Preek – 21 Februarie: Die Bybel as God se stem - Heb 1:1-4

TEKS:

Heb 1:1-2 (4)

1In die ou tyd het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2 maar in hierdie eindtyd het Hy met ons gepraat deur sy Seun.

Hom het Hy aangestel as erfgenaam van alle dinge, en deur Hom het Hy ook die wêreld geskep.

 

Heb 3:7,8

7Daarom, soos die Heilige Gees sê: “Vandag, as julle sy stem hoor, 8moenie julle harte verhard, soos tydens die opstand die dag van versoeking in die woestyn, 9toe julle voorouers My versoek en beproef het nie, al het hulle my dade gesien –


Rom 10:8-17

8Nee, wat sê dit? “Hier by jou is die woord, in jou mond

en in jou hart” – dit is die woord van geloof wat ons verkondig. 9Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word. 10Want met die hart glo ons, en word so regverdig verklaar; met die mond bely ons, en word so verlos. 11Die Skrif sê tog: “Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.” 12Dit maak inderdaad geen verskil of jy ‘n Jood of ‘n Griek is nie. Ons het almal dieselfde Here, en Hy deel sy rykdom uit aan almal wat Hom aanroep. 13Want “elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal verlos word.” 14Hoe kan hulle Hom dan aanroep, as hulle nie tot geloof in Hom gekom het nie? En hoe kan hulle in iemand glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder iemand wat dit verkondig? 15En hoe kan hulle dit verkondig as hulle nie gestuur word nie? Soos daar geskryf staan: “Hoe lieflik is die voetstappe van diegene wat die goeie boodskap verkondig!”16Nie almal het egter aan die goeie boodskap gehoor gegee nie. Jesaja vra immers: “Here, wie het geglo toe hulle ons gehoor het?” 17Die geloof kom dus uit die aanhoor, en die aanhoor kom deur die verkondiging van Christus.

 

PREEK:

As gemeente reis ons vir 7 weke oor wat die Bybel is en hoe ons dit moet verstaan. Om dit helderder te maak vir onsself, gebruik ons 7 beelde (metafore) uit die Bybel om ons die Bybel beter te leer verstaan in ons pad agter Jesus aan. Verlede week het ons gesien dat die Bybel ook soos ‘n spieël in ons lewens werk. Dié week kyk ons na hoe die Bybel as God se stem tot ons kom.

In King William’s Town was daar ‘n baie getroue ouderling en vriend by ons gemeente op die kerkraad, Ben Pieterse. Kort voor ons daar weg is, het hy tragies in ‘n motorongeluk gesterf. Ben het my vertel dat, toe hulle in Namibië gebly het, hy een dag alleen met sy kar gery het. Skielik hoor hy helder ‘n stem met hom praat. Hy het rondgegkyk en niemand anders in die kar of naby die kar gesien nie. Voor of na dit het Ben nooit weer die ervaring gehad nie. Ek kan ongelukkig nie onthou wat dit was wat hy gehoor het nie, maar hy het geglo dit was die Here wat met hom gepraat het.

Het jy al die Here se stem gehoor? Dalk is daar van julle wat al so ‘n ervaring soos Ben gehad het, maar dit het nog nooit met my gebeur nie. Ek het ook al ander mense gehoor wat vir my gesê het die Here het vir hulle iets gesê en soms is dit ook iets wat hulle dan vir my moet kom sê. Hoe moet ek weet dit is die Here wat dit vir hulle (en vir my) gesê het en nie net hulle gedagtes of oortuigings nie – al ervaar hulle dit dalk as ‘n stem van die Here? Hoe hoor ons die stem van die Here en kan weet dat dit wel die Here is?

Wel, ek glo dat die Here op baie maniere met almal van ons praat en ook al gepraat het. Baie van ons ervaar deur dinge wat met ons gebeur dat die Here met ons praat. Of ‘n mooi natuurtoneel bring jou onder die besef van God se grootheid en hoor jy as’t ware die Here praat. Ek het al gehoor van hoe mense deur hul drome die stem van die Here gehoor het en tot bekering gekom het. Dit kan die Here natuurlik doen, as Hy dit so wil doen. Ek glo dat die Here ook deur die Covid pandemie met ons praat maar dan natuurlik op verskillende maniere. So praat die Here met elkeen van ons op verskillende maniere omdat ons almal verskillende mense met verskillende persoonlikhede is. Hy praat ook nie met ons noodwendig op dieselfde manier as eeue gelede nie. So sê Hebreërs.

Maar hoe kan ek seker wees dat ek die Here se stem vandag hoor?

Al het jy nog nooit ooit iets ervaar dat die Here met jou praat deur drome of gebeure nie, is daar een seker manier waar ek en jy die stem van die Here vir seker kan hoor: Deur die Bybel. Daarom is dit juis DIE WOORD VAN GOD.

Natuurlik is daar gedeeltes wat onduidelik is en waaroor sommige gelowiges verskil, maar die oorgrote deel van die Bybel is duidelik. Lees dit en jy sal God se stem hoor! Lees gerus die aangrypende verhaal in die handleiding oor hoe ons kerkvader, Augustinus, tot bekering gekom het deur net die Bybel te lees. Daarom is Stiltetye, Huisgodsdiens, Bybelstudiegroepe en Erdiensbywoning so belangrik – sodat ons die stem van die Here kan hoor. Baie kerk se kanselklede sê: “So spreek die Here”. Nou is die bedoeling nie dat dit wat die dominee sê altyd reg is nie, maar gewoonlik lê daar ook ‘n oop Bybel op die kansel – wanneer ons saam die Bybel lees, hoor ons die stem van die Here.

Maar nou is dit ook nie ‘n meganiese ding wat gebeur met my en jou as ons die Bybel lees nie. Daar is “voorwaardes” aan as ons die Here se stem deur die Bybel wil hoor. Wat is dit? Ek lees weer uit Rom 10.

8Nee, wat sê dit? “Hier by jou is die woord, in jou mond en in jou hart” – dit is die woord van geloof wat ons verkondig. 9Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word. 

Die Bybel sal vir jou net ‘n gewone boek vol woorde wees as jy nie bely dat Jesus jou Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het nie (maw dat die Here lewe!). Sonder ‘n persoonlike en lewende verhouding met Jesus, kan jy die Bybel uit jou kop ken, maar sal jy die stem van God nie hoor nie. Maar as jy Jesus volg, dan is God se woorde en stem so na aan jou soos in jou mond en hart – deel van jou.

Die Here se stem sal net vir jou helderder en duideliker word as jy in ‘n verhouding met Jesus lewe en Hom volg. Dis soos ons ook gelees het:

 

Heb 1:1-2

1In die ou tyd het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2 maar in hierdie eindtyd het Hy met ons gepraat deur sy Seun.

 

God praat nie net met jou en my deur sy Seun te stuur nie, maar deur Jesus en sy woorde te volg met jou lewe, hoor jy God se stem helderder en duideliker omdat sy Gees (die Gees van Christus) in ons woon. So het ons dit nou pas ook gelees in Heb 3:

 

7Daarom, soos die Heilige Gees sê: “Vandag, as julle sy stem hoor,…

 

So gebruik die HG ook die woorde wat jy in die Bybel lees om Sy stem te hoor. Sommige woorde staan uit of trek jou aandag of kry vir jou ‘n nuwe betekenis. Dis soos God met ons praat. Maar dan moet ons dit met afwagting en ‘n oop gemoed lees. Anders sal die Bybel vir jou net gewone woorde wees wat eintlik nie jou lewe raak nie. Dit is ook waar van ons hele lewe: As ons daarop ingestel is om God se sien en te hoor (ook buite die Bybel), sal ons dit ook beleef. Hoor hoe mooi stel die Engelse digteres, Elizabeth Barrett Browning, wat self baie gely het onder haar swak gesondheid, dit:

 

“Die aarde is vol hemel en elke bos brand van God, maar net hulle wat dit raaksien, trek skoene uit. Die res sit niksvermoedend en brame eet.” Elizabeth Barrett Browning

 

So, die eerste “voorwaarde” om God se stem deur die Bybel te hoor, is om in ‘n lewende verhouding met Jesus te leef – Hom te volg en sy woorde jou kompas te maak. Daarom glo ek dat die Here ook vanoggend ons weer voor elkeen van ons kom staan en ons nooi om Hom te volg, om in ‘n lewende verhouding met Hom te leef. Hoe belangrik is jou saak met die Here vir jou? As dit nie vir jou die fondament van jou lewe is nie, sal jy vir seker ook nie die Here se stem in jou lewe kan hoor nie.

Maar al is ek gelowige, is daar nog iets wat die Bybel oor praat wat noodsaaklik is om God se stem te hoor. Heb 3 en vele ander plekke in die Woord sê vir ons dat ons God se stem nie sal hoor as ons dit nie ook doen wat ons hoor nie. As ons die Bybel as God se stem wil hoor, vra die Woord ook ‘n ANT-Woord – gehoorsaamheid. Dit kan baie dinge wees – om te stop met sonde in jou lewe, of om te getuig of om iemand lief te hê van wie jy nie hou nie of om jou op te hou bekommer, of om net dankie te sê vir God se onvoorwaardelike liefde en genade…

Want, jy sien, hoe minder jy gehoorsaam is aan die Woord, die stem van God, en daarop reageer, hoe sagter sal jy die stem van die Gees ook hoor. In so ‘n mate dat die Bybel later geen indruk meer maak in jou lewe en jy die Here nie meer hoor nie. Maar hoe meer en reageer in dankbaarheid en gehoorsaamheid, hoe helderder sal sy stem ook word deur Sy Woord en Gees in ons lewens. Hoe meer ek reageer op die Here se stem, hoe meer sal ek ook die lewe wat Jesus belowe het beleef.

Ek hoor ook dat die Here ons oproep om nie net Sondag vir Sondag en dalk dag vir dag die Bybel te lees nie, maar ook te doen wat ons weet die Here van ons vra. Met die voorbereiding van die preek moes ek ook weer ‘n bestekopname van my gehoorsaamheid aan wat ek weet reg is om te doen neem. Waar staan jy wat dit betref? Hoe meer ons doen wat die Here van ons vra, hoe helderder sal ons sy stem ook hoor in ons lewens.

 So praat ons geloofsgenote uit die OT al daaroor:

 

Psalm 119:57  Ek het gesê: “Dít is my lewe, Here, om u woord te gehoorsaam.”

 

Ek sluit af met nog 2 dinge wat ons kan help om die Here se stem helderder te hoor uit die Bybel. Die een is wat ons dikwels saam bely in die kerk:

 

Ek glo in die gemeenskap van die heiliges.

 

Ons as gelowiges is die liggaam van Christus en saam hoor ons die stem van die Here beter. As jy dus seker wil maak of jy die Here se stem reg hoor, praat en bid saam met ander gelowiges daaroor. Toe daar ‘n verskil van mening was in die kerk oor hoe hulle die Here hoor tov gelowiges wat nie besny is nie in Hand 11, kom Petrus en die wat van hom verskil het saam en hy vertel hoe hy die Here gehoor het. Toe hulle daar weggaan, was daar eenstemmigheid oor hoe hulle die Here gehoor het juis omdat hulle na mekaar gesluister het. Ook wat die hoor van die Here se stem betref is die gesegde waar:

Saam is ons beter.

‘n Laaste draai aan die volumeknoppie om die Here se stem helderder te hoor deur die Bybel: Om te hoor, moet ek luister en om te luister moet ek stil wees – stil in my hart en gedagtes en stem. Dis eers in die fluistering van die windstilte wat Elia die Here se stem kon hoor. Mense soos ek sukkel om stil te raak en die Here kans te gee om te praat, daarom moet stilword en wag op die Here vir ons ‘n dissipline wees sodat ons die Here se stem helderder kan hoor.

Mag ons die Here se stem elke dag al hoe helderder hoor en antwoord en gehoorsaam wees op ons pad agter Jesus aan – die pad van die lewe. Amen.

css.php