Preek – 14 Julie 2019: "Goeie of Fake nuus?" – Amos 7:10-17

Kindertyd:

Ons kinders gaan vanoggend gesels oor die storie van Elisa en die arm weduwee in 2 Konings 4. Hy was die groot profeet Elia se opvolger. Baie keer gebeur daar onverwagse goed wat ons ewe skielik in ’n baie slegte situasie sit. Die vrou se man, wat ook ’n profeet was, sterf, en hulle kan nie meer hulle skuld betaal nie. Nou wil hulle sy seuns kom vat om as slawe vir die skuldeisers te werk.

Baie mense gee in ’n situasie soos hierdie boedel oor. Hulle voel alles is teen hulle en hulle gaan sit in ’n hoekie en wag.

Maar nie die tannie nie. Sy weet vir wie om te gaan hulp vra: Elisa, die man van God! En sy doen wat hy vir haar sê, al verstaan sy dit nog nie (sy vertrou hom en die Here!). Sy moet gebruik wat sy het: die olie in haar huis. Sy moet by haar bure soveel kruike gaan leen as wat sy kan. En dan uit haar kannetjie olie moet sy al daardie kruike volgooi.  En toe almal vol is, toe is haar kannetjie ook leeg. (Laat my dink aan die vyf broodjies en twee vissies wat Jesus baie kos gemaak het.) En daardie olie kon sy verkoop om haar skuld te betaal.

Sy het nie haarself gehelp nie. God het haar gehelp. Maar sy moes saamwerk; wys sy vertrou Hom. Sy moes luister, en sy moes gebruik wat sy het; sy moes hulp aanvaar.

Waar moet ons dalk vir die Here vra vir nuwe moed?

Vra vir hulp?
Luister na raad?

Begin doen wat die Here van ons vra, al verstaan ons nog nie wat sy plan is nie?

Leer leef asof ons Hom vertrou?

Weer glo dat die Here ons nood raaksien?

Skuldbelydenis:

Een van die dinge wat kinders van die Here nog altyd gedoen het wanneer hulle so bymekaar was, is om vir die Here jammer te sê; ons leer hier om eerlik te wees oor ons foute, ons mislukkings, en al die lelike dinge wat so baie keer in ons harte en gedagtes opkom. Ons noem dit sonde/skuldbelydenis.

Want, ons vergeet van die Here.

Ons probeer self.

Ons vra nie hulp nie. Ons is te trots.

Ons gee moed op.

As ons hierdie dinge eerlik vir die Here sê, dan is dit ’n manier om te erken ons het Hom nodig.

Ons vra sy hulp.

En dan kom sy genade en maak ons vry. En ons kan oor begin en nuut lewe.

Tyd van stilword:

Waaroor voel jy skaam, skuldig, teleurgesteld? Sien hoe dit in jou hande is en jy dit vir die Here gee…

Vryspraak/seëngroet: 

Jesus het ons vanoggend self bymekaar gemaak. Hy het al ons skuld klaar weggevat. Hy nooi ons om ons ons hele lewe saam met Hom te lewe.

Skriflesing:

Amos 7:10-17

Preek:

Ons leef in verwarrende tye. In 2017 het die Collins woordeboek “Fake news” aangewys as hulle woord van die jaar en intussen het dit ’n baie handige woordjie in politici se woordeskat geword. Almal het hulle menings oor wie en wat die probleem en die oplossing is, wat reg en wat verkeerd is, wie vriend en wie vyand is; en almal hulle bewyse en hulle redes hoekom hulle reg is. En waar sosiale media veronderstel was om dit vir bose mense en regerings onmoontlik te maak om hulle skandes en vergrype weg te steek, het die teenoorgestelde gebeur: die waarheid verdrink in ’n see van ’n oormaat van inligting wat nie geverifiëer is nie. Facebook se algoritmes verseker dat jy net met menings gevoer word waarmee jy reeds saamstem (die sg. echo chambers) Verkose leiers lieg skaamteloos en wanneer hulle uitgevang word, lieg hulle skaamteloos voort.

Die sielkundiges gebruik die woord “confirmation bias” om te verduidelik dat ons as mense filters ontwikkel wat maak dat ons slegs die feite raaksien wat ons standpunt versterk en die feite wat dit teengaan miskyk. Klaarblyklik gaan ons vermoë om te kan redeneer meer daaroor dat ons gerat is om te leer om saam te werk as om helder te dink; in kort, ons is meer daarop ingestel om ’n argument te wen as om al die ter saaklike feite in ag te neem. Hierdie dinmaika is al oor en oor in studies getoets.

Een van die bekendste daarvan is by Stanford gedoen met ’n groep studente waarvan die helfte pro-doodstraf was (as ’n afkrikmiddel vir misdaad) en ander daarteen was omdat hulle dit nie as ’n afskrikmiddel gesien het nie. Altwee groepe is toe van twee opgemaakte studies voorsien; albei het objektief gesproke dieselfde “bewyse” vir en teen die doodstraf in gehad. In kort, wat was die uiteinde van die storie? Na die eksperiment was albei kante nog meer oortuig van hulle oorspronklike siening!

En hier is wat my die meeste bekommer en ontnugter. Ons as Christene is in presies dieselfde kampe verdeel as die wêreld daarbuite. Ons baklei met mekaar volgens baie dieselfde verdelingslyne as die res van die samelewing oor goed soos geweld, die besit van wapens, immigrante, doodstraf, eiendomsreg, versoening, gay mense, ongelykheid ens. Elke kant is doodseker dat God en die Bybel aan hulle kant is. In so ’n wêreld, hoe leef ons as Christene. Wat is ons spesifieke roeping in ’n tyd soos hierdie? Hoe onderskei ons die goeie nuus van die fake news wanneer ons almal weet dat die wêreld dalk meer van ’n invloed op ons kerke en godsdiens het as andersom?

Ek wonder sommer of jy kan onthou of jy al ’n preek uit Amos gehoor het? Ek dink ons vermy hierdie reguit-praat skaapboer-profeet van Tekoa. Dit is baie ongemaklik om te hoor wat hy te sê het. Ek dink dit is baie tydig om hom ’n bietjie weer te lees.

Amos is van Juda, maar God roep hom weg agter sy skape om sy Woord te bring aan die Noordelike 10 stamme van Israel. Op die oof af is dit ’n goeie tyd. ’n Redelike welvarende, oorlogsvrye tyd vir God se volk. Maar volgens Amos is dit ’n geval van bo blink en onder stink. Te midde van die voorspoed is daar morele verval; vergrype teen mense. En die boodskap van Amos daaroor in die Naam van die Here is hard en duidelik.

En dit maak mense ongemaklik. Amasia is die Hoëpriester. Hy verteenwoordig die establishment en hierdie roekelose “siener” kom versteur die status quo. En soos dit nou mos maar gaan word enige bedreiging vir dié wat die mag het afgeskryf as ’n politieke komplot. Amasia dink Amos is maar net nog ’n siener wat probeer om met sy kristalbal ’n paar rand te verdien. En let mooi op wat noem hy Bet-El; die plek wat genoem word die huis van God; ’n plek wat hulle voorvader Jakob nog so genoem het omdat hy God daar ontmoet het in die droom van die leer met die engele wat op en af klim: hy noem dit die koninklike heiligdom, die staatstempel. Die gevaar van Nasionalisme is niks nuuts nie. Ons as mense se harte is so verleidelik dat ons kan dink ons het die reg om God vir onsself toe te eien. En dit is een van die grootste en die gevaarlikste leuens.

In Amasia se wêreld, net soos in ons s’n, is dit vreemd as iemand iets doen wat nie vir eie gewin is nie. Ons raak so gewoond daaraan dat dit maar is “soos die wêreld werk.” En dan soek ons nie regtig meer die waarheid nie; ons soek nie ware vrede en hoop en die ware geregtigheid wat dit kan verseker nie. Want die waarheid van God se omvattende vrede is dat dit ’n visie is waar dit net met ons kan goed gaan as dit met ons almal goed gaan. Wat is op die spel? Wat is die feite wat ons miskyk wat God op ons agenda wil sit; die waarheid wat ons ignoreer in ons klein wêreldjie van private godsdienstigheid en persoonlike moraliteit?

Kom ons luister maar net na ’n paar aspekte wat Amos op die hart gehad het (en onthou om maar by die balk in jou eie oog te begin):

“Hulle verkoop onskuldige mense vir geld, arm mense oor ‘n paar sandale; 7 hulle trap swakkes se koppe plat in die grond en veronreg dié wat hulleself nie kan verweer nie; pa en seun kuier by dieselfde meisie en doen my heilige Naam oneer aan; 8 langs elke altaar strek die Israeliete hulle uit op klere wat as pand gevat is; in die huis van hulle God drink hulle die wyn van dié wat uitgebuit is.”

Amos 2

“Hulle wat geweld en verwoesting in hulle mooi huise herberg, weet nie hoe om reg te doen nie, sê die Here.”

Amos 3

“10 Julle haat dié wat vir die reg opkom in die howe, julle verafsku dié wat die waarheid praat. 11 Omdat julle die arm mens vertrap en van hom koring afpers, sal julle nie woon in die huise van gekapte klip wat julle bou nie en sal julle nie die wyn drink van die pragtige wingerde wat julle plant nie. 12 Ek weet hoe baie julle oortredings is, hoe groot julle sondes is, julle wat die vyande is van dié wat reg doen, julle wat julle laat omkoop en nie aan die armes reg laat geskied nie. 13 Dit is daarom dat ‘n verstandige mens maar stilbly in hierdie tyd, want dit is ‘n bose tyd. 14 Probeer goed doen, nie verkeerd nie, dat julle kan lewe! Dan sal die Here die almagtige God so by julle wees soos julle sê dat Hy is.”

“21 Ek haat, Ek verafsku julle feeste, Ek het niks aan julle feestye nie. 22 Al bring julle vir My brandoffers en graanoffers, dit is nie vir My aanneemlik nie, en Ek kyk nie eens na julle maaltydoffers van vetgevoerde kalwers nie. 23 Gee pad voor My met die rumoer van jou gesing; Ek wil nie jou harpmusiek hoor nie! 24 Maar laat die reg en die geregtigheid te voorskyn kom, laat dit aanrol soos watergolwe, soos ‘n standhoudende stroom.”

Amos 5

As ons wonder oor die waarheid, moet ons altyd terugkeer na Jesus. Hy is ons Waarheid. Die Woord, die Bybel is belangrik, maar dit het net gesag, dit is net die waarheid in die mate waaraan God dit daaraan gee; nie as ons dit kontamineer met ons beperkte insig en ons eie belange nie. Dit is belangriker as ooit dat ons in Christus moet wees. En ons Here het hierdie goed waaroor Amos gepraat het kom beliggaam in sy hart vir die arme, die sieke, die onderdrukte, die randfigure. Hy het sy lewe gegee omdat Hy die empire, die bose menslike sisteme soos wat dit uitgedruk is in die politiek, die godsdiens, die regspraak van sy dag, teengegaan het.

Ons kan nie Jesus se Naam loof op ’n Sondag en aanhou sondig teen sy liggaam die res van die week nie. Waarvoor en vir wie ons ons bewyer maak saak. Die koninkryk van die lig en die koninkryk van die donker verskil soos dag en nag, al kan ons dit nie altyd so duidelik sien nie; so kom ons onthou net gou weer hoe die koninkryk van God en die koninkryk van die wêreld se waardes, se grondwet, verskil.

In die empire is daar nie plek vir God nie, want die mens het homself in daardie posisie gesit. Ons moet mooi oplet na die trots en selfsug in ons eie harte. Dit maak dat ons baie dinge verdraai. Ons moet mooi oplet na ons eie versugtinge na mag en na hoe dit in ons samelewing misbruik word; in politiek, in besigheid, in ons skole, kerke en ander organisasies. Saam met trots en eiebelang, hang groepsbelang, versugting na geld en welvaart, selfliefde, eiewaan en seksuele vergrype.

Dieselfde gesindheid moet daar in julle wees wat daar in Christus Jesus was. God en sy koninkryk, sy wil, is soos Jesus. Dit was nog altyd so, al kon ons dit voor Jesus nie so mooi verstaan nie. Nie vasklou aan mag, aan eiebelang/voorregte nie, maar selfontledigende, selfopofferende liefde en diens; die voordeel en die heelheid van die ander, veral die wat verdruk word. Daarin, in hierdie radikale alternatief, lê ware gemeenskap, God se omvattende vrede. Daarin lê ons Goddelike en morele gesag. Veral ook in ’n tyd soos hierdie. Ons waarheid is baie meer as ons woorde en ons mening; want dit is altyd beperk en voorlopig; ons waarheid word lewend, word beliggaam in die gesindheid, in die doen en late, die leefstyl, die interaksie met ander mense, van ons as lede van die liggaam van Christus op aarde. Amen.

Gebed:

Watter onreg pla jou? Watter sisteem of mense hou dit in plek? Wat roep die Here jou om te doen (onthou van die afwaartse trappies).

css.php