Preek – 22 Desember 2019: Net soos jy is – Rom 3:16 + Rom12:1-2

TEKS:

Joh 3:16  God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

PREEK:

Ek wil nou met julle vanoggend baie eerlik wees: Vanaf ek my verstand gekry het (en ek is deesdae nie seker of ek dit al gekry het nie) tot ek so 10 jaar oud was, het Jesus sleg 2de gekom elke Kersfees. Die rede hoekom Kersfees elke jaar vir my daardie tyd so lekker was, was nie dat ek weer onthou het dat Jesus gebore is nie maar ….. presente! Ons het mos die presente al ’n paar dae voor die tyd onder die kersboom gesit. En dan het ek, as my Pa en Ma uit die huis was, die presente gaan voel en beloer om te probeer agterkom wat dit was. Op Oukersaand het my Pa dan uit die Bybel die geboorteverhaal van Jesus gelees en het ons ’n liedjie of twee gesing en het my Ma ’n gebed gedoen. Maar die hele tyd het ek gewens hulle kon klaarkry sodat ons by die presente kan kom! Nou-ja, vandag nog bly dit mos lekker om ’n present te kry. En daar is mos sommige van die presente wat ons beter onthou as ander. Ek onthou nog die Triang lorrie met ’n groen seilkappie vandag nog.

Hoekom gee ons met Kersfees vir mekaar persente? Miskien kan ons probeer baie heilig wees en sê dat ons, soos die wyse manne van ouds persente vir Jesus gebring het, ons vir mekaar persente gee. Maar ek dink, as ons baie eerlik is met mekaar, gee ons persente sommer omdat dit lekker is om vir mekaar persente te gee. En tog kan ek my ook nie ‘n kersfees indink sonder ‘n persentjie of twee nie. Maar nou is ‘n persent mos iets wat jy gee omdat jy omgee. Nie om te betaal vir iets nie. Ons gee eintlik persente vir mekaar omdat ons lief is vir mekaar.

En tog kan ons veral ook oor kersfees dink en praat sonder dat ons dink aan die grootste geskenk van alle geskenke nie. Soos ons gaan sing:

Voel jy ook nou sy warm liefde      

as ons die dag gedenk,              

toe hy sy Seun aan ons gestuur het –

ons grootste kersgeskenk.           

So ontvang ons die nuwe lewe gratis en verniet uit God se hand net en alleen omdat Hy vir ons so liefhet – die nuwe lewe, die ewige lewe.

Ons almal weet ook dat nie een van ons ooit vir God kan betaal vir die geskenk wat elkeen van ons ontvang het nie. Maar soos ons vir mekaar geskenke gee as ‘n teken dat ons lief is vir mekaar, so kan ons God se geskenk aan ons tog nie ontvang sonder dat ons ook wil dankie sê nie.

Vir Oupa en Ouma en Pa en Ma en familie gee mens ‘n soen en ‘n glimlag en ‘n drukkie en ‘n geskenkie. Maar vir God, hoe sê mens dankie vir God vir die grootste geskenk van alle geskenke? Ek dink vanoggend se teks wil juis daarmee vir ons help. Kom ons lees dit nou:

Rom 12:1-2  En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. 

Dié teks het ons al baie gehoor en gewoonlik dink ons dat ons die mooi dinge in ons lewens wat God kan gebruik moet gee. Ons dink soms dat ons dankie sê wanneer ons spesiale of spesifieke dinge doen vir die Here soos bv ons dankoffer of om iemand te help of ‘n paar mooi dinge wat ek doen. Amper sulke spesiaal toedraaide en opgemaakte dinge en oomblikke in ons lewens. Wat wil ons Vader vanoggend vir ons daaroor sê? Dalk sal ‘n ware verhaal ons help om dit beter te verstaan.

‘n Skrywer met die naam van David Dodge vertel hoe hy lank terug nie werk gehad het nie en op ‘n dag besluit het om vir iemand wat hy ken, te gaan kuier in ‘n ouetehuis. Hy vertel, toe hy klaar gekuier het, stap hy weer terug in die gang af en sien een kamer se deur staan oop. Op die bed lê ‘n pragtige jong vrou met die mooiste lang wit hare. Hy stap eers verby, maar dis asof die Here vir hom sê om vir daardie vrou te gaan sê dat Jesus haar baie liefhet. Eers maak hy dit af as sommer ‘n lawwe gedagte, maar hy kry hom nie sovêr om verder te stap nie en besluit om dit tog maar te doen. Hy stap by haar kamer in en sê vir haar: “Ek weet nie wat dit is nie, maar dit voel vir my of die Here wil hê dat ek vir jou moet sê dat Hy jou baie liefhet.” Toe wag hy, maar sy sê niks nie. Hy vra nog ‘n vraag, maar ook daarop reageer sy nie. Toe sien hy in haar oë dat sy verstaan, maar nie kan praat nie. Toe vat hy haar hand en hy bid vir haar ‘n gebed en toe hy klaar is hardloop hy amper by die kamer uit. In die gang keer ‘n verpleegster hom voor en sê vir hom baie dankie dat hy die vrou besoek het, want sy lê al 2 jaar daar met veelvoudige sklerose en kan nie beweeg nie – nie eers haar tong nie. Behalwe haar familie , besoek min mense haar. Hy vind ook uit dat haar naam Barbara is.

Toe hy na sy kar stap, is dit weer asof die Here met hom praat en sê dat Hy wil hê dat hy Barbara een maal ‘n week moet besoek. Dadelik skop hy teë en sê dat dit vêr is om te ry en dat hy nie ‘n werk op die oomblik het nie en nog ‘n klomp verskonings, maar hy kom nie weg van die opdrag wat hy ervaar kom van die Here af nie.

So het hy tog week na week vir haar besoek en met haar gepraat oor dit wat hy gevoel het die Here op sy hart lê. Dan vertel hy dat oor die weke heen sy eie gees en siel en sy verstand, sy denke, die manier waarop hy na dinge gekyk het, begin verander het.

Maande het verby gegaan en op ‘n dag beleef hy net dat hy met haar moet praat oor “gee”. Maar hy kan dit nie glo nie en sê vir die Here: “Barbara het niks nie. Hoe kan ek vir haar vra om te gee? Sy lê net daar en kan nie eers beweeg nie. Wat kan sy gee?” Maar, weer kan hy nie daarvan wegkom dat hy met haar moet praat oor “gee” nie.

Toe hy dit vir Barbara sê, kon hy in haar oë sien dat sy ook geskok was en nie verstaan het wat sy kan gee nie. Maar hy begin deur vir haar te sê dat sy vir haar kinders kan bid, veral vir hulle toekoms sodat die Here in hulle sal werk en iets tot stand in hulle lewens sal bring wat Hy wil. En dit is asof sy gehoor het.  Hy kon dit in haar oë sien.  En toe sê hy vir haar: “Jy weet, jy kan ook bid vir die dokters en vir die mense wat Veelvoudige Sklerose het soos jy, dat God ‘n kuur sal gee sodat mense gesond word en so kan jy belê in hulle toekoms.” Op ‘n wonderlike manier, vertel David Dodge, lei die Here vir hom in die woorde wat hy moet sê. Hy sê toe vir haar: “Barbara, die heel eerste ding wat jy moet besef vandag is jy kan nie gee wat jy nie het nie.  Jy kan slegs gee wat jy het.  Jy het nie ‘n groot huis om vir God te gee nie, maar jy het ‘n drie by drie kamertjie wat jy vir God kan gee.  Jy weet, jy het nie twee bene waarmee jy ‘n marathon kan hardloop en kan wen en al die eer en glorie vir God kan gee nie, maar jy het twee verlamde bene.  Gee hulle vir God.”

En Hy het vir haar gesê: “Jy weet, jy kan nie vir die Here sing nie, jy kan nie namens Hom praat nie.  Daar is duisende, miljoene mense op aarde wat kan sing tot God en wat namens God kan praat, maar jy het vandag ‘n mond en ‘n tong wat nie kan praat nie, en ek weet nie of daar al ooit iemand op aarde was wat vir God ‘n mond gegee het wat nie kan praat nie, maar miskien het Hy dit nodig.  Sal jy vandag jou mond vir Hom gee wat nie kan praat nie?”

En haar oë het gesê ja, sy sal.

En toe het David vir haar gesê: “Nou gaan ons ‘n offergawe opneem, en jy gee vir God wat jy het.” Hy begin dit vir haar opnoem: “‘n Verlamde liggaam, vasgekluister aan ‘n hospitaalbed, hier is dit Here.  Twee verlamde bene wat nêrens heen kan loop nie, ek gee dit vir U Here.  Twee maer hulpelose arms, ek gee dit vir U Here.  ‘n Mond wat niks kan sê nie, ek gee dit vir U Here. En toe kom hulle by die ander goeters wat mense nie gewoonlik vir die Here gee nie.  ‘n Bondel frustrasie Here, ek gee dit vir U.  Magtelose woede wanneer my dogtertjie langs my bed staan Here, en ek nie eers vir haar kan sê ek het haar lief nie en ek ook weet ek gaan haar nie grootmaak nie Here.  Opgekropte liefde wat ek nie kan uitgiet wanneer my man my hand vashou nie, ek gee dit ook Here.”

En toe kom hulle by die ander goed.  ‘n Gees wat nie vasgekluister kan word aan ‘n hospitaalbed nie, en hulle gee haar gees vir die Here.  Gedagtes wat nie verlam is nie en die vermoë om te bid, wat nie aan die siekte ly nie en hulle gee dit alles vir God. En David sê: “Ek het die heeltyd die trane van haar se wange afgevee.”  Hy sê: “Ek het nog nooit so baie trane van Christus se wange afgevee nie soos daardie dag nie, want dit was mos nou sy verlamde liggaam wat op daardie bed gelê het, nie meer Barbara s’n nie.”

Hy vertel verder dat, op die ou ent, het die Here baie meer met hom gewerk as wat hy vir Barabara beteken het. En hoor hoe sê die Here vir hom: “David, jy kan vir My net gee wat jy het.  Onthou, jy kan nie vir My gee wat jy nie het nie.” Maar hy antwoord: “Here: ek het so ‘n mislukking van my lewe gemaak dat ek vandag werkloos is.  Ek het nie sukses om vir U te gee nie.” En die Here sê vir hom: “Gee vir My jou mislukking.”  En hy gee vir Hom almal, al die mislukkings. En hy sê: “Here ek het nie ‘n perfekte lewe om vir U te gee nie”, toe gee hy maar sy sonde. Hy wou so graag gehad het sy seun moet eendag sendeling word, maar sy seun het op 17 jarige ouderdom verdrink.  Hy sê, en toe die Heilige Gees voor hom staan met sy offergawebord toe sit hy sy oorlede seun se liggaam vir die laaste keer voor die Here neer.

En toe gee hy sommer ook sy trane want hy kon nie ophou huil nie en toe sê hy vir die Here: “En ek is nou sommer beskikbaar om voortaan ook namens U te huil ook!”

Kort daarna is Barbara oorlede.  Heel aan die begin toe die Here hom gevra het om elke week vir Barbara te gaan kuier het hy gevoel dat die Here dit op sy hart lê om haar vir een jaar te besoek.  En hy vat sy almanak en hy blaai terug en hy sien ‘n jaar het verbygegaan.  Dit het God ‘n jaar gevat om Barbara voor te berei vir die dood.  Dit het God ‘n jaar gevat om vir David Dodge op te wek uit die dood.

Ek hoop ons hoor elkeen vanoggend dat die Here nie van ons vra wat ons nie het nie. So dikwels wil ons eers ons lewe regkry, minder sonde doen, eers dit of dat afhandel, eers dié of daardie ding agter die rug kry. So dikwels wil ons eers ons lewe mooi maak voor ons dit vir die Here gee. Maar dis nie wat Hy vra nie. God sê dit is nou genoeg.  Hy wil nie hê wat jy nie het nie.  Hy wil nie jou goeie voornemens hê nie en Hy het nie jou beloftes nodig nie.  Al wat Hy nodig het om jou te verryk is jy, soos jy is met jou sonde en jou twyfel en bitterheid en probleme en wat nie nog alles nie. Hy soek nie godsdienstigheid nie, hy soek ‘n verhouding.  Hy soek wie jy is.  Romeine 12 sê dit is die wesenlike van ons godsdiens.  Dit is die hart van ons aanbidding. Dit is ons dankie sê vir die Grootste Kersgeskenk van alle geskenke.

Dan sluit David Dodge af.  “The offering plate is still being passed and God is accummulating tons of ugly fat legs, hundreds of crippled legs, crossed eyes, wayward children, obstinate spouses, horrible habits and a warehouse full of disabilities and disappointments.  Care to add anything of your own to the offering plate?”

Vanoggend is weer ‘n geleentheid om jouself, net soos jy is en wat jy het, aan die Here te kom wy. Moenie eers probeer om skoon te maak, mooi te maak of reg te maak nie. God wil jou gebruik net soos jy is. Amen.

css.php