Ps. 30 (18/8/19)

 

 

#  Daar is sekerlik ’n hele aantal mense hier vanoggend wat kan sê: Daar het al iets baie sleg met my gebeur.

  • Of dalk meer as een baie slegte ding.
  • Ek het al iets beleef wat my lewe tot in sy fondamente geskud het.
  • Daar is sekerlik ’n hele aantal mense hier wat dít kan sê.
  • En daar is mos baie dinge in ons wêreld wat vir ons hierdie soort ervaring kan gee.
  • Soos wanneer jy jou werk verloor en skielik nie weet hoe jy en jou gesin vorentoe gaan oorleef nie.
  • Of wanneer jy ’n belangrike persoon in jou lewe verloor: dalk deur die dood of dalk deur ’n verhouding wat skipbreuk ly.
  • Of dit kan wees dat jy jou gesondheid verloor deur ’n ernstige siekte of ’n ongeluk.
  • Dit kan ook wees dat jy die slagoffer word van geweld of mishandeling, of dat iemand jou baie erg veronreg of verkul.
  • Dít kan alles dinge wees wat ’n mens se lewe tot in sy fondamente skud en jou ’n baie groot krisis laat beleef.

 

 

#  En nou klink dit of die digter van Ps. 30 ook werklik eerstehandse ondervinding van ’n baie slegte ervaring gehad het.

  • Uit vers 3 van die psalm kan ’n mens die afleiding maak dat hy op ’n dag ernstig siek geword het.
  • En hy was so siek dat hy volgens vers 4 “al op pad was na die dood toe.”
  • Hy het op die rand van die graf gaan draai.
  • En dis duidelik uit die psalm dat hierdie ervaring hom baie erg geskud het.
  • Hy verwys na “trane” in vers 6, en hy dink daarmee seker aan sy eie ontsteltenis.
  • Hy vertel ook hoe “bang” hy op ’n kol was (vers 8).
  • En hoe hy na die Here “geroep” het en Hom “om genade gesmeek” het (vers 9).
  • Hy sê selfs in vers 12: “Ek was in rou …”
  • Die krisis was vir hierdie psalmdigter so erg dat dit vir hom selfs gevoel het asof die Here Hom aan hom onttrek het.
  • So sê hy dit ook uitdruklik in vers 8.
  • Dis asof die Here sy gesig van hom af weggedraai het of sy rug op hom gedraai het.
  • As hierdie digter vandag hier by ons was, sou hy hom seker kon vereenselwig met die woorde van die lied waarin ons sing: “Voel jy soms of die Here te vér is, twyfel jy soms aan God se bestaan?”

 

 

#  Maar dit het natuurlik nie altyd so sleg gegaan met die psalmdigter nie.

  • Daar was sekerlik ook goeie tye in sy lewe.
  • Daar was tye toe hy gesond was en toe dit goed gegaan het met hom.
  • Daar was tye toe hy ook nie eers gedink het dat iets in sy lewe kan skeefloop nie.
  • Hoe sê hy in vers 7?
  • Hy sê: “Toe dit goed gegaan het, het ek wel gesê: ‘Niks sal my ooit laat wankel nie.'”
  • En dit bring ons by ’n baie belangrike saak.
  • En dit is dat ons mos nie altyd besef hoe broos en kwesbaar elkeen van ons is nie.
  • Dat ons mos nie altyd verstaan hoe totaal afhanklik ons eintlik van die Here is nie.
  • Veral wanneer dit met ons goed en maklik gaan, vergeet ons as ‘t ware wie ons eintlik is en dat ons maar net mense is.
  • Veral wanneer dit voorspoedig gaan, kan ons ook soos die psalmdigter ’n misplaaste soort selfvertroue hê en ook soos hy dink dat niks ons ooit sal laat wankel nie.
  • Ek het al meermale by myself gedink: As ’n mens altyd jonk en gesond en finansieel goed versorg sou wees, hoe sou ’n mens dan leer verstaan het dat jy glad nie sonder die Here kan regkom nie?
  • Veral hierdie 3 dinge: As jy altyd jonk en gesond en finansieel goed versorg sou wees, hoe sou jy kon leer om van die Here afhanklik te wees?
  • Dit lyk vir my dat wanneer dit goed gaan ons altyd die gevaar loop om te dink ons kan sonder die Here regkom.
  • In Deutr. 8 lees ons hoe Moses met die mense van Israel praat en hulle juis waarsku om nie van die Here te vergeet wanneer hulle in die beloofde land Kanaän kom nie.
  • En dan sê Moses daar van Deutr. 8:16 af vir die mense van Israel: “Die Here het jou laat swaarkry om jou op die proef te stel en om agterna weer aan jou goed te doen. Jy kan dalk dink: my krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf.  Maar jy moet die Here jou God nie vergeet nie, want dit is Hy wat jou die krag gee om die rykdom te verwerf.”

 

 

#  Ons kan so maklik van die Here vergeet.

  • Maar dit is die krisisse van ons lewe wat ons baie keer geweldig baie help om te kan verstaan hoe afhanklik ons van die Here is.
  • Dit is bv. die swaarkry-deel van oud word wat ons help.
  • Of wanneer ons siek word, soos dit ook met die psalmdigter gebeur het.
  • Of wanneer ons sukkel om finansieel kop bo water te hou.
  • Dit is die krisisse in ons lewe wat ons laat besef dat ons nie sonder die Here kan regkom nie en dat ons ook maar net soos die psalmdigter na Hom kan roep en Hom om genade kan smeek.
  • En so lyk dit vir my wil die Here elke krisis in ons lewe gebruik om ons nader aan Hom te bring.
  • En om vir ons te leer om werklik op Hom te vertrou.

 

 

#  Die digter van Ps. 30 was sekerlik meermale in sy lewe in ’n krisis.

  • Maar een van sy krisisse was dan dat hy op ’n keer blykbaar so siek was dat hy, in sy eie woorde, “al op pad was na die dood toe.”
  • Maar wat gebeur toe?
  • Die Here red hom uit sy krisis!
  • In vers 3 sê die digter: “U het my gesond gemaak.”
  • Die Here het ingegryp en hierdie man gesond gemaak.
  • En in vers 12 van die psalm verduidelik die digter vir ons hoe ingrypend sy lewe toe verander het.
  • Hy sê: “Ek was in rou, maar U het my van vreugde laat dans. U het my rouklere uitgetrek en vir my feesklere aangetrek.”
  • En dít is hoe wonderlik die Here baie keer in ons lewens ingryp.
  • Dít is hoe wonderlik Hy baie keer dinge in ons lewens ten goede laat verander.
  • Natuurlik nie altyd nie, maar baie keer wel.
  • En dan verander Hy ons rou in vreugde.
  • Dan verander Hy ons treurigheid in feesviering.

 

 

#  En van feesviering en feesklere gepraat, hier by die Nagmaal vanoggend sit en staan ons ook as mense wat eintlik rouklere moes gedra het.

  • As mense wat eintlik, vanweë ons sonde, op pad moes gewees het na die ewige dood toe.
  • Maar God het ingegryp.
  • En deur Jesus het Hy ons kom red.
  • En die Nagmaal is nou die fees wat ons vier oor ons redding!
  • En ons kan dit doen met die feesklere aan wat God self vir ons aangetrek het.
  • Hy het ons rouklere uitgetrek en vir ons feesklere aangetrek.

 

 

#  Maar nou is daar iets baie belangriks in Ps. 30 waaroor ek nog niks gesê het nie.

  • En wat is dit?
  • Dis die feit dat hierdie hele psalm eintlik ’n getuienis van die psalmdigter is, een lang getuienis.
  • Hy sê in vers 13: “Daarom sal ek sing tot u eer; ek sal nie stilbly nie. Here, my God, vir altyd sal ek U loof!”
  • Een ding is vir hierdie digter baie seker.
  • Hy sal nie stilbly oor wat die Here vir hom gedoen het nie.
  • Hy sing daaroor.
  • Hy skryf ’n lied daaroor: Ps. 30.
  • En in hierdie lied van hom roep hy ook ander op om die Here te prys.
  • En hy roep ook vir ons vanoggend op om die Here te prys.

 

 

#  En dit bring ons by die belangrike vraag: Hoe getuig ek van die Here se goedheid en genade in my eie lewe?

  • Hoe vertel ek daarvan en sing ek daaroor?
  • Aan die einde van verlede jaar, met ons Kers-feesdiens, het daar sommer ’n hele paar van ons lidmate hier voor in die kerk kom vertel van dit wat die Here in hulle lewens gedoen het.
  • Van hoe die Here vir hulle en ook ander mense deur moeilike tye gehelp en gedra het.
  • Dit was ’n baie mooi getuienisgeleentheid, en dalk kan ons by ons Kers-feesdiens in November weer so ’n spesiale geleentheid vir getuienis skep.
  • Maar eintlik moet ons mos ook deurlopend in ons lewens vertel van die goedheid en genade van die Here.
  • Om elke dag te kan voortgaan met ons lewe, en om gesond te kan wees, en om genoeg te hê om van te lewe, en om oplossings vir allerhande probleme te kan vind, dít alles is mos net moontlik omdat die Here self dit vir ons moontlik maak.
  • En dit lyk vir my dat ons getuienis juis dít moet wees.
  • Om te sê: Dis die Here wat vir my alles moontlik maak in my lewe.
  • Hy maak dit in die eerste plek vir my moontlik om gered te kan word.
  • Om deur Jesus se bloed van die ewige dood gered te kan word.
  • Dit waaroor ons vanoggend hier in die Nagmaal feesvier.
  • Maar die Here maak dit ook vir my moontlik om deur krisistye te kan gaan en anderkant te kan uitkom.
  • Hy gee die uitkoms uit moeilike tye.
  • Soos gesondheid ná siekte, of finansiële uitkoms, of herstelde verhoudings met ander mense waar daar probleme was, of dat ek weer kan opstaan nadat iets in die lewe my platgeslaan het.
  • Soos Hy dit vir die digter van Ps. 30 gedoen het, gee die Here self ook vir ons die uitkoms uit moeilike tye.
  • En ons?
  • Ons kan maar net daarvan vertel en getuig en sing.
  • Ons kan maar net saam met die psalmdigter sê: “Daarom sal ek sing tot u eer; ek sal nie stilbly nie. Here my God, vir altyd sal ek U loof!”

 

 

AMEN

 

 

css.php