HEB. 13:1-16 (17/11/19)

 

#  Kom ons gebruik vir ’n oomblik ons verbeelding!

  • En kom ons verbeel ons dat ons elkeen vanoggend met een of ander dier hier by die kerk aangekom het.
  • ’n Duif in ’n hokkie, of ’n lam aan ’n tou, of selfs ’n bees wat deur ’n paar mense aangejaag moes word.
  • Maar dié diere wat ons hier aangebring het, wou ons dan by die kerk aan die Here kom offer.
  • Dít is mos hoe dit in die tyd van die Ou Testament gewerk het.
  • Mense het offerdiere na die tempel toe gebring.
  • En die priesters het hierdie diere op ’n voorgeskrewe manier doodgemaak en laat bloei, en dan op ’n altaar verbrand.
  • En hoekom het die mense dit in daardie tyd so gedoen?
  • Hoekom moes hulle offers by die tempel kom bring?
  • Die belangrikste rede was dat die offers vir hulle sonde moes betaal by God.
  • Dit moes hulle skuld by God wegvat sodat hulle weer rein kon wees en met God in vrede kon leef.
  • En so was die offerdiens van die tyd van die Ou Testament ’n baie belangrike saak.
  • Baie belangrik, omdat dit mense gehelp het om van hulle sonde verlos te word en weer in die regte verhouding met God te kan leef.

 

 

#  Maar toe kom Jesus!

  • En Jesus word die Een Groot Offer vir ons almal se sonde.
  • Hy word mos ook in die Bybel die Lam van God genoem, God se Groot Offerlam, wat vir óns sonde geoffer moes word.
  • Vers 12 wat ons gelees het, beskryf dit só: “Daarom het Jesus ook buitekant die stadspoort gely om die volk deur sy eie bloed van hulle sonde te reinig.”
  • Dit was om die volk deur sy eie bloed te reinig, sê hierdie vers.
  • Nie deur die bloed van offerdiere nie, maar deur sy eie bloed.
  • En so het Jesus se dood aan die kruis ’n hele nuwe tyd laat begin.
  • Dit was nou nie meer verder nodig om diere te offer nie.
  • Dit was nie nodig nie, want die Een Groot Offer van God se Seun het klaar vir al ons sonde betaal.
  • En so het die tyd van die ou offerdiens tot ’n einde gekom.
  • Dis soos ’n hoofstuk in ’n boek wat afgesluit is.
  • En daardie hoofstuk behoort nou tot die verlede.

 

 

#  Maar as ons nou na die tweede gedeelte van die Bybel blaai, die Nuwe Testament, dan lees ons daar tog ook van offers.

  • Ons lees nie net in die Ou Testament van offers wat die gelowiges moes bring nie, maar ook in die Nuwe Testament.
  • En hoekom?
  • Omdat daar ná Jesus se kruisdood as ‘t ware ’n nuwe offerdiens begin het!
  • ’n Ander soort offerdiens, kan ons maar sê.
  • En Heb. 13 wil juis ook vanoggend met ons daaroor praat.

 

 

#  So, wat sê Heb. 13 vir ons oor die nuwe offerdiens in die kerk van Jesus?

  • Kom ons begin by vers 15.
  • Dié vers sê: “Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ’n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely.”
  • In die nuwe offerdiens speel ons lippe ’n baie belangrike rol!
  • Met ons lippe moet ons ’n “offer van lof” aan die Here bring.
  • En dit beteken in eenvoudige Afrikaans dat ons die Here moet loof en prys met ons lippe.
  • En ons moet dit op elke moontlike manier doen.
  • Een daarvan is mos om te sing.
  • En dis mos iets wat ons gereeld hier in die kerk kan kom doen.
  • En dis ook so lekker om dit saam met soveel ander gelowiges hier te kan doen!
  • Maar ons lofliedere hoef natuurlik ook nie tot die kerkgebou beperk te bly nie.
  • Ons kan mos op enige plek sing, tot in die stort ook!
  • Ja, ons kan oral waar ons gaan die Here loof en prys met ons sang.
  • Maar daarmee saam moet ons ook ons lippe gebruik om te bid.
  • Om die Here se Naam in ons gebede te bely en groot te maak.
  • En om in ons gebede te sê hoe lief ons die Here het.
  • So, ook ons gebede kan ’n offer van lof aan die Here wees.
  • Maar dan is daar ook die gesprekke wat ons so dikwels met ander mense voer.
  • Ons praat mos elke dag met ander mense.
  • En dit beteken ons het eintlik die hele tyd die geleentheid om die Naam van die Here te bely, soos vers 15 dit noem.
  • Om in ons gesprekke aan die Here die erkenning en die ereplek te gee wat Hom toekom.
  • En om ook in ons gesprekke vir ander te vertel van die hoop wat hier binne-in ons leef omdat die Here self ook deur sy Gees in ons leef.
  • Ek hoef nie meer vandag ’n duif of ’n lam of ’n bees hier by die kerk te kom offer nie.
  • Maar my lippe moet sonder ophou met lof aan die Here besig wees.
  • My lippe moet sonder ophou sing en bid en van die Here getuig.
  • En die skrywer van Hebreërs noem dit ’n “offer van lof.”

 

 

#  Maar die nuwe offerdiens in die kerk van Jesus is ook baie meer as net die offers wat ons met ons lippe kan bring.

  • Dirkie Smit sê iewers ons kan die Here direk loof met ons lippe.
  • Maar dan is daar ook ’n indirekte manier om Hom te loof .
  • En dit is veral wanneer ons met ander mense te doen het in ons lewe en aan hulle goed kan doen.
  • En daarom sê die skrywer van Hebreërs in vers 16 wat ons gelees het: “Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dít is die offers wat vir God aanneemlik is.”
  • Waar ek aan ander mense goed doen, en my besittings en tyd en talente met ander deel wat dit nodig het, daar bring ek ook ’n offer aan die Here.
  • En die vers wat ons gelees het, sê so ’n offer is vir die Here “aanneemlik.”
  • Die Ou Vertaling het gesê dis vir God “welbehaaglik.”
  • En ons kan sommer vanoggend ook sê: Dit maak die Here se hart baie bly wanneer óns goed doen aan ander.

 

 

#  En op hierdie punt kan ons nou ook vir ’n oomblik dink aan die gasvryheid waarvan Heb. 13:2 praat.

  • Hoe staan dit daar?
  • “Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.”
  • As gelowiges moet ons gasvry wees.
  • En volgens my woordeboek beteken gasvryheid om met opregte vriendelikheid teenoor gaste en vreemdelinge op te tree.
  • Ek moet beide gaste én vreemdelinge die liefde van Jesus laat ervaar.
  • En wanneer ek dan regtig gasvry optree, betoon ek daarmee nie net liefde aan mense nie.
  • Ek bring daarmee ook ’n offer aan God.
  • En daarom is dit so jammer dat ons baie keer so terughoudend is teenoor ander wat ons gasvryheid nodig het.
  • Dalk is ons hand te toe wanneer ons vir hulle iets moet gee.
  • Of dalk is ons te bang om betrokke te raak by ander – ’n mens weet mos nie vooraf waar jou betrokkenheid dalk sal gaan draai nie.
  • Of dalk vind ons iemand wat ons gasvryheid nodig het net doodgewoon nie aanvaarbaar nie.
  • Ons hou dalk nie van die persoon nie, of ons hou nie van sy of haar lewenstyl nie.
  • En dan weerhou ons ons gasvryheid.

 

 

#  In ’n Joodse geskrif, die Talmoed, word ’n treffende verhaal oor ou vader Abraham vertel.

  • Volgens hierdie verhaal het Abraham op ’n dag ’n ou man vir ete genooi.
  • En nadat hulle klaar geëet het, het die ou man vir Abraham bedank vir sy gasvryheid.
  • Abraham sê toe dat die man nie vir hóm moet bedank nie, maar vir God wat al hierdie dinge as ’n gawe gegee het.
  • Die ou man het egter met ’n vraag geantwoord: “Waarom moet ek God bedank as ek my eie gode het?”
  • En daarna het die ou man ’n afgodsbeeld van hout uitgehaal, dit op die vloer geplaas en die afgodsbeeld gedank.
  • Toe Abraham dít sien, was hy hoogs ontsteld.
  • Hy gryp die man en gooi hom by die tent uit.
  • En Abraham verwyt toe ook homself dat hy gasvryheid aan die ou man betoon het.
  • Maar net voordat die man uit Abraham se gesigsveld kon verdwyn, het Abraham ’n stem gehoor.
  • Dit was die Here se stem.
  • “Ja, Here?” het Abraham gevra.
  • En die Here sê vir hom: “Ek beskerm al tagtig jaar lank dié ou man wat jy so pas uit die tent gegooi het.
  • Alhoewel hy nie van beter weet nie, weet jy van beter, Abraham.
  • Gaan soek die ou man, roep hom terug en laat hom welkom voel.
  • Jy moet álmal met gasvryheid bedien, selfs dié wat nie verstaan dat daar net een God is nie.”

 

 

#  Om sy besoeker met gasvryheid te kon bedien, was vir Abraham ’n geleentheid om aan die Here ’n offer te bring.

  • Dit was ’n offergeleentheid!
  • En Abraham het dit op ’n manier opgemors.
  • Maar wat van ons?
  • Laat ons nie dalk ook belangrike offergeleenthede by ons verbygaan nie?
  • En dít terwyl ons juis in ’n land leef waarin daar so verskriklik baie armoede en eensaamheid en siekte en nog baie ander nood is.
  • Laat ons nie ook belangrike offergeleenthede by ons verbygaan nie?

 

 

#  Vir ons as Christene is die ou offerdiens vir altyd verby, die offerdiens van die tyd van die Ou Testament.

  • Jesus het met sy lyding en sy dood ’n einde daaraan gebring.
  • Maar nou is daar ’n nuwe offerdiens waaraan ons met vreugde kan deel hê!
  • Ons kan sonder ophou die Here loof en prys met ons lippe, met ons offers van lof.
  • Maar ons kan ook deur ons gasvryheid en mededeelsaamheid offers bring wat die Here se hart baie bly maak.
  • En so moet ons eintlik vandag aan onsself as priesters van die Here dink.
  • In die tyd van die Ou Testament mag net die amptelike priesters fisies die diere-offers voor die Here gebring het.
  • Maar vandag is ons almal as gelowiges die Here se priesters en priesteresse.
  • So, mede-priesters en -priesteresse, kom ons bring elke dag getrou ons offers vir die Here!
  • Lofoffers met ons lippe, maar ook offers van gasvryheid en mededeelsaamheid waarmee ons die behoeftes en nood van ons medemens kan help verlig.
  • Offers waarmee ons ’n verskil kan maak in die lewe van ander.
  • Kom ons bly offer aan die Here, want daarmee dank ons Hom vir sy Een Groot Offer aan die kruis!

 

 

AMEN

 

css.php