Preek – 17 Maart 2019: “Dapper genoeg vir kwesbaarheid” – Lukas 13:31-35

Verwelkoming:

Padlangs agter Jesus aan: kry nuwe dimensie in Lydenstyd. Stap ook saam met Hom in sy lyding in; ons leer van sy gehoorsaamheid en van sy gesindheid/
ingesteldheid soos ons saam met Hom op pad is na die kruis…

Votum:

Stilte: Asemhaling… Gees van God… In Lydenstyds bring ons ons eie pyn en broosheid na die Here: oomblikke van pyn, hartseer, skaamte, vrees, magteloosheid met iemand anders se pyn.

Uit Ps 22:

My God my God waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep?
My God, ek roep bedags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie.
U is tog die Heilige wat woon waar die lofsange van Israel weerklink?

U het my die eerste lewenslig laat sien, my veilig laat rus aan die bors van my moeder.
Van my geboorte af is ek onder u sorg, van die begin van my lewe af is U my God.

En U, Here – moet tog nie so ver bly nie, Bron van my krag, red my tog gou!
U het my gebed verhoor!
Ek sal tot eer van u Naam getuig in die gemeente, U in die volle vergadering prys.

Die nood van die hulpelose het Hy nie verontagsaam en gering geskat nie, Hom nie daarvan teruggetrek nie, maar die hulpgeroep na Hom het Hy gehoor.

Seëngroet:

Mag die Here jou vandag laat rus, jou bring by waters waar daar vrede is, en vir jou nuwe krag gee.

Skriflesing:

Lukas 13:31-35

Preek:

Ons volg vir Jesus op sy weg na Jerusalem waar Hy gekruisig gaan word. Dit is iets wat Hy doelbewus kies. Hy het gekom om sy lewe te gee. Mense is egter nie gewoond daaraan dat iemand sal kies om sy lewe te offer nie. Ons instink is om ons eie lewe te red. Al sal ons nie weet wat hulle motiewe was nie, waarsku selfs die Fariseërs vir Jesus dat dit nie ’n goeie plan is om Jerusalem toe te gaan nie, want Herodes het sy mes in vir Hom: Hy soek Hom om Hom dood te maak.

En dan sê Jesus basies vir hulle om vir Herodes te gaan sê dat Hy nie die mag het om God se koninkryk te stuit nie: dat Jesus sy grootste wapen van hom gaan wegneem deur dit van binne af te vernietig (en ons praat natuurlik hier van die dood). Ek dink tog dat Jesus se twee beelde in die gedeelte bymekaar aansluit. En op sy tipiese reguit manier, noem Jesus Herodes ’n jakkals (die eerste beeld). ’n Jakkals is die dier wat in die nag in die hoenderhok ingaan en verwoesting onder die hulpelose/kwesbare kuikens saai. En dit bring ons by Jesus se tweede beeld, wat berus op gedeeltes in die OT. Hierdie sagte, deernisvolle, hartseer beeld van God wat die kinders van Jerusalem bymekaar wou maak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke.

Maar die kuikens wou nie tuiskom in die liefdevolle omhelsing van die Moederhen nie. Nou is hule in die jakkals se kloue. Hulle vertrou hulle heil en hulle toekoms toe aan die jakkals. Hulle raak soos die jakkals wat geweld gebruik om hulle te beskerm teen die stemme van die profete wat roep om geregtigheid, vrede en liefde teenoor die naaste. Net voor hierdie gebeure verduidelik Jesus met een van sy gelykenisse hoe die koninkryk van God werk. Hoe baie mense wat gedink het dat hulle naby is aan God, eintlik ver is, en dat mense wat gedink het daar hulle ver is, ’n plek sal kry by die feesmaal van die koninkryk.

Die woord vir “koninkryk” is net so gebruik om te verwys na die Romeinse koninkryk, die “Empire”. En Jesus, in sy kruisdood, en sy volgelinge wat in sy voetspore gevolg het, het die koninkryk van God die mag van die empire getroef deur hulle grootste wapen, die mag om mense dood te maak en om hulle te beheer met die vrees vir die dood van hulle weg te neem. Jesus was bereid om sy lewe te gee, en op hierdie manier wat vir die wêreld dwaas is, kom die koninkryk van God. En in sy voetspore, deur sy voorbeeld, en deur die inwoning van sy Gees, het sy volgelinge die weë van die Empire uitgedaag omdat hulle, soos Hy bereid was om hulle lewe te gee, letterlik en figuurlik, vir hierdie koninkryk wat van ’n ander wêreld is maar bedoel is om hierdie wêreld nuut te maak.

Hoe herwin ons iets van hierdie radikale navolging van Jesus in ons tyd? Hoe ontmasker ons weer ons valse sekuriteit as kerkmense wat dalk verkeerdelik dink dat ons harte in harmonie is met God s’n? Hoe sien ons weer raak hoe ons dalk ook weer die strategie van die jakkals aangeneem het, wat skerm vir eiebelang, eie gemak, eie sekuriteit en ook ons godsdiens as ’n wapen sal gebruik om dit te verskans; al ons beginsels en standpunte oor van Afrikaans en rasseverskille tot by gay mense en die doop wat ons so meerderwaardig en liefdeloos kan maak.

Miskien sou ons die kruisweg kan beskryf as die dapperheid/moed van kwesbaarheid (courage to be vulnerable). Want ons Koning was en is nie ’n superheld wat gevoelloos en vreesloos was nie. Hy was ook bang, hartseer, in die uur voor sy kruisiging, doodsbenoud. Maar omdat sy identiteit diep geanker was in die onfeilbare liefde van sy Vader, kon Hy die kwesbare, brose pad kies. Daar waar die waarheid van God se liefde en die waarheid van ons diepste nood en verlorenheid mekaar ontmoet.

Ek het onlangs op navorsing afgekom wat wys dat mense wat in diep konneksies met ander mense leef, ’n ander perspektief het op hulle kwesbaarheid as mense wat nie in diep konneksies met ander mense leef nie. Want ons almal is broos. Ons broosheid kom ten diepste van ons vrees om regtig gesien te word; om blootgestel te word dat ons nie die paal haal nie, nie goed genoeg is nie, nie kwalifiseer nie; ek is nie so oulik, so bekwaam, so godsdienstig is soos wat ek voorgee nie. En as ek uitgevang word, dan sal ek verloor wat ek ten diepste begeer: aanvaarding. En daarom, vir die mense wat sukkel in hulle konneksies met ander mense (gemeenskap), word hul kwesbaarheid veral geassosiëer met gevoelens van skaamte en skuld.

Maar by die groep wat in kontak is met hulle eie waardigheid en daarom in dieper verhoudinge leef, is daar ook ’n ander perspektief op kwesbaarheid. Hulle vind dit ook pynlik, maar hulle beskou dit as ’n noodsaaklikheid; die plek waar ook ons diepste vryheid, integrasie, egtheid, kreatwiteit en vreugde vandaan kom.

En eintlik is hierdie navorsing maar net ’n bevestiging van die evangelie. Want die Gees van ons Here wat in ons leef gee aan ons die dapperheid van kwesbaarheid (Moed tot broosheid) wat ons in navolging van Hom moet leer beoefen. Dit sal ons vorming tot sy beeld ’n geweldige hupstoot gee.

Een van die dinge waarvoor ons Hom moet vertrou en weer by Hom sal moet leer in om te waag om weer te voel. Ons het afgestomp geraak (en iewers waarsku Jesus ook daaroor). In engels praat hulle van “numbing” en dit lei tot apatie. Want die pyn en die verwarring raak vir ons te veel. Ons ontvlug en ontken. In die week is dit werk werk werk en in die aande en oor die naweek is dit bier en braai en skerms en sport, of as dit vir jou smaak beter klink, spa’s en tjoklitkoek. Ons is die mees verslaafde generasie van alle tye. Maar hier is die probleem met afstomping: dit kan nie onderskeid maak nie. (En dit wys die betrokke navorsing ook uit). As jy die pyn van jou (en ander mense se!) kwesbaarheid vermy, vermy jy ook al die wonderlike gawes van God daarin, want dit is ook die bron van verwondering, vreugde, dankbaarheid, liefde, oorgawe, aanbidding, kreatiwiteit en vrugbaarheid in hierdie lewe.

Agter die kruis, staan die belofte van die opstanding. Agter die belofte van die opstanding staan die getroue liefde van ons Vader, die liefdevolle Moederhen wat almal wat besef dat hulle eintlik haar kuikens is verwelkom in die veilige hawe van haar uitgestrekte vlerke. Die weg van die jakkals is nie die enigste pad na oorlewing nie; of miskien is dit; as al wat jy wil doen blote oorlewing is. Maar die pad na die volheid van Lewe, loop deur die kruis, hierdie wonderlike, onverstaanbare wysheid van God. En om daarop te stap, moet ons weer leer van die dapperheid van kwesbaarheid.

Kom ons waag dit om saam met Jesus in te strompel in die diepste kamers van ons kwesbare siele en om al die onontginde skatte van genade daar te ontdek. Dit gaan seer wees, maar na Jesus weet ons watter vrug ook ons kruis sal bring. Amen.

Gebed:

Die liefde van die Vader (Moederhen wat haar kuikens onder haar vlerke hou), die offer en voorspraak van Jesus, die inwoning en leiding van Heilige Gees, is jou sekuriteit. Waag om te voel; gaan na jou kwesbaarheid, loop saam met Jesus in die teenstrydighede en die seer in; kom in kontak met sy liefde

 

css.php