Preek – 15 Desember 2019: As Hy weer kom – Matteus 24:36 - 44

TEKS:

Mat 24:36-44  Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.  (37)  Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens.  (38)  In daardie dae voor die sondvloed het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het.  (39)  Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die sondvloed gekom en hulle almal weggesleur het. Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens.  (40)  Dan sal twee mense op die land werk, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word.  (41)  Twee vroue sal by die meul koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word.  (42)  Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie.  (43)  Onthou dit: as die huiseienaar geweet het watter tyd van die nag die dief kom, sou hy wag gehou het en nie toegelaat het dat daar in sy huis ingebreek word nie.  (44)  Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.

PREEK:

Dit is vandag die 3de Adventsondag. Advent kom van die latynse woord “adventus”, wat “koms” beteken. Dis in die tyd wat ons weer saam met die mense van die ou tyd uitsien na Jesus se eerste koms na die aarde tydens Kersfees. Maar dis ook die tyd wat ons uitsien na Jesus se 2de koms, Sy wederkoms. Dis oor sy wederkoms wat ons vanoggend gehoor het uit die Bybel.

Vanoggend wil die Here hê ons moet gereed wees wanneer Hy weer kan kom. En dan gebruik Matteus Noag se ark as voorbeeld. Kom ons kyk gou weer I ons gedagtes na die video van Noag se bouery aan die ark. Daar staan Noag en sy kinders en bou hoog op droë grond ‘n skip, vêr van enige water af. En ons sien hoe stap die mense elke dag daar verby en lag so agter hulle hand. Ander mense het sommer kliphard gelag. Nie net vir die ou groot skip wat die mal man aan die bou was nie, maar dat hy nog boonop sê dat daar ‘n groot vloed op pad is. Bid jou aan: Vir hoeveel jaar het hulle dit nog nooit gesien nie, en nou sê die simpel Noag dat daar ‘n vloed gaan kom! Nee wat, dit glo hulle nie en hulle gaan aan met hulle gewone lewens: Die een ou het nog lekker die aand gebraai, die ander ou het soos elke Vrydagaand ‘n paar doppe gaan maak, die een was besig met hul troureëlings vir Saterdag se troue….. en toe…. toe bars die hemele oop en word dit alles waar wat Noag voorspel het.

Nou, ons het nie ‘n skip wat iemand besig is om te bou op Paarlberg nie, maar ons het iets beter! Ons hoor dit ook nie van so-en-so nie, maar ons hoor dit uit die Here se eie Woord! Die hele Bybel is daarvan vol: Jesus gaan weer kom en ons moet gereed wees. Baie jare terug het ons oor ons redding gepraat net in terme van Jesus wat ons gaan kom haal of na ons dood. Gaandeweg het ons ook die fokus verskuif na dié lewe en hoe Jesus nou reeds besig is om ons lewens te verander en te vernuwe. Soos met alles, kan dit ook gebeur dat ons weer begin oorhel na net dié lewe en begin vergeet dat daar ook, en veral, ‘n lewe is wat wag. Dat Jesus weer gaan kom, en dat ons nie ophou om te lewe as ons sterf nie. Ek dink die vraag wat Jesus vanoggend vir elkeen van ons met die 3de adventssondag wil kom vra is: Is jy gereed as Ek kom? Is jy gereed? Ja, ons weet nie wanneer Hy kom nie, maar DAT Hy gaan kom is verseker en dit kan enige tyd wees.

Die gedeelte wil ons nie verduidelik wanneer presies Hy gaan kom of presies hoe dit gaan wees nie, maar vers 42 is as’t ware die skarnier waarom die gedeelte draai:

(42)  Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie. 

As ons dan nou weet dat Jesus weer gaan kom om ons almal te kom haal en dié wat nie glo nie te veroordeel, hoe moet ons wag? Hoe moet ons in die tyd, wat dalk ‘n dag of twee kan wees, maar ook 20 000 jaar kan wees, wag? Maw, hoe is ek as ek gereed is dat Jesus weer kan kom? Eintlik nie slegs waaksaam en gereed vir die oomblik van sy koms nie, maar hoe lewe en ek en jy elke dag ‘n waaksame lewe?

Dalk moet ek eers sê hoe lewe ‘n mens nie as jy die Here te wagte is nie:

Aan die een kant kan ons maklik lewe asof Jesus nooit gaan kom nie. Dan is ons baie soos die mense wat verby Noag gestap het terwyl hy die ark gebou het: Hulle het alles gesien wat aan die gang is, maar hom nooit ernstig opgeneem nie.

In Jesus se tyd op aarde het baie mense ook nie verstaan en geglo nie. So sê Hy dan vir hulle:

Mat 13: (15)  Hierdie volk se verstand is afgestomp: hulle het hulle ore toegedruk en hulle oë toegemaak sodat hulle nie met hulle oë kan sien en met hulle ore kan hoor en met hulle verstand kan verstaan en hulle bekeer, en Ek hulle gesond maak nie.’

Ook ons kan lewe asof ons nie eintlik ernstig daaroor dat Jesus weer gaan kom nie. Ons is dan nie noodwendig ongelowig nie, maar ons hele lewe se doel is die hier en nou.  Dan leef mens net vir vandag en môre en wat lekker is vir ons en eintlik draai ons lewens net om onsself.

Maar ‘n tweede manier waarop ons nie moet leef as ons die Here weer verwag nie, is ‘n lewe van vrees. My skoonpa vertel my dat hy tot bekering gekom het deur ‘n preek op Steynsrust wat hom die hel baie duidelik uitgespel het! Hy’t hom as’t ware in die Here se ams in geskrik! Nou, die Here gebruik mos ook sulke dinge in ons lewens, maar gelukkig het hy besef dat God se liefde juis dit is wat ons na Hom trek, nie die laaste oordeel nie. Ons moenie gereed wees deur in vrees en bewing te lewe as ons wag dat Jesus weer gaan kom nie. Ek dink so aan ons Labrador, Batseba, wat ons ‘n klompie jare terug gehad het. As ons net vir ‘n dag weg was van die huis, dan het ons altyd welkom gevoel as ons terugkom. Haar stert het geswaai en sy het sulke tjankgeluitjies gemaak om ons welkom te heet! Sy het aangegaan met haar lewe sonder ons, maar sy was op haar beste as ons teruggekom het! Alhoewel die Bybel Jesus se wederkoms met baie donker lyne skilder soos oorloë en tweestryd en aardbewings, is die Een wat kom ons Here en Verlosser, Jesus, wat ons tot sy eie dood toe liefgehad het. Ons moet dus, soos ons Batseba-hond, nie bang wees vir Jesus se 2de koms nie, maar kan uitsien na ‘n nuwe begin saam met Hom.

Hoe moet ons dan gereed wees? Hoe wag ‘n kind van die Here op sy 2de koms? Die gelykenis wat Jesus vertel oor die eienaar wat op reis gegaan het en dan vir 3 van sy slawe verskillende hoeveelhede munstukke gegee het, help ons. Elkeen van ons het gawes. Elkeen het geleenthede en ook mense om jou met wie jy in ‘n verhouding leef. Op elkeen van ons se paaie kom daar mense en gebeur daar dinge. Hoe gebruik ek al die dinge in my lewe om as ‘n verteenwoordiger van die lewende Here sy Naam te eer en liefde en regverdigheid te bewys? Om waaksaam te wees en op die Here se werderkoms te wag, vra juis om besig te wees, maar dan met die rete dinge en met die oog op die Eienaar van alles.

Iemand het eenkeen gesê: Jesus wil nie hê ons moet ons “suit casies” gepak hê en vir Hom staan en wag as Hy kom nie. Hy wil ons kry met ons “overall” aan! Dis die manier hoe die Here wil hê ons as sy kinders moet wag. Ons moet wag juis deur besig te wees, maar met die regte dinge. Nie met skatte vergader, nie net deur aan onsself te dink en net aan plesier nie. Ons moet wag deur naby aan Jesus te lewe. En dan praat ons van ‘n gedissiplineerde geestelike lewe rondom my Stiltetyd en geloofsgewoontes. Ons leef gereed deur om te gee vir ander mense deur te gee uit dit wat ons het aan hulle wat dit nie het nie. Ons is gereed wees deur lief te hê en om besig te wees met die dinge wat ook vir God belangrik is. As ons gereed wil wees, dan jaag ek nie van vanmore tot vanaand en slaan doodmoeg elke aand op my bed neer en sien my kinders by geleentheid nie. As ons besef en glo dat Jesus aan die kom is, dan praat ek oor Hom en vertel van wat Hy in my lewe gedoen het en steeds doen. Natuurlik moet ons mos eet en leef en leer ook. Ja, maar dan op so ‘n manier dat ons dit doen met die oog op Jesus wat weer kom.

In ‘n Bybelstudie oor Jesus se wederkoms, vra die opsteller: “As jy weet Jesus gaan oor twee dae kom, watter drie dinge gaan jy nou doen?” Dink so bietjie. Wil jy dit nie vir ‘n minuut met jou maat of familie rondom jou deel nie? (Terugvoer?) En, was die tweede vraag: Hoekom doen jy dit nie vandag nie? Ek weet daar is ‘n paar van ons wat seker ‘n baie ou Whiskey sal oopmaak, maar as ons ernstig oor Jesus se wederkoms is, hoe raak dit ons lewens nou?

Ons moenie dink dat, omdat Jesus vir meer as 2000 jaar nog nie gekom het, Hy nie gaan kom nie. Ons moenie laat verslap nie, maar dit sien as genadetyd, gereedmaaktyd, werktyd, overall-tyd. Laat ons daarom elke dag gereed wees.

‘n Klompie jare gelede hou ‘n paar hoërskool kinders ‘n groot partytjie op Jongensfontein. Een van hulle was ‘n rowwe klong wat alles wat verkeerd is gedoen het. Maar op een of ander manier het hy besef dat hy nie so kan aangaan met sy lewe nie en, so vertel sy pêlle, daardie aand op die partytjie sê hy: “Dit is vanaand die einde van my ou lewe. Van more af gaan ek ‘n nuwe lewe ly”. Op pad terug die aand na Stilbaai gooi hulle die kar om en is hy op slag dood. Hy het gesê “môre”, maar daar was vir hom nie ‘n “môre” nie. Die grootste hartseer was nie dat hy oorlede is nie maar dat hy eintlik ook die lewe op aarde gemis het!

Net soos die uitsien na ‘n vakansie ook deel is van die lekker van ‘n vakansie, en baie meer is dit, is die uitsien na ons Here se koms, deel van die vreugde van sy wederkoms.

In I Kor 16 gebruik Paulus die Aramese woord: Marana ta! ‘n Uitroep is wat beteken: “Kom Here!”

Mag die Here ons help dat ons lewens, al lewe ons nog 30, 40, 60 of 80 jaar, so ingestel sal wees, dat ons dit sal leef met die wete en uitsien na die dag as Jesus weer kom. Marana ta!

Amen

 

css.php