Jes 55:1-5

Preek:

Die Bybel is ’n boek vol uitnodigings.

  • Op baie van die bladsye daarvan kom ons af op uitnodigings wat die Here aan mense gerig het.
  • En Jes. 55 begin juis ook met so ’n uitnodiging, met een van die heel mooistes in die hele Bybel!
  • Maar om hierdie uitnodiging reg te verstaan, moet ons ook iets weet van die agtergrond van Jes. 55.
  • Toe die Here hier met die mense van Israel gepraat het, het hulle as ballinge in ’n vreemde land gewoon, in Babilonië.
  • En hulle ballingskap het in die jaar 587 v.C. begin.
  • In daardie tyd is die tempel in Jerusalem vernietig en is ’n groot klomp Israeliete toe na Babilonië weggevoer.
  • En nou, in Jesaja se tyd, na baie jare in die vreemde land, nou het die Israeliete seker maar erg moedeloos gevoel.
  • En ook geestelik was dit vir hulle ’n baie groot krisis: om so lank al nie meer in hulle eie land te wees en die Here daar te kon dien nie.
  • Maar dan kom die Here met sy wonderlike uitnodiging, en Hy sê in Jes. 55:1 vir hulle: “Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet …”

“Kom, almal wat dors is …”,  sê die Here.

  • En nou weet ons dat water in die Bybelse tyd maar ’n baie skaars artikel was in Israel en in baie van die omliggende lande – veral dan in die woestynagtige gedeeltes.
  • En daarom het die mense van daardie tyd seker ook beter as ons vandag geweet wat dit beteken om regtig “dors” te wees.
  • En kon hulle seker hulleself ook baie goed vereenselwig met die woorde van die bekende Ps. 42 waar die psalmdigter sê: “Soos ’n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God. Ek dors na God, na die lewende God.”
  • Soos ’n wildsbok (m.a.w. ’n springbok/gemsbok/koedoe) – soos ’n wildsbok in ’n baie droë land smag na water, so het daardie psalmdigter na God gesmag.
  • En daar in Babilonië, daar het die ballinge van Israel sekerlik ook net so gesmag en gedors na God.
  • Geestelik was hulle honger en dors.
  • Maar dan kom die Here se uitnodiging: “Kom, almal wat dors is …”
  • En dit wys vir ons dat die Here Israel nie aan hulleself wou oorlaat nie.
  • Hy wou hulle help.
  • En Hy wou dit doen deur hulle geestelike dors te les en hulle geestelike honger te stil.

Maar ook vir ons vandag is geestelike honger en dors mos ’n bekende saak.

  • Baie mense voel bv. dat die lewe nie vir hulle sin en betekenis het nie.
    Hulle ervaar die lewe as ’n doellose gejaag wat uiteindelik op niks uitloop nie.
  • Vir ander mense weer voel dit of die Here ver en onwerklik is.
  • En of Hy nie hoor wanneer ons bid nie.
  • Nog ander voel hulle lewens bevredig hulle nie regtig nie – iets hier binne-in bly leeg en onvervuld.
  • En daarom sê ek: Ook vir ons vandag is geestelike honger en dors ’n bekende saak.
  • En daar is baie pogings om hierdie honger te probeer stil en hierdie dors te probeer les.
  • Sommige mense soek bv. versadiging in plesier of opwinding.
  • Hulle soek iets wat vir hulle die nodige “kicks” kan gee, soos dit in Engels genoem word.
  • Ander probeer dalk weer om deur hulle werk of deur die een of ander vorm van prestasie, die versadiging te kry wat hulle soek.
  • Nog ander soek dit dalk in dwelmmiddels of sommer in enigiets wat jou so ’n bietjie kan help om net van die geestelike honger en dors te vergeet.
  • Maar nie een van hierdie dinge is die eintlike oplossing nie.
  • Nie een van hierdie dinge kan ons honger en dors na God werklik laat verdwyn nie.
  • In Jes. 55:2 vra die Here dan ook vir die mense van Israel: “Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie, waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie?”
  • Dis asof die Here vir hulle (en ook vir ons vandag) wil sê: Niks wat julle self doen, sal julle geestelike honger en dors wegneem nie.
  • Niks nie.
  • En daarom, sê die Here, is die enigste oplossing om my uitnodiging aan te neem.
  • Om vir My te sê: Hier is ek, Here.
  • Ek het gekom om by U die lewende water en die lewende brood te kry.
  • Versadig my asb. met hierdie water en hierdie brood.
  • En so kan ons geestelike honger en dors net weggeneem word as ons die Here se uitnodiging aanneem.

Nou, op hierdie punt wil ek net graag twee kort opmerkings maak oor die Here se woorde in Jes. 55:1.

  • En die eerste is om te onderstreep dat sy uitnodiging ’n ope uitnodiging is.
  • Hy sê: “Kom, almal wat dors is…”
  • So dit maak nie saak wie of wat ek is nie.
  • Ek kan maar oud wees of jonk.
  • En ek kan maar ryk wees of arm.
  • En by die Here maak my velkleur ook nie saak nie: Ek kan maar wit of swart of geel of wat ookal wees.
  • En ek kan maar die grootste sondaar in die hele Noorder-Paarl wees.
  • As ek dors na God, dan is sy uitnodiging ook aan my gerig: “… almal wat dors is, kom na die water toe.”
  • Almal, want dis ’n ope uitnodiging!

Die ander kort opmerking wat ek graag oor hierdie uitnodiging wil maak, is dat dit ook ’n gratis uitnodiging is.

  • Die Here sê: “… selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet …”
  • Die Here wil ons m.a.w. help al kan ons Hom glad nie daarvoor vergoed nie.
  • En daarom praat die Bybel ook so dikwels van “genade.”
  • Dat die Here ons wil help sonder dat ons dit verdien en sonder dat ons Hom kan vergoed daarvoor.
  • Dat Hy ons geestelike honger en dors van ons wil wegneem sonder dat ons Hom daarvoor kan betaal – net uit genade.
  • Maar dít is hoe die Here is!
  • Hy is genadig!
  • En dít is hoe sy liefde vir ons is.
  • Dis ’n liefde wat ook vanoggend vir ons kom sê: Kom, koop en eet, en kom koop en drink, al kan jy My op geen manier daarvoor vergoed nie!
  • Kom maar net met jou geestelike honger en dors, en Ek sál jou daarmee help.

Die Here nooi almal wat geestelik honger en dors is om na Hom toe te kom.

  • Maar hoe stil Hy ’n mens se geestelike honger en hoe les Hy jou geestelike dors?
  • ’n Mens sou lank oor hierdie vraag kon praat.
  • En elkeen van ons sou seker ook ons eie verhaal hieroor kon vertel, want die Here loop mos ook ’n unieke pad met elkeen van ons.
  • Maar eintlik is die antwoord op hierdie vraag seker heel eenvoudig!
  • Die Here stil ons geestelike honger en les ons geestelike dors deur ons in te trek in ’n verhouding met Hom.
  • Luister maar net weer wat sê die Here vir Israel in vers 3 wat ons gelees het.
    Hy sê: “Ek wil met julle ’n ewige verbond sluit.”
  • Met ander woorde, die Here wou ’n vaste ooreenkoms of verhouding met Israel aangaan.
  • En Hy noem dit ’n verbond.
  • Hy wil ’n verbond met hulle sluit, sê Hy.
  • En baie belangrik: Wanneer die Bybel van God se verbond met gelowiges praat, soos hier in Jes. 55, dan praat die Bybel terselfdertyd van God se liefde.
  • Agter die verbond sit God se liefde vir mense.
  • En daarom het die Here nie net vir Israel gesê dat Hy ’n verbond of ooreenkoms met hulle wil sluit nie.
  • Hy het in dieselfde vers (en ons kan seker ook sê in dieselfde asem) vir hulle gesê: “Ek wil my troue liefde aan julle betoon soos aan Dawid.”
  • So, die verbond tussen God en ons as mense is nie net ’n blote sake-ooreenkoms nie.
  • Dis nie net ’n koue sake-transaksie nie.
  • Die woord “verbond” kan dalk vir ons koud en saaklik klink.
  • Maar God se verbond met ons is ’n verbond van liefde.
  • Dit gaan oor die warmte van God se hart vir ons.
  • En dit gaan oor die liefde wat God vanuit so ’n hart aan ons wil betoon.
  • En waar ’n mens dan God se liefde ontvang en ervaar, daar verdwyn jou geestelike honger en dors.
  • Waar jy elke dag in ’n verhouding van liefde met die Here staan, daar ontvang jy ook die geestelike voedsel en drank wat daardie leë gevoel in jou binneste kom wegneem.

God se verbond met ons, waarvan ons veral in die Ou Testament so baie lees, beteken eintlik net een ding: Hy wil sy liefde aan ons bewys.

  • En ons moet Hom as ‘t ware ook toelaat om dit te kan doen.
  • Ons moet Hom toelaat om sy liefde aan ons te bewys, want Hy dwing nooit sy liefde op mense af nie.
  • Eugene Peterson het iewers so treffend geskryf oor hoe ons die Here moet toelaat om ons lief te hê.
  • Hy het gesê: “’n Mens dink dalk ware godsdiens is om dinge te ken en dinge te doen. Maar dit is nie. Ware godsdiens is om God toe te laat om iets vir jóú te doen: om Hom toe te laat om jou lief te hê en te red en te seën.”
  • Ons moet onsself so aan die Here oorgee dat ons kan ervaar hoe Hy ons liefhet en red en seën.
  • Dít is wat Hy vir ons wil doen.
  • En ons? – ons moet dit net met dankbaarheid van Hom ontvang.

Vir Israel was die een allesoorheersende probleem in die tyd van Jes. 55 dat hulle ballinge in Babilonië was.

  • Hulle was ver weg van hulle eie land – in ’n vreemde land.
  • Maar die Here, die God van die verbond, sou hulle weer laat teruggaan na hulle eie land toe.
  • In Jes. 55:12 beloof die Here dan ook: “Julle sal met blydskap uit Babel wegtrek …”
  • En in die tyd van die Persiese koning, Kores, wat toe oor ’n baie wye gebied regeer het, het Kores ’n groot klomp Israeliete na hulle land toe laat terugtrek.
  • En so het die belofte van die Here waar geword.
  • Wat die Here betref, het dit nie net gebly by uitnodigings en beloftes en mooi woorde nie.
  • Nee, Hy sou sy liefde vir Israel ook in dade bewys.
  • En dít het gebeur toe hulle weer kon teruggaan na hulle eie land toe.

En nou staan die Here vanoggend ook voor elkeen van ons met die uitnodiging van Jes. 55:1.

  • En Hy nooi elkeen in hierdie gebou wat geestelik honger en dors is om na Hom toe te kom.
  • Hy nooi ons om deel te wees van sy verbond.
  • Met ander woorde: Hy nooi ons om in ’n lewende verhouding met Hom te leef, in ’n verhouding waarin ons elke dag kan ervaar hoe lief Hy ons het.
  • En as ’n mens ja sê op die Here se uitnodiging, dan verander dit jou hele lewe.
  • Jesus praat ook van hierdie lewensverandering as Hy in Joh. 6:35 sê: “… Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.”
  • Nooit weer honger nie en nooit weer dors nie!
  • En die Een wat dít vir ons sê, is dié Een wat op Golgota in ons plek gekruisig is, dié Een aan wie se lyding ons ook nou weer hier in Lydenstyd 2019 terugdink.
  • Kom ons dank Hom vir sy ontsaglike groot liefde.
  • En kom ons neem, vir die eerste keer of by herhaling, sy wonderlike uitnodiging aan om in ’n lewende verhouding met Hom te lewe!
  • In ’n verhouding waarin Hy elke dag prakties vir ons wil wys hoe lief Hy ons het!
css.php