1 JOH. 4:7-21 (3/6/12)
# “God is liefde” – dis seker een van die mooiste sinnetjies in die hele Bybel!
- En hier in 1 Joh. 4 kom dit sommer twee keer voor.
- En ek dink hierdie sinnetjie help ons ook geweldig baie om vir God beter te leer ken.
- As ons vra: Wie is God en hoe is God?, dan is een van die dinge wat ons beslis moet sê: “God is liefde.”
- Sy wese en identiteit is liefde.
- En Hy kan nie anders as liefhê nie, want dit is wie Hy is.
- “God is liefde.”
# En nou herinner Johannes ons ook hier in 1 Joh. 4 aan dit wat God in sy liefde vir ons gedoen het.
- In vers 9 sê hy: “Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.”
- In Jesus sien ons God se liefde vir ons die heel duidelikste.
- In Jesus maak God ’n plan om verlore sondaars te verlos en van hulle sy kinders te maak.
- Jesus kom gee sy lewe aan ’n kruis om vir ons sonde te betaal.
- Om vrede tussen ons en God te kom moontlik maak.
- En dit alles kan teruggevoer word na daardie een sinnetjie in 1 Joh. 4: “God is liefde.”
- En vers 19 van hierdie hoofstuk sê so mooi dat God ons eerste liefgehad het!
- Hy het die inisiatief geneem.
- Al wou ons dalk van Hom af wegbeur en ons eie kop volg, al wou ons dalk niks met Hom te doen hê nie, Hy het ons eerste liefgehad.
- En daardeur het daar vir ons verlossing en nuwe lewe gekom!
- Daardeur kon ons kinders van ons Vader in die hemel word!
# Johannes skryf hartroerend mooi, hier in 1 Joh. 4, oor God en sy liefde.
- Maar, baie belangrik, hy skryf ook oor die reaksie wat daar by ons behoort te wees.
- Oor hoe ons behoort te reageer en antwoord op God se liefde vir ons.
- In vers 11 sê hy: “Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê.”
- Ons reaksie en ons antwoord op God se liefde, behoort te wees om self ook lief te hê.
- Uit dankbaarheid vir God se liefde, behoort ons elke dag daarop te antwoord met liefde van ons kant af.
- In vers 17 praat Johannes van hoe gelowige mense mense is wat lewe “deur die liefde net soos Jesus.”
- Nou, dit klink nogal ’n bietjie buite ons bereik om dit “soos Jesus” te kan doen.
- Maar dis tog ook wonderlik om Jesus se voorbeeld in die Bybel te kan hê!
- Sy optrede teenoor mense gee vir ons so ’n glashelder prentjie van hoe liefde prakties uitgeleef moet word.
- Dink maar aan hoe Hy die vrou wat op owerspel betrap is nie veroordeel het nie.
- En dink maar aan hoe Hy op ’n keer sy arms om die kindertjies gesit het wat die mense na Hom toe gebring het, en hulle die hande opgelê het en geseën het.
- En dink maar hoe Hy aan die kruis nog gebid het vir die mense wat Hom gekruisig het en gevra het dat die Vader hulle moet vergewe.
# In antwoord op God se liefde moet ons ook liefhê.
- Moet ons net soos Jesus deur die liefde lewe.
- En nou is die vraag: Hoe vaar ons hiermee?
- Hoe lyk ons liefde vir ander?
- In vers 20 wat ons gelees het, sê Johannes: “As iemand sê: ‘Ek het God lief,’ en hy haat sy broer, is hy ’n leuenaar.”
- As ons nie werklik liefhet en liefde beoefen nie, kan ons maar ’n 100 keer hardop sê: “Ek het God lief,” maar dit sal nie die waarheid wees nie.
- Ons liefde moet bewys word en beoefen word.
- Dit moet prakties uitgeleef word.
- En nou is ons in hierdie tyd opnuut geskok deur die geweldige klomp moorde op vrouens en kinders in ons land.
- Ons is opnuut geskok deur hoe mans baie keer teenoor vroue en kinders optree.
- En ek sê dit as ’n man vanoggend met groot skaamte!
- Soveel van ons mans in Suid-Afrika leef vir seker nie God se liefde teenoor vroue uit nie.
- In Die Kerkbode was daar ’n paar jaar gelede rondom Moedersdag ’n artikel met die opskrif: “Ons vier Moedersdag, maar eer nie vroue nie.”
- En in daardie artikel het dit toe gegaan oor die groot, groot probleem van geweld teenoor vroue.
- En dink maar aan hoeveel vroue net die afgelope paar weke deur mans vermoor is.
- Dink aan al die foto’s en name van sulke vroue wat ons basies elke dag in die koerant en op televisie kon sien.
- Terwyl God wil hê ons moet mekaar liefhê en dat mense behandel moet word soos Jesus mense behandel het, is daar so baie wat moet leef met die verskriklike werklikheid van gesinsgeweld.
- En sommige moet selfs sterf deur gesinsgeweld.
# Nou, die ergste vorm van gesinsgeweld, weet ons, is natuurlik wanneer ’n hele gesin uitgewis word.
- ’n Absoluut tragiese en skokkende ding wat kan gebeur.
- Maar gesinsgeweld gaan mos nie net oor moord nie.
- Dit vind ook nie eers plaas wanneer iemand sterf nie.
- Baie keer begin dit dalk op ’n baie klein skaal.
- Maar navorsers sê dat as dit eers begin het, word dit gewoonlik al erger.
- Soos die tyd verbygaan, kom dit meer dikwels voor in ’n betrokke gesin.
- En dit word ook meer en meer gewelddadig.
- Dit is amper soos ’n sneeubal wat al groter en al gevaarliker word hoe verder hy rol.
# En hoekom vind gesinsgeweld plaas?, sou ’n mens kon vra.
- Hoekom gebeur dit bv. dat ’n man aan sy vrou slaan?
- Navorsers sê dis meestal wanneer ’n man sy vrou wil probeer beheer, en sy dan nie 100% wil inval daarby nie.
- Die man voel dan hy is nie in beheer nie en wil met fisiese geweld beheer afdwing op die vrou.
- Dit kan ook wees dat so ’n man baie jaloers is op sy vrou, ongesond jaloers, en dat sy jaloesie hom tot geweld laat oorgaan.
- En, natuurlik, kan dit ook te doen hê met so ’n man se siening van vroue in die algemeen.
- Dat hy meen vroue is mans se mindere, selfs dat hulle minderwaardig is in vergelyking met mans.
- En dalk het hy so ’n siening en voorbeeld ook al reeds in sy ouerhuis gekry en het sy pa se optrede teenoor sy ma hom reeds in hierdie verkeerde rigting begin stuur.
- Dit kan ongelukkig ook wees dat so ’n man die Bybel verkeerd verstaan en glo dat ’n vrou maar net in alle omstandighede aan haar man “onderdanig” moet wees.
- Maar Paulus sê mos eintlik in Ef. 5 dat ’n man en vrou uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig moet wees.
- a.w albei moet, wanneer dit nodig is, die ander een se leiding kan volg.
- Dis nie net die vrou wat aan die man onderdanig moet wees nie, maar albei aan mekaar, sê Paulus.
# Dis so tragies dat daar soveel geweld van mans teenoor vroue is!
- Maar ons kan dit tog nie ontken nie.
- Die bewyse is onomstootlik.
- En as ’n mens nou sou vra: Maar wat doen ’n vrou dan gewoonlik as sy die slagoffer van gesinsgeweld is? dan noem navorsers verskillende dinge.
- Hulle sê so ’n vrou mag dalk haarself blameer en sê: “Dis omdat ek so ’n slegte vrou of slegte mens is dat dit met my gebeur.”
- Of sy mag dalk sê dat ’n sekere insident van geweld maar net ’n buitengewone gebeurtenis was en nie weer sal gebeur nie.
- Sy mag ook sê: “Ag, dit was nie so erg nie – daar is nie eers ’n blou kol waar hy my geslaan het nie.”
- En dikwels doen so ’n vrou dan niks aan die geweld teen haar nie.
- Dalk is sy ook so bang vir die man, of finansieel so afhanklik van hom, dat sy dit nie wil waag om iets aan die saak te probeer doen nie.
- En ongelukkig moet ons ook sê dat ’n vrou op grond van haar verstaan van die Bybel mag dink dat sy as goeie Christen maar altyd moet stilbly en haar man se verkeerde optrede moet verduur.
# En op hierdie punt moet ’n mens natuurlik ook duidelik sê dat gesinsgeweld nie net uit fisiese geweld bestaan nie.
- Dit kan ook seksuele geweld wees.
- Of die geweld kan sielkundig van aard wees.
- Dan vind dit met woorde plaas.
- Die man of vrou jak die ander een gedurig af – of verkleineer die persoon gedurig, selfs voor ander mense of voor hulle eie kinders.
- Dis ’n soort geweld met die tong en met woorde: woordgeweld.
- En ek is seker ons almal weet hoe seer woorde ’n mens kan maak en hoe afbrekend woorde op ’n mens kan inwerk.
- Hoe dit jou menswaardigheid kan aantas.
# So, gesinsgeweld, waar die liefde duidelik ontbreek wat die Here van ons vra hier in 1 Joh. 4 en op baie ander plekke in die Bybel – gesinsgeweld kom in baie vorms voor.
- En wat kan daaraan gedoen word?
- Hoe kan dit beëindig word?
- ’n Maklike en kitsoplossing bestaan natuurlik nie.
- En elke situasie van gesinsgeweld is seker op ’n manier ook heeltemal uniek.
- Daarom is dit baie moeilik om daaroor te veralgemeen.
- Maar as iemand ’n slagoffer van gesinsgeweld is, lyk dit vir my, is dit baie belangrik dat daardie persoon so gou as moontlik daaroor begin praat.
- Begin praat met iemand wat hy of sy kan vertrou.
- Dalk met ’n vriend of vriendin, of ’n familielid, of dalk met ’n professionele persoon, soos ’n maatskaplike werker of sielkundige.
- Maar die stilswye moet verbreek word, hoe moeilik dit ookal is.
- Dit lyk vir my dis stap nommer een: dat ’n slagoffer iewers oor die geweld sal kan begin praat.
- Maar by gesinsgeweld is daar mos baie keer ook getuies: mense wat sien en weet wat aan die gang is.
- En hoewel dit ook vir getuies ontsettend moeilik kan wees om na vore te kom, is dit tog so belangrik dat ook hulle bereid moet wees om daaroor te begin praat.
- Dat hulle op dié manier iets daadwerklik aan die saak sal begin doen.
- Die Kaapse koerant, Die Burger, het op ’n keer in ’n hoofartikel gesê: “Elke Suid-Afrikaner wat weet van ’n vrou wat ly en niks doen nie, help om die moordstatistieke in stand te hou. Want vir elke vrou wat sterf, is daar iemand wat die noodkreet gehoor, maar nie geluister het nie.”
# En dan: as gelowiges moet ons natuurlik ook in ons gesinne doelbewus die liefde van Jesus beoefen.
- Liefde en nie geweld nie.
- En dis ook so belangrik dat ons ons kinders hiermee sal help.
- Hulle moet altyd duidelik kan sien dat ons as ouers liefde en respek vir mekaar het.
- Al het ons dalk soms ’n ernstige meningsverskil oor iets – ons mag nooit ons respek vir mekaar verloor nie.
- Respek vir mekaar se liggame, vir mekaar se gevoelens, vir mekaar se standpunte.
- Ek dink dis ook geweldig belangrik dat ons kinders by ons moet leer hoe om konflik rustig en vreedsaam op te los.
- Dat hulle nooit vir een oomblik sal dink dat konflik met geweld opgelos kan word nie.
- Dit kan ongelukkig die boodskap wees wat baie TV-programme en videospeletjies en flieks by kinders kan tuisbring: dat konflik in die eerste plek met geweld opgelos kan word: met skeltaal of ’n vuishou of ’n geweerskoot.
- En ek dink ons moet regtig hierdie soort invloed op ons kinders in ’n baie ernstige lig beskou.
- En ons moenie huiwer om die verkeerde dinge daarin vir hulle uit te wys nie, of as ’n aanknopingspunt vir ’n gesprek te gebruik nie, al irriteer dit hulle ook as ons dit doen.
# In Jes. 60 is daar so ’n mooi beskrywing van wat die Here eintlik vir ons wêreld wil hê – sy droom vir ons!
- Die Here sê in vers 17 en 18 vir Israel: “Ek laat vrede oor jou regeer, Ek laat geregtigheid jou bestuur. Daar sal nie meer gehoor word van geweld in jou land nie, of ondergang en verwoesting binne jou grense nie.”
- Vrede is wat die Here vir ons wil hê.
- a.w. verhoudinge waarin mense mekaar liefhet en waarin daar geen plek vir enige vorm van geweld is nie, ook nie plek vir gesinsgeweld nie.
- In Jesus se samevatting van die wet sê Hy mos dat ons ander mense moet liefhê soos ons onsself liefhet.
- En dit beteken onder andere dat ons ook in ons gesinne mekaar moet liefhê soos onsself.
- Sal ons nie die Here vra om ons hiermee te help nie?
- En sal ons nie help bou aan God se nuwe wêreld van vrede nie – aan die waar maak van sy droom nie?
- Natuurlik is ons nog lank nie dáár waar die Here wil hê ons moet wees nie.
- Maar kom ons help bou bietjie vir bietjie daaraan.
- Kom ons help bou elke dag daaraan.
- Kom ons help bou in elke verhouding en in elke gesin daaraan.
# In Die Groot Gebedeboek is daar ’n baie treffende gebed wat iets oordra van die pyn van gesinsgeweld.
- Die titel van die gebed is “Woordgeweld.”
- En dis geskryf deur Elsje Büchner.
- So, dis ’n vrou wat hier aan die woord is, maar ook kinders en mans, of oupas en oumas in die gesin, kan natuurlik woordgeweld ervaar.
- Ek gaan die gebed voorlees en dan ’n tydjie gee vir stil gebed waarin ons almal met die Here kan praat oor wat ons vanoggend hier gehoor en beleef het:
WOORDGEWELD – Elsje Büchner
(uit “Die Groot Gebedeboek”)
Here God, ek is byna te bang om te praat,
want my woorde lok gewoonlik die verkeerde reaksie uit.
Dié dat ek al geleer het om eerder stil te bly.
Wie sal my tog glo?
Daar is geen blou kolle wat ek onder ’n donker bril wegsteek nie.
Maar my gemoed is blou en net so teer soos ’n blou kol.
Ek waag dit tog vanoggend met my sukkelende woorde,
die vrae wat my gemoed oorspoel, want U weet alles.
U ken my tog deur en deur.
U weet ons huweliksdag was vol beloftes van liefde en trou.
Nou het dié woorde opgedroog tot stiltes
wat uitbars in sarsies uit ’n woordeboekgeweer.
Van liefde en opbou is daar nie sprake nie.
Vir my man is ek alles wat ek nie moes wees nie.
Ek is, ek is … Here, ek kan dit nie herhaal nie.
Ek weet net ek voldoen nie aan sy verwagtings nie.
Ons het nie net liefde en trou beloof nie,
maar agterna geprewel “vir altyd en in alle omstandighede.”
Beteken dit dat ek gelate moet vasbyt
terwyl ek stukkie vir stukkie binne-in doodgaan?
Is dít wat “in alle omstandighede” van my vra?
Is dit wat U met my lewe wil?
U weet hoe hy ná elke sarsie woordgeweld skoorvoetend terugkom
met ’n hartroerende verskoning en ’n bos blomme.
U sê in u Woord dat ons mekaar moet vergewe.
Sewentig maal sewe keer.
Maar na sewe jaar kry ek dit nie meer reg nie.
Ek glo nie meer sy: “Ek belowe jou – nóóit weer nie …”
Is ek so swak dat ek nie die liefdesgebod kan nakom nie?
Is ek dan so sleg dat ek so met sy tong geslaan moet word?
Here, ek het duisend vrae wat in my gedagtes rondmaal.
Al wat ek vandag stamelend kom vra, is wysheid.
Wysheid om die regte besluite te neem.
En moed. Moed om te gaan hulp soek.
En genade. Genade vir ons albei
sodat ons hierdie bose kringloop kan breek
en weer mooi met mekaar kan praat.
