Preek – 22 September 2019: "Die balk in my oog" - Mat 7:1-5

Votum/ seëngroet:

In ons reeks, padlangs agter Jesus aan, het ons begin by die prentjie wat ons van God het. Want op ’n manier begin alles daar. Elke keer as ons aanbid, as ons luister na ’n preek, as ons ons Christenskap probeer uitleef, is daardie prentjie daar… Is dit gesond? Lewegewend? Hoe lyk die hart van God? Is Hy jou Vader na wie toe jy met jou hele menswees kan kom?

7 “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, 8 want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. 9 “Watter mens onder julle sal vir sy seun ‘n klip gee as hy brood vra, 10

of ‘n slang as hy vis vra? 11 As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra? 12 “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”

Tyd van stilte:

Glo jy dat die lewende God lewend en lewegewend hier tussen ons teenwoordig is? En dat Hy jou raaksien? Vertrou jy Hom genoeg dat jy bereid om jouself nou aan Hom oor te gee?

Seëngroet:

Ons Vader wat al die hare op jou kop getel het sal vir jou meer sorg as vir die mossies, Jesus kom staan langs jou in jou aanbidding, en die Heilige Gees woon in jou om jou te versterk en hoop te gee!

Skriflesing:

Mat 7:1-5

Preek:

Die bekende sielkundige Carl Jung was seker op die ou end wat ’n mens ’n universalis sal noem. Hy het ’n diep geloof in God gehad, maar ek dink nie hy het onderskeid tussen die verskillende gelowe getref nie. Maar baie van sy werk is geïnspireer deur sy eie ontnugtering met sy eie pa en sy 6 ooms wat almal gereformeerde Switserse predikante was. Hulle lewe het hom nie oortuig dat Christenskap in die werklike lewe werk nie; sy ooms het vir hom ongelukkig en ongeïntegreerd gelyk.

Op my eie reis saam met die Here en ook in my bediening is dit ook die ding waarmee ek stoei: As ons die ware God aanbid deur sy Enigste Seun Jesus, as ons sy Gees ontvang het, hoekom is daar so min ware verandering in ons lewe? Hoekom leef ons nie meer soos Jesus nie? Ons samelewing is diep bewus op die oomblik van veral geweld (teen veral die kwesbares soos vrouens en kinders). Ons het van die slegste syfers hieroor in die wêreld. En so baie mense bely hulle is Christene. En is dit enigsins logies om te dink dit is net “hulle”, ’n sekere ras en ’n sekere klas? En is dit Christelik om die probleem af te skuif en weg te hou van ons eie lyf? Weg te staan van ons kollektiewe skuld? Al is dit net dat ek niks doen daaraan nie?

Het ons manier van Christenskap beoefen, soos Jung gesê het, bygedra tot ’n kloof tussen God en ons siel deur uiterlike rituele en intellektuele oortuigings te oorbeklemtoon eerder as ’n lewe in God se teenwoordigheid en innerlike transformasie? Het ons mense wat vredemakers, versoeners, brugbouers kan wees? Wat kreatiewe oplossings kan sien en ’n radikale alternatief kan leef? Kan Jesus en sy weg ons regtig red?

Al verstaan ek hierdie goed nog nie heeltemal nie, is dit die eerste keer wat ek die afgelope seker 5 jaar beleef dat daar vir my nuwe lewe oopbreek in my verhouding met God; en al is dit nog nie afgerond nie, glo ek dit is van deurslaggewende belang, en daarom wil ek julle probeer saamneem op hierdie reis.

Die heel belangrikste, voel dit vir my, is om eg te raak voor God. God is die waarheid. Hy kan nie in ’n verhouding tree met enige iets/iemand vals nie. Net in die mate waarin jy eerlik is, jou eie waarheid ken, kan jy die ware God ontmoet. Maak dit sin?

’n Ware geloofspad verveem ons nie van onsself nie. Dit maak ons bewus van onsself. Van ons hele self. Dit integreer ons.

Ons word heel gebore. Maar iewers langs die pad begin wat die geestelike skrywers noem ons “shadow-making” proses. Ons verdeel ons lewens in dit wat vir die samelewing aanvaarbaar en onaanvaarbaar is. En dit is ook goed en reg so, maar onthou, dit wat vir God aanvaarbaar en onaanvaarbaar is, stem nie altyd ooreen met ons kultuur nie. Partykeer is dit juis ook ons sterkste en mooiste eienskappe wat na die skadu toe geskuif word! Ons speel veilig en wys vir die wêreld net wat ons binne die hoofstroom sal hou. Alles wat ons “minder” of “meer” slegter of beter beskou, gaan in die skadu in.

Maar hierdie onderdrukte eienskappe gaan nie weg nie. Hulle versamel in die donker hoekies van ons persoonlikheid; en as hulle lank genoeg weggesteek word, dan kry hulle ’n lewe van hulle eie – die skadu lewe… En as dit uiteindelik ons ego oorneem, dan ontplof dit as ’n woedebui, of ’n aanval op iemand of een of ander groot mishap.

Hoe sien ons hierdie goed uitspeel in ons samelewing? In ons kerk en media, fokus ons veral op lyflike dinge soos seksuele sondes en begeertes as ons dink aan ons donker kant. Die grootste skaduwee van die Westerse kultuur is egter enige vorm van kwesbaarheid of mislukking; ons moet altyd mooi, sterk, gesond, jonk en suksesvol wees. Ons sukesgedrewe kultuur verag enige vorm van mislukking, magteloosheid en armoede. Ons soek eerder mag en beheer en kies vir ons leiers wat dit valslik aan ons belowe. Ons bewonder en aanvaar publieke sondes in ons publieke figure: trots, ambisie, gierigheid, vals getuienis, gesanksioneerde geweld…

Is ons nie tans deel van ’n hele samelewing wat hierdie valse evangelie glo nie? Wat nie bereid is om die volle waarheid oor hullself te sien nie? Is die dreigemente, die onrus, die geweld, die rassisme, die onverdraagsaamheid nie tekens hiervan nie?

Ons wyer om ons eie donkerte, ons eie skadu raak te sien, en dan projekteer ons dit op ander; ons wys vinger en blameer; en bied sosiale media nie ’n heerlike platvorm vir hierdie tipe onvrugbare geskree op mekaar en naamnoemery nie!! In Jesus se woorde wil ons die splinter uit ander mense se oë uithaal met ’n reuse balk in ons eie!!  Natuurlik, en dit is die gevaar hiervan, is ons nie bewus van hoe ons blaam verplaas nie.

Haar rokkie was te kort. Sy het gevra daarvoor. Hy het my daartoe gedryf. Hy het dit verdien. Hulle is die probleem. Hulle is barbaars. Ons haat ons eie foute in ander mense. En hier is die hartseer ding: ons gebruik ons geloof om hierdie dinamika vir onsself te verdoesel. Ons gebruik God om van God af weg te hardloop.

Vandag nog het ons baie vroom maniere om die Christelike geloof te gebruik om vroue op hulle plek te hou en reduseer tot tweederangse mense.

Jesus en sy weg red; maak vry, gee lewe. Maar dit beteken ook dat ons sy logika moet volg. Dat ons na Hom moet luister. Het ons samelewing nie nou mense nodig wat bereid in om by hulleself te begin (as witmense, as mans, as afrikaanse mense), hulle skaduwees, na die lig te bring en eerlik voor God en hulle medemense te lewe nie; wat bereid is om hulle kwesbaarheid en hulle mislukkings te omarm en om eienaarskap te neem nie om eers die balk uit hulle eie oog te haal;

om ook hulle unieke, Godgegewe gawes en menswees, wat dalk saam met ’n klomp ongewenste karaktertrekke begrawe is, weer te ontdek en uit te leef vir die koms van God se wêreld nie?!

Bereid is om te waag!

Mens hoef nie alles te glo wat Jung geleer het nie, maar hierdie glo ek wel, want ek sien die evangelie van Jesus daarin: God maak ons siele heel. God kom tot uitdrukking in daardie energie in jou siel, aan die hart van alle dinge, wat sê(S9): “Word wie jy is. Word alles wat jy is. Daar is steeds meer van jou om ontdek te word, vergewe te word en liefgehê te word.”

Ons moet altyd onthou van Jesus se kruis aan die hart van ons geloof… Sy kwesbaarheid, sy eerlikheid, sy offer namens ons voor God maak dat ons met vrymoedigheid ons hele self na die lig kan bring. Ons moet leer kyk soos Jesus: die arme van gees, die sagmoedige, die vredemaker is die geseëndes in sy koninkryk (nie die dominante en suksesvolle nie); die tollenaars, die sondaars en die prostitute het die koninkryk gevind voor dié wat synheilig was en geglo het in hulle eie onskuld.

Ons gaan ons skaduwerk moet doen; en moet vir geen oomblik dink dit gaan maklik wees nie. Dit vat dissipline en lewenslange oefening om raak te sien en te erken en te omarm wat ons oor jare geleer het om te ontken, te vermy en te verag. Maar die vals self moet ontmakser word vir jou om vry te wees; jou ware self is “saam met Christus verborge in God.” (Kol 3:3).

In sy genade het God jou lief net soos wat jy is. Jy sal net groei in sy liefde, genade, heelheid, volheid en volwassenheid, as jy leer om dieselfde te doen. Geen innerlike transformasie kom deur selfhaat, ontkenning, onderdrukking, skuld en skaamte nie. In Jesus het God jou vrygespreek.

Mense wat hulself aanvaar, hulle hele self, ook, hulle skadukant, aanvaar ander mense. Mense wat hulleself haat en geweld aandoen, haat ander mense en doen geweld aan hulle. Maar die Goddelike Lig in Jesus en deur die Heilige Gees gee ons toestemming, vryheid en moed om die dieptes van ons menswees te erken en te laat heel word, een te word in sy lig. Amen.

Skuldbelydenis:

Here, ons dra gedagtes en gesindhede van haat, wraak, geweld, vooroordeel en onverdraagsaamheid teenoor ons naaste met ons saam.

Vader vergewe ons want ons weet nie wat ons doen nie!

Here, ons is so vol van ons eie belange en opinies, dat ons nie bereid is om na ander mense te luister nie.

Vader vergewe ons want ons weet nie wat ons doen nie!

Here, ons soek eenvoudige antwoorde vir komplekse uitdagings want ons is te lui om te dink, te ongeduldig om lief te hê en te selfgerig om om te gee.

Vader vergewe ons want ons weet nie wat ons doen nie!

Ons is nie eerlik met U nie, Here. Ons vermy ons eie skadukante, maar ons is vinnig om vinger te wys en om sondebokke te soek. Ons probeer die splinter uit ander se oë uithaal voordat ons aandag gegee het aan die balk in ons eie.

Vader vergewe ons want ons weet nie wat ons doen nie!

Ons samelewing het siek geraak, Here, en ons is deel daarvan. Ons woorde en dade voed negatiewe gesindhede. Ons was ons hande in onskuld. Ons bly stil as ons vriende en familie verkeerd optree.

Vader vergewe ons want ons weet nie wat ons doen nie!

Ons wil heel raak, Here. Ons wil leer om ons hele self na U lig te bring, sodat ons gesond kan word.

Vader, U maak ons vry!

Ons wil wegkom van valsheid, voorgee, maskers en en oefen om eerlik en kwesbaar, bewus van ons eie gebrokenheid en foute, voor U en ons naaste te leef.

Vader, U maak ons vry!

Ons vertrou U weg, Jesus, ons weet dit bring verlossing. Leer ons luister. Vorm ons om soos U te sien, te voel, te reageer. Leer ons om ander lief te hê soos U ons nog altyd liefgehad het.

Vader, U maak ons vry!

Amen.

Thursdays in black:

Wêreldwye inisiatief teen geweld en die misbruik van vroue en kinders. ’n Manier om ’n verskriklike skadukant van ons samelewing na die Lig te bring. Ons moet meer bewustelik met hierdie leef en onsself vir iets beywer. Hier is ’n geleentheid!

css.php