JOH. 9:1-12, 35 – 41 (21/11/21)

#  Ek wonder of u vanoggend sou saamstem met die stelling: Die lewe is vol vreugde!?

  • Ek hoop so ’n stelling klop met u eie ondervinding van die lewe.
  • Maar daarmee saam wil ek dan vra: Moet ons nie ook sê: Die lewe is vol pyn nie?
  • Vol vreugde, maar ook vol pyn?

#  Kom ons neem nou maar die man van wie ons vanoggend gelees het as voorbeeld.

  • Ek stel my voor dat sy ouers baie bly moes gewees het toe hy gebore is.
  • Gewoonlik is die koms van ’n nuwe baba mos ’n bron van groot opgewondenheid en van groot vreugde vir die ouers.
  • En ’n mens voel regtig baie klein as jy besef watter absolute wonderwerk dit is dat die Here op dié manier nog ’n nuwe lewe moontlik maak.
  • Maar die ouers van die blinde man moes toe een of ander tyd ontdek het dat hy blind was.
  • ’n Pynlike ontdekking!
  • En skok en hartseer vir die ouers.
  • Maar ook vir die man self het daar ’n baie moeilike lewe as blinde begin.
  • En later in sy lewe moes hy probeer oorleef deur ’n bedelaar te wees, so lees ons hier in Joh. 9.

#  So, vreugde én pyn.

  • Vir die ouers van die blinde man was daar die vreugde van die nuwe baba, maar ook die pyn van sy blindheid.
  • En selfs wanneer Jesus later die blinde man gesond maak, is daar nie net vreugde nie.
  • Natuurlik sou die man self baie bly gewees het om te kan sien!
  • En sy familie tog ook.
  • ’n Mens kan jou sekerlik nie voorstel hoe wonderlik dit moet wees vir ’n blinde om skielik te kan sien nie.
  • Maar dan lees ons hier in Joh. 9 van die uiters negatiewe reaksie van die Fariseërs, die groot kerkleiers van daardie tyd.
  • Hulle neem die blinde man omtrent onder kruisverhoor oor wat tussen hom en Jesus gebeur het.
  • En hulle is baie ontevrede dat Jesus hom op ’n sabbatdag gesond gemaak het en dat hy nou so positief oor Jesus is.
  • In Joh. 9:28 staan daar dat hulle hom uitgeskel het en gesê het: “Jy is ’n dissipel van Hom.”
  • Jy is ’n volgeling van Hom.
  • En dan lees ons ook in hierdie selfde hoofstuk dat die Fariseërs die man uit die sinagoge ban.
  • Hy word uitgeskop uit die kerk en so ook sommer uit die sosiale lewe van daardie tyd.
  • Hy word verwerp en verstoot.
  • Hy beleef pyn, diep geestelike pyn, nadat Jesus hom op so ’n wonderlike manier gesond gemaak het en vir hom soveel vreugde gebring het.

#  Ons lewe hier op aarde bevat vreugde én pyn.

  • En kom ons dink, wat dit betref, vir ’n oomblik ook aan Jesus se lewe op aarde.
  • Hoewel die Bybel nie regtig vir ons baie besonderhede gee oor Jesus se lewe nie, moes Hy sekerlik ook baie vreugde beleef het.
  • Ek stel my voor dat Hy dit geniet het om mens te wees.
  • En dat daar ook baie dinge moes gewees het wat Hy graag gedoen het en van gehou het.
  • Dat daar ook baie keer oomblikke moes gewees het waarin Hy gelag het van vreugde!
  • Dink maar aan die bruilof wat Jesus in Kana bygewoon het, daar waar Hy water in wyn verander het.
  • ’n Bruilof is tog iets baie vreugdevol!
  • En dink aan Jesus se vriendskap met sy goeie vriende, Marta en Maria en hulle broer Lasarus.
  • Hy het seker dikwels by hulle gekuier en hulle geselskap geniet.
  • En dink aan die 12 manne met wie Hy so ’n nou pad saam geloop het en vir wie Hy geleer het hoe om sy dissipels te wees.
  • Ek is seker Jesus het ook baie keer saam met hierdie mense gelag van vreugde, hoewel die Bybel ons nie daaroor inlig nie.

#  Maar pyn – dít het Jesus vir seker goed geken!

  • En van Jesus se pyn vertel die Bybel ons sommer baie.
  • Hoe sê Jes. 53:3?
  • “Hy was verag en deur die mense verstoot, ’n man van lyding wat pyn geken het…”
  • Jesus is deur baie mense verwerp in sy lewe.
  • En toe Hy later gevange geneem is, is Hy deur soldate aangerand en aan ’n kruis vasgespyker om daar te sterf.
  • Die fisiese pyn en lyding moes verskriklik gewees het.
  • Maar ook die geestelike pyn – die verskriklike gewig en las van ons almal se sonde wat op Hom neergekom het.
  • Dít wat vir Jesus aan die kruis laat uitroep het: “My God, my God, waarom het U my verlaat?”

#  Ek sê weer: Jesus se pyn en lyding moes verskriklik gewees het, fisies én geestelik.

  • En ons kan maar net altyd met groot eerbied daaraan dink en ook vir Jesus dank vir wat Hy bereid was om vir ons te doen.
  • Ons kan maar net altyd aan Hom die lof en die eer gee wat Hom toekom.
  • Maar daarmee saam is dit dan ook belangrik om te onthou dat Jesus ons voor ’n baie belangrike keuse kom stel het.
  • Daaroor praat Hy juis in vers 39 wat ons gelees het.
  • Hy sê: “Ek het na hierdie wêreld toe gekom om die mense voor ’n beslissing te stel, sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, kan blind word.”
  • En wat sou Jesus met hierdie woorde bedoel het?
  • Die eerste belangrike ding wat ons moet raaksien, dink ek, is die geestelike blindheid waarna Jesus hier verwys.
  • Dit is nie so dat ’n mens net fisies blind kan wees, soos die man van Joh. 9 nie.
  • Jy kan ook geestelik blind wees.
  • En dit was die geval met die Fariseërs in Jesus se tyd.
  • Hulle kon nie sien dat Jesus die “lig vir die wêreld” was, soos Hy hier in Joh. 9:5 sê nie.
  • Omdat hulle Jesus verwerp het, en teen Hom gekies het, kon hulle Jesus nie sien vir wie Hy was nie – die lig vir die wêreld en die Verlosser van die wêreld!
  • Maar hulle kon dit nie sien nie.
  • Vir hulle was Jesus net ’n moeilikheidmaker.
  • Vir hulle was Hy net iemand wat nie die Joodse wette behoorlik nagekom het nie, en wat boonop gesê het Hy is die Seun van God.
  • En hulle wou van Hom ontslae raak.
  • Maar so het die Fariseërs ongelukkig in die donker gebly.
  • So het hulle geestelik blind gebly, en dit nie eers besef nie.

#  Jesus het ons almal voor ’n keuse kom stel.

  • Hy het gesê: “Ek het na hierdie wêreld toe gekom om die mense voor ’n beslissing te stel …”
  • En as ons vír Jesus kies, dan word ons gesond gemaak van ons geestelike blindheid.
  • Dan begin sien ons dat Hy regtig die lig vir die wêreld en die Verlosser van die wêreld is!
  • Met ons nuwe geestelike oë sien ons dan baie dinge heeltemal anders.
  • En belangrik, selfs pyn en lyding lyk dan vir ons anders, wanneer Jesus ons geestelike oë oopmaak.
  • Jesus se dissipels wou mos by Hom weet hoekom die blinde man van Joh. 9 blind was – hoekom hy so moes ly.
  • Was dit deur sonde wat hy gedoen het, of dalk deur sonde wat sy ouers gedoen het?
  • So vra die dissipels vir Jesus.
  • En vandag is daar mos ook mense wat sulke reguit lyne wil trek wat direk loop van ’n spesifieke sonde of sondes na bv. ’n siekte wat iemand ervaar.
  • Sulke mense sal dan bv. sê: Dis omdat jy of jou voorgeslagte dit of dat verkeerd gedoen het dat jy nou hierdie kanker het of aan depressie ly, of wat ookal.
  • En daar is werklik mense wat hierdie soort dinge vir siek mense sê!
  • Maar wat sê Jesus?
  • Was dit deur die blinde man se sonde of sy ouers se sonde dat hy blind was?
  • Was daar ’n direkte en ’n aanwysbare oorsaak vir die blindheid?
  • Jesus sê nee.
  • Jesus sê moenie te direk ’n lyn trek tussen ’n spesifieke sonde en ’n spesifieke siekte of pyn of probleem nie.
  • En dan sê Jesus vir sy dissipels: Hierdie man “is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.”
  • Hierdie man is blind sodat julle binnekort kan sien hoe wonderlik die Here werk.
  • En net daarna maak Jesus dan die blinde man gesond!
  • Net daarna wys Hy vir sy dissipels en vir ons almal iets van die grootheid van ons God.
  • Ons God wat mense wat fisies blind is weer kan laat sien, maar ook mense wat geestelik blind is se oë kan oopmaak.
  • En nou is die belangrike ding vir ons vanoggend om te onthou dat die Here altyd besig is om te werk.
  • Hy werk ook elke oomblik in elkeen van ons se lewe.
  • In ons vreugde, maar ook in ons pyn.
  • Hy is met my besig wanneer dit goed en maklik gaan.
  • Maar Hy is ook met my besig wanneer die bulte op my pad baie steil en moeilik is.
  • Dwarsdeur alles in ons lewens werk die Here en kom wys Hy op baie maniere vir ons sy grootheid!

#  Ons lewe hier op aarde is nie net vol vreugde nie.

  • Maar gelukkig is dit ook nie net vol pyn nie!
  • Beide vreugde en pyn is deel van mens wees.
  • En ek glo die Here wil hê dat ons moet deel in mekaar se vreugde én in mekaar se pyn.
  • Daar is mos ’n gesegde wat sê dat gedeelde vreugde eintlik dubbele vreugde is, en dat gedeelde pyn en hartseer op ’n manier ligter is om te dra.
  • Sal ons dan nie moeite doen om te deel in mekaar se vreugde én in mekaar se pyn nie?
  • Dit lyk of die Fariseërs van Joh. 9 niks gevoel het vir die pyn van die blinde man nie.
  • En toe Jesus die man gesond gemaak het, was hulle ook glad nie saam met hom bly nie.
  • Dit lyk of hulle heeltemal koud en liefdeloos teenoor hierdie man gestaan het en ook bly staan het.
  • Maar mag ons tog altyd bly wees saam met die wat bly is, en mag ons tog altyd die nood en swaarkry van ander raaksien sodat ons iets daaraan kan help doen, as ons enigsins kan.
  • Thomas Merton het gesê: “Die voordeel van pyn is dat dit ons meegevoel met ander leer. Wie eenmaal diep pyn ervaar het, kan nooit weer ongevoelig staan teenoor die lyding van ander nie.”

#  Vreugde én pyn.

  • Albei is deel van ons lewe.
  • Albei is deel van mens wees.
  • Die blinde man van Joh. 9 het dit so ervaar.
  • Jesus het dit ook so ervaar.
  • En elkeen van ons ervaar dit vandag nog so.
  • Maar mag die Here ons help om nooit daaraan te twyfel dat Hy die hele tyd in ons lewens self met ons besig is nie.
  • In ons vreugde, maar ook in ons pyn.

AMEN


css.php