Preek – 21 April 2019:Jesus leef – 1 Kor 15:1-11

#  Ons vier vandag Jesus se opstanding uit die dood!

  • En sy opstanding was so ’n belangrike gebeurtenis dat die vroeë Christene baie gou reeds hulle kerkbyeenkomste op Sondae begin hou het.
  • Op Sondae in plaas van Saterdae, omdat Jesus op ’n Sondag opgestaan het.
  • En daardie vroeë Christene moes hulle byeenkomste heel waarskynlik al voor sonop in die oggend hou, omdat ’n Sondag toe nog ’n gewone werksdag was.
  • Maar hulle doen dit so omdat Jesus se opstanding so ’n uiters belangrike gebeurtenis was.
  • Met Jesus se opstanding het ’n hele nuwe bedeling eintlik begin.
  • En met sy opstanding het ons ook elkeen ’n lewende hoop vir die toekoms ontvang omdat Jesus uit die dood opgewek is en lewe!
  • Petrus skryf ook hieroor in een van sy briewe en sê: “In sy groot ontferming het God ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood.  Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.”
  • Deur die opstanding van Jesus het ons elkeen nou ’n lewende hoop vir die toekoms! 

#  Maar voor ons verder oor die opstanding van Jesus praat, is daar ’n ander baie belangrike woord, wat Paulus hier vroeg in 1 Kor. 15 gebruik, waaroor ek net iets wil sê.

  • En dis die woord “evangelie.”
  • Letterlik beteken “evangelie” mos goeie nuus of blye boodskap.
  • Maar die wonderlike ding van híérdie blye boodskap waarvan Paulus praat, is dat dit ’n boodskap is wat jou kan red.
  • In Rom. 1:16 sê Paulus die evangelie “is ’n krag van God tot redding van elkeen wat glo.”
  • Die evangelie is ’n krag, sê Paulus.
  • Dis iets wat self met ons kom werk en ons kom help om gered te kan word.
  • Dis nie net ’n klomp leë woorde wat niks aan ons kan doen of verander nie.
  • Dis ook nie net ’n mooi boodskap wat lekker op ons ore val nie.
  • Nee, dis ’n krag van God!
  • En dis ’n krag wat ons red en vir ons nuwe lewe gee!
  • Dis die evangelie.

#  Maar wat is die inhoud van hierdie evangelie? sou iemand wat nie weet nie dalk kon vra.

  • En dan is dit belangrik dat ons net weer sal kyk na wat Paulus hier in 1 Kor. 15:3 en 4 sê.
  • Hy sê: “Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.”
  • So, waaroor gaan die evangelie?
  • Wat is die inhoud daarvan?
  • Paulus sê die heel belangrikste van die evangelie is net twee dinge.
  • Nommer 1: Dat Jesus vir ons sondes gesterf het.
  • En nommer 2: Dat Jesus uit die dood opgewek is.
  • Dít is die kern van die evangelie.
  • En dít is waaraan ons elkeen in geloof moet vashou.
  • In vers 2 wat ons gelees het, sê Paulus mos vir die Korintiërs: “As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom.”
  • As julle nie aan hierdie evangelie vashou nie, het julle tevergeefs tot geloof gekom.

#  En as ’n mens dít nou alles hoor, dan besef jy dat ons ons nou in die belangrikste naweek van die hele kerklike jaar bevind.

  • Die belangrikste want Goeie Vrydag en Paassondag neem ons elke keer weer terug na die kern van die evangelie.
  • Dit bring elke keer weer vir ons die heel beste nuus wat ons kán ontvang: dat Jesus vir ons sondes gesterf het, maar dat Hy ook opgewek is uit die dood.
  • Hy leef, en deur alles wat Hy gedoen het en wat met Hom gebeur het, tot by sy opstanding – deur alles ontvang ons ook die lewe!
  • Dis die wonderlike goeie nuus van die evangelie!

#  Maar kom ons dink nou ’n bietjie spesifiek aan Jesus se opstanding.

  • Vir ons menslike begrip is dit eintlik onmoontlik dat iemand uit die dood opgewek kan word.
  • Dit is iets wat nie in ons ervaringswêreld bestaan nie.
  • En daarom vind baie mense dit ook moeilik of dalk onmoontlik om daaraan te glo.
  • Sekere mense het dan ook deur die eeue ander verklarings gegee vir Jesus se opstanding.
  • Party het bv. gesê dis maar net in die gedagtes van sy volgelinge wat Hy opgestaan het.
  • Dit het nie werklik so gebeur nie.
  • En ook in ons eie tyd is daar mense wat die opstanding van Jesus bevraagteken.
  • En hulle doen dit baie keer sommer openlik en in die openbaar.
  • Maar wat sê Paulus daarvan, hier in 1 Kor. 15?
  • Hy sê vir ons: Nee, julle hoef nie aan Jesus se opstanding te twyfel nie.
  • Nie vir een oomblik nie.
  • Hy sê: “Jesus het aan Sefas verskyn (ons ken hom beter as Petrus), daarna aan die twaalf, en daarna aan meer as vyf honderd broers tegelyk, van wie sommige al dood is maar die meeste nou nog lewe.  Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels.  Heel laaste het Hy ook aan my, die ontydig geborene, verskyn.”
  • So, Paulus noem vir ons ’n groot aantal getuies van die opstanding van Jesus.
  • Hulle is te veel om hier in sy brief op te noem.
  • Maar sommige noem hy wel by die naam.
  • En Jesus het aan al hierdie mense verskyn na sy opstanding.
  • En daarom kan ons die opstanding maar glo – op grond van wat al hierdie mense destyds beleef het.
  • Ons kan dit maar glo want daar was meer as genoeg getuies daarvan, meer as genoeg mense aan wie Jesus na sy opstanding verskyn het.

#  Maar nou is dit ook belangrik om raak te sien hoe Paulus hier in 1 Kor. 15 ’n stukkie van sy eie getuienis vir ons gee.

  • Hoe hy vertel van die verandering wat dit in sy lewe gebring het toe Jesus ook aan hom verskyn het.
  • Paulus was mos eers ’n vervolger van die kerk.
  • Iemand wat Christene en hulle Christus gehaat het.
  • Maar sy ontmoeting met Jesus het dit alles verander.
  • En so gebeur dit met elkeen wat deur die krag van die evangelie en die krag van Jesus se opstanding aangeraak word.
  • Jy word verander.
  • Jy word nuut gemaak.
  • Jy word uit jou geestelike doodsheid opgewek om werklik te kan lewe.
  • En in Paulus se lewe sien ons dit so duidelik.
  • Sy ontmoeting met Jesus, dié Een wat opgewek is uit die dood, het van Paulus heeltemal ’n nuwe mens gemaak.
  • Dit verander hom van ’n vervolger van Christus en sy kerk na ’n navolger van Christus en ’n verkondiger van sy evangelie van liefde en genade!

#  Ons vier vandag Jesus se opstanding uit die dood.

  • En dis vir ons ’n saak van groot blydskap!
  • Ons vier dit met kerse en kleure en blomme!
  • En ons vier dit met sang en musiek!
  • Maar nou moet ons tog ook vra: Maar wat van die harde werklikheid waarin ons nog elke dag leef?
  • Wat van hierdie harde werklikheid waarin die dood nog so ’n groot rol speel?
  • Dis soos wanneer iemand bv. ’n kind aan die dood moet afstaan, ’n verskriklike harde, harde werklikheid vir baie mense.
  • Die Russiese skrywer Ivan Turgenev skryf in ’n boek van hom so roerend oor die hartseer van ’n bejaarde egpaar op ’n dorpie iewers in ’n uithoek van Rusland.
  • Hy sê: “Elke oggend speel ’n hartverskeurende toneel hom in die dorpie se begraafplaas af. 
  • Tussen die baie verwaarloosde grafte is daar een goedversorgde graf, ongeskonde deur mense en onvertrap deur diere. 
  • Net die voëls sit met dagbreek daarop en sing. 
  • Daar is nie eers ’n stoffie op die grafsteen nie. 
  • Die geheim daarvan is die bejaarde egpaar wat elke oggend moeisaam uit die nabygeleë dorpie aangestap kom, terwyl hulle mekaar ondersteun, vir ’n besoek aan die graf van hulle seun. 
  • Dan vee hulle die graf skoon, sit vars blomme daarop, bid terwyl die trane oor hulle verrimpelde wange loop, en dink terug aan hulle seun wat dood is.”
  • So beskryf Turgenev op ’n aangrypende manier, in ’n stuk fiksie, die hartseer van hierdie egpaar.
  • Maar dit is tog ook hoe die werklikheid van ons lewe nog baie keer lyk.
  • Ook hier by ons vanoggend is mense wat die hartseer ken van ’n kind of ’n man of ’n vrou of ’n ouer se dood.
  • En tog: Ná Jesus se opstanding het ook hierdie harde werklikheid van ons lewe baie anders geword!
  • Baie anders, want ons lewe nou met hoop, met ’n lewende hoop vir die toekoms!
  • Jesus het die dood vir ons oorwin.
  • En Hy gee self vir ons die versekering in sy Woord dat ons ook uiteindelik self uit die dood opgewek sal word.
  • En omdat ons hierdie versekering en lewende hoop het, kan ons ook nou op ’n ander manier treur wanneer iemand naby aan ons sterf.
  • Kan ons treur nie soos mense sonder hoop nie, maar soos mense met hoop.
  • Johan Cilliers sê dit treffend as hy sê: “Ons huil is vol hoop, want Jesus is gekruisig … en het opgestaan.”
  • Ons huil is vandag vol hoop!

#  Maar nou kan iemand dalk vra: Maar waar sien ons die hoop en waar sien ons die nuwe lewe wat Jesus se opstanding vir ons gebring het?

  • En ons moet erken: dis nie altyd vir ons so maklik om dit raak te sien nie.
  • ’n Nederlandse teoloog, J.H. Bavinck, het iewers vertel hoe hy op ’n keer laat in die winter deur ’n plantasie van eikebome gestap het.
  • Oral kon jy sien hoe die winter aan die werk was.
  • Onder jou voete was ’n dik tapyt van blare, dié blare wat deur die bome afgegooi is.
  • Aan die bome self was daar nog ’n klompie van die ou blare, maar almal was verdroog en vergeel, byna swart van die dood.
  • Maar die merkwaardige ding was dít: as jy naby aan ’n boom gekom het, en mooi daarna gekyk het, kon jy orals al die nuwe uitlopers sien, waaruit klein groen blaartjies binnekort versigtig oopgerol sou word.
  • Van ’n afstand af het hierdie plantasie morsdood gelyk, maar die nuwe lewe was eintlik al oral aan die werk.
  • En só moet ons ook na die wêreld rondom ons kyk.
  • Op die oog af lyk dit dalk of niks nog verander het ná Jesus se opstanding nie.
  • Alles lyk dalk nog net so vasgevang in die greep van die dood.
  • Maar ons moet mooi kyk en fyn kyk.
  • En dan sal ons sien dat die nuwe lewe van Jesus se opstanding reeds oral aan die werk is.
  • En ons sien dit daar waar ongeloof deur geloof oorwin word.
  • En waar haat deur liefde oorwin word.
  • En waar konflik deur vrede oorwin word.
  • En waar onreg deur geregtigheid oorwin word.
  • Oral breek die nuwe lewe reeds deur!
  • En as ons mooi kyk, sal ons sien dat dit tog ook in die harde werklikheid van ons eie land besig is om deur te breek.

#  Goeie Vrydag het ons herinner aan die harde werklikheid dat Jesus aan ’n kruis moes sterf.

  • Maar Paassondag sê: Jesus is opgewek uit die dood, en Hy lewe!
  • En daarom is daar vir ons hoop.
  • En al lyk hierdie hoop dalk op die oomblik maar nog net soos die klein uitlopertjies van die nuwe blare wat op pad is, ons hét ’n lewende hoop vir die toekoms.
  • Ons het dit, want Jesus is opgewek uit die dood, en Hy lewe!

AMEN

css.php