Preek – 19 Mei 2019: "Waag met ander..." – Hand 11:1-18

Verwelkoming:

Mag ons weer ontdek hoe spesiaal en belangrik dit is om saam te wees in mekaar en in die Here se teenwoordigheid!

Stilte:

Wie is die God wat nou by jou teenwoordig is vir jou? Vader, Seun, Gees?

Seëngroet:

Omdat jy in Jesus Christus glo, gee God aan jou die Heilige Gees en in Hom die ware lewe.

Skriflesing:

Hand 11:1-18

Preek:

Ons is besig met ons reeks padlangs agter Jesus aan; en al gaan ek nie vanoggend formeel een van die tema’s hanteer nie, wil ek ook daarby aansluit. Die teks wat ons gelees het is ’n Paastydteksgedeelte; want hier in die nadraai van Paasfees, op pad na Pinkster toe, dink ons ook saam oor die radikale deurbrake wat daar gekom het na Jesus se opstanding; ons leer oor die eerste kerk/geloofsgemeenskap se reaksie daarop en hoe hulle, soms sukkelend, daarby aangepas het. In die proses sal ons ook hopelik ontdek hoe ons Opgestane Here ons as sy kerk nou lei om aan te pas by sy werk in ons lewe en wêreld.

Ons het die laaste paar Sondae geleer oor die potjie, wat staan vir gemeenskap; oor die nuwe verhoudinge wat God tussen mense bring; ons het geleer van die skoen-simbool, wat ons nooi om soos Jesus in ander mense se skoene te stap (onthou julle die barmhartige Samaritaan?). Ons het gesels oor die trappies, en oor hoe moeilik dit is om Jesus se gesindheid van selfopoffering te leef in ons kultuur wat altyd wil opgradeer. Ons het ook saamgedink oor die horlosie wat ons herinner dat die Here beslag lê op ons hele lewe en dat ons almal, ook met ons onderskeie werke en dagtake, voltyds in die bediening is.

Wat ons vanoggend saamgelees het is Petrus se eie vertelling van die verhaal wat ons in hoofstuk 10 van Hand kry. Hy moet basies aan die kerkraad van die Moedergemeente in Jerusalem kom verduidelik hoekom hy gedink het dit is hom geoorloof om so duidelik te wet/Bybel te verontagsaam; almal weet tog wat staan daar swart op wit…  Hulle het iets gehoor en hulle eie afleidings gemaak, soos ons ook maar dikwels. Maar as iemand die feite vir jou in konteks plaas, en jy is bereid om regtig te luister, jy is bereid om te let op die werk van die Heilige Gees, dan kan jou hart verander; en so het dit ook hier, gelukkig, gebeur.

Net voor ete is die honger Petrus besig om te bid op die dakstoep en hy raak in geestesvervoering. Miskien is van die skoene waarin ons ook moet oefen om te stap, die van die Bybelkarakters. Ons moet saam met Petrus die weerstand in ons voel opborrel as die verbode kos vir hom aangebied word. Die weerstand om teen dit in te gaan wat ek nog altyd geglo het, dit waaraan ek vasgehou het en waarin ek my identiteit as ’n goeie getroue Jood en God se uitverkorene gevind het, te laat gaan: dit is nie reg nie!! Jy voel dit in jou bene…

As God ons uitnooi om nuwe paaie te bewandel, is daar altyd ’n huiwering, ’n rasionalisering (self met ons gunstelinge Bybelgedeeltes wat Petrus ook sekerlik vir God sou kon aanhaal), voor ons bereid is om die geloofstap te neem en God se Gees te gehoorsaam.

God gaan nie in ’n argument met Petrus in nie; Hy antwoord hom met ’n eenvoudige “Wat God rein verklaar het mag jy nie onrein ag nie.  Let op in Petrus se storie hoe belangrik dit vir Hom is om te wys dat God self deur die Heilige Gees hier aan die werk was en dat Hy nie ’n keuse gehad het om Hom te gehoorsaam nie.  “Die Gees het vir my gesê… (v12)”. “Skaars het ek begin praat of die Heilige Gees kom op hulle… (v15)”. “God het aan hulle dieselfde gawe gegee… wie is ek om God te probeer verhinder? (v17)”. En die eerste gelowiges was tevrede; genadiglik kon hulle God se hand raaksien en hulle is verwonderd oor sy genade, hulle sien die lig deurbreek: “God het selfs mense wat nie Jode is nie, tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee.”

Maar daar was come-backs. Soos dit maar met hierdie tipe kerklike debatte gaan, het hierdie tema weer sy kop uitgesteek; God se skape sukkel maar nog deur die eeue om altyd, almal saam na sy stem te luister en in dieselfde rigting te beweeg. (Miskien is daar tog ook ’n gesonde herbevestiging van die evangelie wat in hierdie situasies gebeur; in die sukkel hou die Here ons afhanklik, soekend, en nederig.) In Hand 15 lees ons van die sinodevergadering in Jerusalem oor die besnydenis nadat Joodse gelowiges verwarring hieroor onder die heidense gelowiges in Antiogieë gesaai het: hulle boodskap was duidelik: as jy jou nie laat besny nie, kan jy nie gered word nie. En later in Paulus se briewe, veral Gal, leer ons dat daar ook nie net een come-back van hierdie tema was nie.

Ons bly maar sukkel om nie ander mense in ons boksies te probeer indwing nie. En dit is vrees wat maak dat ons dit doen. Die ander bedreig ons; ons manier van dink en doen, die sekerhede wat ons in uiterlike merkers van identiteit kry, soos ons taal, kultuur, gender en ras. En op die oomblik voel ons (ons wat hier bymekaar is, maar eintlik elke liewe mens op aarde!), besonder bang en onseker. Ons is bang dat alles wat vir ons bekend en kosbaar is van ons weggeneem gaan word, ook ons lewensstandaard. Ons is fisies bang vir ander mense, vir swart mense, vir Moslems, want selfs ons fisiese veiligheid word bedreig in ’n wêreld met ondenkbare geweld.

Johannes sê liefde verdryf vrees, maar die omgekeerde is ook waar; vrees verdryf liefde. Die pad agter Jesus aan lei tot onvoorstelbare vreugde en heerlikheid, maar onder ons voete is dit ’n rou grondpad.

Wat beteken dit dat hierdie Jesus wat ons erken as Here, die weg, die waarheid en die lewe is? Dit beteken Hy en Hy alleen hou die sleutel tot die lewe. Aan Hom is alle mag gegee in die hemel en op aarde. Slegs in en deur Hom kan ons die waarheid van die lewe, van die ganse werklikheid, en die waarheid van die Woord sien. Net in Hom kry dit sy volle en ware betekenis en vervulling.

In sy liefde word dit oopgesluit; en in vrees en selfbeskerming en selfsug word dit toegesluit en word self sy Woord ’n wapen om ander te verdryf en seer te maak. Die geskiedenis en ons tyd in vol voorbeelde daarvan; selfs die duiwel het die Bybel gebruik om Jesus te versoek!

Die wet van Moses met al sy voorskrifte en bepalings het Jesus opgehef, skryf Paulus in Efesiërs 2. En wat God rein verklaar het, mag ons nie onrein ag nie. ’n Mens moet ’n slag deur die reinheidswette in Levitikus gaan lees om te sien hoe hierdie onderskeid tussen rein en onrein deur elke liewe aspek van mense se lewe geloop het, en hoe groot invloed dit moes gehad het op hulle verhouding met God. Luister bv. na die voorskrifte vir priesters uit Lev 21: Die Here het Moses ook beveel: 17 “Sê vir Aäron: Geeneen van jou nakomelinge met ‘n liggaamlike tekortkoming mag ooit ‘n offer aan God bring nie. 18 Geen persoon wat ‘n liggaamlike tekortkoming het, mag offer nie: geen blinde of kreupele of iemand met ‘n misvormde gesig of liggaamsdeel, 19 of met ‘n gebreekte voet of hand, 20

of met ‘n boggel of ‘n onderontwikkelde liggaam, of met ‘n pêrel op die oog, of met skurfte of veluitslag, of ‘n beskadigde geslagsdeel nie.

En luister nou na wie die mense is wat genooi is na Jesus se feesmaal volgens die gelykenis in Lukas 14: ‘Gaan uit na die strate en gangetjies van die stad en bring die armes en kreupeles en blindes en verlamdes hierheen…’. En Jesus se eie liggaam, en ons is nou sy liggaam, is die nuwe Tempel! By hierdie tempel is almal welkom!

Is ons reg om te waag saam met Jesus in “die gangetjies en die strate”. In ons gemaksone is dit gemaklik, maar daar is geen groei nie, daar is geen ware vreugde en passie nie. Gaan ons dit waag tussen die “onrein” mense? Want as jy hulle gaan vra, dan beleef hulle steeds die kerk as ver en veroordelend. Iewers kry ons dit nie reg om Jesus se hart aan mense te kommunikeer nie; ons nooi nie in wie Hy ingenooi het nie en ons spandeer nie tyd saam met wie Hy tyd spandeer het nie. Ons kan aangaan om ons eie insecurities te verdedig deur ons af te grens van ander mense; dikwels gee ons ook nog voor dit gaan oor die eer en die heiligheid van God; maar wat God rein verklaar het, mag ons nie onrein ag nie. Nie as ons ernstig is om padlangs agter Jesus aan te loop nie.  Amen.

Doop

Gaan julle ’n lewende Jesus aan julle kind voorhou? Julle is die twee mense wat vir altyd die grootste invloed op julle kind se lewe gaan hê? Hoe gaan julle dit gebruik? Wat gaan hy by julle sien? Julle maak ’n belofte, hoe gaan julle dit waar maak.

Die doop verteenwoordig die nuwe lewe in Jesus.

Dit lê vir altyd beslag op julle seuntjie se lewe.

Dit lê ook vir altyd beslag op julle s’n, en ons almal!

css.php